Showing posts with label Bent Uitgewers. Show all posts
Showing posts with label Bent Uitgewers. Show all posts

Monday, March 25, 2013

Wessel Pretorius - die seep kraak in die gastekamer (1999)



Wessel Pretorius. die seep kraak in die gastekamer. Bent Uitgewers, 1999. ISBN 0 95841

Resensent: Joan Hambidge

die seep kraak in die gastekamer is 'n welkome bundel van Wessel Pretorius. Orals op die internet is daar digters te lese (soos onder meer op Praag se webblad of op Litnet) wat waarskynlik nie in boekvorm gepubliseer sal kan word nie weens die besuinigings van ons uitgewershuise.

Wessel Pretorius wat 'n handvol gawe verse geskryf het en veral met Laatnagvrese en ander verse (1979) 'n merk gemaak het se jongste bundel is uitgegee deur die onbekende Bent uitgewers.

Nou is dit nodig om miskien iets te skryf oor die probleme rondom self-publikasie. In die sewentiger- en tagtigerjare het daar waarskynlik te veel bundels verskyn, maar daar was ten minste “hekwagters”. Die self-publikasie skep die opsigtelike probleem – minste vir hierdie kritikus – van 'n gebrek aan kritiek en oordeel. Net soos 'n webblad van 'n onbekende gedigte plaas wat nie op peil is nie; soos die geval is met met die jongste tydskrif op die internet.

Miskien is dit omdat Wessel Pretorius al reeds gepubliseer het dat vele van die klitsgrassies van die huishoudelike publikasie ontglip word. (Behalwe vir die sketse). die seep kraak in die gastekamer ('n ironiese titel wat daarop dui dat die digter hom bevind in die gastekamer van die huis der poësie?) bevat sogenaamde praatverse. Dit is gedigte wat eenvoudig in aanbod is en op 'n aweregse manier aanmekaar gesit is. Loslittig dus met die eerste oogopslag.

Die gevaar van die soort digkuns is dat dikwels vassteek in die gewone segging (soos in die openingsvers “'n Droombestaan”), maar as dit slaag, word die leser getref tussen die oë. Pretorius het nog altyd hom uitgelaat oor die funksie van die digkuns en in hierdie bundel vind ons ook blyke hiervan.

Daar is die vrees vir die bedreigende wêreld en digterlik gesproke, is hierdie praatvers in opstand teen die Opperman-voorskrifte (“Vir Phil”, p. 9). In 'n lykdig “Vir Louis (tel nr. 012 -34-1111) word die antwoordsmasjien ingespan om 'n nuwe metaforiese gegewe te skep vir die soeke na oorblyfsels van 'n geliefde vriend. Want dikwels na die dood, is die stem nog iewers op 'n band beskikbaar. Nou kan die vriend nie terugbel nie en die digter wil weet: kort jy nog 'n konneksie?

Ten spyte dus van die vele ekstensies van die self, is die dood steeds die groot stilmaker.

Ook uitstaande is “Die Brakpanman” (p. 27) waar Pretorius sy vernuf wys:

Country & Western dreun oor die panne
want Danny is dood. hy het sy fighting clothes eenkeer
te veel aangetrek. Hy is steeds in die atmosfeer.
Steeds loop sy meisies met hulle voete in die dou.

(....)

“2000 sterre vir 'n techno-junkie” (p. 36) gee 'n siniese blik op die digter se ervaring van homself. Hierdie skerp blik op die self is waarin Pretorius uitmunt.

En die titel? Die seep kraak in die gastekamer (soos die titel gedig lui) omdat die gaste nie meer opdaag nie. Hulle is dood en die digter wag tevergeefs op hul besoek. Net soos sy tydgenootlike digters (Wilhelm Knobel, Freda Plekker, Barnard Gilliland, Casper Schmidt, Pieter Claassens) vergete is vir 'n nuwe geslag lesers en hierom besing word deur die lewende digter, Wessel Pretorius.

Ook lekker is die beat-send ups (“In 1964 het jy uit die bloute”) waarin die Kerouac-generasie se manier van skryf nageboots word. En sterk die pynlike “Ma, die soet reuk van jou komende dood” (p. 83).

Mooi gedigte is hier te vinde, ja, maar 'n mens tog die ferm redakteurshand wat klein foutjies kon uitstryk. Soos Pessoa i.p.v. Pesso.

Wat vir hierdie leser opvallend was, is hoe “ongekontamineer” die digter steeds sy soort gedig bly skryf het ten spte van  die 80er en 90er jare se meer intertekstuele verse. Tog is hier ook 'n bewuswees van die belang van die skryfdaad wat dikwels ironies betrag word. Louter plesier vir diegene wat hou van die “oop” soort gedig.

Bestel die bundel direk van Bent uitgewers Posbus 11112 Queenswood 0121.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, March 15, 2013

Wessel Pretorius - Jy kan skoenlappers sien aankom (2001)



Wessel Pretorius. Jy kan skoenlappers sien aankom. Bent Uitgewers, 2001. ISBN: 0 9584283 1 X.

Resensent: Joan Hambidge

'n Digter moet op die regte tyd publiseer en die digkuns van Wessel Pretorius het baie goed gewerk in die sewentigerjare. Dit was die tydperk van die amorfe vers en van die digter se beste werk het behoue gebly in Poskaarte (Foster & Viljoen).

Die digter het in 1970 gedebuteer met Maat van die onbekende; hierop volg Woorde vir 'n windharp (1974); Nuwe wêreld (1974); Laatnagvrese en ander verse (1979); Ruimte-ark-kolonie (1980); Katarak (1989) en nou onlangs, Die seep kraak in die gastekamer
 (1999).

Die sogenaamde praatvers is eie aan Wessel Pretorius se digkuns. Dis 'n loslittige vers wat dikwels met assosiasies, los verbintenisse en aweregse beelde werk. Die innerlike samehang van die meer konvensionele vers werk dus op 'n sekondêre vlak eerder as op die primêre vlak soos by die streng vormbeheerde gedig. Pretorius het pragtige verse gelewer en op sy beste is hy die skepper van onthoubare verse soos "want elke digter" en interessante spotverse oor die rol van die aangesprokene("vir die waarskynlike leser, en mag jy 'n meisie wees:") in sy gedigte. Hy was dus 'n postmodernis lank voordat dit mode was!

Soos met die vorige bundel, is die jongste ook uitgegee by 'n alternatiewe uitgewer, naamlik Bent uitgewers. 'n Mens is dankbaar vir die harde werk van hierdie uitgewers en bewus van die opoffering en finansiële waagstuk wat aangegaan is. Dit verskoon egter nie die slordige en oorhaastige redigeringswerk wat 'n mens nie net voor die deur van die digter kan plaas nie.

En wanneer 'n resensent haar hieroor uitlaat, is die vloedgolf van reaksie dat die opoffering en lyding van die digter ook verreken moet word. Of 'n digter boervrou, tango-danseres of selfuitgewer speel: uiteindelik is dit net die gedig-op-papier wat tel en ander buite-verskonings mag nie die oordeel versag nie.

Dit is nie 'n uitstaande bundel nie en Pretorius herhaal hier sy ou tegnieke. Daar het geen vernuwing of iets nuuts bygekom nie.

Die gedigte oor die vader bly vassteek in die anekdotiese en word nooit pakkend nie.  Ook die vers oor ontslape mede-digters word niks meer as 'n "onthou jy" nie. Dikwels is die idee daar, maar dit het nog nie 'n gedig geword nie.

'n Werklike goeie vers is "Verbode plesier".  

Waarskynlik bewys die bundel dat 'n stylaanslag maar 'n rakleeftyd het. Net 'n klein uitgewer sou kans sien vir hierdie bundel.

Bent Uitgewers Posbus 11112 Queenswood 0121.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]