Showing posts with label Ad Donker. Show all posts
Showing posts with label Ad Donker. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

John Conyngham - The lostness of Alice (1998)



John Conyngham. The lostness of Alice. Ad Donker, 1998. ISBN 0 86852 216 3.

Resensent: Joan Hambidge

The lostness of Alice deur John Conyngham is 'n asemsnakkende leeservaring. Selde nog het hierdie kritikus so 'n bedrewe roman gelees oor die geweld in hierdie land. Teen die agtergrond van die geweldgeteisterde Natal, raak 'n jong meisie weg.

Sy verdwyn met al die impliksies wat dit tot gevolg het: is Alice vermoor? is dit 'n seksmoord? 'n politieke daad? Die pers - en meer in die besonder - Sally, 'n joernalis, raak geobsedeer met hierdie saak. Van buite af kyk haar vriend, Chris(topher) Jameson toe. Hy is 'n boer en eweneens getref deur die misterie rondom Alice se verdwyning.

Nou as u hierdie roman wil lees, beveel ek u aan om my op my woord te neem en dit dadelik te gaan koop. Moenie verder lees nie, want enigiets wat ek verder skryf, sal die impak van hierdie boek se trefkrag verminder.

Die verteller-as-waarnemer word in hierdie roman ingespan. Chris lees Sally se dagboek sodat hy sake kan rekonstrueer en so stadig maar seker besef die leser dat Chris net van buite af as 'n koel, macho boer lyk. Binne-in hom woed dit van emosies: sy ouers is vermoor; hy had ervarings in Angola wat hom waarskynlik nie ongeskonde gelaat het nie.

Inmiddels raak sake tussen Sally en Chris vertroebel wanneer hy dink (weens inligting uit die dagboek) dat sy ontrou is aan hom en 'n affaire het met die speurder. En dan ruk dit hom so, dat hy op vlug slaan sonder om iemand daarvan te vertel. Hy vertrek na Londen; later spandeer hy tyd in Spanje en in Marokko.

Op hierdie reis besef die leser: jy is as't ware besig om die roman (eerder 'n lang brief aan Sally) te lees. In al sy omswerwinge praat hy met 'n Professor Mason in Gibraltar oor hoe die tyd van 'n persoon se dood bepaal kan word. Uit die aftakeling en die siklusse van insekte word dit afgelei.

Hier dan word die roman iets van 'n speurverhaal want hy stuur 'n brief - gekonstrueer uit koerantletters - na Sally se koerant. Wat dit natuurlik dan publiseer as sou hy die moordenaar wees en dat Interpol hom binne vier-en-twintig uur sal vastrek.

Die leser weet dis 'n blufspel: Chris is nie in Londen nie, maar in Gibraltar en hy reeds die Noord-Afrika polisie ontglip vir 'n aanranding.

Dis 'n verbluffende roman wat op soveel vlakke simultaan afspeel. Die kodes van die speuverhaal (skuld, paranoia, ondersoek en misverstand) à la Georges Simenon word hierin geaktiveer. Een “leuen” of misverstand kan 'n mens skuldig laat lyk. Ook betrek die skrywer die moderne kodes van 'n Patricia Cornwall-verhaal met die wetenskaplike aanslag van outopsies, en ander wetenswaardighede wat moorde help oplos.

Nou weet ek, liewe leser, u het in elk geval bly lees, ten spyte van my “waarskuwing”. Maar dit sal nog steeds nie die roman bederf nie. Die roman werk met die spanning van die film Picnic at hanging rock van Peter Weir. Ook word besoeke aan sieners ingespan om die moord te help ontrafel.

Die leser is uiteindelik die een op wie se oordeel aanspraak gemaak word. Hy/sy “sien” binne-in Chris se kop en glo hierdie karakter. OOk word die roman in drie afdelings verdeel: The farm; Wanderings en The rock - dus vertel vanuit die agterna-perspektief, maar soms aangebied asof dit nou afspeel.

Die roman word versier met 'n mooi buiteblad en Barry Ronge spreek die regte oordeel uit wanneer hy die skrywer, John Conyngham loof vir sy ontsettende taalbeheer.

Ek is nie 'n clairvoyant nie, maar hierdie boek gaan al die pryse inpalm.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Peter Wilhelm - The bayonet field (2000)



Peter Wilhelm. The bayonet field. Ad Donker, 2000. ISBN 0 86852 220 1.

Resensent: Joan Hambidge

Van die oomblik wat jy hierdie versameling verhale, novellas en vertellinge begin lees, word jy in die maag getref. Dit is vertellinge wat die donker kant van die menslike psige teken. Hoe mense nie in wese kan ontsnap van pynlike ervarings, die verlede of verspeelde kanse nie.

Of dit 'n student is uit 'n arm gesin wat betrokke raak by 'n ryker meisie, of 'n vrou wat besmet is deur 'n grensvegter, die volledige skaal van emosionele pyn en ontsetting word hier ten toon gestel.

In die openingsverhaal “LM” word 'n man se mislukte verhoudingsgeskiedenis gesinkopeer met die politieke veranderinge in Mocambique. Ons, die leser, begryp waarom hy is wie hy is: die dood van 'n baba; die uitkenning van 'n vriend in 'n lykshuis, desperate seks met sy hospita word so goed vertel teen die agtergrond van die politieke oorname in hierdie land.

Die geskiedenis en geografie van Mapoto word goed weergegee. Ook die besoek aan die Polana hotel. Ook word waansin goed uitgebeeld in “Pyro Protram”, 'n vertelling wat die leser fnuik, omdat die fokalisator jou laat glo aan die man - totdat jy besef waarmee jy te make het.

Ook lyding van die grensvegter of struggle-prsoon word goed uitgebeeld. Peter Wilhelm trek nie terug nie. Hy vertel alles. ‘n Beswaar van ‘n leser sou waarskynlik kon wees dat die verhale op die duur so uitsigloos raak dat die die leser se sinne effe verlam raak onder die aanslag. Maar dit net tersyde.

Iewers merk 'n karakter op in “At the end of the war” dat oorlog nie gebeur soos wat mense dink nie. Dit is deur skrywers mooier en voorgestel....

In “Space invaders” word daar verwys na N.P. van Wyk Louw se “Ballade van die bose”:

O waar sal jy gaan
En met watter skip?
Die aarde is branding
en oral is klip...

Dit staan in 'n verhaal wat die buitenissige aanspreek en wat 'n meer positiewe blik (probeer) gee. Soos “Elsewhere in  Africa.”

Vir my persoonlik was dit ‘n leeservaring wat geboei en gesteur het. Daar is geen nostalgie of romantiek by sy vertellers of fokalisators aanwesig nie. Hulle is in die algemeen teleurgestelde mense. Ontnugter met die politiek, met die private leefwêreld en die “condition humaine” in die algemeen.

Tereg heet ‘n vertelling “At the edge”.

'n Koerantbespreking kan nie reg laat geskied aan hierdie pakkende bundel nie. Dit is goed dat hulle in hierdie een versameling bymekaar gebring word. Peter Wilhelm se talent is soos vlymskerp bajonet.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Sunday, March 10, 2013

Michael Chapman (Ed.) - The New Century of South African Poetry (2002)



Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Poetry. Ad Donker, 2002. ISBN 0 86852 224 4.

Resensent: Joan Hambidge

Michael Chapman is professor in Engels aan die Universiteit van Natal wat dikwels al die wind van voor gekry het oor sy omstrede uitlatinge oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Oor kanonisering  is hy al gestriem deur Johan van Wyk en Helize van Vuuren. Tog is die konsep van “Southern African Literatures” (waaroor hy ‘n boek laat verskyn het in 1996) nie ‘n verkeerde rigting nie, hoewel daar min, indien enige, litetarore bestaan wat al die verskillende tale en literature in ons Suiderland ken en kan behartig.

The New Century of South African Poetry probeer dan om die verskillende tale in hierdie land in digvorm te representeer. Die voertaal is natuurlik veral Engels. Hier en daar slaan ‘n swart taal en Afrikaans deur. ‘n Ysingwekkende werk. En ‘n bloemlesing wat by die titel al vra om polemiek, kanttekening, kritiek en vraag.

Die Afrikaanse letterkunde het onlangs die Brink en Komrij bloemlesings gesien. Eersgenoemde het redelik ‘stil’ en met ‘n akkoord verbygegaan, terwyl Komrij se samestelling met groot geraas begroet is. Wanneer ‘n samesteller afwyk van die bekende norme of opvattinge moet reaksie te wagte wees.

Die positiewe aspek van ‘n aweregse samestelling soos Chapman s’n wat as ‘n ‘post-apartheid’ en ‘nuwe millennium’ bloemelsing aangebied word, is dat dit vir die leser nuwe insette bring. Dieselfde geld ook Krog se vertaling en herdigting van swart digters in Met woorde soos met kerse: die leser word van die stilgemaakte stem bewus.

Bekende figure soos Roy Campbell, Van Wyk Louw,  Kunene, Douglas Livingstone, Mongane Wally Serote, Kelwyn Sole en Antjie Krog is hier, maar waar is Breytenbach?

Peter Blum is daar, Jan F. Celliers, Johann de Lange, Clinton V. du Plessis, Eybers, Us Krige, Langenhoven, Leipoldt, om ‘n paar name uit te sonder. Johann  de Lange is eintlik meer as een keer daar weens sy skitterende vertalings van ander digters wat opgeneem is.

Daar word ook handige en bondige notas geplaas. Dikwels van hulp, soms niksseggend. Soos onder meer oor Tatamkhula Afrika wat raakvat, maar waar ‘n hele boel digters onder een noemer ‘saamgegooi’ word soos De Lange saam met Ingrid de Kok en Metelerkamp, word die indelings gesog. Soos dat hulle almal aan universiteite verbonde is! En dis hierdie kwashaal oor die doek wat ‘n mens laat besef dat daar dikwels met veralgemenings gewerk word wat nie korrek is nie.

Boonop word daar ook ‘n hele spul gedigte opgeneem wat ook Guy Butler se idee van wat ‘n goeie vers is, dekonstrueer. Is dit werklik ‘gedigte’? Of is dit eerder opstanduitinge? Disparaat word dikwels eerder desperaat vir my smoel. Dieselfde geld dan ook vir die massiewe (soos Chapman dit noem) opgawe van Johan van Wyk e.a. in SA in Poësie/ SA in Poetry dat dit nie net historiese inligting of politieke cliché is wat in korter reëls opgebrek word nie. Nee, ‘n vers moet as’t ware die wêreld ‘re-make’. Gebeur dit orals?

Die veralgemenings oor Suid-Afrikaanse digkuns is eweneens problematies wanneer hy skryf: ”Whereas Eliot believed that modern poetry was bound to be difficult, poetry in South Africa achieves an immediacy of communication” (p. xviii). ‘n Fronsontlokkende uitspraak, veral omdat hy ‘n paar asemteugies voor dit oor Van Wyk Louw skrywe!

Hier meen hy: ”Van Wyk Louw’s massive image-structures cannot exclude the voice of the Afrikaner Calvinist disgusted at people’s eagerness to embrace crass bourgeois materialism”. Ek wonder wat dink die Louw-kenners hiervan? Die aweregse blik hou nie op wanneer hy skryf oor die invloed van jazz en die Beats op die digkuns nie.

Chapman gaan nie akkoord met Stephen Watson se siening dat Engels Suid-Afrikaanse digkuns gebuk gaan onder die juk van ‘n linguistiese dooierigheid nie. Maar is dit nie dalk so nie? Is dit nie dalk wel waar dat ‘n digter soos Isobel Dixon juis lewe geblaas het in hierdie digkuns nie, omdat ‘n mens ‘n Afrikaanse invloed kan voel nie?

Aan die positiewe kant word daar wel ‘n klomp interessante digters vir ons gegee. Maar daar word ook ‘n onnoembare aantal weggelaat. En wat sou ‘n kenner van ‘n Afrika-letterkunde dink?

Chapman besef die gebreke van sy allamagtige taak: daarom vra hy sy leser om die bloemlesing te lees saam met ander versamelings of antologieë. En ja, waarskynlik sou verskillende redakteurs een groot Bloemlesing met ‘n hoofletter moet saamstel. ‘n Bloemlesing met die oorspronklike vers neffens die vertaalde gedig.

Wat baie interessante en leersaam was – altans vir hierdie leser – is om begaafde vertalers soos Guy Butler, Johann de Lange en Rosa Keet in aksie te sien by ‘n Wilma Stockenström-vers. Miskien is ‘n digter tog nie altyd die beste vertaler van ‘n eie vers nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Tuesday, March 5, 2013

Michael Chapman (Ed.) - The New Century of South African Short Stories (2004)



Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Short Stories. Ad Donker, 2004. ISBN 0 86852 227 9.

Resensent: Joan Hambidge

Die naam Michael Chapman is sinoniem met die versameling van ons verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes. Geen maklike opgaaf is dit nie en die skrywer het veral in sy literatuurhistoriese oorsigte al die wind van voor gekry oor feitefoute en slordige veralgemenings. Maar sy basiese uitgangspunt is loflik, naamlik om die diverse en komplekse storiekuns van ons land wat tydens apartheid/aparthaat/apartnyd in hokkies gehou is, saam te plaas. Die leser kry dus ‘n fantastiese versameling van Engelse en vertaalde Afrikaanse tekste. Ook ‘n swart teks word via Engels vir ons gegee soos o.a. //Kabbo se “A story is like the wind”.  En Antjie Krog wat ‘vertaal’ en ‘oorvertel’ na aanleiding van die WVK-getuienisse.

Anders as Abraham de Vries wat nie sy leser voorsien van ‘n nuttige inleiding nie, skryf Chapman ‘n lang voorwoord. Hy wil teen ‘groot tradisie’ saamstel en ook minder bekende name opneem. En soos ons gewoond is aan die inleidings, is omstredenheid dadelik daar: "The art of the short story is not an art of reputation. It is the art of the left hand”. As jy mooi luister, kan jy Tjekof hoor gil. Ons word geneem deur die orale en die latere skryftradisie in ‘n goed verantwoorde inleiding oor presies wat die kortverhaal is. Dit is ook goed dat hy verwys na Gordimer se verhaal wat die konvensie van lengte oortree.

Die kort en kragtige aard van die medium was veral tydens die ‘struggle’-jare ‘n handige manier om die komplekse rassestryd oor te dra. In hierdie verband is daar vele verhale wat uiters navrant opklink: “The WHITES ONLY bench” van Ivan Vladislavic is ‘n kragtoer in demitologisering en Peter Wilhelm se “Jazz” gee ‘n blik op ons troebel land.

‘n Goeie aantal Afrikaanse skrywers kry ook hier ‘n staanplek en binne die antologie kry verhale ‘n ander en ryker betekenis. Verhale speel op mekaar in en die sub-teks van reaksie op onregverdigheid en diskriminasie tref die leser.

Trouens, ‘n mens is opnuut bewus van die ongelooflike ellende wat ons moes verduur het, of dalk, steeds meemaak wanneer Krog in Ladybrand ‘n boer met sy vierwiel vra na die WVK en die SABC en sy met ‘n vernederende skelwoord afgejak word en tot die bewuswees kom dat niks stellig verander het nie.

Hoe sal die buiteleser, die nie-kenner, na hierdie verhale kyk? Watter prentjie sal dit aan hom/haar oordra? Chapman kies verhale wat in die algemeen stewig as verhale die toets slaag. Verhale wat in die New Yorker of TLS opgeneem sal word. Goddank het politiek korrekte opnames waarmee bloemlesings in die vorige bedeling geteister was, plek gemaak vir verhale wat ‘n boodskap oordra, maar steeds as storie slaag en oortuig. 

P.J. Haasbroek se “Departure” is ‘n verhaal wat ironies genoeg meer as ‘n grensoorlog-verhaal word. Dit word ‘n Danteske verhaal, ‘n vertrek na die hel wat hierdie skrywer nogmaals bestendig.

‘n Mens sou kon pieker oor verhale wat nie opgeneem word nie, maar dit bly immers die bloemleser se keuse en omdat ons ‘n goed verantwoorde inleiding vind, is weglatings minder steurend.

So gelees, gaan niks verlore nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]