Margaret Atwood. Oryx and Crake.
Bloomsbury, 2003. ISBN: 0 7475 6259 8.
Resensent: Joan Hambidge
Die Kanadese skrywer, Margaret
Atwood is ‘n gesiene romanskrywer en ‘n behendige digter. Bekroon met die
Booker-, Giller-, Premio Mondello-pryse het sy veral met Cat’s eye, Alias Grace
and The blind assassin respek
afgedwing as ‘n groot romanskrywer buite Kanada.
Die Giller-prys, wat ‘n soort
Kanadese Hertzogprys is, besing ook haar statuur. As digter skryf sy dikwels
intellektueel-afstandelike verse en sommige van haar romans word dikwels ook as
te bloedloos en afstandelik beskou. Maar wanneer sy op haar beste is, soos in Cat’s eye, is daar volstrekte beheer
tussen emosie en intellek. Die impak van daardie roman het sy waarskynlik nooit
weer ge-ewenaar nie: hoe jou obsessie met ‘n jeuginsident en –vriend jou
lewenslank kan wond, sonder die medewete van daardie persoon en wanneer die
uiteindelike konfrontasie plaasvind, is die oomblik van regstelling en
vergelding ‘n anti-klimaks.
Die jongste, Oryx and Crake speel in op The handmaid’s tale, ‘n futuristiese
roman. Die verteller Snowman (oftewel, Jimmy), slaap in ‘n boom en treur oor die
dood van sy vriende Oryx en Crake. Hy is besig om dood te gaan van die honger
in ‘n ruimte van ‘pigoons’ en ‘wolvogs’. Crake was aan beheer van die Paradice
Projek en die leser word langsamerhand ingelig oor die redes vir die uitsiglose
bestaan.
Die verhaal gebruik die kodes
van die science fiction-verhaal, naamlik die vreemd-bekende agtergrond, dikwels
‘n kataklismiese probleem wat opgelos moet word, die stryd tussen goed en
kwaad, karakters wat herkenbare mense is, maar wat ook eienskappe van die
bo-aardse of parapsigologiese dimensies vertoon.
Die roman is gelaai met
ironiese toespelings: Jimmy en Crake het in hulle jeug ‘n komputer-speletjie
soos “Kwiktime Osama” gespeel en na eksplisiete seksorgies op televisie gekyk.
Die roman wil dus kommentaar lewer op die verval wat in ‘n gemeenskap kan
plaasvind wanneer waardes onder verdenking geplaas word. Ook het Crake na die
Watson-Crick kollege gegaan waar hy ‘n top bio-ingenieur geword het. (Ons vind
byvoorbeeld in hierdie roman transgeneriese diere soos ‘pigoons’ en ‘wolvogs’).
‘n Vreemde speletjie, “Extinctathon” handel oor uitgestorwe plante en diere (‘n
soort waarskuwing oor wat mense kan regkry) en bekende bakens uit ons tyd is
dan ook uitgewis (soos die Taj Mahal, die Empire State…)
Ook vir studies voltooi aan die
Martha Graham-kollege.
Ons lees ook van BlyssPlus wat
die gebruiker teen enige vorm van seksueel-oordraagbare siektes sal beskerm,
jou libido sal opwerk en ook ewige jeug sal verseker (p. 294). CorpSeCorps en
ander vreemde name dui ook op waarmee die skrywer die hele tyd die gegewe wil
laai met simboliese betekenis.
Wie of wat is Oryx?
Hulle het haar in hul jeug
ontmoet toe hulle na ‘n program oor seks-slawe gekyk het. Ook hierdie
beskrywings is grensoorskrydend, omdat die roman as sodanig kommentaar wil
lewer oor die gevolge van morele verval en dat ons in ‘n tyd van kloning en
generiese eksperimente ons eie posisie op hierdie planeet aantas. Soos in The handmaid’s tale is Atwood besig met
skerp sosiale kommentaar.
Ook die binnespraak van die
karakters – soos wanneer sy Oryx aan die woord stel binne die opset van die
seksslawerny – word oortuigend gedoen.
Sy kry dit ook reg om haar verskillende karakters ‘anders’ te laat
klink.
Ook die rekenaarbeheerde foto
wil iets van hierdie dimensie verklap tussen dit wat ons herken en dit wat
buite ons reikwydte of kennisveld lê. As
‘n mens na verskillende weergawes van hierdie voorblad op die internet kyk, is
dit duidelik dat dit ook ‘n rekenaar-foto van ‘n jong Margaret Atwood kan wees.
In die erkeningswoord gee
Atwood vir die speurende leser belangrike inligting rondom die ontstaan van die
roman: Virginia Woolf se To the lighthouse
het ingespeel op die roman en Anne Carson se The beauty of the husband. ‘n Skatpligtigheid aan Beckett word ook
bely en die eksperimente met woorde dui hierop.
Dit is ‘n roman wat aanvanklik
‘n leesweerstand bied, maar nadat ‘n mens ingetrek raak by die verhaalgegewe -
‘n meesleurende, onruswekkende storie -
is ‘n mens nogmaals uiters geïmponeer met die werk van hierdie
produktiewe èn belangrike skrywer.
Met hierdie roman sluit sy by
die utopia/distopia-debat aan.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]