Showing posts with label Groot Verseboek 2000. Show all posts
Showing posts with label Groot Verseboek 2000. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

André P. Brink (Samest.) - Groot verseboek 2000 (2000)



André P. Brink. Groot verseboek 2000. Tafelberg Uitgewers/Human & Rousseau, 2000.
ISBN: 0 624 03931 5.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is waarskynlik ironies dat die nuwe Groot verseboek 2000 in sy uiterlike voorkoms nogal sterk herinner aan Harold Bloom se The western canon! Beide is tome van boeke. Maar waar Bloom se epogmakende studie die kanon probeer herstel en die Groot Boek wil huldig, is Brink se bloemlesing in vele opsigte 'n bevraagtekening, selfs dekonstruksie van die kanon met 'n groot K. Opperman se “barometer van gehalte” het 'n huis met baie kamers, aangeboude vertrekke en buitekamers geword.

Groot verseboek 2000 verskyn teen die agtergrond van 'n polemiek waarin Gerrit Komrij se keuse Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte bevraagteken èn aangeprys is. Dit verskyn ook te midde van vraagtekens oor die keuring van die bundel. Onder meer is die uwe aangestel as keurder en moes, na 'n versoek van die uitgewer Hannes van Zyl, liefs die “leesskap” neerlê weens besware dat 'n digter nie keurder kan of mag wees nie.

Omdat 'n geliefde digter met onttrekking van sy eie werk, en 'n groot digter gedreig het, was dit dus wenslik om hierdie roete te volg. Meer nog, die versoek het na hierdie leser gekom tydens 'n reisbesoek aan Harvard en die kleingeestige eis was te midde van die Cambridge, Massachusetts intellektuele aura belaglik. Terselfdertyd is 'n belangrike lesing gemis weens 'n dringende oproep uit die Suid-Afrika en wou hierdie leser die saak afhandel, ook die digkuns ontwille. (Die Afrikaanse letterkunde kan nogal so vanuit die vreemde na 'n kaartehuis lyk, hoor.)

In retrospek, reflekteer hierdie reaksie egter iets omtrent kanonisering. So 'n beswaar - dat 'n digter ook nie leser/keurder/kritikus mag wees nie - wys dat daar nog geglo word aan die idee van kanonisering as 'n Tempel.

Die postmodernistiese klimaat maak van die Tempel 'n “take away”. Die Ewige, immer blywende, duursame Tempel van marmer het nou iets van 'n tydelikheid gekry. Môre is daar dalk 'n ander winkel in die plek van die “oue”. Die postmodernisme maak ook plek vir 'n nuwe blik op ras, seksualiteit, stemhebbend, swygend, identiteit, mooi, lelik, goed, sleg.

Trouens, vir elke uitspraak of waardeoordeel, kan 'n maar of miskien geponeer word. 'n Gedugte leser soos Brink is nie net 'n bekwame kritikus nie, maar hy ken ook al die slaggate. Hy weet dat die al span jy die net hoe wyd, sal daar altyd 'n vissie verlore kan gaan. Of die net mag skeur onder die gewig van 'n ou walvis. Maar vaderdank vir die forelle wat hy wel gevang het!

Maar laat ons nou nie in slim beelde verval nie. Die Tempel vs die “take away” of die beeld van die bloemleser as visvanger. Die boek, soos Foster & Viljoen se Poskaarte, vul 'n hiaat vir die dosent van die digkuns.

Pablo Neruda het by geleentheid geskryf dat daar nie digters is nie; alleen 'n digkuns. As 'n mens hierdie verseboek so benader, kan jy die volledige psige van die (Suid)Afrikaanse gemeenskap hierin aflees. Ook dat Afrikaans 'n lewende, bruisende taal is wat sy man kan staan! Dit is 'n bloemlesing wat sy plek kan  inneem langs Rosenthal se deftige versameling van die Engelse poësie.

En diegene wat kerm dat Brink met Opperman se kalwers boer: dit is gebruik binne die letterkunde dat na die afsterwe van 'n kritikus word die naam van die eerste redakteur behou en die nuwes word of in die kolofon genoem, of op die buiteblad vermeld. Omdat hierdie versameling so 'n grondige hersiening van die ou verseboek word, is Brink se naam buite op en die 2000 bygesit. Opperman se handskrif is wel op die buiteblad wat dus as 'n erkenning gelees kan word.

Dis 'n ongelooflike uitgebreide versameling. Vir die dosent is dit meer as welkom (al sou dit dalk vir die jong student 'n duur boek wees). Met Poskaarte en Komrij neffens Groot verseboek 2000 kan jy letterlik alles, of dan, die belangrikste, wat jy behoort te lees, gelees kry.

In sy inleiding (wat nou eers gelees word sodat die oordeel nie beïnvloed word nie) artikuleer Brink die belangrikste probleme rondom kanonisering en bloemlesings. (Moet 'n mens dalk ook dink aan verbloem, om weg te steek en verblom om mooi te maak?)

Daar word akkoord gegaan met Brink se bevraagtekening van die ouer verseboek as die enigste verseboek. Hy wys op hiate en verkeerde voorstellings: soos dat Visser verkeerd voorgestel is en dat daar hopeloos te min verse van Peter Blum opgeneem is. Visser is nie net geestig nie; hy is ook 'n voortreflike liefdesdigter.

Ook wys hy op die onreg om vertalings weg te laat. In hierdie opsig is Uys Krige sterk te na gekom. Vertalings is in elk geval die mees radikale vorm van intertekstualiteit!

Krige se Neruda vertalings is waarskynlik 'n hoogtepunt in ons digkuns en Spaanse dans (onder redaksie van M.M. Walters) is 'n lieflike bundel.

Brink bely in sy skitterende voorwoord dat hierdie verseboek 'n liefdesverklaring aan die digkuns is. Dit is ook so dat hy deur geweldig baie bundels (ek meen 400 het sedert 1980 verskyn) moes werk om hierdie keuse vir die leser te maak.

Nou sal enige resensent kan gaan sit: daar is te min van Lucas Malan en te veel Hambidge. Tom Gouws is nie in 1939 gebore nie! Hy is mos nog 'n jong bokkie, nie waar nie? Is daar setfoute?  Dis die werk van andersoortige snuffelaars.

Hoekom is digters wat hul name soos e.e. cummings met kleinletters skryf (soos fanie olivier, marlise joubert, tom gouws) nou ge-hoofletter?

Waar is Elizabeth M. du Toit se Towertuin (1968)? Sy het weer stem gekry in Komrij se bundel, maar hier is sy afwesig. Daar kon ten minste een gedig hier staan.

Dieselfde geld Freda Plekker wat ook beter verteenwoordig kon wees, omdat die kanon juis belangrik is waar die mindere stem nou helder(der) opklink en ons dus kan besin oor verskillende poëtiese diskoerse. Poskaarte met die klem op 'n meer pomo-gedig het waarskynlik vir die meer snobistiese leser te veel oppervlakkige of speelse verse geplaas. In Johan van Wyk se SA in Poësie / SA in Poetry is daar weer te veel 'raasgedigte'.

Brink stel die perspektief reg: Marius Titus is hier; ook Matthews Phosa; André Boezak; Valda Jansen; Vincent Oliphant (al is dit hopeloos te min. Ook is Koos du Plessis, gedugte liedjieskrywer verteenwoordig en selfs Dan Roodt staan hier. Sy Kommas uit 'n boomzol is nog nie na behore neffens Komas uit 'n bamboesstok geplaas nie. En die ghitaarspeler van “Aartvark”, Willem van der Merwe se “The carnival is over”. (Waar is Robin Hawkins? Was hy nie destyds in so 'n versamelbundel saam met Anlen Marais en Carol Clark nie?)

Johann de Lange word ook hier beter voorgestel en “Twee matrose wat pis” en “Tongnaai II” is opgeneem. Hulde, hulde. Want De Lange is op sy beste in Nagsweet.

Maar wat 'n lekkerte om nie al die waterskeidende digters in Afrikaans te lees nie! As 'n bonus is daar 'n paar nuwe Krog-verse uit haar bundel wat binnekort verskyn. Die digkuns beleef tans 'n bloei en hierom is GV 2000 'n welkome publikasie vir sowel vir gewone leser as die akademiese een.

Wys my jou bloemlesing, en ek vertel jou wie jy is! Die samesteller se siening van die digkuns, kanonisering, representasie en ideologie word verraai deur die samestelling.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, March 12, 2013

Verswêreld CD (2001)



Verswêreld. Tafelberg Uitgewers, 2001.

Resensent: Joan Hambidge

'n Paar jaar gelede het die digter Johann de Lange in 'n onderhoud opgemerk dat Afrikaanse uitgewers die internet moet ondersoek as 'n alternatiewe ruimte vir die bevordering van die Afrikaanse boek. En dit lyk my daar is na hom geluister, want Tafelberg Uitgewers het sopas Verswêreld vir ons gegee. Wat 'n wonderlike kliekervaring is dit nie!

Groot verseboek 2000, Boekmense (Philip de Vos se versameling van Afrikaanse skrywers) en Perspektief & Profiel is hier te vinde. Die installering is bitter eenvoudig en word stap vir stap aangekondig. Selfs diegene wat komputer-oningelig is, sal hierdie eenvoudige trap-der-jeugd stappe kan volg.

Die e-boek hoef nie as 'n bedreiging van die boek gesien word nie. Dis eerder 'n aanvulling. Veral vir diegene wat op reis is, kan die dikke verseboeke en profiele met een kliek oproep en handige inligting bekom. Ook veral vir almal wat Afrikaans is en wat nie meer hier te lande woon nie, is so 'n CD-Rom 'n wonderlike wins.  Boonop kan jy die digters hoor wanneer hulle die gedigte voorlees.

Daar is ook ouer digters soos Jan F. E. Celliers, D.F. Malherbe, Louis Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Ingrid Jonker en Uys Krige te hore en 'n hele gerf van jonger digters maak hier 'n stembuiging.

'n Digter se voordrag van sy of haar gedig gee 'n unieke weergawe van 'n digkuns. Uys Krige is hier 'n uitstekende voorbeeld. Die stem is sangerig, melankool teenoor die meer gedistansieerde, selfs siniese interpretasies van jonger digters.

Vir my is een van die lekkertes van Verswêreld ongetwyfeld Philip de Vos se fotokomposisies van digters, skrywers en ander boekmense, soos hy hulle noem. Uitgewer Danie van Niekerk se foto is werklik iets besonders. So ook die een van Merwe Scholtz!

Hoe vertel 'n foto nie iets van die skrywer nie. Die wat afkyk/wegkyk versus die wat kordaat die kamera beloer. De Vos se talent is al veel besonge, maar ek dink hierdie versameling is werklik puik. 

Ook is daar Perspektief & Profiel vir die leser wat die akademiese agtergrond behoef tot die letterkunde en al sy strominge.

Net een kommentaar: toe ek kliek om Van Wyk Louw te hoor voorlees, begin Laurika Rauch aan 'n ander gedig te sing.  As 'n mens by Fagan kliek dan hoor jy ook "Ek het 'n huisie by die see" daardie wonderskone gedig. Maar dan in kanon! Is dit bedoel of is my CD-Rom opge-jam?

Gelukkig gaan dit beter die volgende dag, maar ek kan steeds nie Van Wyk Louw hoor voordra nie.

Ons beleef nou die Afrikaanse letterkunde in 'n virtuele ruimte. Ons het ook vir Breytenbach wat sy gedigte pragtig singpraat op 'n parte CD-Rom. Daar het dus baie gebeur sedert Ons Klijntji tot nou. En gedlgewys is dit spotgoedkoop en handig vir diegene wat onmiddellik toegang wil kry tot kennis.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]