Showing posts with label The Fall. Show all posts
Showing posts with label The Fall. Show all posts

Monday, September 21, 2020

Resensie | Jen Thorpe - The Fall | Kwela, 2020

Jen Thorpe - The Fall. Kwela, 2020. ISBN: 9780795709579

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman speel in op die #Rhodes Must Fall / Fees Must Fall-beweging. Dit is 'n hoogs leesbare teks wat die impak van hierdie opstand weergee. Etienne van Heerden het dit aangepak in Die biblioteek aan die einde van die wêreld wat nog nie genoegsaam vertelling geword het nie en té na aan die dokumentasie gestaan het. Ook met 'n stywe skeut suspension of disbelief.

 

By Jen Thorpe vind 'n mens 'n vertelling van binne-uit en 'n gefiksionaliseerde en dikwels fantasieryke gegewe. Hector, die protagonis, word teenoor Thuli, die antagonis geplaas. Die angs, paranoia en onsekerheid van die spelers word effektief weergegee in 'n binnespraak waar verskillende vertellers aan die woord gestel word.

 

Die sementblok – waar Rhodes se standbeeld eens gestaan het – is in die afwesigheid steeds aanwesig. Hierdie leser het die beweging eerstehands aan UCT ervaar waar alles begin het en na ander kampusse uitgekring het. Studente se eise teenoor die owerhede se reaksie het tot dispute en opstand gelei. Daardie “underground root system of a forest” – soos dit op bladsy 312 opgesom het – het menige persoon uit 'n intellektuele gemaksone gelig en vele debatte oor postkolonialisme is en word steeds gevoer. Dekoloniseer ons voorgeskrewe werk, was van die eise. Ons is van Afrika en waarom moet ons betaal vir ons studies?

 

In die korona-tydvak het ons beweeg na 'n volgende vlak: aanlynklasse en verdere begrip vir studente se vrae oor waarom sekere boeke op hul voorgeskrewe lyste land.

 

Die moderne dosent weet ook dat tydens die 1968-opstande in Parys hoe dramaties denke verander het in die Linguistiek, Sosiologie en Literatuurteorie. Jacques Lacan het in 1968 sy seminaar onderbreek en met Daniel Cohn-Bendit in gesprek getree. Hier het hy dan die idee gekry om die meesternarratief te analiseer teenoor die diskoers van histerie, die Universiteit en die analis.

 

Die boek het 'n vliegoog-vertelling: elke storie ondermyn of bevestig die voorafgaande soos in William Faulkner se As I lay dying (1930).

 

Met die studenteopstande is dit dieselfde gesteld: daar is verskillende perspektiewe hierop van diegene wat die gooi van uitskot en die verwydering van beelde problematies vind en 'n miskenning van die geskiedenis tot diegene wat dink dit is reg. 

Die waarheid het immers altyd drie kante. En hierdie boek bewys daar is dalk meer. Van Hector se wit tekkies tot die einde. By die lees van hierdie boek het die verskillende perspektiewe iets van die problematiek opgevang.  Hector en sy meisie, Sindiwe teenoor Thuli, 'n heldersiende karakter wat gevare raaksien; die joernalis, ene Helen; Noné, die president; Ray, die minister van polisie en Adnan. Die roman het dus 'n sterk feministiese onbewuste en kritiseer die "fallostyne", met ander woorde, 'n blinde manlike orde. Dus is die titel dubbelsinnig: #Fees Must Fall maar ook 'n kritiek op die fallologosentriese orde.

Kan ons asseblief nou 'n swart vrouekarakter 'n ander naam as Thuli gee? Sewe dae se simboliese betekenis word ook geaktiveer.

Sarah Lotz se shout ("breathtakingly imaginative, original and entertaining") op die voorblad is ietwat oordrewe, maar 'n belangrike boek is dit wel. Bepaald vir die moderne dosent wat 'n roman oor hierdie tydvak wil voorskryf.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Wednesday, April 18, 2018

Rubriek | The devil is in the detail (2018)

The Fall is ‘n uiters relevante speurreeks wat, behalwe vir die analise van ‘n reeksmoordenaar se optrede in Belfast, belangrike gender-stellings maak.
Stella Gibson (vertolk deur Gillian Anderson) bely sy het antropologie bestudeer en telkens lewer sy kommentaar op menslike gedrag. Sy verwys na interne en eksterne selwe. Die kyker is ook bewus van ‘n doubling tussen haar en die reeksmoordenaar. Sy optrede word in jukstaposisie met hare geplaas.
In die film lewer Stella Gibson kommentaar op hoe die media vroue sien: òf as hoer òf as maagd. In die media-dekking van die soeke na die reeksmoordenaar, is sy krities oor uitsprake wat haar manlike kollegas maak oor vroue. Selfs al is ‘n vrou ‘n prostituut, gee dit niemand die reg om haar aan te val nie.
In haar verhoudings met manlike kollegas is sý die een wat die seksuele interaksie domineer. ‘n Jong speurder word haar kamernommer in die Hilton gegee. Wanneer hy wil stort voor die interaksie, verkies sy dat hy dit nie doen nie. Sy neem ook in ‘n dominerende posisie in tydens die seksaksie.
Terselfdertyd is Specter besig om sy slagoffer te bad, die lakens te was en haar naels te verf. (Water is ‘n simbool van reiniging, en die jong Paul het nie gebad in die weeshuis nie sodat hy nie gemolesteer sou word nie. Stella swem in die hotelswembad om te ontvlug of te ontspan.)
Agterna wys Stella die jong speurder af. Dit was vir haar gewoon ‘n one-night stand (soos sy dit tipeer: ‘n sweet night). Sy erken teenoor ‘n vroulike kollega dat sy Antropologie bestudeer het en hierom het sy onder andere kennis van Sjinese gebruike soos ‘n walking marriage (The walking marriage of Mosuo ethnic group - China - Chinadaily.com. Besoek 18 April 2018).
Vir haar is seksuele ervarings vir die oomblik en iets waaroor sy nie skuldig voel nie. Wanneer die jong speurder doodgeskiet word en haar manlike eweknie, ACC Jim Burns (vertolk deur Jim Lynch) vra of sy skuldig voel, reageer sy nie emosioneel nie. Eerder ontwykend. Ook nie op die bekentenis van die vroulike en gay-kollega dat sy kondome uit die badkamer van die Hilton hotel verwyder het om háár te beskerm nie.
Sy is eweneens aggressief wanneer sy gekritiseer word oor haar (altans vir ‘n manlike kollega) transgressiewe gedrag. Wanneer ‘n vrou met ‘n man (objek) seks het, is dit onaanvaarbaar, konstateer sy. Andersom mag dit: man fucks woman (object).
Wanneer ‘n joernalis ontoepaslike vrae vra, is haar reaksie: ”He doorstepped me.” Sy gebruik ook kragwoorde. Ook haar kollega Burns is verlief op haar, besoek haar een aand wederregtelik wanneer hy dronk is en word deur haar geklap wanneer hy toenadering soek.
Sowel Stella as die Specter hou dagboeke of joernale. Hierin stort sy haar gevoelens uit oor abandonment. Haar vader is dood toe sy op ‘n jong en dus gevoelige ouderdom was.
Sy skryf haar diepste gedagtes en gevoelens neer wat hy in haar hotelkamer lees. Sy joernaal bevat foto’s en inskrywings van sy slagoffers wat hy wegsteek bo sy kind se bed. Sy weet dat hy na die moord op ‘n jong vrou masturbeer en dat sy joernale – wat die kyker meemaak – sy eie geskepte pornografie is (The Fall/ Gillian Anderson’s BBC Series | The Feminist Spectator. Besoek 18 April 2018).
Die reeks is die omkeerde van die tradisonele whodunnit,omdat jy as’t ware saam met die moordenaar en die speurder beweeg. Jy sien hoe Stella die legkaart bou rondom Paul Spector (Jamie Dornan) se optrede. Sy besef hy voel minderwaardig en hierom vermoor hy jong professionele vrouens wat hy soos objekte hanteer. Vanweë haar kennis van mans, besef sy ook dat hy masturbeer nadat hy ‘n vrou vermoor het, omdat hy nie in staat is om werklike intimiteit te beleef nie.
Trouens, hy voel wel skuldig oor ‘n moord op ‘n jong swanger vrou. As hy bewus was dat sy ‘n kind verwag, sou hy haar nie doodgemaak het. Hy laat ook nartjieskille agter …
Hierdie reeks werk met die idee van sielkundige doubling. Die intelligente vroulike speurder verstaan die psige van die moordenaar. Hulle is immers beide verwonde kinders. 
Is Stella ‘n man in vroueklere? Of is sy ‘n werklik bevryde vrou met agentskap.
Ek meen sy is laasgenoemde. Hierdie reeks dekonstrueer stereotipes oor genderrolle, en hoe rolle aangeleer word.
© Joan Hambidge