Showing posts with label Litnet. Show all posts
Showing posts with label Litnet. Show all posts

Sunday, November 25, 2018

Polemies | Jeremiade van ’n buiteleser - Repliek

I.
Dit is in belang van die groter gesprek in die Afrikaanse letterkunde om Jean Meiring te antwoord.

Dit laat my dink aan die onderhoudvoerder wat vir Umberto Eco gevra het in sy groot biblioteek: “Wow! Signore professore dottore Eco, what a library you have! How many of these books have you read?”

Die ongelese boeke is net so belangrik as dit waaroor ons skryf.  Of dalk belangriker.

My repliek is dan in breë trekke 'n reaksie op Jean Meiring nadat ek kritiese kanttekeninge uitgespreek het op sy resensie van die Olga Kirsch-biografie (Jeremiade van ’n buiteleser | LitNet. Besoek 24 November 2018).

II.
Om resensies te skryf, is deel van 'n lang gesprek oor kanonisering. Studente lees dit; dosente bekyk dit krities en uiteindelik word dit deel van 'n reaksie in verhandelinge en proefskrifte. 'n Verkeerde of vreemde taksering kan juis tot 'n belangrike antwoord in 'n tesis lei. Of 'n voetnoot word.

Maar die ingeligte gesprek rondom boeke het ingekrimp. Gaan kyk maar net hoeveel verskillende resensente het oor een boek geskryf in die tagtigerjare. Goed daar is blogs en lesersindrukke op Litnet, maar wie hom of haar waag aan 'n opinie moet 'n reaksie te wagte wees. 

Hierom maak ek beswaar teen die opmerking van Meiring dat ek outoritêr is. Hy sien my wat as vegknoper vir die wye demokrasie van stemme"bekendstaan, nou as iets anders ...

My werk is ook metamodernisties, ek hou my besig met psigoanalitiese studies, vertaalteorie, genderkwessies, ensomeer. Nie net met die postmodernisme nie.

Hy tipeer my: "Dis juis daardie spesie literator wat, in die geval van ’n biografie, met blote teoretisering tevrede is vir wie mens moet ligloop." My gevoel: En dis juis 'n leser wat meen daar is simplistiese antwoorde op 'n komplekse lewe en digterskap waaroor 'n mens moet seg ... pasoppa!

Ek het nog nooit die Afrikaanse letterkunde as 'n goddelike tempelskrif ervaar nie en my polemieke, artikels en studies artikuleer 'n teenstem. Trouens, my digkuns is eweneens polemies.

Die feit dat Meiring aankondig dat hy 'n Honneurs in Latyn het, is nie vir 'n gesprek oor die Afrikaanse letterkunde nou tersaaklik nie. Dis wel 'n bonus.

Dus: Heil die leser!


III. Lectori Salutem

Jean Meiring moes alvorens hy die biografie oor Kirsch geresenseer het die bestaande studie oor haar werk gelees het. En kennis geneem het van Jerzy Koch wat 'n tydskrif in Pole oor haar werk gepubliseer het. [1] En Louise Viljoen se uitstekende artikel begrond Kirsch goed. [2]

Sy skryf: “Alhoewel Afrikaans nie haar moedertaal was nie, is dit dus die taal van haar eerste skool-onderrig, haar studieonderwerp op universiteit, haar joernalistieke loopbaan en haar artistieke uitdrukking in die poësie." (28)

Ons verwag in ons beroep: ingeligtheid. En ironies genoeg onderstreep hy juis my kritiese punte. Kennelik het hy steeds nie die teorie begryp of gelees nie, en hierdie teoretiese spesie reageer net op relevante punte.

Ons weet immers dat daar al lange debatte oor die representasie van die San-kultuur in Afrikaans was (vide Krog en Watson), terwyl hy met groot stelligheid vra dat daar nou hieraan aandag gegee moet word. Dit na aanleiding van sy resensie van Riana Scheepers se Stormkind.

Crito het hom reeds hierop gewys: “Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.” (Tweevuis. Litnet BlogsBesoek 24 November 2018).

Ek meen ’n mens kan van ’n Afrikaanse resensent verwag om bewus te wees van die beskuldigings wat Stephen Watson omtrent ’n dekade gelede teen Antjie Krog gemaak het oor Die sterre sê Tsau. Dieselfde argumente sal dan sekerlik teen Stormkind gemaak kan word. Maak nie saak of ’n mens dink (soos ek) dat Watson ’n paar van sy varkies kwyt was met sy beskuldigings teen Krog nie, dit is die groter saak van toeëiening wat aangespreek moet word.

Sy selfbewuste, selfkoesterende styl is tog so seksie. Die spel met woorde... 

Dit verdoesel helaas nie dat hy soms die breër agtergrond mislees nie.

Om my die Vestaalse Maagd van die Postmodernisme te noem is waarskynlik as witty bedoel. Ek het Meiring sober geantwoord; bepaald nie die ad hominem-geelkaart uitgeruk nie. Hy mag bepaald resensies skryf, maar woord wek wederwoord, nie waar nie?

Die wrede waarheid is dat vele van die sogenaamde onbeantwoorde vrae dalk in die gedigte staan?

Die sogenaamde neerwerp van intellektuele verwysings is nie bespotlik nie. Ook nie satiries bedoel nie. Dis geskryf vir diegene wat dit gelees het en nie 'n posduif, koerier of sekretaresse nodig het om après le déluge te help opmop nie.

En as 'n kritiese reaksie soveel fanfare ontlok, dan moet 'n mens wonder waarom skryf hy resensies? 

Dis tog lewensbloed van die kritiese bedryf dat 'n reaksie mag?

Net soos daar in die regsberoep (en hier is ek nou die buite-leser) verskillende sieninge is en dat 'n Appèlhof byvoorbeeld anders mag oordeel?

'n Institusionele kennis van die resensiebedryf is 'n pluspunt, nie iets negatiefs nie.

Hierom gaan ek Jean Meiring "ylings" tegemoet.


Endnote:

1. Werkwinkel 9(2), 2014, pp. 31-58. © Department of Dutch and South African Studies
Faculty of English, Adam Mickiewicz University, Poznań, Poland. DOI: 10.2478/werk-2014-0011

2. Die opsomming van Louise Viljoen se artikel: “The heart a dry leaf”: Loss, Mourning and Melancholia in Olga Kirsch’s Afrikaans Poetry.

Abstract: Reading Olga Kirsch’s Afrikaans poetry, one is struck by the important role that the experience of loss occupies in her oeuvre. It is evident in the first two volumes ofpoetry she published while still living in South Africa, as well as in the five volumes she published after emigrating to Israel in 1948. Because her poetry, especially the volumes written in Israel, exudes an air of melancholy, this article uses Freud’s writings on loss, mourning and melancholia, as well as the historical tradition preceding his work, as a guideline in exploring the way in which the experience of loss, mourning and melancholy is portrayed in Kirsch’s oeuvre. The article focusses on the way in which loss is portrayed in her poetry: her sense that the Jewish experience of loss over the centuries forms part of her history and identity, the way in which she experiences the loss of South Africa and the language Afrikaans in which she is best able to express herself poetically when she emigrates to Israel, the way in which the loss of her father and mother at different times in her life affected her, her feeling that her experience of loss and the ensuing melancholy are carried over to her children.

© Joan Hambidge

Friday, January 13, 2017

Die stilte van die skrywers

Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litnet en Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge

Thursday, May 7, 2015

Riël Franzsen - Narokkong (2015)


Riël Franzsen - NarokkongProtea Boekehuis, 2015. ISBN 9781485304104

Resensent: Joan Hambidge

I

Narokkong, die titel van hierdie debuut, aktiveer D. J. Opperman se gedig “Koggelbos” en Sangiro se verhaal “Koors”. In die publikasienota verneem ons: vir die siek kind in die verhaal is die narokkong ’n bringer van onheil, maar in die kind se koorsdrome word hy self ook ’n narokkong wat deur die giftige nabome gelok word. In Franzsen se bundel is daar ook ’n vreemde band tussen die outistiese kind en die voël wat alles met sy afsydige swart oë dophou en is dit nie altyd duidelik of die voël bedreiging of beskerming inhou nie.

Hierdie bundel ondersoek dan die verwikkelde verhouding tussen ouer en kind, en meer spesifiek die verhouding tussen die vader wat iets probeer wys word van die outistiese kind se leefwêreld. In hierdie opsig is die bundel dan ’n “eerste” oor hierdie onderwerp waaroor daar al etlike vakwetenskaplike artikels en belydende tekste bestaan.

Die bundel vertel die verhaal van die kind, maar dit roep dan ook vergelykings op met bundels soos die reeds genoemde Opperman se Negester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok. En E. W. S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet.

Die lewensloop en -lot van die kind in sy “uitkringende eie hel” (26) word dan geboekstaaf met die vader wat saam met ’n “veteraanpasiënt” leef (22).  Die vader se empatiese beskrywing van sy kind se lot word in “Denmar” (29) ’n wanhopige uitroep dat hý eerder hierdie pyn moes ervaar het.

In “Outisme II” (40) word die tweetalige woordeboek in ’n woordspel beskou. “Outeursreg” word opgevolg met “outjie” en nie outisme nie. In “Gebed” (41) lees ons:

As daar ’n god
vir outiste is
wat sirkels 
met vierkante
kan verbind,

asseblief:

’n Flits om iewers
in die hol stam
van ’n naboom
die nes se opening
te help vind.

Vlerke wat hoër,
vinniger en verder
as Swartoog
kan vlieg; in stiltes
en in stormwind.

Opperman se “Man met flits” praat hier saam en dit is dan duidelik dat gedigte telkemale deur die Opperman-aanslag ingegee is: spaars, min woorde; die soeke na die metafoor of simbool wat betekenis moet amplifiseer; die komposisie van die eenheidsbundel; en so meer. Ofskoon Franzsen min woorde in die genoemde gedig hier bo gebruik, is daar nog te veel uitsegging.

In “Tehuis vir outiste” (51), in ’n haikoe-aanslag, kry die digter iets besonders reg:

vinke bly kwetter
’n kolgans snater in vlug
die swane bly stom.

Dit is ’n bundel wat op ’n eerlike wyse verslag lewer van die verhouding met die kind – met ’n terloopse verwysing na ’n ander kind – en selfs die medikasie vermeld.

“Beseringstyd” (54) praat weer met Ernst van Heerden se aangrypende verse oor siekte. Hier vind ons ’n wrang slot:

jy bevind jou
in uitgelese geselskap
met meer dokters
as vriende.

En is God dalk die Groot Outis? “Prototipe” (56)  is ’n gedig met vaart: presisie, elke woord op sy plek.

II

Hierdie bundel neem die leser terug na Opperman se digkuns en sowel die openlike as versweë gesprek met hierdie uitstaande digter se hantering van voëls, suggestie, metafore en die outobiografie soos veral in die imposante Komas vergestalt. Die debuut het my ook weer laat nadink oor die struktuur van die eenheidsbundel. Dit het my geneem na Leon Strydom se studie Oor die eenheid van die digbundel – 'n tipologie van gedigtegroepe wat in 1976 by Academica uitgewers verskyn het.

Hoe gedigte by Franzsen op mekaar inspeel, is die sterk punt van sy debuut wat 'n (outobiografiese) storie vertel. Daar is inderdaad konsentriese sirkels, 'n soeke na 'n sentrum.

Dit sou die speurende leser ook loon om te kyk watter woorde/begrippe herhaal word.

Het ons in hierdie bundel, as ons Strydom volg, 'n siklus, serie of reeks?

Opperman het, soos ons uit Lina Spies en Edna Duedney se studies weet, siklusse geskryf – die beroemde en goedafgewerkte "Kroniek van Kristien" kan ons hier uitsonder.

III

'n Mens moet Franzsen se bundel as 'n debuut lees waarin die gesprek met Opperman, die siklus, metaforiek, die eenheidsbundel jou laat nadink oor die funksie van die "dominante reeks-karakter". Hierdie bundel tree, soos Daniel Hugo se Takelwerk, in gesprek met Opperman se oeuvre, of dan ’n bepaalde werkswyse.

Die gevaar in Franzsen se geval is dat Opperman bo sy bundel uittroon en dat die eenheidsbundel eise stel wat die debutant nog nie werklik kan hanteer nie. ’n Digter se ouderdom is nie sy werklike of chronologiese ouderdom nie; die ouderdom word vanaf die debuutdatum bepaal. Diederik koggel hierdie digter  indien ons “Koggelbos” lees.

Dit is wel 'n bydrae tot die genre van siektepoësie in Afrikaans.

Die dans om en om die binnekring is waaroor hierdie debuut handel met ’n handvol goeie verse.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet)

Monday, April 6, 2015

Tien vrae: Joan Hambidge oor Matriks

Foto: Naomi Meyer

Digters oor hulle nuwe bundels: Joan Hambidge oor Matriks
Naomi Meyer

Wie/wat is jou muse? Waar ontspring ’n gedig, of dan die kiem vir Matriks, vir jou?

My muse vind ek wanneer ek reis. In vreemde hotelkamers, straathoeke, in kerkhowe …

Matriks het oor ’n lang periode ontstaan, soos die leser kan aflei uit die lykdigte oor bekende figure soos Eveleen Castelyn, Izak de Villiers, Natasha Richardson …

Die voorblad is afgeneem in Ljubljana. Ek neem altyd deure in vreemde ruimtes af en hierdie pragtige deur (in die Zaprtostraat) het ek toevallig gesien en dit bevat al die argetipes van die menslike bestaan: foltering, die ouer-kind-verhouding, die liefde, die priester, oorlog, en so meer. In Jungiaanse terme.

Dit is ook die stad van Žiżek en wanneer ek reis, neem ek altyd sy Pervert’s guide to the cinema saam en ’n Franse en Italiaanse grammatikaboek.

Psigoanalises interesseer my en reis is waarskynlik die beste manier om die onbewuste oop te maak: jy ontdek altyd iets van jouself in ’n vreemde ruimte. Jy kom tot besinning of helderheid.

Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?

Ek vind dit ’n wonderlike proses. Die enigste moeilike deel daarvan is dat dit ’n mens tydens intense kreatiewe prosesse kan slaaploos maak. Wat dikwels ongemak veroorsaak indien jy die volgende dag afsprake moet nakom of klasgee.

Kom jy as digter soms te staan voor die “Kalahari’s wit papier”? Indien wel, hoe oorkom jy hierdie struikelblok?

Indien ek nie ’n gedig kan skryf nie, skryf ek iets anders. Ek word nooit ongeduldig nie. Die gedig sal terugkom of sig aanmeld wanneer die tyd reg is. Skryf is ’n dissipline. Inspirasie moet daar wees, maar die werklike digproses is om al die buie te kan akkommodeer: ’n pynlike ervaring of herinnering; die dood van ’n geliefde of verhouding.

Melancholie. Ek ken al die anatomie van my melancholie.

Selfs ’n gelukskoot wanneer jy iets oorwin, kan help met ’n struikelblok. Maar dig spruit juis uit teenstand …

Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?

Die digkuns is vir my sowel klank as beeld. Sintuie is werktuie, het Opperman geleer. Ek lees my gedigte ook voor om die balans tussen klank en beeld te kry en oortollige woorde uit te haal. ’n Ruk terug moes ek ’n gedig van een minuut voorlees vir kykNET: “The drama of being a child” uit Lot se vrou.

Die gedig was langer en ek het woorde uitgehaal wat dit die lengte laat oorskry het en die gedig verander na Zanzibar in sy beeldvorm omdat ek foto’s van Zanzibar had.

Hiermee illustreer ek dat gedigte ook maakwerk is.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek luister altyd na redigeerders en fyn lesers. My eerste leser is die digter Johann de Lange. Dan kyk ek na keurverslae en kyk na klein aanwysings soos woordorde of parenteses wat moet waai.

Tot op die laaste oomblik is ek altyd in die hande van my redakteur en ek aanvaar (met dank) die uitwys van klein foute of voorstelle.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Vir my is skryf joernaalhou. Toe ek onlangs weer in Buenos Aires was, het ek na Verdraaide raaisels gekyk. Met deernis na die mens wat ek was. Maar uit hierdie leeservaring kon ek opnuut na Suid-Amerika kyk, ’n landskap wat my begeester. Ek is reeds besig om ’n reis na Chili te beplan, vir ’n tweede besoek, aan die einde van die jaar.

Santiago de Chile. Ek sien uit om weer na Neruda se huis te gaan …

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek skryf aan ’n bundel, Indeks, ’n kortverhaalbundel Kortaf, ’n opera Anti-Laius en ja, ’n roman: Die buikspreker. Verder het ek ’n blog waarop ek my reaksie op films of boeke plaas. Dit heet Woorde wat weeg.

Om te skryf is om intenser te lewe. Jy lewe eintlik twee keer: eers werklik en dan in die skryfwerk.

Watter digters of skrywers lees jy graag?

Dit verander voortdurend. Maar ek keer altyd terug na Opperman en Eybers. Verder lees ek alles wat in Afrikaans verskyn en probeer byhou met resensies en reaksies. Verder lees ek De Lange indringend vir ’n studie oor sy werk en ek gee ook ’n kursus oor hom.

Ek is gaande oor “verlore digters” soos Freda Plekker.

Tans is ek opnuut begeester deur Sheila Cussons. Die swart kombuis is gewoon briljant.

As jy terugkyk oor die landskap van die Afrikaanse digkuns, wat val jou op, indien enigiets? Is hier vir jou patrone of enigiets wat verander het of aan die verander is?

Daar is waarskynlik meer digters, meer stemme. Die populistiese stem is meer hoorbaar. Maar die digkuns het te make met stamina … “the loneliness of the long distance rhymer”. Jong digters met talent is daar bepaald, maar ’n mens wonder hoeveel gaan aanhou, uithou.

Hoeveel van hierdie talente sal die drif hê om aan te gaan, want hoe meer stemme daar is, hoe beter vir ’n digkuns.

Hierom meet ek my aan my tydgenote wat in die tagtigerjare saam met my begin het en steeds voortdreun: De Lange, Johann Lodewyk Marais, Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, onder andere. Daar is vir my geen digters nie, net ’n digkuns – om Neruda aan te haal. Daardie gedig wat jou tref tussen die oë en in die maag. En daar is gode sy dank ’n hele klomp van hulle …

Jy is ook baie bekend as resensent. Wat sou jou wens wees vir resensies of resensente in die Afrikaanse boekebedryf op die oomblik?

Dat meer van my kollegas bereid sou wees om te resenseer. Wanneer ’n mens deur die jare kyk hoeveel resensies van ’n boek verskyn het (tot tien reaksies in die tagtigerjare), is dit dikwels jammer dat ’n boek na vier (halfhartige) resensies “verdwyn”.

Baie digters en skrywers het veel te sê agter die bakhand. My wens is: sê dit op skrif, want ’n skrywer baat by ’n reaksie. Literatore beskou dit ook as tydmors. Ek helaas nie.

By FineMusicRadio lewer ek elke week ’n kort resensie vir die luisteraar om hulle op hoogte te hou van die jongste ontwikkelinge in Afrikaans. Die impak van ’n resensie is dikwels nie onmiddellik nie; dit help wel later die jong navorser of skrywer om by iets anders uit te kom. Hierom is polemiek in ’n letterkunde gesond.

Maar openlike akademiese argumente, nie Facebook-verdagmakery wat ’n negatiewe of kritiese resensie onmiddellik as venynig of as ’n aandagsoekery afmaak nie.

Alle skrywers moet negatiewe kritiek kan hanteer. Selfs die grote Susan Sontag is gestriem in ’n stadium oor swak films of mindere romans, so wie is ’n Vinnige Fanie of Hansworsie om te meesmuil as sy of haar boek nie die treffer van die oomblik is nie?

’n Kritikus moet streef na die Orde van die Goue Skerpioen eerder as na die Orde van die Goue Heuningkwas.




(Hierdie onderhoud het voorheen op Litnet verskyn.)

Tuesday, February 3, 2015

Repliek: Psigiater reageer op Dominique Botha se roman Valsrivier


'n Anonieme psigiater reageer nou onlangs op Litnet op Dominique Botha se veelbekroonde en aangrypende roman ValsrivierValsrivier – 'n lesersindruk vanuit 'n sielkundige perspektief - Anonieme psigiater.

Ons verneem van hierdie kenner van die psigiatrie:

"Die skrywer sê dat sy die boek geskryf het om haar broer te onthou, waarin sy sekerlik suksesvol was, maar ook om iets uit die verlies van sy dood te maak, en dis hierin waar die teleurstelling van die roman vir my lê. Die beskrywings van die karakters se ervarings is uitgebreid en omvattend, maar daar word feitlik geen erkenning aan hulle emosionele belewenis gegee nie. Die karakter Dominique noem baie selde hoe sy voel, gee geen refleksie op wat sy dink ander voel, of wat sy dink haar broer se gevoelens mag wees nie."
Die probleem met die anonieme psigiater se uitspraak is dat hy hom verlaat op wat die skrywer sê in plaas van wat sy doen ... Dit is uiteraard altyd die probleem wat onderhoude in die pers en op televisie skep, is dat dit die resepsie of verwagting van die teks vertroebel en 'n skadu oor die ervaring van die teks kan gooi. (Ek gaan wel my resensie en onderhoud weer betrek.)

Vir my is die krag van die roman júis geleë in die distansie - met ander woorde, dat die enorme emosionele pyn afstandelik gehou word en dat sy ten slotte die teks afsluit met 'n kragtige lykdig. [1]

Wat Dokter Anoniem miskyk, is dat 'n mens twee stemme hier aantref, te wete die ouer, volwasse verteller wat die ervarings gedistansieerd weergee en sodoende juis die trefkrag van die emosionele pyn in understament weergee.

Lees is 'n subjektiewe en 'n uiters persoonlike reaksie, maar ek sou meer van 'n ingeligte sielkundige verslag van 'n psigiater wou sien as net 'n paar ek-voel-opmerkings.

Dalk iets oor die skryf van so 'n teks as heling, met ander woorde, die teks as terapie. Moderne psigoanaliste en -terapeute soos Adam Philips, gebruik letterkundige tekste om by sekere sielkundige "waarhede" uit te kom.

Philips resenseer dikwels vir die London Review of Books, maar dan insigryk en sinvol. En Philips se gesonde skepsis oor psigoanalise en sy skerp analises, maak sy werk uiters relevant. Hy sien dit ook nie as 'n wetenskap nie, maar gewoon net as 'n (lees: een) manier om by pynlike waarhede oor jouself uit te kom.

Promises, Promises (2000) is 'n lonende leeservaring.

Psigiaters en sielkundiges mag oor tekste skryf, maar dan moet daar werklik met die teks "gewals" word.

Byvoorbeeld: waarom het Valsrivier mense so ontroer? Dalk omdat die verteller / fokalisator iets onthul oor die ervaring van broederlike verlies en hoe die sogenaamde familie of gesin nie kinders kan beskerm teen die aanslae van buite nie, te wete, die ouers se politieke oortuigings wat tot gevolg gehad het dat die kinders uit die beskutte platteland moet weggaan en in 'n Engelse skool moet aanpas.

Daar is byvoorbeeld uiters subtiele passasies oor lyflikheid en die vader wat byvoorbeeld opmerk hoe maer die dogter geword het.

In 'n onderhoud met my in Die Burger merk die skrywer op:

"Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie. 'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop." [2]

Sy bely ook dat sy die diep kreet van smart op 'n beheersde wyse wou weergee. Maar wat sy uiteindelik self bely, is nie werklik tersaaklik nie. Die roman doen dit. Sy besweer pyn en sy doen dit met 'n streng hand: afstandelik, soms met humor, met 'n vervlegting van waarheid en fiksie, prosa en poësie.

Die anonieme psigiater skryf ook:

"Die karakter Dominique beskryf haarself ook op 'n baie passiewe en amper afgestompte manier, asof sy nie 'n stem in die familie en lewe gehad het nie, byvoorbeeld die episode waar sy seks het met die doktersvriend van Paul. Dit laat die leser met dieselfde gevoel van hartseer en eensaamheid wat sy en haar broer moes ervaar het."

Kennelik het hy nie raakgesien dat die broer die hele familie oorheers het nie? Dat hy 'n soort wonderkind was en dat sy eers ná sy vertrek 'n eie stem gekry het.  So gelees, neem sy as't ware sy kreatiewe energie oor en verlos die hele familie van hul pyn.

Om te gil, kan jou leser doof maak. Die sagter, onderstellende manier van skryf, het 'n altyd groter impak.

Endnotas:

Hier is my resensie wat in Beeld en daarna op my blog verskyn het (Dominique Botha - Valsrivier, 2013):

[1.] Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.

Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind  se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op  en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198):”ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie…

Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.

Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!

Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.

Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).

Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.

Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.

Paul waarsku:”Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).

Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.

Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:


tyd rol en sloersoos ‘n muntstukkie gegooiop die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruit geloop


[2.] Onderhoud: Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha, skryfster van Valsrivier

1. Baie geluk met jou aangrypende roman. Een van die belangrikste aspekte van die boek is dat jou broer se lewensloop en uiteindelike dood die tema is vir hierdie boek. Jy “voltooi” as’t ware sy kreatiewe impuls wat gekortwiek is deur sy dood. Kommentaar.

My boek is 'n protes teen vergetelheid. Die behoefte om die dood op sy plek te hou lê diep in die menslike natuur. Deur iets tasbaar agter te laat is 'n weerspreking van die "Paul-shaped hole in the universe", om die treffende doodsmetafoor uit Arundhati Roy se God of Small Things te leen. Nou bestaan die buitelyne van die verdwene mens en van sy gedigte op papier. 

Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem. Ek neem die vertelling oor. Baie versigtig in die begin, maar soos die verhaal ontplooi, so beweeg die susterstem geleidelik weg uit die skadu van die ouer broer se talent asook uit die skadu van verlies.


2. Daar is herkenbare mense in die roman – soos onder andere Antjie Krog en jou familie. Hoe voel jy hieroor of dink jy die roman fiksionaliseer die gegewe genoegsaam?

Ek het in 'n innerlike tweestryd vasgeval oor my reg om sulke private geskiedenis op so 'n publieke manier te gebruik. Hoe verdiskonteer mens die wrywing tussen feit en fiksie? Is dit nie maar net 'n manier om 'n kombers te gooi oor die intieme vervlegting van verbeelding en geheue nie? Of die teks as verhaal of verhandeling ingedeel word is eintlik 'n ronddansery wat nie die kompleksiteit van 'n skrywer se etiese uitdagings verskraal nie. 

My oorgang van memoir tot roman was ook deels as  gevolg van 'n groeiende besef dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg.  Skryf is ook 'n dissipline waardeur mens geleidelik van die sin van uniekheid van die self verlig word; 'n bevrydende gestrompel in die rigting van nederigheid. Nogtans mag lesers die mededeling kyklustig op sigwaarde interpreteer, want hulle lewe nog met die gewig en las van 'self'. Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie.'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop. 

Ek het probeer om die gebruik van intieme familie geskiedenis met integriteit te benader, asook die herkenbare mense met eerlikheid en grasie te beskryf, en hoop dat die leser dit sal oordeel as 'n metafoor met 'n breë weerklank, verby die persoonlike gegewens van die verhaal.


3. Die boek lewer kommentaar op tyd en die boek is in ‘n siklus geskryf. Die begin en einde sluit bymekaar aan. Dink jy die onbewuste is ‘n soort tydlose ruimte waarin alles vir ewig geberg word?

Ek dink die onbewuste is 'n onveilige stoorplek met sy eie skeppende drange. Ons onthou op maniere wat ons wil onthou, merendeels in diens van die ego as noodwendig in diens van die waarheid. 

In jou resensie oor my boek trek jy 'n vergelyking tussen water en die onbewuste,  'n raakvatting wat ook in die titel Valsrivier weerspieëling vind. Die titel is 'n toespeling op die naam van die rivier wat deur die familieplaas vloei, met 'n verdere dieperleggende betekenis. Paul se groot literêre held Eugène Marais het geskryf oor die diep rivier, die donker stroom, wat  gesien kan word as 'n verwysing na sy eie stryd met morfienverslawing, asook die donker keersy van die skeppingsdrang, wat beide lewensgewend en doodsgevaarlik kan wees. Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste. Niks is standhoudend nie.  Digters en skrywers is die watersoekers wat verborge strome moet opdiep.


4. Ek dink die begrafnistoneel is so goed beskryf. Hoe lank het jy aan hierdie teks gewerk en was dit deel van jou Kreatiewe Skryfskool-portefeulje aan Wits? Wie was jou mentor en hoe voel jy oor skryfskole?

Ek het ongeveer 3 jaar lank gewerk aan die teks. Leon de Kock, as hoof van die skryfskool by Wits het my baie aangemoedig, en toe onder verdere leiding van Gerrit Olivier en die res van die MA-groep het my boek  geleidelik gestalte gekry. Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit.  Skryfskole bied belangstellende lesers, kritici en sperdatums aan. Dié is van onskatbare waarde.

Die slot van die boek het eers na die afloop van die kursus opgewel. Ek dink dit het ontstaan uit 'n behoefte om 'n diep kreet van smart op 'n beheersde wyse vorm te gee en te besweer. 


[Hierdie onderhoud word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]