Nancy Huston. The
mark of the angel. Virago, 2000. ISBN 0 099 28364 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Nancy Huston se The
mark of the angel is 'n goed geskrewe en lekkerlees roman. Me. Huston is
die eggenoot van die Bulgaars gebore Tvzetan Todorov, onder andere 'n kenner
van vertelteorie.
Die roman behandel die oorbekende gegewe: dit is die jaar
1957 en Parys herstel van die aanslag van die WO II. Saffie, 'n jong Duitse
vrou, word aangestel as die bediende van Raphael 'n musikus. Twee sisteme word
dus hier teenoor mekaar gestel, te wete die werkers- en gegoede klas.
Aanvanklik is Saffie en Raphael gelukkig en die leser
ontvang baie inligting oor die fluit (is dit dalk simbolies?). Raphael moet dit
elke dag skoon maak, anders kan die spoeg sy instrument laat roes. Op 'n dag -
na huweliksgeluk en 'n kind - moet sy die fluit laat regmaak by 'n Hongaarse
instrumentemaker. Die twee raak verlief en hierdie hartstog het 'n effek op
almal se lewens om hulle.
Die roman word telkens geplaas teen historiese gebeure
wat die leser laat blyk dat dit vir die meer intellektuele leser bedoel is.
Daar is verwysings na Camus, die pied noir en ander klein intellektuele
kopknikkies. Tog was dit vir my gevoel 'n roman wat tekstuur mis. Die boek lees
eenvoudig te maklik en sonder enige weerstand. Dit word aangeprys deur Arthur
Golden (van Memoirs of a geisha-faam) en selfs Alberto Manguel is oordrewe
vleiend.
Interessant is die verteller se analise van die gegewe:
soos dat daar in elke liefdesverhouding 'n draaipunt (dénouement) kom. Dit is
'n siniese siening oor die liefde wat meen dat die geliefde nooit werklik die
ander persoon kan verander of kan heel nie (p. 158). Ook kan die uitwerking van
die liefde nie verduidelik word as dit nog nie beleef is nie (p. 191).
Wanneer die ontdekking gemaak word, sing Doris Day Qué
sera, sera wat die markante verskil tussen droom en realiteit wil uitwys. ook
ontdek Saffie dat haar geliefde, wat uit Hongarye moes vlug, 'n Kommunis is. Sy
anti-Semitiese siening ontstig haar. So word die politieke verwysings en die
Algerynse bevryding deel van hul lewe.
Ook sy dra swaar aan haar verlede wat hul verhouding
verder vertroebel.
Vir diegene wat belangstel in die postkoloniale
letterkunde behoort die roman 'n insiggewende blik te gee op die pre-koloniale
tydperk en die bevrydingstryd van die Algeryne.
Politieke werklikhede soos klokreëls en Moesliemdiskriminasie kom aan
bod. Dit is 'n roman geskryf voor dat die kolonie teruggeskryf het, gedagtig
aan die studie The empire writes back.
Die verteller se kommentaar op die karakters se optrede
en hul lot, maak hierdie roman deel van die sogenaamde ouktoriale tradisie.
Hiermee wil die verteller ons deurgaans herinner aan die feit dat ons besig is
met 'n verhaal en dat ons moet leer uit die gebeurde. Ook die nawoord bevestig
dit wanneer die twee mans mekaar na jare weer sien na die dood van die kind en
Saffie se verdwyning.
Die titel word hier verklaar en die invloed wat engele of
spirituele gebeure op ons lewens het soos in
Wim Wenders se rolprent. Die sosiale en politieke kommentaar - van De
Gaulle tot Brigitte Bardot, brylcream en hoe Parys vandag daar uitsien - is baie goed nagevors.
'n Bo-gemiddelde roman, maar beslis nie een wat die
fondamente van die letterkunde sal skud nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]
No comments:
Post a Comment