Showing posts with label P.P. Fourie. Show all posts
Showing posts with label P.P. Fourie. Show all posts

Friday, September 1, 2023

Resensie | Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir | Tafelberg, 2023 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023

Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir. Tafelberg, 2023. ISBN: 9780624093596 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023. ISBN: 9780795710834 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

In Styles of Radical Will (1969) verwys wyle Susan Sontag, die Amerikaanse kultuurkritikus, na die sogenaamde “pornographic imagination”. By die herlees van Sontag se bekende teks Regarding the Pain of Others (2003) lees ek Annemarié van Niekerk se memoir Onder ‘n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika. Terselfdertyd ervaar ek ook die roman van P.P. Fourie wat heet Onse skulde.

 

Die term “pornografie van geweld” is presies dit wat ons daagliks in hierdie land beleef. 

 

II

By Van Niekerk is dit ‘n memoir oor geweld: ‘n teks aangebied as “werklikheid”; met duidelik gefiksionaliseerde passasies en naamsveranderinge. By Fourie ‘n roman, gebed in die werklikheid wanneer ‘n mens onderhoude met die skrywer lees oor sy jeug.

 

Die grense tussen fiksie en werklikheid vervaag dikwels in die moderne, postmoderne en nou: metamoderne era. Vertellers gebruik en verdraai die waarheid (“die sogenaamde waarheid gelieg”) of bied ‘n teks aan as die werklikheid. Van Niekerk erken dat haar teks gebaseer is op historiese, biografiese én outobiografiese gegewens: gefilter deur die geheue en verbeelding. Ons moet dit lees as faksie. Geprekke is óf fiktief óf gebaseer herinneringe óf ontleen aan bestaande bronne, bely sy. Sekere aspekte van haar lewe is weggelaat. Uiteraard omdat dit ‘n “verhaal” word.

 

Beide Van Niekerk en Fourie se tekste is belangrike kommentare en kritieke op ons samelewing. Van Niekerk, gebore in Suid-Afrika en woonagtig in Nederland, gee vir ons die blik van buite. Die paradokse van liefde en geweld. Kinders wat deur ouers aangerand is met lyfstraf in die naam van liefde. Fourie kyk na die impak van alkoholisme en seksuele geheime op families. En die romantisering van kindwees wat die buitestaander-kind as ‘n leuen ervaar. Die blik van binne.

 

Van Niekerk keer terug na haar land van herkoms en die verwerking van die moord op Ruben en sy ma. Ons ken almal iemand in hierdie land wat vermoor is, of iemand wat iemand ken wat vermoor is.

 

Van Niekerk is op ‘n speurtog om die “bloedrooi hemel” te probeer begryp. Fourie – soos Agatha Christie en die Skandinawiese noir-speurverhaalskrywers – gee vir jou leidrade om moord op te los.

 

Jy word ‘n Hercule Poirot wat agter die moord na motiewe soek. Dikwels ‘n afgetekende of mishandelde kind wat diep trauma beleef het. Vals leidrade en afdraaipaadjies laat jou dieper soek.

 

Veral die filmreeks met David Suchet as Poirot word ‘n boeiende analise van emosionele vraagstukke met Captain Hastings (Hugh Fraser) en Scotland Yard Chief Inspector James Japp (Philip Jackson).

 

Met Poirot wat gebruiklik iets wat onder die oppervlak broei, snap. By Fourie is daar ‘n onthulling van ‘n buite-egtelike verhouding wat lei tot Simon se dood lei. Emma reis na Clarens om haar man se as te gaan strooi en ontmoet vir Vera. Hier word die leser aan veelvuldige leuens en verdoeselinge blootgestel.

 

By Van Niekerk is daar reise. ‘n Werklike reis uit Nederland en dan verskillende emosionele reise terug ín die tyd wat jou meestal aan die hart gryp. Die outopsie-verslae word skrynend-eerlik beskryf, nes die hofverrigtinge. Dié moord wat plaasvind in 2015 (op ‘n plaas in die Oos-Kaap) neem haar terug na haar werk aan die Universiteit van Transkei in die 1980’s. Die struggle-jare.

 

En haar politieke ontwaking en haar stryd met haar vader word beskryf. En haar latere verhouding met ‘n swart intellektueel en ‘n lewe in Hillbrow wat meedoënloos beskryf word, gryp aan die hart (en keel).

 

Die memoir wissel tussen hewige emosionaliteit en totale afstand en kilheid. Dit is geskryf in uitstekende prosa wat soms poëties word. Dat dit bekroon is met die gesogte Henriette Roland-Holst prys verklap alles. Ook die loftuitinge van kritici en skrywers onderstreep hoe belangwekkend hierdie teks is. Geskryf in Nederlands en vertaal deur Daniel Hugo.

 

III

Fourie bekyk geweld uit ‘n ander invalshoek. Van Niekerk se Vrouevertellers 1843 – 1993 (1994) was ‘n belangrike feministiese antologie soos latere versamelings ook. Fourie lewer kommentaar op die patriargie en toksiese manlikheid. Vaders wat seuns versmoor én psigies vermoor.

 

Dit is twee tekste wat mekaar komplementeer en aanvul. 

 

“Terug op Efata hang depressie soos ‘n winterjas om my skouers”, skryf Van Niekerk op bladsy 260.

“Dalk is ons almal se lewens maar net die verhaal van hoe ons vrese verwerf”, skryf Fourie via ‘n karakter op bladsy 52.

 

Vrees en boetedoening beskryf met verwysings (o.a.) na Nathaniel Hawthorne se The Scarlet Letter.

 

Beide tekste, onafhanklik van mekaar, kyk na die lot van die vrou wat teen die patriargie opstaan. Twee boeke wat snydend kyk na kollektiewe skuld. En kollektiewe skisofrenie aanspreek, soos Van Niekerk dit klinkend beskryf (249).

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, March 7, 2021

Resensie | P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis | NB-Uitgewers 2021

P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis. NB-Uitgewers, 2021. ISBN 978 079571 0018

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman word aangeprys op die skutblad deur S.J. Naudé wat sopas 'n besonderse teks gelewer het. 

 

In 'n Hart is so groot soos ’n vuis deur P.P. Fourie vind die leser 'n ontstellende en meedoënlose terugblik op 'n pynlike jeug. Die vader, alkoholis en skrywer, se impak op sy familie word in hierdie roman beskryf wat kennelik semi-outobiografies is. Die verteller - 'n akademikus - se lang reis tot selfontdekking as gay-man word oortuigend weergegee.

 

Die gefiksionaliseerde outeur, optekenaar, dagboekhouer, scriba gee stem aan al die ander stemloses op sy lewensreis. Die moeder wat psigies en fisies aangerand is; die grootouers wat stilswyend is; Evelina wat kortstondig redder word en die jonger halfbroer Ben wat 'n sprituele uitweg soek.

 

Die leser word in klein hoofstukke of skerwe vertel watter impak hierdie vader op die gesin se lewe had. Die verteller sweer die vader af en ontdek later tot sy skok dat hy tog wil kontak maak met die vader wat kontak verbreek het met hom. 

 

Dit is dan 'n teks van ambivalensie en onsekerheid. Daar word oor kinderdepressie (en die psige wat tot stilstand kom) ontroerend geskryf, nes die selfdood van 'n buitestaander-kind.

 

Uiteraard is daar herhalings, want die leser beleef die sirkelgang van onthou en terugkeer na die bloedige jeug. 'n Jong kind se eensaamheid word pynlik-eerlik beskryf via Oscar Wilde se Die klein prins. Ons vind vele ingebedde tekste wat die vertelling amplifiseer: verwysings na psigoanalise, vertelling-as-heling en Truman Capote se Breakfast at Tiffany's.


Tolstoi oor geluk/ongeluk in gesinne. Arvo Pärt is hier met verwysings na ander musiek, films en skilderye. En Flaubert teenoor Julian Barnes. Hoe lyk eindes in moderne tekste teenoor klassieke romans? Is daar ooit closure?

 

Die boek is 'n mosaïek en 'n tessera. Maar tessera beteken ook voltooiing en antitese, soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1973). Paul se identiteit is juis bepaal deur die gewelddadige vader wat tot gevolg gehad het dat hy en sy moeder op die vlug moes slaan. En die verraad van die vader wanneer hy betrokke raak by sý vriendin wys op die psigiese afhanklikheid tussen vader en seun. Oedipus en Laius dus nuut beskou.

 

Tessera bedui ook fragmentering. Verskillende fragmente vertel die storie: van 'n kind wat met 'n kettie vensters probeer uitskiet tot die verteller wat bely hy is dissosiatief. (In die inhoudsopgawe lees ons: tesserae). 'n Mosaïek dan ook en ons sien dit van ver en van naby soos wanneer 'n mens 'n moskee binnegaan.

 

In hierdie dae is dit veral vroueskrywers wat die vader in die beskuldigdebank plaas vir die onsigbare letsels hul aangedoen en met hierdie teks word die dikwels ónverhulde ellendes van mans beseer deur toksiese manlikheid openbaar gemaak. Dit word 'n aanklag oor hoe kinders geen agentskap het nie en verniel word deur afwesige ouers. Want abuse is júis om dit te weerhou wat behoef word.

 

Alles speel af teen die wyer doek van die Noodtoestand, wit manlike beheer, rassistiese grootouers en 'n political unconscious, soos Fredric Jameson dit tipeer. Mense word immers gekodeer deur politieke (on)sigbaarhede. 

 

II

 

By die lees van hierdie pakkende roman vind hierdie leser 'n (onbewuste) gesprek met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, daardie besonderse belydenisroman uit 1937. Maria teenoor Marié met Anna as die aangesprokene. In die konstruksie van Smit se boek is dit presies in die middel van die boek wat die hele verhaal oopwaaier. In Fourie se teks is dit skerwe waarheen jy terugkeer soos die kind wat 'n skat in die tuin begrawe en dit nie kan vind nie. Die titel word verklaar op bladsy 99: "Die kompartement is so groot soos 'n menslike hart, wat ook so groot is soos 'n vuis."

 

Kompartemente en laaie word oopgemaak. Regdeur die teks word die hartsimboliek uitgewerk. Die kindergemoed word goed weergegee met in "Die plek waar die wêreld eindig".

 

Treasure Island (1938) is hierom tersaaklik net soos J.M. Coetzee se romans oor sy jeug en die beskrywing van die alkoholis-vader in Boyhood van 1997. Dominique Botha se Valsrivier (2013) waar die suster die skriba word vir die gestorwe broer.

 

Toe word teenoor nou geplaas en die invloed van tyd op ons lewens geanaliseer. Die verlede is vir my sterker beskryf as die ouer, analiserende gedeeltes. 

 

 

III

 

Die tesserae plaas die teks binne die mistieke en die Kabbalisme. Die halfbroer is egter meer geïnteresseerd in die Boeddhisme as die verteller. Maar nou moet ons onderskei tussen die verteller/fokalisator en die implied author wat kennelik agter die konstruksie van hierdie diggeweefde teks staan. Hierom word die leser bewus van twee belangrike argetipes in die teks, te wete die afdaal in die Hades en die ritueel van hergeboorte. 

 

Soos Tom Chetwynd dan opmerk in sy studie van 1982, A dictionary of symbols, gee die psige weer wat in die wêreld gebeur, maar dit verander en boetseer ook die Umwelt. Die verlies aan mites (soos wat die jong kind ervaar waar alle strukture ineenstort) is uiteraard katastrofies. 

 

Die vader geen raad oor skryf. Hy word 'n bloedige mentor, 'n precursor in Bloom se terme. Die seun (ephebe) neem sy kreatiewe energie oor en word dan die skrywer. 

 

IV

 

 

Dit is 'n boek wat boei en ontstig. 'n Mens lees in verbystering en ontsteltenis oor hoé die vertellende instansie die skerwe optel en saamvoeg om tot insig te kom.

 

Dit maak nie saak of dit werklik gebeur het met die outeur nie. Wat saak maak is dat dit gebeur het met die verteller wat ons saamneem op sy reis. 

 

Et cu fut tout? Besluit self.

 

Die roman is vertaal deur Marius Swart.


 

Bron:

 

Chetwynd, Tom. 1982.  A dictionary of symbols. Londen: Paladin.