Showing posts with label Jacana. Show all posts
Showing posts with label Jacana. Show all posts

Saturday, May 30, 2015

David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing (2015)


David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing. Jacana, 2015. ISBN 978 1 4314 2153 4.

Resensent: Joan Hambidge

David Attwell is ‘n gesiene literator, verbonde aan York Universiteit en ‘n voorste Coetzee-kenner. Ons dink hier aan Doubling the point (1992) met essays en onderhoude wat die weg gebaan het vir talle navorsers.

My gevoel oor Coetzee was nog altyd ‘n komplekse een: enersyds gebruik hy die werklikheid of lewe as ‘n vertrekpunt wat hy daarna inkleur en verander met komplekse fiksionaliseringsprosesse. ‘n Mens dink hier onvermydelik aan die magistrale roman The Master of Petersburg waarin Dostojefski die basis vorm waarteen Coetzee homself posisioneer. Andersyds negeer hy hierdie verband tussen lewe en fiksie.

En die kodewoord is hier kompleks, want ‘n letterkundige teks is nooit op ‘n een-tot-een vlak gelyk aan die werklikheid of die representasies daarvan nie. Imraan Coovadia se polemiese reaksie ‘n tyd gelede op die lewe van Coetzee het dit immers bewys toe Ian Glenn met klinkklare feite gekom het en hom verkeerd bewys het op Litnet. Die punt is egter: wanneer ‘n skrywer self ‘n persoonlike mitologie skep van “privaatheid”, dan skep dit paradoksaal juis meer gissinge. Veral romansiers begryp dit: kyk maar net wat maak Julian Barnes nie alles met Flaubert in Flaubert’s parrot (1982) nie.

In 2003 verower Coetzee die Nobelprys vir letterkunde en aan die UK is daar die Coetzee Collective. Min moderne skrywers het soveel aandag van kritici geniet as Coetzee self en die meeste van hierdie ingeligte of ideale lesers is deurgaans besig met ‘n (besitlike) gesprek met mekaar.

Attwell is duidelik daaroor dat ‘n mens hierdie studie, ‘n kritiese biografie, moet saamlees met die kreatiewe tekste van JMC.  Die outeur is uitgesproke daaroor dat nie alles van Coetzee se lewe tot uiting kom in sy werk nie en die bestudering van manuskripte in die Harry Ransom Sentrum aan die Universiteit van Texas, te Austin was die ondersoekterrein – net soos US se dokumentasiesentrum vir die Opperman-navorser die sentrale navorsingsentrum is.

Wat is “off stage” en wat is “centre stage”? Attwell het begin as ‘n MA-student onder Coetzee se begeleiding: hierna volg Doubling the Point (1992) en J.M. Coetzee: South Africa and the Politics of Writing (1993).

Die bonuspunt van hierdie boek is dat dit uiters vlot en toeganklik geskryf is. Attwell verwag dat die leser Kannemeyer se biografie (J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe, 2012) ken en hy fokus op die ragfyne drade tussen (die) lewe, intriges (soos sensuur) en die skryfproses. Die skrywer se taalidentiteit, wisselend tussen Afrikaans en Engels, word aangespreek. Coetzee se beroemde (berugte?) uitspraak teen Gordimer dat ‘n mens alleenlik krities mag wees oor Afrikaans en die Afrikaner as jy self een is, word ondersoek (43). Coetzee is ‘n histories gesien ‘n “Afrikaner”, ‘n persoon wat altyd met my vlot in Afrikaans gekommunikeer het as toenmalige kollega aan die UK. Sy taalidentiteit, nes al die ander “wisselinge van lywe”, is die voortdurende spel wat JMC met sy publiek speel as die enigmatiese, nie vaspenbare verkleurmannetjie. Dalk die beste voorbeeld van hoe ‘n skrywer homself kan “herskep”, ‘n nuwe identiteit kan skep? Van rekenaar-fundi, linguis tot gerekende postmodernis; ook dalk faux-biograaf.

En Attwell hou al die balle in die lug soos ‘n bedrewe jongleur. Hy skep moontlikhede, posisies, hy haal aan, hy wys op feite en latere implikasies in die skryfwerk.

Vir my is ‘n aangrypende afdeling oor die rol van sy moeder en hoe dit beslag gekry het in Age of Iron. Die pynlike verlies aan die moeder en die kartering van haar onregverdige posisie binne die gemeenskap met ‘n man wat haar nie genoegsaam kon ondersteun nie, word uitstekend ontleed. Juis hierom dan die erkenning aan die moeder by die ontvangs van die Nobelprys.

‘n Groot skrywer is altyd veel te danke aan sy lyfkritikus wat sy lewe, dokumente en uiteindelike werk verstaan en goed kan verpak vir ‘n leserskorps. So ‘n kritikus is uiteraard altyd die Ideale Leser, daardie een waarvan Wolfgang Iser praat.

Daar word afdrukke van notaboeke gegee en die migrasie tussen teks en lewe, ander tekste en eie tekste, vind dan beslag op “geleende” eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad. Waarskynlik omdat skryf uiteindelik ‘n proses van self-eksaminering is …

Miskien sou ‘n mens meer wou sien oor die verhouding met Paul Auster en hul uitruiling van idees? Die sentrale idee van hierdie studie is weliswaar die “face to face” met JMC. ‘n Skrywer wat telkemale ten spyte van persoonlike ellendes, soos die tragiese dood van ‘n kind of ‘n non-funsksionerende vaderfiguur, ‘n indringende en komplekse roman skryf. Mites rondom die outeur se vertrek na Australië word die nek ingeslaan. Die beplanning rondom sy vertrek het lank voor die ANC se kritiek op Disgrace gekom. Vir hierdie leser is Coetzee op sy beste in die reeds genoemde Master of Petersburg en In The Heart of the Country.

Dit is ‘n manjifieke boek. Met J.M. Coetzee as die formidabele akteur en David Attwell as die regisseur én souffleur. Hierdie boek analiseer die “inner workings” van ‘n belangrike skrywer.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Beeld geplaas)

Sunday, July 28, 2013

Liesl Jobson - Ride the tortoise (2013)



Liesl Jobson. Ride the tortoiseJacana, 2013. ISBN 978 1 4314 0566 4.

Resensent: Joan Hambidge

Ride the tortoise is ‘n bundel kortverhale van Liesl Jobson. Liesl Jobson het al aandag getrek as ‘n besondere beoefenaar van “flash fiction”. Sy is ook ‘n bekende fotograaf en digter. Sy behartig die Mad Hatter’s Review, ‘n aanlyn-tydskrif.

Dit is ‘n bundel met verhale wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. Vanaf die openingsverhaal “The Edge of the Pot” waarin korrupsie aangespreek word, lees ‘n mens met verwondering aan hierdie bundel. Kortverhale waarin die onthulling jou dikwels tussen die oë tref. “You Pay for the View: Twenty Tips for Super Pics” gebruik die kamera en hoe foto’s dikwels iets registreer wat búite woorde lê. Van die eerste kamera wat die kind as geskenk ontvang van die vader tot die priemende foto’s van ‘n premature baba in ‘n broeikas (wat die moeder as indringend en pornografies ervaar), word weergegee. Dit word gekonstrueer rondom die stappe, wat die jong fotograaf in handleidings aantref soos “hold it steady”,  “mix up your perspective”, “watch the light”, ensomeer. Die leser word ingetrek by verskillende vinjette in die verteller, nee eerder fokalisator, se gemoed. “I am a camera” van Christopher Isherwood kom hier ter sprake.

Wat tussen die afdelings gebeur, is in wese tersaaklik. Foto’s is ‘n betreding van privaatheid, maar vertel terselfdertyd verhale waaroor ons agterna kan tob en nadink. Dit verfris die geheue en word ‘n stuk geskiedenis waarvan ‘n mens nie kan wegdraai nie. Foto’s is eweneens vervalsings, leer ons uit hierdie multivlakkige verhaal. Die kamera maak die fotograaf braaf en in haar werk verken sy gevaarlike ruimtes. Nie alleen verander die aard van die kamera nie (van ‘n ou Kodak Brownie tot ‘n digitale kamera), maar ook die mitologie rondom foto’s wat die siel steel van die objek wat gefotografeer word, blyk die subteks te wees van die verhaal. Die verhouding tussen die vrou en man het skielik tussen twee vinjette verander; net soos die fokalisator-kameravrou se sieninge van foto’s en hul impak getransformeer het. Dit word ‘n ondersoek van self teen die agtergrond van ‘n politieke “back drop” en ‘n aanwending van kamerategnieke wat ‘n meta-analise word van dít wat ons beleef.

As daar ooit ‘n klassieke verhaal in ‘n bundel gestaan het wat gebloemlees móét word, is dit hierdie storie. Met herlesings, word die leser bewus van méér, ánder fasette.

‘n Besondere wins van hierdie bundel is die skrywer se vermoë om ‘n waarheidsgetroue weergawe van ánder kulture te maak sonder dat dit bespotlik of stereotipies raak. In die openingsverhaal, onder andere, word die leefruimte van swart mense verken: in “On a Broomstick”word ‘n Afrikaanse familie se ervaring van ‘n vader se siekte en dood beskryf. Daar is geen vermindering of neerkykery nie. Die implisiete outeur (in Wayne Booth se terme) het te veel respek vir die menslike kondisie wat uitgebeeld word.

“Practice” vertel op ‘n hartgrypende wyse die verhaal van ‘n kind se breinsiekte. Inligting word via die internet verkry en die verskillende tegnieke wat Jobson gebruik om hierdie pynlike gegewe aan die leser oor te dra, sal vir altyd by hierdie leser spook. Musiek is eweneens ‘n deurlopende motief in hierdie bundel, besonder skerp verwoord in “Tease”.

‘n Punt van kritiek: miskien word die montage-tegniek te veel gebruik. In ‘n eerste weergawe oortuig en oorrompel dit. By “The Exact location of The Exit” weet die leser wat sy wil bereik: stiltes en ontwikkelinge tussen vinjette.

“Boston Brown Bread”  wil satiries wees en die slot is onthutsend: om jou doof te maak vir ander se rusies.                                                                                                

Die verhale is dus ‘n kaleidoskoop van die komplekse Suid-Afrikaanse landskap: al die fasette van die nuwe (ruwe?) Suid-Afrika met ‘n besondere blik op grens-ervarings: ‘n besoek aan ‘n senukliniek, anoreksie, ‘n vroeggebore baba, self-laserasie, dwelmverslawing, afpersing, omkopery, ‘n selfoonoproep na ‘n geliefde in die ICU, egskeidings, haweloosheid, ensomeer.

Daar is ‘n glossarium van eg Suid-Afrikaanse uitdrukkings soos bliksem en umlungu. “Night” op bladsy 94 moet lees “nicht” op syn Duits.

In Chinese simboliek is die tortoise / skilpad ‘n simbool van wysheid; in die Egiptiese mitologie staan dit vir ‘n magiese kwaliteit waarmee die boosheid afgeweer word. In Afrika-simboliek staan dit vir vroulike kreatiwiteit.

In “Still Life in the Art Room” word die verskillende betekenisse ontgin.

Lees hierdie bundel. Dit is werklik die moeite werd. Die prosa het dikwels ‘n sterk poëtiese kwaliteit.                                                                 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Friday, March 1, 2013

Lionel Abrahams - Chaos theory of the heart and other poems (2005) | Robert Greig - Rules of Cadence (2005)



Lionel Abrahams. Chaos theory of the heart and other poems. Jacana, 2005. ISBN 1 77009 097 5.


Robert Greig. Rules of Cadence. University of KwaZulu-Natal Press, 2005. ISBN 1 86914 075 3.

Resensent: Joan Hambidge 

Die ‘n bekende digter praat altyd van nalatige eerder as nágelate verse. Dit is volgens hom verse wat ná ‘n digter se dood verskyn, omdat die geliefdes die digter wil vereer. Dikwels is dit verse wat nog nie gereed was vir publikasie nie, of wat die digter self sou uitgegooi het. In die geval van Lionel Abrahams se Chaos theory of the heart and other poems verneem die leser dat ‘n hele afdeling, te wete afdeling vier na die digter se dood in hierdie versameling opgeneem is. En dit was my eerste kennismaking met die bundel, omdat ek altyd ‘n bundel van agter na voor lees; dan van die middel na agter. En uiteindelik chronologies. So kan jy dikwels die (onbewuste) simboliek van die bundel raaklees, of juis, ‘n steek wat die digter per ongeluk laat val het, optel.

Dus, my eerste indruk van hierdie bundel was nie baie positief nie, behalwe vir die baie sterk gedig, “Possible Post Script”, waar die slagoffers van ‘n bom die selfmoordbommer aanspreek:

We claim your gratitude, for we were there.

Die res van die gedigte in hierdie slotafdeling mis fokus en is kletserig.

Die bundel word verder gedra met (onder andere) akkolades van J.M. Coetzee en Nadine Gordimer wat meen :”We will never see his like again”. (Is dit terloops etiket om 'n bundel te loof as daar 'n vers aan jou opgedra word? Ek dink hier aan "Two oblique salutes to Nadine Gordimer")

Miskien had die digter goeie vriendskappe en was hy polities tersaaklik, maar sy gedigte is vir gevoel wydlopig en rommelrig. Dit mis die waansin van die digkuns. En met wydlopig bedoel ek nie lengte nie; Breytenbach, Ezra Pound en vele ander digters het lang verse gepleeg, maar nooit het die leser die gevoel dat die gedig koers verloor nie.

Die handvol kwatryne is beslis meer behaaglik as die uitgesponne, lang verse.  "A note in prosy verse" klink of die digter sy werkswyse probeer verdedig, ironies genoeg. "The customer is wrong again" het my geimponeer om die gesprek met die digkuns.

Rules of cadence van Robert Greig is 'n sterker bundel. Die digter is al bekroon met die gesogte Olive Schreiner-prys en sy gedigte getuig van vakmanskap. Dis net wát hy sê nie, maar ook hoé hy dit sê...

As bekende dramakritikus ontgin hy die wêreld van die teater. Die titel kom uit "Notes for a three-hour speech by Fortinbras" waar die digter kommentaar lewer op die huidige stand van sake:

We wil discover traditional tribal chants
for the people's poets to use when teaching
youth to adroitly unroll condoms
and corporate choirs to hymn the good.
Cadence, not words, will rule and be all.

In die afdeling “Biography of an ordinary man” staan daar werklik uitstekende verse soos “Visiting Mrs Leech” en “The abortion”.  Die sterkste afdeling heet “Cry-babies” waarin die digter daardie besondere eienskap van die digkuns presteer: om die stilte agter woorde op te vang soos in die lieflike “The Japanese wives”.  Ook oor die liefde, verbintenisse met ‘n kind en verbygenade dinge, word trefseker gedig. 

Die digter het dikwels ‘n vars blik op die lewe soos gesien kan word in “The undertaker’s wife” wat werk rondom die ironiese stelling (“business is dead”). Om so ‘n vrou te wees, stel eise waaraan sy nie kan voldoen nie. Háár siening van die lewe word in jukstaposisie geplaas met sy morbiede werk wat hom aantas en op haar ‘n impak het.

Die jaar het darem 'n nuwe I.L. de Villiers, Gilbert Gibson, Rustum Kozain, Arthur Attwell opgelewer, as 'n mens so vinnig nadink oor ónthoubare bundels. Rules of cadence bevat ‘n handvol verse wat ‘n mens raak en getuig van ‘n knap talent. “The affair”, wat handel oor ‘n werksverhouding, registreer die impak van iets wat as ‘n spel begin en uiteindelik abrup eindig. Menslike weerloosheid word in verskeie verse gekarteer:

Haiku

Each day we die from each other:
flesh falling from birds
lying in long rains.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Performing Queer (2005) | Sex & Politics in South Africa (2005) | Tommy Boys, Lesbian Men and Ancestral Wives (2005)



Mikki van Zyl & Melissa Steyn (Reds.). Performing Queer. Shaping Sexualities 1994 – 2004 (Volume 1). Kwela, 2005. ISBN 0 7957 0196 9.


Neville Hoad, Karen Martin & Graeme Reid (Editors). Sex & Politics in South Africa.
Double Storey, 2005. ISBN 1 77013 015 2.


Ruth Morgan & Saskia Wieringa. Tommy Boys, Lesbian Men and Ancestral Wives. Jacana Media, 2005. ISBN 1 77009 093 2.

Daar is deesdae meer boeke oor genderpolitiek, genderidentiteit of enige aspek wat met gender te make as tien jaar gelede. Toe het veral feministiese studies die aandag gekry. Nou verskyn daar al om die hawerklap ‘n studie wat nuwe lig werp op die delikate verhouding tussen biologiese en sosiale aspekte van gender. Die nou onlangs onverkwiklike debakel oor homoseksualiteit het opnuut bewys dat die politieke dimensie in enige genderdiskoers nie verreken is nie. 

Hiervoor was die debat in elk geval gedoem tot misverstand: aan die een kant diegene wat meen Die Bybel verklaar dit tot sonde; aan die ander kant die verworpe gays. Tussenin teoretici wat enersyds meen dis ‘n genetiese feit; ander wat beweer dis ‘n politieke keuse.  Mikki van  Zyl & Melissa Steyn is die redakteurs van Performing Queer, ‘n studie in die reeks Social Identities South Africa (onder leiding van Abebe Zegeye).

‘n Goeie titel met ‘n voorblad wat enige semiotikus lank sal besig hou: beeste in die agtergrond(“rooi Afrikaner osse sien jy om elke draai…), ‘n meisie met ‘n kappie en bootse (“ai meisie, meisie sing die Acapellas verder…), ‘n swart man in safari-pak met ‘n pruik op en Protea in die hand…

Dekonstruksie en parodie, dus.

Beide Van Zyl en Steyn se werk is alombekend. Jane Bennett en Amanda Gouws het die manuskrip uitvoerig gelees; hart- en handversterkend vir enige genderteoretikus.

Tien jaar in die demokrasie in en hoe lyk genderpolitiek? Is daar wel sprake van die “shift” waarvan Van Zyl praat? Inderdaad is gender meer vloeibaar en is identiteit ‘n proses (“always becoming”). Met Laurie Gaum/Moreletapark in die vars geheue besef die leser dat hier gepraat word van mense wat reeds die lig gesien het en nie van beswaardes wat dieselfde seks-verhoudings nog as sonde en uit die bose beskou nie. In welke mate jy egter jou eie ruimte moet vind en die impak van ‘n queer identiteit (terloops, die konsep is die noemer waaronder geteoretiseer word en is nie ‘n neerhalende woord nie) op die ervaring van jou-self. 

In hierdie versameling wat verskeie teoretiese modelle aanbied, is die teoretisering van die self “playing on the pavements of identities” van Bernedette Muthien ‘n uitstaande voorbeeld van enersyds persoonlike belydenis en andersyds teoretisering van gender-kwessies binne ‘n politiek-onregverdige bestel. (Die bydraers gebruik dikwels kleinletters by opskrifte; waarskynlik ook ‘n soort subvertering van die skryfkonvensie.) Sy definieer “queer” as ‘n radikale herdefinisie van seksualiteit wat alle posisies verteenwoordig en juis deur die gebruik van die pejoratief, word ‘n nuwe, radikale posisie geïmpliseer. Dit wil juis wegkom van die hetero-dominansie se opposisie tussen gay & straight. Die “alien”of die “inbetween”.

Mikkie van Zyl skryf in “fat like the sun”, ‘n persoonlike belydenis, oor seksuele identiteit en die ervaring van die liggaamlike. Haar woede teen die hetero-normering en die “othering” omdat jy anders lyk, dink en voel, word via gedigte, e-pos, dagboekinskrywings, teorie vir die leser oopgemaak. Lesers mag gru vir die persoonlike toon van die stuk, maar dis juis waar die krag opgesluit is: in die sê sonder skroom.

Rachelle Chadwick, saam met die gesiene Don Foster, artikuleer “’taking-up’gay?; A Rape Crisis volunteer re(per)forms sexuality”. Hier is ook ‘n gedig, lank en uitgesponne, en kommentaar op sosiale konstruksies. Uiters insiggewend is die bydrae van swart gays en lesbiërs en al die vooropgestelde idees en mites wat rondom hierdie (dikwels onsigbare) groep bestaan. 

Charl Hattingh pak die werkplek in “struggles with authenticity”, ‘n arena waar subtiele en minder ooglopende diskriminasie aan die orde van die dag is. Vandag voel witmans dikwels die swaard van diskriminasie teen hulle, maar veral gay-mense het in die verlede al dikwels voor erge diskriminasie te staan gekom. Gaan lees maar wat Zackie Achmat alles vir ons in ‘n argief bewaar het of begin wonder waarom daar iets soos ‘n Mother City Queer Project is. Of waarom sekere mense weens hul beroepe nie ge-“out” wil wees nie en dan ‘n dubbele bestaan begin voer, wat vir die openlike geliefde dikwels ook uitputtend word en konflik veroorsaak.

En diegene wat meen die diskoers is te hardvogtig en aanvallend moet straks herinner word aan hoé ongenuanseerd daar teen gays opgetree word. Die Laurie Gaum-debakel is immers nog vars in die geheue. Robert Vosloo se analise van die kerk en die vraag wat hy vra word ongelukkig ondermyn deur die onlangse debat. Van die “ethics of hospitality” het daar maar min tereg gekom. William Leap, die bekende Amerikaanse teoretikus se analise van kaarte en hoe ‘n stad gelees kan word, is waarskynlik een van die beste essays in hierdie studie. Hy versoen antropologie en linguistiek om ‘n stad se bedrywighede te lees.

Hoe jammer tog dat vooraanstaande Afrikaanse skrywers wat die queer-belewenis beskryf het, nie hierin opgeneem word nie.

“Wat ‘n ááklige omslag!”, roep my vriendin uit. Op die voorblad van Tommy Boys, Lesbian Men and Ancestral Wives staan twee swart dogters, beide met kaalkoppe en die een boonop met bokshandskoene. Hulle seksuele ambivalensie en opstand straal uit die foto.

“Dis die hele punt,” kap ek terug. “Hoekom moet gay-mense in ‘n keurslyf van hetero-idees oor skoonheid of aanvaarbaarheid pas?”

Sex & Politics in South Africa en die genoemde Tommy Boys is handige studie-materiaal vir al gendernavorsers, -dosente en diegene wat belangstel in die geskiedenis van genderpolitiek en –sieninge in Afrika. In teorie is ons land glo vér voor wat genderteorie betref; in die werklikheid is dit egter nie altyd ‘n mooi prentjie. Daar word steeds subtiel, en minder subtiel teen gay-mense gediskrimineer soos die studie aantoon.

Sex & Politics bevat handige argiefmateriaal vir die navorser, soos onder andere ‘n brief van Ivan Toms aan Edwin Cameron, ‘n seksistiese “cartoon” van ‘n man wat in die bed lê en beweer hy is deur ‘n “poefadder” gepik! (25 Augustus 1985, Rapport). Die vraag is na aanleiding van ‘n vriend se vraag oor hoé Vigs opgedoen is; en die ondersteunende sub-teks beweer dat Mediese Navorsing moontlikhede ondersoek dat insekte of diere Vigs kan oordra...

Tommy Boys ondersoek weer op ‘n akademiese wyse aangetrokkenhede tussen vroue.  Al die onsekerhede, stereotipes, pyn, ellende van gay-wees word in hierdie tekste vir die leser onthul. Die taboe rondom hierdie ervarings word gedekonstrueer en dit is uiters belangrike werk wat hier gedoen word om aan vroue agentskap te gee. Die boek werk met relevante studie-gevalle om die uitsprake te ondersteun.

In hierdie studie word die stilte rondom lesbiese verhoudings opgehef en van die navorsers erken dan prontuit dat dit ‘n eerste ondersoek is. Madelene Isaacks (saam met Ruth Morgan) bevestig ‘n belangrike kwessie: gay-politiek is altyd gekoppel aan die groter politieke prentjie soos daar uitgewys word ten opsigte van die situasie in Namibië. Stonewall, soos ons algar weet, kon net gebeur het omdat gay-mense reeds die steun gehad het van feministiese bewegings in die VSA.

Enige persoon wat tans hom of haar uitlaat oor hierdie onderwerp, moet hierdie drie tekste lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 22, 2013

The Obituary Tango: A Selection of Writing from the Caine Prize for African Writing 2005 (2005)



The Obituary Tango: A Selection of Writing from the Caine Prize for African Writing 2005Jacana Press, 2005. ISBN 1 77009 2110.

Resensent: Joan Hambidge   

Hierdie versameling tekste is waarskynlik ‘n tydsdokument. ‘n Leser sal oor ‘n paar jaar van nou die pragtige “The obituary tango” van Jamal Mahjoub weer kan lees en besluit oor die waarde van so ‘n teks wat iets weergee van die Afrka-mens se ervaring binne ‘n Westerse samelewing.

Die storie moet tussen 3 000 en 15 000 woorde lank wees, die skrywer moet van Afrika wees, en die geldprys beloop 15 duisend dollar!

As die werk vertaal is, kry die vertaler boonop ‘n deel van die prysgeld (goed so!) en die bedoeling van die prys is om gehalte binne Afrika-letterkunde te promoveer.

Waarom, wonder ‘n mens, is die Mahjoub, wat nie die wenner was nie, se verhaal gebruik vir die titel van die boek? “Monday morning” van die Nigeriese skrywer Segun Afolabi het met die prysgeld weggeloop en Muthal Naidoo, van Suid-Afrika, was ook op die kortlys.

Elke letterkunde het ‘n bepaalde tradisie en ek is beslis geen kenner van Afrika-letterkunde nie. Vir my moet ‘n kortverhaal ‘n begin, middel en einde hê, rondom ‘n intrige wentel. En die taalgebruik van die kortverhaal is dan ook dikwels na aan die digkuns: bondig, gelade. Edgar Alan Poe, O’Henry, Aucamp, De Vries, e.a. het die belangrike (implisiete) modelle geskep vir hierdie leser se taksering van die kortverhaal.  “The obituary tango” het wel genoeglike oomblikke gehad.

In “Aunty and ma” word ‘n soort Faulkner-agtige “As I lay dying”-gesprek weergegee. Die dooie word aan die woord gestel met sy menings oor sy familie en sy moordenaar.

(En nou ‘n bietjie aan die pruttelrige kant: waarom as die woord jislaaik verskyn in “Aunty and Ma” (van Muthal Naidoo) word dit Yislaaik gespel?)

Dis ‘n knap vertelling waarin verskeie konsepte soos karma en reïnkarnasie die verhaal help dra.

Tolu Ogunlesi se “To a Cartoonist” aktiveer die debakel rondom die strippe rondom Mohamed en die effek van satire. Hierdie Nigereise skrywer ondersoek die effek van hierdie omstrede strippe op sy liefdesverhouding. Met die ontdekking daarvan het sy verloofde hom verlaat en hy maak oënskynlik ‘n objektiewe analise van die effek hiervan; maar dan kom die onverwagse slot en hierdie sterk gestruktureerde verhaal: hoe sal jy maak om jou geliefde terug te kry?

Die boek word inderdaad ‘n reis deur Afrika. Ek dink hier aan ‘n verhaal soos “tropical fish” van Doreen Baingana waarin die verteller verwys na Makerere Universiteit wat beskou word as die Harvard van Afrika. Ook vanuit die perspektief van die swart verteller hoe ‘n wit mens ervaar word!

Met ‘n verwysing na Idi Amin, natuurlik ook in die verhaal.

Dit sou terloops belangrik gewees het om uitvoerige endnotas te verskaf vir begrippe of woorde in vreemde tale!

Dis deesdae die gebruik veral in tekste waar Afrikaanse - of Moeslem-woorde gebruik word. ‘n Mens dink hier aan Rozena Maart se Rosa’s District 6 waar die glossarium die leser se oë oopmaak vir verhulde kodes in verhale.

bazungu
bayaye
muzungu

Ensomeer.

Dikwels kan ‘n mens by implikasie ‘n afleiding maak; ander kere is jy nie heeltemal seker nie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]