Showing posts with label Colombië. Show all posts
Showing posts with label Colombië. Show all posts

Tuesday, February 6, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel XII (2018)

Deel XII

Ek kyk met my terugkoms na die Mike Newell-film van 2007 Love in the Time of Cholera, gebaseer op Márquez se bekende roman. Dit is helaas nie 'n goeie rolprent nie. Die spel is geforseerd en die parodie van die liefdesverhaal soos in die roman uitgewerk, kom nie duidelik na vore nie. Maar die film aktiveer herinneringe aan die Colombiese reis: Cartagena ...

Javier Bardem speel Florentino Ariza (met Unax Ugalde as die jong Florentino) wat verlief raak op Fermina Daza (Giovanna Mezzogiorno). Hy skryf liefdesbriewe vir haar en versend telegramme, maar haar vader is teen die verbintenis gekant en neem haar weg. Sy trou met die man van haar vader se keuse: dr. Juvenal Urbino (Benjamin Bratt). Dis 'n gedwonge huwelik en Florentino lê 'n eed af om getrou te bly aan haar.

Fermina, soos vir haar brutale vader, is ook geïrriteer met Florentino se liefdesobsessie.

In 'n skokkende toneel op 'n skip word Florentino verkrag deur 'n vrou. In al my leeswerk, kon ek geen filmkritikus se reaksie hierop raaklees nie. Die man wat deur 'n vrou ontmaagd word, is immers 'n omkering.

Sy moeder stel hom voor aan 'n vrou en hy ontdek dat seks sy herinneringe aan Fermina uitwis. Hy begin dan met etlike seksuele jagtogte en maak 'n oorwinningslys met meer as 600 vroue.

Wanneer Fermina terugkeer, sien hy haar weer en besef sy liefde vir haar is nie verby nie. Wanneer haar eggenoot sterf, begin hy 'n verhouding met haar, ofskoon haar kinders dit as onvanpas ervaar. In die slottoneel is hulle op 'n boot met 'n vlag om aan te dui daar is cholera aan boord; net om alleen bymekaar te wees.

El amor en los tiempos del cólera (die roman het oorspronklik in 1985 verskyn en is in 1988 vertaal) gebruik die metafoor van cholera om liefde as 'n siektetoestand uit te beeld. Dr. Urbino doen ook navorsing oor cholera.

Die film begin waneer die eggenoot sterf en dan terugvertel. 

Choleries (humeurig) is nie van toepassing op die film nie. Javier Bardem (as Florentino) is 'n groot, lompe akteur wat sy lot melancholies aanvaar.

Ons vind min van die "savage satiric thrusts" soos Jay Corwin dit noem na aanlediing van vele kritiese reaksies op die roman in sy studie Gabriel García Márquez (MacMillan Education/Palgrave, 2016). Márquez het glo van die rolprentweergawe gehou, ofskoon die kyker die kompleksiteite van die roman mis. Hy gebruik die liefdesverhaal as matriks, maar lewer sosiale en politieke kommentaar.

Sy ander belangrike roman is Of Love and Other Demons (1994), gebaseer op 'n storie wat hy by sy ouma gehoor het van die vrou wie se hare bly groei het na haar dood. Hy het egter ook as 'n joernalis in 1949 in Cartagena de Indias iets beleef: 'n jong meisie word opgegrawe en haar hare is meer as 20 meter lank...

Slice of life (costumbrismo)?

Costumbrismo is immers die interpretasie van daardie (Spaanse) wêreld se gewoontes en klere en tradisies.

Die Newell-film Love in the Time of Cholera is juis gekritiseer, omdat dit 'n Britse regisseur is wat die kodes van Suid-Amerika nie begryp nie. 'n Buitestaander kan wel 'n vreemde landskap verfilm, maar dan moet dit reg "vertaal" word.

Die kritiek het die film afgeskiet. Veral Bardem is erg gekritiseer: sy snor, sy houding, sy manier van loop.  

Newell se film is dalk te letterlik, en hoe "vertaal" 'n mens magiese realisme in die filmkuns? (Love in the Time of Cholera – Variety. Besoek 5 Februarie 2018).

'n Storie wat strek oor drie-en-vyftig jaar met die oorgang van een millennium na die volgende het geen tekort aan mooi, onthoubare skote nie, maar in vergelyking met David Lean se epiese rolprente skiet dit vér tekort.

In sy magistrale outobiografie Living to Tell the Tale bely Márquez:
Each thing, just by looking at it, aroused in me an irresistible longing to write so I would not die.
Hierin vertel hy van sy geliefde kleindorpie waar hy opgegroei het, sy vertrek na Europa en hoe ongelukkig hy was in Bogotá, in klimaat killer as die warm Aracataca met sy kleindorpse lewe.

As jong man raak hy ongelowig, eindig sy regstudies en word 'n joernalis.

In sy belangwekkende en grootse roman One Hundred Years of Solitude (Cien años de soledad) is die berugte Masacre de las bananeras 'n interteks. Dit gebeur in Desember 1928. Werkers se eise vir beter werkomstandighede word as kommunisties gesien en die weermag word ingestuur.

Een soldaat is dood en vyfhonderd werkers sterf in wat gesien word as 'n belangrike deurbraak vir werkers.

Hiervan het Sergio, my gids, my vertel op pad na Santa Marta (Banana massacre - Wikipedia. Besoek 5 Februarie 2018).

*

Vanoggend word die groot reistas uiteindelik in die studeerkamer geberg. Die reis is vereers afgehandel, al droom ek elke nag van klere agtergelaat of verloor op 'n lughawe.  

Met elke reis na 'n nuwe land word 'n mens bewus van die ongelooflike samehang van dinge en word jou horisonne verbreed.


© Joan Hambidge

Thursday, February 1, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel XI (2018)

Deel XI

Jet lag. Daardie verdoemende proses wat jou tref na 'n lang reis. Die meeste kenners analiseer die fisiese proses: slaapversteurings, sweet, onrustigheid, wakker skrik in die middel van die nag, maar oor die emosionele aspek word daar min geskryf.

Jy kom aan niks nie. Jy dool deur die huis (in die middel van die nag) en dink terug aan jou reis. Jy wens jy was steeds dáár in die vreemde.

Jy wonder oor jou gidse. Jy stuur 'n e-pos aan iemand wat jy in die vreemde ontmoet het en delete dit dadelik. Dit sal onvanpas en sentimenteel klink.

Jy is wawyd-wakker. Dis na middernag. Bekendes slaap.

Jy voel soos 'n passasier in 'n transit-wagkamer: jy kyk op jou horlosie, die tyd beweeg stadig.

Vlugvertraging

Die wagkamer klinies
die passasiers verveeld
'n tussenplek vir siele
tussen lewe en dood
ook daar verveling? Onrus?

Digters wag voortdurend
op 'n inval. Iets soos inspirasie.
Of 'n beeld. Ha! Die leuen
om te sê dig is soos reis.
Of die eindpunt so belangrik as die aanvang.

Die gedig is 'n wagkamer
vol versreëls onrustig
wagtend op die digter:
"Sal alle versreëls
nou aan boord gaan."

Dus: geen vlugvertraging, geen vers.

(uit: Lykdigte.)

Jy ly aan ernstige ennui. Jy maak jou potlode skerp. Lees hier, los daar. Kyk na Andy Cohen wat celebs in 'n hoek probeer vasdruk met onvanpaste vrae. (Best of Plead the Fifth | Watch What Happens Live | WWHLBesoek 31 Januarie 2018).

(Die titel sinspeel natuurlik op die reg tot swye ...
"No person shall be held to answer for a capital, or otherwise infamous crime, unless on a presentment or indictment of a grand jury, except in cases arising in the land or naval forces, or in the militia, when in actual service in time of war or public danger; nor shall any person be subject for the same offense to be twice put in jeopardy of life or limb; nor shall be compelled in any criminal case to be a witness against himself, nor be deprived of life, liberty, or property, without due process of law; nor shall private property be taken for public use, without just compensation." (Fifth Amendment | Wex Legal Dictionary / Encyclopedia | LII / Legal Information InstituteBesoek 31 Januarie 2018).
Gestel daar was 'n program (iets soos: Om jou hare uit jou oë te vee) en jy sou vir 'n literator kon vra: Waarom dink jy, verkeerdelik, Barthes is 'n semiotikus en nie 'n semioloog nie?

En vir 'n mode-ekspert: Dink jy Simone de Beauvoir se opmerking ("Jy word nie 'n vrou gebore nie, maar een gemaak") het te make met 'n extreme make-over vir 'n fashion shoot?En dink jy om 'n apie op iemand se rug te sit het nie politieke implikasies nie?

Vir 'n resensent: Dink jy jou potsierlike metafore in 'n resensie is 'n teken van briljante skryfwerk?

Vir 'n skrywer: Dink jy Sielkunde III maak jou ekspert op die gebied van narcisme?

Vir 'n Facebook-cowboy: Dink jy jou beledigings is onsigbaar?

Jy keer terug na jou reisplan. Jy dink oor die Botero-kunswerke en sy ongelooflike versamelings in Bogotá. Dit inspireer jou tot nadenke en kreatiewe reaksie:

Claude Monet: Waterlelies / Indruk, sonsopkoms

Waterlelies, dié het jy alte graag
en plein air impressionisties opgevang
en nou, voor sonsopkoms kyk ek
na jou Impression, soleil levant.

Iets in hierdie moment ('n sterftetyd)
wanneer die lig deur vensters breek,
woorde soos seerose geraam
in sublieme verheldering.

En die verskillende ruimtes van Márquez.

Jy kyk na die foto's afgelaai op jou rekenaar. Die foto's vertel 'n nuwe storie. Die akkordeon in Gabo se geboortehuis val jou op.

Ook pensklavier, trekorrel, trekklavier, squeezebox...

Waarskynlik het die Oupa die akkordeon bespeel.

Mens stel jou voor hoe die jonge Gabo sou kyk na die Oupa wat die instrument oop en toetrek ... harder en sagter ...

Daardie instrument vertel 'n hele verhaal. In sy pens is daar verborge musieke. Die Honderd jaar van stilte was vir hom vierhonderd bladsye Vallenato.

Musiek uit die Karibbiese kuslyn. Die liedere is vol herkenbare mens-poësie. Hierdie tradisie is tweehonderd jaar oud en Sergio my gids weet te vertelle dat Gabo ook van sy vriende in sy roman geplaas het.

Daar is ook liedere gekomponeer ter ere van Gabo en die Vallenato (letterlik: gebore in die vallei) is tradisionele musiek. Rafael Escalona, die sanger en komponis, het ook glo hierdie roman van Gabo geïnspireer!

In Colombië hoor jy gewilde musiek met die akkordeon in die agtergrond. Vir ons hier is dit 'n ou-wêreldse instrument uit 'n vervloë era:

Saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen!
My mamma roei die skuitjie,
my pappa blaas die fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!

Met reis is daar herinneringe wat draal, nuwe wendings, nuwe insigte.

Soos 'n akkordeon wat bly speel ...

© Joan Hambidge