Showing posts with label Andrei Tarkofski. Show all posts
Showing posts with label Andrei Tarkofski. Show all posts

Saturday, June 2, 2018

Repliek | S.J. Naudé se Die derde spoel

I

In hierdie dae waar 'n jong digter vergelyk word met Gertrude Stein, is die bekroning van S.J. Naudé se Die derde spoel met die UJ-prys verfrissend gebalanseerd.

In die woorde van kollega Helize van Vuuren wat dit 'n uitstekende roman noem, die volgende:

Dié drie afdelings sluit intiem aan by die titel se “derde spoel”. Op die heel eerste begripsvlak vorm die roman ‘n speurverhaal, met ‘n soeke na ‘n verlore Duitse film uit 1933, gebaseer op Walter Benjamin se 1932-herinneringe aan sy kinderdae in “Berlynse kroniek” (in streng-verwerkte vorm uit 1938 na sy dood gepubliseer as Berliner Kindheit um 1900 [Berlin childhood around 1900]). Die eerste twee dele van die verlore film word gevind na intensiewe speurtogte deur die hoofkarakter, Etienne Nieuwenhuis. Die eerste filmspoel kom te voorskyn uit ‘n buffet in die bouvallige Londense woonstel van Axel se sterwende oupa, Ariel. Hy was een van die Joodse filmmakers indertyd in die Weimar Republiek (1918–1933) wat (soos Walter Benjamin, wie se werk sentraal figureer in Naudé se roman) uit Berlyn moes vlug toe Hitler en sy Nasionaal-Sosialiste aan bewind gekom het. Die tweede spoel moet Etienne koop by sy minnaar se stiefpa, Volker, in Wes-Berlyn, nadat die houer daarvan, Axel se ma Mariel, selfdoding gekies het deur verdrinking in die Baltiese See. Later blyk dit Etienne se passie vir navorsing en spesifieke belangstelling in verlore films is slim gevoed deur sy Duitse minnaar, Axel. Die derde spoel kom nie in Buenos Aires te voorskyn by Axel se hoogsbejaarde, blinde ouma, Irmgard, nie, maar bly verlore. Axel se ouma, wat meegewerk het aan die film in 1933, is kinds, kan dus niks sinnigs vertel nie. Die roman vorm uiteindelik die derde spoel van die film – ‘n nuut-gefabriseerde spoel, ’n andersoortige “spoel” wat “vloed”, deluge, vernietiging impliseer (Die derde spoel deur SJ Naudé/ 'n resensie | LitNet. Besoek 2 Junie 2018).

In die "commendatio oor" (sic!) skryf Bibi Burger insigryk oor die roman op Litnet:

Ook wat Die derde spoel betref, verwys my medebeoordelaar Sonja Loots na die roman se “panoramiese reikwydte”. Frederick Botha lys van die roman se motiewe: “argitektuur, filmkuns, musiek, seks, apartheid, Vigs en die grensoorlog”. Hierby kan gevoeg word: industriële musiek, Walter Benjamin en tuinmaak (UJ-pryse 2018/ Commendatio oor SJ Naudé se Die derde spoel | LitNet. Besoek 2 Junie 2018).

Tereg betrek sy Sluiper (Stalker) van Tarkofski as 'n ander belangrike interteks. Inderdaad die spoke van 'n verlore toekoms ...

Ek meen Tarkofski se films - soos Žižek in The Pervert's Guide to the Cinema uitwys, ondersoek uitsigloosheid - inderdaad dat daar geen hoop kan wees nie. Ingmar Bergman het Tarkofski uitgesonder as die grootste filmmaker van ons tyd (Woorde Wat Weeg/ S. J. Naudé – Die derde spoel (2017). Besoek 2 Junie 2018).

"Die siklus van desperaatheid", in die woorde van Gershom Scholem, vriend van Walter Benjamin, kom in Die derde spoel sterk na vore.

Angelus Novus, 1920 © Paul Klee

Die Angelus Novus is eweneens 'n belangrike kode vir die teks. Ondertussen lees ek weer Benjamin se werk. In September 1940 pleeg hy selfmoord, en sy vriend Gershom Scholem erf die skets, iets waarmee Benjamin sterk geïdentifiseer het. Die engel van die geskiedenis wat 'n melancholiese blik gee op die geskiedenis as 'n siklus van wanhoop (Angelus Novus - WikipediaBesoek 2 Junie 2018).

II

En Gertrude Stein? Die digter van "a rose is a rose is a rose", vriendin van Picasso (pragtig deur haar geskilder) en kunsversamelaar, het kunstenaars in haar salon op 27 Rue de Fleurus ontvang. Sy was vriende met Ezra Pound, Ernest Hemingway, F. Scott Fitzgerald, Sinclair Lewis, Sherwood Anderson, Henri Matisse en vele ander. Haar minnares was Alice B. Toklas wat 'n lieflike kookboek geskryf het.

Van die groot name van die modernisme, het by haar aangedoen.

Hemingway was glo verlief op haar, onwetend dat sy lesbies was; todat hy eendag ongenooid opgedaag het en 'n rusie aangehoor het tussen haar en Alice.

The Autobiography of Alice B. Toklas bly 'n klassiek. 'n Ryk Amerikaanse Jodin vasgevang in die WO II met vele vrae oor hoe sy hierdie tydperk oorleef het. Was sy beskerm deur samesweerders of nie?

"There is no there there", kan 'n mens net iemand toevoeg wat 'n jong digter vergelyk met Stein.

The Adventures of Picasso van Tage Danielsson is 'n Sweedse film van 1978 wat ek indertyd as student gesien het (The Adventures of Picasso - Wikipedia. Besoek 2 Junie 2018).

"Art is a lie that leads us closer to the truth." Hierdie woorde open die film.

Die film is 'n heerlike parodie met Gertrude Stein wat deur 'n man vertolk word.

In die film sê sy by 'n uitstalling: "Alice, be talkless" aan haar vriendin. 

© Joan Hambidge


Friday, January 27, 2017

La la land

Damien Chazelle regisseur, met Ryan Gosling en Emma Stone

I
Aan die begin van The Pervert's Guide to the Cinema praat Slavoj Žižek, die psigoanalis, oor hoe films ons leer om liefde / begeerte te skep. Die rolprent La la land is enige psigoanalis se droom. Ofskoon dit handel oor Hollywood en al die kodes van die musical as genre gebruik (dancing in to song), behels die film veel meer. Dit is 'n rolprent wat die konstruksie van die self (die een hoofkarakter wil akteur word, die ander een musikant) ontleed.

Ook die konstruksie van die liefde, en in die besonderheid, ónvervulde liefde. Hierom dan die plakkaat van Ingrid Bergman (Casablanca) teen die einde van die film om te waarsku dat die droom dalk nie vervul gaan word nie?

Die titel aktiveer sowel Los Angeles as droomland of om nie met die realiteit in kontak te wees nie.

Die film werk met die kodes van die liefdesverhaal (boy meets girl) en daar is ‘n speelse verwysing na Parys, die stad van drome en die liefde waarheen die aktrise tydelik ontvlug. Sy keer terug, trou met ‘n ander man, raak ‘n moeder – en een aand loop sy weer (toevallig?) in die ou liefde se jazz-plek in waar sy hom sien optree. In sy fantasie beleef hy versoening.

Gaan hulle weer bymekaar uitkom, ja of nee?

Beide Gosling en Stone is bedrewe dansers. Hulle sing goed. Hy speel puik klavier. In die werklike lewe is hy ook musikant. Die sub-genre van die musical word eweneens geaktiveer. Die begin herinner aan West Side Story – en hier is die stemme gebruik van nie minder as Kiri Te Kanawa en José Carreras.

En Mamma Mia! met Meryl Streep kom eweneens ter sprake as ons dink aan goeie musicals.

II

La la land oes tans die een bekroning na die ander in. Wat hierdie kyker eerder interesseer (en boei) is die aktivering van die droomwerklikheid of fantasie. Die belangrike dokumentêr oor die Russiese filmmaker Tarkofski (regie deur Tarkofsky met Erland Josephson as die verteller) lewer belangrike kommentaar op hierdie aspek.

Filmmakers, volgens Tarkofski, wat eerder konsentreer op die droomaspek en ‘n unieke wêreld skep, is minder suksesvol as filmmakers wat ‘n storie vertel. Hy bly altyd deel van sy film, bely hy. Elke skoot, elke objek, elke aspek (selfs ‘n boom), oorweeg hy self. Anders gaan jou film verlore, soos dikwels in Hollywood-films gebeur waar die oorspronklike idee verlore gaan.

Daar word ryklik verwys na Sacrifice – waarin Josephson speel.

Hierdie film handel oor ‘n middeljarige intellektueel wat ‘n nuklêere ramp probeer verhoed deur met God te onderhandel. (Tarkofski, terloops was uiters spiritueel en dit was sy laaste film wat hy gemaak het voor sy ontydige dood en sy derde as Sowjet-ekspatriaat.)

Sy seun in die film is stom na ‘n operasie. (Hierteenoor is daar baie woorde en sang in La la land.)

Josephson was ook te sien in Nostalghia en het veral bekendheid verwerf as ‘n Bergman-akteur. Nou onlangs het ek weer na Scenes from a marriage, 1973 gekyk – met Liv Ullmann, Bergman se vrou – daardie verstommende analise van ‘n huwelik wat desintegreer oor ‘n periode van tien jaar, maar ook nie eindig nie. Tarkofski vermeld in die dokumentêr dat Josephson geen direksie nodig het nie; hy is ‘n uiters natuurlike, instinktiewe akteur. (En hoe meer ek na Tarkofski kyk, hoe meer is ek onder die indruk van sy werk. In hierdie stadium vind ek hom ‘n groter regisseur as Bergman weens die komplekse simboliek van sy films).

III

Bergman het in sy outobiografie na die filmkuns as ‘n magiese lantern verwys (Writings - Productions – Drupal. Besoek 26 Januarie 2017).

Wanneer ‘n film soos La la land ‘n mens inspireer om soveel ander tekste te betrek, dan gebeur daar meer as wat ‘n belewenis mag impliseer.


© Joan Hambidge

Tuesday, June 28, 2016

Joan Hambidge - Tarkofski se Solaris (1972)

I

Hierdie film word as een van die hoogtepunte beskou in die genre van sciencefiction. Dit is egter ook een van Tarkofski se films waarin ‘n mens sy belangrikste tegnieke kan sien soos:

Eduard Artemyef

1.     lewenswyshede (Ons dink ons lewe vir ewig, omdat ons nie weet wanneer ons sterf nie);
2.     die ontginning van drome (in grys of donker kleure);
3.     die gebruik van kerk- of gewyde musiek om die simboliese inhoud van die film te versterk : hier is dit Johann Sebastian Bach se "Ich ruf zu dir, Herr Jesu Christ" en elektroniese musiek van Eduard Artemyef;
4.     die ondersoek na liminaliteit. In hierdie film is dit ‘n verskyning of replika van die geliefde wat selfdood gepleeg het en die grense tussen lewe en dood verskuif;
5.     die terugkeer na die jeug of ouerhuis. In die slottoneel reën dit op die vaderfiguur, terwyl die seun deur die venster na hom staar. Dit intimeer dat die vader waarskynlik reeds dood is en dat dit ‘n fantasie of herinnering mag wees;
6.     die gebruik van verskillende kleurskakerings om emosionele inhoude oor te dra;
7.     die intense verhouding tussen lewe en kuns, waar lewe dikwels kuns naboots. Byvoorbeeld ‘n toneel wat oorgeskiet moet word, omdat die kamera gefaal het (Nostalgia) of  ‘n aktrise wat verlief raak op die filmmaker (Solaris) wat die grense tussen kuns en werklikheid problematiseer en wys hoe kompleks kreatiwiteit is.


II

Stanislaf Lem se roman (1961), met die gelyknamige titel, was die inspirasie vir hierdie film. Kris Kelvin wat moet ondersoek instel oor die ervarings op die ruimteskip wat rondom die planeet die Solaris wentel, skep meer vrae as wat dit antwoorde bied. Die wetenskaplike ondersoeke op die ruimteskip kan nie vorder nie, omdat elkeen van die wetenskaplikes met emosionele probleme belas is. (Solaris (1972 film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 26 Junie 2016.)

Kelvin ontdek dat sy vriend selfdood gepleeg het en dat die ander wetenskaplikes antagonisties is teenoor hom. Gibarian, sy vriend, laat ook 'n selfdood-nota agter wat via 'n video beleef word. Ook die reis na die Solaris word verpak via 'n videofilm wat Henri Berton, 'n voormalige ruimtevaarder, aan hom gee. Dit bevat o.a. 'n verhaal van 'n viermeter-lange kind ...

Wanneer Kelvin in die ruimteskip is, sien hy sy oorlede vrou Hari. Hy plaas haar in 'n angstoestand in 'n ruimtekapsule ten einde haar uit te wis. Die DVD wat ek bekyk het, se tweede gedeelte begin by hierdie futiele aksie.

Sy keer egter terug, want die planeet, Solaris, het die replika van sy dooie vrou uit Kelvin se herinneringe aan haar geskep in sogenaamde neutrino-sisteme. Sy kan ook met die sogenaamde uitwisser vernietig word.

In 'n pynlike toneel wys Kelvin vir Hari, of dan die replika van haar, films van sy jeug, sy ouers, en sy werklike vrou.

Ondertussen probeer een van die wetenskaplikes uitvind hoe sy breinpatrone werk ten einde die verskyning van Hari te stop. Dit geluk egter nie.

Sartorius, die een wetenskaplike vertel Hari dat sy 'n replika is van die vrou; ook sy pleeg selfdood deur gif te drink. Sy verskyn egter weer, todat die twee wetenskaplikes haar uitwis.

Kelvin - totaal verlore - tob of hy na al sy ervarings en verliese moet terugkeer aarde toe. Hy keer terug na sy ouerhuis, 'n huis waarin sy vader staan waar die reën val op sy vader. Die huis is egter op die planeet Solaris in die middel van 'n oseaan.

Brueghel, Jagters in die sneeu

III

Hoe interpreteer hierdie kyker die film? Dit is 'n film oor hoe jou jeugjare jou lewensuitkyk bepaal en hoe jy altyd terugkeer na hierdie primordiale verhouding. Die vrou wat 'n replika is van 'n ander dui op hoe mense waarskynlik altyd dieselfde argetipes (onbewustelik) in die liefde herhaal ...

Die betekenis van die Brueghel-skilderye (Jagters in die sneeu, 1565) behoef ook ondersoek.

Of Rembrandt se Terugkeer van die verlore seun (1669) dui daarop dat Tarkofski die film wil laai met ander psigiese inhoude as blote scifi wat waarskynlik ook een van die redes was vir Lem se ongelukkigheid met hierdie film.

IV

Uiteindelik is dit ‘n film oor primordialiteit. In die kamera wat fokus op ‘n draaiende wolk of water, dui hierop.

Tarkofski se films is gelaai met sub-teks en simbole wat met elke herbesoek nuwe interpretasie-moontlikhede aktiveer. In dieselfde tyd wat ek Solaris sien, kyk ek weer na The conversation, Francis Ford Coppola se film uit 1974, met Gene Hackman in die hoofrol. Coppola het Blowup (1966) van Antonioni as sy bepalende invloed beskou. (The Conversation - Wikipedia, the free encyclopediaBesoek 28 Junie 2016). 

Wat het hierdie drie films in gemeen?

In aldrie gevalle gaan dit om die ekstensies van die self (video’s, afluisterapparaat, kameras) wat nie alleen ‘n lewe vergemaklik nie, maar ook kompliseer.

Gene Hackman, die professionele afluister-kenner, se interpretasie van twee mense wat in ‘n sirkel loop en ‘n aanval vrees, maak hom paranoïes. Het hy die woorde reg vertolk?

Harry Caul (Hackman) gebruik net tiekiebokse en sy kantoor is in ‘n ou stoorplek in San Francisco. Hy dra ‘n aaklige reënjas. Wanneer bande gesteel word en drie mense vermoor word, voel  hy homself aandadig. Hy is Katoliek en die kyker sien ook hy sy sondes bely in ‘n bieghok.

Het die twee mense ‘n verhouding wat hy afluister?

Die besoek aan die aangrensende hotelkamer speel weer in op Hitchcock se Psycho (1960) wanneer hy onder die stortprop vir bloed soek. Die grieselrigheid word egter gevind in die toilet.

Die herbesoek aan die tapes en die wegvee van geraas soos musiek en ander stemme laat hom net met die stemme van die twee karakters.

Harrison Ford is sy skadukant, die een wat hom agtervolg en wanneer die bande gesteel word, besef hy sy medepligtigheid aan die moord.

Daar is egter ‘n ander moord en Caul vrees dat daar meeluisterapparate in sy woonstel geplant mag wees. Hy verwoes sy hele woonstel in ‘n futiele soektog en breek selfs ‘n Jesus-beeldjie (die einde van sy geloof?).  Aan die einde speel hy sy saxofoon in ‘n verinneweerde ruimte.

Antonioni se beeldskone Blowup handel oor die modefotograaf wat per abuis ‘n foto neem van ‘n moord. Ook hier word die foto’s gesteel, behalwe vir een foto van die lyk.

Hierdie film is gebaseer op Julio Cortázar se The devil’s drool en was indertyd ervaar as grensoorskrydend ten opsigte van die naaktheid. Ons sien egter nooit Vanessa Redgrave se borste nie.

In sowel Solaris as in The conversation sien ons lyke toegemaak in deurskynende plastieksakke.

© Joan Hambidge