Showing posts with label Unpublished Manuscript Press. Show all posts
Showing posts with label Unpublished Manuscript Press. Show all posts

Thursday, February 14, 2013

Steve Shapiro - of little consequence (2007)



Steve Shapiro. of little consequence. Unpublished Manuscript Press, 2007. ISBN 979 1 874923 74 9.

Resensent: Joan Hambidge

Kan ‘n Westerling ‘n Boeddhis wees?

Kan ‘n Westerling ‘n haikoe skryf?

Hieroor kan ons baie lank debatteer en kenners sal meen dat op beide vrae die antwoord nee sal wees.

In die klassieke Japannese vorm is die gedig regaf. By ons is daar sewentien sillabes in die volgende patroon opgebreek 5 / 7 / 5. Met ander woorde, in drie reëls word dit uitgespeel. Gewoonlik in die klassieke haikoe (hokku) is daar ‘n stelling oor die natuur en die beste beoefenaars verbind die konkrete met ‘n abstraksie. Basho word gewoonlik in elke glossarium oor die haikoe vermeld.

In Afrikaans is daar min goeie haikoes en Hélène Kesting en Eveleen Castelyn is waarskynlik die bekendste beoefenaars van hierdie vorm. In Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde is daar natuurlik Gus Ferguson en Steve Shapiro, die digter van of little consequence.

Shapiro het in 1996 die Ingrid Jonker-prys verower vir sy bundel In a borrowed tent en sy jongste bundel dekonstrueer die haikoe-vorm.

Om iets te parodieer, beteken dat jy die vorm moet ken. En Shapiro terg lekker, maar hy is nie altyd vormvas nie. Trouens, sy haikoes kry nie die altyd sillabes reg nie. Dalk is dit ook die punt wat hy probeer maak.

Plesierig is dit wel, in Engels en op Afrikaans, hierdie spel met die ou filosofiese mymeringe.

Digkuns aan die duiwel
dronk en lewend
kyk ek krieket

Boskak besig
‘n entjie verder
wilde sampioene

In between
worrying about money
the falling leaves

African violets
on the bathroom sill
and haemorrhoid cream

Taking a break
from self-pity
- rain on the roof

Die kenner en aanhanger van die vorm het waarskynlik al gesien dat hier ‘n soort banalisering aan die wroet is wat Basho-aanhangers sal laat gru.

Hoe durf hy oor sulke sake praat in ‘n haikoe?, sou mense wonder.

In ‘n postmoderne tyd word daar “gemisdoen” in die skoene van die grotes en snorre op die Mona Lisa geteken.

So Basho gaan ook op sy duiwel kry.

Hierdie boekie wil ont-heilig en dit het my weer terug geneem na Eveleen Castelyn se Minder as die engele (1990) waarin sy gewoon klassieke haikoes skryf wat ‘n mens altyd bybly:

Roosblare bêre
hartvormig in diep laaie
die as van liefde

Dis ‘n mini-gedig met groot wyshede of waarhede. Amper nes ‘n kort-kortverhaal wat ‘n vinnige punt moet maak.

Die leser moet self besluit of  die onluisterende aanslag van Shapiro met jou praat.

Sommiges is wel ernstig – soos die een waarin die vlinder al weg is voordat hy die geleerde Latynse naam kan onthou!

Nogmaals dank aan Gus Ferguson wat digters bly bemark in Engels hier te lande.

Hierdie boekie het my weer teruggeneem na Eveleen Castelyn, onbetwiste meester van die haikoe en tanka (die 31-sillabe gedig) in Afrikaans:

in die eendeweer
loop die dakkie van my hoed
oor soos my gemoed


Bronne:


2. Haiku 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Thursday, February 7, 2013

Gus Ferguson - Dubious Delights. Of ageing and other follies (2006)



Gus Ferguson. Dubious Delights: Of ageing and other follies. Unpublished Manuscript Press, 2006. ISBN 1-874923-73.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Mens kan jou haas nie die Suid-Afrikaanse digtoneel sonder Gus Ferguson voorstel nie. As bemarker van inheemse talent, uitgewer, kompileerder, aanmoediger, het hy sy merk gemaak. Die beroemde Snailpress het onder sy vaardige hand al menige jong digter lanseer. Op ‘n keer moes ek optree as redakteur vir Carapace en Ferguson se hulp was goud werd.
Maar hy self is natuurlik digter en satirukus. Saterdae is hy in By met sy aweregse “cartoons” en sy gedigte het al vir hierdie leser menige prettige leeservaring verskaf.

Die aweregse humor word alreeds op die agterblad uitgestal in die uitsprake en loftuitinge van wat die kritici mag kwyt raak: “A master of the demi-entendre”, aldus die Colesburg Express!

In die grappige “Paradox gained” (p. 53) staan daar:

I read all the classics. I studied the news.
I stared at my navel. I still had the blues.

I trudged in the mountains. I walked by the sea.
I carried a burden. The burden was me.

(...)

In “Second sight”(p. 50)  word daar die gek geskeer met die heldersiendes. Hoekom is die clairvoyante dan arm as hulle die toekoms kan sien? Die antwoord: hulle weier om hul gawes vir persoonlike verryking te gebruik! Die digter takel al die heilige koeie. Van ateïsme tot ekologiese wysneuse word opgestuur.  Die ellende van die alkoholis word speels, dog skerp verbeeld.

Op die Rue Escargot, oftewel die Slakkeweg, word daar inderdaad stadig beweeg (“we heave our heavy portmanteux”, “Chanson”, p. 47).

Gus Ferguson het dikwels dieselfde aanslag as Ogden Nash:

Ant

The tiny tiny ant
knows nothing of Immaneul Kant
and yet she hurries on her way
just as we do everyday (p. 45).

Die digter speel onder andere met verstegnieke soos die haikoe:

E-mail haiku –
if seeking enlightenment
ignore attachment.

Die gedigte is intelligent en getuig van ‘n wyse belesenheid: o.a. Rilke se Duino Elegieë word betrek en in opposisie met Zen geplaas.

“Voël vry” (p. 34) dryf die spot met die manlike geslagsorgaan in ‘n Franse ballade. Daar is geweldige vormbeheer in hierdie bundel wat o.a. die koepletvorm en rondeel ook ontgin.

Met plagiaat word daar die spot gedryf:

I

How clever of Edwin Morgan
to copyright his poem
about God not copyrighting
the Universe.

Die enorme belesenheid van die digter het ontsettende leespret tot gevolg. Die pretensie van die boekresensent wat sy/haar slimmigheid ten toon stel of die mites rondom die selfmoord-aard van die digter word alles skerp pyltjies in Ferguson se koker.

Die bundel herinner nogal aan D.J. Opperman se Kuns-mis in aanslag. Al die verhewe vorme word spelenderwys aan die kaak gestel. Maar hiervoor moet ‘n digter talent hê soos ‘n Daniel Hugo al bewys het.

Of dit nou ‘n epiese digter is wat filosofeer oor sy volgende bestaan op aarde of  spot met die Aubade maak nie saak nie. ‘n Mens bly gefassineer voortlees aan die heerlike spel met vorm en inhoud.

Hoe gemaak met ‘n letterkundige beoordeel wat sy eie werk inskryf vir ‘n kompetisie? Is dit werklik ‘n geval waar die postmodernisme triomfeer oor middelklas-moraliteit?
En is die vergelyking “a metaphor yearning for the ineffable”?

So tussen al die lag deur, is daar sprake van nadenke en filosofeer oor die rol van die digkuns.

Natuurlik is daar hulde aan die “late, great Ogden Nash” (en by implikasie aan al sy voorgangers). Die Engelse digkuns leen hom tot heerlike vergrype met die rym, van blinde- tot spieëlrym en ja:

En s8 val die skemer
en skielik is dit n8.     (setter: bedoelde 8).

En die volgende vers is waarskynlik een van die onthoubaarstes:

Long distance call from a pay phone

We regret that all
we spoke about was
how fast the money ran out (p. 15).

Daar word nie net oor letterkundige kwessies gedig nie, maar siekteteostande (soos Alzheimer), ouer-word, eensaamheid, en al die ou dinge van die menslike kondisie.

Dis ‘n lekker digbundel wat bewys dat poësie nie net “heavy” hoef te wees nie. Dit is so dat ‘n letterkunde ‘n plek moet afstaan aan Ogden Nash of Dorothy Parker. Ferguson is wrang, maar beslis nie bitter nie. En dit is waarom die verse so geslaagd is.

En wat heerlik is dit nie om ‘n bundel te lees waar die tegniese vaardighede so verbluffend is.

Jy voel asof jy na ‘n towenaar kyk. Natuurlik. Daar is mos iets soos goëlrym, nie waar nie?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]