Showing posts with label Harold Bloom. Show all posts
Showing posts with label Harold Bloom. Show all posts

Friday, December 7, 2018

Rubriek | Harold Bloom en estetika (2018)

I

Die afgelope naweek kyk ek weer na die wonderbaarlike onderhoud met Harold Bloom gevoer na die verskyning van The Western Canon in 1994 (Harold Bloom interview on The Western Canon, 1994. Besoek 4 Desember 2018).

Binne-lesers sal weet hoe Bloom te velde trek teen die sogenaamde School of Resentment, oftewel die literatore wat meer oor boeke lees as wat hulle boeke bestudeer. En boonop die estetiese aspek van die teks ontken. So beskou, meen Bloom, kan ‘n middelmatige teks (wat polities korrek is) op dieselfde vlak gelees word as Shakespeare of ‘n klassieke werk.

Dis dieselfde Bloom wat ook by geleentheid geskryf het dat daar geen tekste is nie; net onsself. En die agonistiese aspek van die letterkunde waaroor hy ‘n hele boek geskryf het Agon: Towards a Theory of Revisionism (1982) wys op die inherente kompetisie in sowel die skryf- as die leesaksie.

Om resensies te skryf, as ‘n mens Bloom se model verder neem, is om ‘n teks in te skat en te beoordeel. Maar met kundigheid.

En die kundigheid van so ‘n meester-leser word duidelik gemaak in ‘n lesing oor Herman Melville se Moby Dick (Harold Bloom on Melville's Moby Dick - YouTube. Besoek 4 Desember 2018).

II

Wat Bloom skryf oor boeke, kan van toepassing gemaak word op films.

Die afgelope tyd is twee belangrike filmmakers oorlede: die Italianer, Bernardo Bertolucci en die Brit, Nicolas Roeg.

Beide filmmaker het belangrike films gelewer en 'n mens wonder of Last tango in Paris (van eersgenoemde) of Bad Timing en Don't Look Now (van laasgenoemde) in hierdie polities-korrekte tyd sou gemaak kon word?

Last Tango in Paris (1972) het geweldige kontroversie in sy tyd veroorsaak. Die berugte bottertoneel het Maria Schneider onkant betrap en sy het gevoel dat beide Bertolucci en Marlon Brando agter haar rug gekonkel het. Meer nog: sy het gevoel dat hulle haar simbolies verkrag het.

Sy het nooit vrede gemaak met Bernardo nie, maar vriende gebly met Brando. Haar lewe is verwoes deur dwelms en kanker.

In onderhoude het sy telkens uitgevaar het teen die regisseur wat skynbaar skouerophalend gevoel het dat sy kuns belangriker is as haar vete met hom.

Die film het in sy tyd geweldige kontroversie ontlok:
The movie was banned in Italy just after its release in 1972, and was not released again until 1987. The case went back and forth in the courts until the high criminal court banned the film in 1976 and ordered all copies confiscated and destroyed. Bertolucci, Brando and Schneider, as well as the producer Alberto Grimaldi, were sentenced to two months in jail and a fine of $40 each — although the jail terms were suspended.
(Last Tango in Paris' director Bernardo Bertolucci dead at 77. Besoek 5 Desember 2018).
Nicolas Roeg se films het eweneens al omstredenheid veroorsaak.

Was daar werklik seks tussen Julie Christie en Donald Sutherland in Don't Look Now (1973)?

Volgens my wel ja, ofskoon beide akteurs dit steeds bly ontken.

Nicolas Roeg se Bad Timing (1980) is eweneens 'n grensdeurbrekende film. Die psigoanalis wat sy geliefde in ‘n koma seksueel betree, het eweneens baie reaksie ontlok deur die jare. Art Garfunkel (Alex Linden) is die psigoanalis en Theresa Russell, Roeg se vrou, vertolk die rol van Milena. Harvey Keitel (as speurder Netusil) moet agter die kap van die byl kom. Hy werk met die tyd wat Alex in sy motor gery het en na die radiostasie geluister het na middernag. Hy lieg dus oor wánneer hy die ambulans gebel het. Die “bad timing” dus waarna die film verwys, maar ook die verkeerde keuses wat mense maak in liefdesverhoudings.

Aanvanklik is Alex bekoor deur Milena – maar dan vind hy haar uitbarstings (weens dwelms en alkohol) onaanvaarbaar.

Tonele tussen die twee hoofkarakters is seksueel gewaagd.

Dit speel hoofsaaklik af in Wene en die film ondersoek die Freudiaanse nosie van loer en kyk.

In lesings sien ons die kind wat kyk en Alex verduidelik vir sy studente die beginsel van afloer. Die kyker is in hierdie film ‘n voyeur wat die intieme verhouding van die twee mense betree. Dis asof die film kommentaar lewer op wat gebeur wanneer jy as filmkyker afloer.

Die einde is in New York wanneer Alex na Milena roep vanuit ‘n taxi, maar sy reageer nie. ‘n Mens sien net die letsel op haar keel van die operasie wat haar lewe in Wene gered het.

Boonop het Garfunkel se minnares, Laurie Bird, tydens die maak van hierdie komplekse film selfmoord gepleeg. 

(Bad Timing - Wikipedia. Besoek 5 Desember 2018).

III

Colette (2018) is ‘n film van Wash Westmoreland (regisseur) met Keira Knightley, Dominic West, Eleanor Tomlinson, Denise Gough en Aiysha Hart, het sopas in Suid-Afrika begin draai.

Die Franse skrywer Colette se lewe in haar jonger jare word in hierdie film ondersoek. Sidonie-Gabrielle Colette (1873 - 1954) begin haar skrywersloopbaan as 'n jong vrou wat gemanipuleer word deur haar man, ‘n egte libertyn ene Henry Gauthier-Villars, wat haar werk onder die pennaam Willie publiseer.

Hy neem haar weg van die Boergondiese platteland na 'n eksotiese bestaan in Parys waar sy haar lesbiese identiteit ontdek. Aanvanklik orkestreer en beheer hy haar lewe nes haar skrywersloopbaan. Sy word toegesluit om elke dag te skryf sodat sy uitspattige bestaan gefinansier kan word deur háár kreatiwiteit. Uiteindelik wanneer hulle skei, kan sy bewys dat die werk hare was. Hy verkoop onder andere die kopiereg sonder haar toestemming.

Die film ondersoek veral haar verhouding met die openlike lesbiese Missy (Marquise de Belbeuf) wat mansklere dra en in die pantomime Rêve d'Égypte veroorsaak 'n ligte skandaal. Dit het tot gevolg dat hulle nie meer kan saambly nie. Denise Gough vertolk die rol teen haar skoonheid in.

Keira Knightley transformeer van 'n meisie met vlegsels tot 'n uitgesproke feminis, en meer nog, 'n woman-identified-woman. Soos sy agentskap verkry in haar verhouding met haar man (uitstekend vertolk deur Dominic West), haar ouer eggenote wat telkens haar belieg en verhoudings het met ander vroue, word Knightley al hoe mooier. In 'n stadium sien hy selfs een van haar minnaresse en die verraad loop uit op 'n roman. En weer eens: 'n skandaal.

Wash Westmoreland se film is besonder vernuftig.

Dit karteer die eeuewending en hoe die mores verander het. Besonder veelseggend is hoe die regisseur uiteindelik die gegewe romantiseer. Die beeldskone Knightley - 'n mens kan die film gewoon net geniet vir haar danstonele - is aantrekliker as wat Colette was. Ons sien dit in die slot wanneer daar 'n kort historiese verslag gegee word met foto's van hoe die karakters werklik gelyk het.  ‘n Endnoot as regstellende aksie kan ‘n mens argumenteer.

Die film werk, omdat die spelers nie probeer om 'n faux-Franse aksent aan te plak nie. Hulle praat in hul oorspronklike aksente.

Daar word dus 'n fyn analise gemaak van vrou-wees en hoe vroue se werk gekaap kon word deur mans. In hierdie tyd moes vroue dikwels onder manlike pseudonieme publiseer. Of verkieslik die swye bewaar.

Die film gee nie die volledige prentjie van 'n komplekse lewe weer nie. Dit ekstraheer belangrike aspekte van haar jonger lewe. Colette publiseer in 1944 Gigi, die verhaal van die sestienjarige Gilberte, 'n courtisane wat vele rolprente en opvoerings ontlok het.

Katherine Ann Porter en Truman Capote was bekoor deur haar. Capote het 'n verhaal oor haar geskryf.

In Frankryk was daar egter tydgenote soos André Gide en Marcel Proust wat tereg groter as sy beskou was. Haar werk, soos hierdie biografiese drama uitwys, fokus egter op die skrywende vrou wat stemhebbend raak. ‘n Mens sien hoe daar met die hand en ‘n vulpen geskryf is: stadig in die inkpot gedoop. Die Franse feminis Hélène Cixous se White Ink (2014) word so geaktiveer: vroue wat onsigbaar is, maar deur skryf 'n identiteit vind.

Juis omdat dit met die hand geskryf het, kon daar uiteindelik bewys word dat dit Colette se werk was en nie haar mentor s’n nie.

IV

En as 'n mens Harold Bloom se dictum van estetika as uitgangspunt neem, bly hierdie films van Bertolucci en Roeg bakens in die filmkuns en is die film oor Colette belangrik.

In Bloom se woorde:
Aesthetic value emanates from the struggle between texts: in the reader, in language, in the classroom, in arguments within a society. Aesthetic value rises out of memory, and so (as Nietzsche saw) out of pain, the pain of surrendering easier pleasures in favour of much more difficult ones ... successful literary works are achieved anxieties, not releases from anxieties.
En:
Real reading is a lonely activity. (The Western Canon, 534).
En dit kan ook op films van toepassing gemaak word.

© Joan Hambidge

Monday, April 3, 2017

Wie presies mag dan resensies skryf?



03 April 2017

In 1982 verskyn daar ’n versameling resensies oor die teater, saamgestel deur die befaamde aktrise Diana Rigg: No Turn Unstoned. Hierin plaas sy vermaaklike en katterige resensies. Sy het hierdie bundel saamgestel nadat sy aan die ontvangkant van ’n persoonlike resensie was. En toe later die humor daarin raakgesien het.

Kritiek is nodig in die letterkundige bedryf. Dis soos die wind wat ’n skip voortdryf. Soms kan dit stormwind wees en vir die skrywer onaangenaam wees, maar stel jou ’n windlose oseaan voor? Stel jou ’n bedryf voor waar daar net aanmoediging en kritieklose ophemeling is . . . Alle skrywers moes al negatiewe kritiek hanteer. Selfs die grote D.J. Opperman het oningeligte kritiek in sy tyd trotseer. Nes Breytenbach.

Wie mag resenseer? Wie mag praat? Inderdaad mag die resensent se kommentaar op ’n boek gekritiseer word. Die resensie is immers net ’n eerste mening.

Indien die kritikus opgelei is in die literatuurteorie en belese is, sal daardie resensie meer beteken as ’n impressionistiese ek-hou-van-reaksie.

Ek resenseer al sedert 1980. My resensies probeer die boek inskat in die bepaalde genre en tydsgees. Die boek word ook in ’n buitelandse konteks geplaas. As ’n skrywer byvoorbeeld ’n motto aanhaal van ’n bepaalde (modernistiese) skrywer, sal ek dit verduidelik.

As ’n respondent meen ek weet niks van wetenskap nie, sal ek hom/haar daarop attent maak dat die digkuns op ’n unieke wyse reageer op die wetenskap. Net soos ’n gedig nie ’n telefoongids of motorhandleiding is nie. Maar as ’n gedig speel met enumerasie of handleidings moet daar iets anders gebeur.

Uiteraard is daar altyd ’n geval van persoonlike smaak.

En verbintenisse. Ek resenseer nie die studente wat onder my gewerk het in kreatiewe klasse nie en verwag ook dat hulle mekaar nie resenseer nie.

Verder is daar vyandskappe. Sekere skrywers het geskiedenisse met mekaar.

Mag hulle mekaar se tekste bespreek?

Ek meen van ja, omdat die persoonlike aanval bepaald sal boemerang as dit nie op die teks van toepassing is nie. (En as geen resensie weens vyandskap ’n wet word, sal daar geen resensies wees nie!) Om met vae oordele te kom dat daar net vyf of een goeie gedig in die bundel is, kan ’n mens gerus onthou dat Opperman gedink het vyf goeie verse in ’n bundel is genoeg!

’n Negatiewe of kritiese resensie kan meer leersaam wees as ’n nuttelose getjommel wat net die ego voed.

Dieselfde geld pryskomitees wat eweneens beman (bevrou) word met smake en (voor)oordele. Take the money and run!

’n Negatiewe of kritiese resensie gaan vinniger verby as jy nie jou vriende vra om per SMS of brief namens jou te reageer nie. Kyk eerder wát die resensent geskryf het. En onthou gerus die spertyd en woordbeperking (750 woorde).

En veral: Moenie kleinserig wees nie.

Dit geld sowel resensent as skrywer. Omdat ek in die wonderlike posisie is om albei rolle te kan vertolk, glo ek aan die beginsels wat Diana Rigg so voortreflik uitwys.

Gewonder hoekom die meeste literatore nie wil resenseer nie? Is dit dalk die vrees dat iemand iewers jou gaan verdag maak of ’n SMS-veldtog begin? Of persoonlike redes uitwan uit jou jeug of afkoms oor waarom jy doen wat jy dink? Of dalk jou motor se bande mag afblaas? Of op Facebook begin baljaar?

Vir die rekord (en verskoon die anglisisme): As mense die Afrikaanse bedryf as krities ervaar, gaan lees ’n Martin Amis-resensie of maak die boekeblad van The New York Times oop. Of kyk wat Camille Paglia doen as sý dink jy het die plot verloor.

In my studeerkamer het ek ’n legger met negatiewe kritiek geskryf oor mededigters. Sou Marlene van Niekerk dit berou dat sy na Johann de Lange se gedigte in Vleiswond as poësie van die popcorn-stand verwys het? Of hoe voel sy nou oor die artikel destyds in Die Suid-Afrikaan oor Krog en Stockenström?

Dink ek dalk ek was te negatief oor daardie digter wat my resensie in die openbaar verbrand het?

Ek was wel indertyd te krities op ’n Fanie Olivier-bundel – maar ek kon regstellende aksie toepas in ’n latere resensie.

“There are no texts. There are only ourselves . . .” meen Harold Bloom, wat skryf: “Poets influence us because we fall in love with their poems. All love unfortunately changes . . . we also get hurt when we abandon, or are abandoned by, poems. Criticism is as much a series of metaphors for the acts of loving what we have read as for the acts of reading themselves” (in Imre Salusinszky se Criticism in Society).


En ek dink steeds Tom Gouws het meer as tien goeie gedigte geskryf! Om die waarheid te sê, daar is 11.


© Joan Hambidge

Wednesday, January 23, 2013

Harold Bloom (Ed.) - Till I end my song: A gathering of Last Poems (2010)



Harold Bloom (Ed.). Till I end my song: A gathering of Last Poems. Harper, 2010. ISBN 9780061923050

Resensent: Joan Hambidge

Die agterblad praat van die literêre reus. En dit is Harold Bloom bepaald met al sy studies oor Yeats en Wallace Stevens, sy verbluffende werke oor die Kabbala en sy allerbelangrike tekste oor hoe digters ruimtes vind vir hulself in The anxiety of influence (1973) en A map of misreading (1975), prosesse gekoppel aan primordialiteit, die Gnostiek en psigoanalise. Hy het die konsep “revisionism” en “misreading” gemunt binne hierdie leesaksie. Omstrede is hy ook oor sy keuses, wat sterk esteties bepaal is in veral The Western Canon (1994). Idiosinkraties ja, maar belese en hartstogtelik oor lees.

Till I end my song – A gathering of last poems is ‘n gerf van gedigte wat digters aan die einde van hul lewens geskryf het. Bloom op 79 is bewus van sy eie naderende dood en dit is ‘n versameling wat versoek om saam met Camille Paglia, sy student, se Break, blow, burn (Pantheon, 2005) gelees te word. (Sexual personae is onder sy mentorskap voltooi.)

Hierdie boek word gerig deur estetiese maastawwe en is uiteraard ‘n persoonlike keuse, gerig deur die samesteller, ‘n kundige en sensitiewe leser van die digkuns, se soeke na troos in die ouderdom. Dit word vergesel deur min of klein kanttekeninge. Onder andere lees ‘n mens by sy keuse van Robert Lowell hoe hy die digter herontdek het nadat hy hom verloor het tydens Lowell se oordrewe belydende fase. En dit is hierdie erkenning dat ‘n kritikus kan teruggaan op sy woord of oordeel, wat die bloemlesing fassinerend maak. By Wallace Stevens bely hy hoe hy bevriend geraak het met sy dogter Holly en hoe hy haar ná haar dood as ‘n belangrike vriendin, steeds bly mis. Hy stel die kuns van Stevens gelyk aan Walt Whitman en Emily Dickinson, ‘n stelling waarmee hierdie leser volledig akkoord gaan.

Daar is drie soorte laaste gedigte: letterlik die laaste; ander was bedoel as die laaste, maar dan het die digter steeds bly dig en ten slotte gedigte wat gelees kan word as dit wat in die verbeelding as ‘n einde beskou was deur die digter.

Hy haal Montaigne aan die groot essayis wat geskryf het dat ons nie tyd moet verkwis op die dood nie. Wanneer die tyd aanbreek, sal ons weet hoe om dit goed genoeg te hanteer.

Tipies Bloom word daar gekonstateer dat daar geen metode is nie, net jouself. Dis jy wat lees en jou oopstel vir verskillende digters en digsoorte, vir die klanke en stiltes van die gedig.

Dit is duidelik dat die ouderdom erkennings, herkennings en boetedoenings insluit. Hy is byvoorbeeld genadig teenoor Eliot as digter, ‘n figuur wat hy in sy literatuurkritiek nie altyd na waarde geskat het nie en Eliot word hier goed verteenwoordig met “Little Gidding”. Daar is nog skop in die oubaas, want hy beweer dat Eliot gesien kan word as die beroemdste en mees invloedryke digter van die 20e eeu, maar dat hy as literêre kritikus oor die perd getel is. Bloom se tweeluik, The anxiety of influence en A map of misreading, reken in wese af met Eliot se sieninge oor die digterskap.

Frost, Lowell, Elizabeth Bishop, Anthony Hecht, Randall Jarrell, verder terug, Dylan Thomas, Delmore Schwartz is hier.  Vir langer uitgebreide en “close reading” van gedigte word die leser verwys na Paglia se Break, blow, burn, maar vir ‘n byeenbring van laaste gedigte van groot digters word hierdie boek met absolute entoesiasme aanbeveel. Dit is nog net in hardeband beskikbaar en kos R200 vir 100 gedigte.

Hierdie gedig van Lowell is die soort briljante gedig wat ‘n mens hier vind:

Epilogue
Robert Lowell

Those blessèd structures, plot and rhyme –
why are they no help to me now
I want to make
something imagined, not recalled?
I hear the noise of my own voice:
The painter's vision is not a lens,
it trembles to caress the light.
But sometimes everything I write
with the threadbare art of my eye
seems a snapshot,
lurid, rapid, garish, grouped,
heightened from life,
yet paralyzed by fact.
All's misalliance.
Yet why not say what happened?
Pray for the grace of accuracy
Vermeer gave to the sun's illumination
stealing like the tide across a map
to his girl solid with yearning.
We are poor passing facts,
warned by that to give
each figure in the photograph
his living name.

En dit titel? Ja ek sien ook die dood met sy sekel…

[Hierdie resensie het vantevore in Die Burger verskyn.]