Showing posts with label Faber. Show all posts
Showing posts with label Faber. Show all posts

Monday, February 22, 2016

Milan Kundera - The Festival of Insignificance (2015)



Milan Kundera - The Festival of Insignificance. Faber & Faber, 2015. ISBN 9780571316465

Resensent: Joan Hambidge

Milan Kundera is ’n gerekende skrywer. Daar is gedeeltes van elke roman wat ’n mens bybly. Hy weet hoe om die menslike kondisie vas te vang en die ­ellende van eensaamheid te midde van gemeensaamheid te verwoord.

The Joke. The Book of Laughter and Forgetting. The Unbear­able Lightness of Being. En daar is vele ander tekste waarin hy die menslike bestaan ook teen die groter geskiedenis van politieke ongeregtighede of veranderinge projekteer.

Jy kan immers nie iemand uit die geskiedenis redigeer nie; die hoed bly agter.

The Book of Laughter and Forgetting: ’n Foto van 21 Februarie 1948, waar Vladimír Clementis neffens Klement Gottwald staan. Toe Vladimír Clementis in 1950 aangekla is, word hy uit die foto verwyder saam met die fotograaf Karel Hájek.

En om Kundera te verfilm amplifiseer die problematiek dat hy onvertaalbaar in die filmkuns is, juis omdat hy so gedronge, metafories én assosiatief skryf.

Daar is eweneens essays oor die binnewerkinge van die roman, soos The Art of The Novel, Testaments Betrayed, The Curtain, Encounter . . .

Die jongste roman heet The Festival of Insignificance. Dit is pakkend geskryf. Vol dinamiet. En dit is dalk die werk van ’n ouer skrywer, maar hierdie man het nie sy aanslag of energie verloor nie.

“Human existence is nothing but solitude” verneem ons op bladsy 62. En dan kom die ander karakter se teen-antwoord: “A solitude surrounded by other solitudes.” Daar word wrede ­opmerkings gemaak oor oudword en aftrede.

’n Swanger vrou probeer haar eie lewe neem. Wanneer sy die water tref, begin sy instinktief swem. ’n Man probeer haar red en hý verdrink.

Dié roman is dan ’n besinning oor die toekoms van die roman. Verskillende afdelings kondig die verhaalgang aan (“Part One: Introducing the Heroes”) met die implikasie dat hier ’n afwesige en dus manipulerende outeur aanwesig is. ’n Aansluiting by die tradisie van die 19de eeu waar die outeur sy karakters voorstel as mense met foute en beperkinge?

Hierom begin die roman met nawelstaardery. Is die skryf van ’n roman, wetende dat Kundera tong in die kies skryf, ’n selfbewuste, narcistiese daad? Of blote erotiek? Leuens wat tot ’n gelag lei, is aan die orde van die dag en die ingebedde teks Memoirs of Nikita Khrushchev laat die absurde verder uitwaaier.

Het Stalin die waarheid vertel oor die skiettoneel van die patryse of is dit alles net ’n grap? Moet ons verder die verteller glo oor die gekleurde urinale? Hiermee impliseer Kundera waarskynlik hoe die geskiedenis geskryf word deur anekdotes en urban legends.

Ingebedde besinnings oor moederskap en moedertaal word eweneens aangetref. Soms skryf Kundera sy romans in Frans. Hoe voel hy as Tsjeg oor die “nuwe” Europa en sy migrante?
En moet ons Hegel, Schopenhauer of Kant verstaan om hierdie roman te begryp?

Bepaald nie, maar tipies Kundera speel hy ’n spel met “das Ding an sich” en hoe die roman sekere filosofiese waarhede probeer daarstel, al is dit tevergeefs. Die verwysing na Caliban en marionette en ook Bakhtin aktiveer ’n spel binne-in ’n spel. Die karnivaleske, dus.

Met name soos Quaquelique weet jy daar is baie oogknippe – soos die titel van die roman wat menslike individualiteit bevraagteken.

Daar is romans wat bloot ’n storie vertel, in Colm Tóibín se terme, daar is ’n dans en alles beweeg vorentoe. Hier is dit metaforiek, vinjette, implikasie en die leser moet self die verbindings tussen tonele trek. En alles beweeg eerder opwaarts as vorentoe. Helde, marionette, moeders (en oorsprong), vere, engele en dan die gevolgtrekking: “The festival of insignificance.” Daar is ’n getob oor ouer word en die dood, oor afgetredenes wat in die pad is.

’n Kennis van Shakespeare en die Russiese en Oosblok-geskiedenis maak die leesproses vlotter.

Uiteraard is daar, soos met alle ouerwordende skrywers, terugverwysings na vorige romans. Die boek moet gelees word as ’n epiloog tot sy groot romans.

Daar is min skrywers wat so deur die tydgenote besing is as Kundera: Salman Rushdie, Carlos Fuentes, John Updike, Ian McEwan, om enkeles te noem.

Dit is ’n juweel van ’n roman. Ek waag ’n raaiskoot: Hy wou eintlik ook ’n metarefleksiewe teks oor die roman as kunsvorm skryf soos dikwels in romanskrywers se “laat werk” gebeur.

Nie sy grootste nie, maar beslis uiters genietlik.

Net humor kan ons red, predik hierdie roman – die oneindige goeie gemoedstoestand (unendliche Wohlgemutheit): “Not teasing, not satire. Only from a height from an infinite good mood can you observe below you the eternal stupidity of men, and laugh over it” (bl. 77). Aldus Ramon.


En die voorblad is veelseggend: die afhaal van ’n masker! Een oog laggend, die ander een teen ’n blou agtergrond.

Monday, February 4, 2013

Kazuo Ishiguru - Nocturnes: Five Stories of Music and Nightfall (2009)



Kazuo Ishiguru. Nocturnes: Five Stories of Music and Nightfall. Faber & Faber, 2009. ISBN 978 0 571 244997.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is maar één Ishiguru. Ons dink aan Remains of the day wat ook wonderbaarlik verfilm is met Emma Thompson en Anthony Hopkins wat daardie kragtige, erotiese toneel oor ‘n boek so goed vertolk. Die gebeurde wat afspeel rondom die boek wat uit die geliefde se hand speels gegryp word. Of ‘n mens gaan weer terug na die pakkende Never let me go.
Sy jongste versameling kortverhale heet Nocturnes: Five stories of Music and Nightfall. Die kortverhaal maak dikwels weens sy digterlike aanslag aanspraak op die tegnieke van die musiek soos herhaling of refreine. In hierdie versameling is die musiek die interteks of dit wat die verskillende tekste bind.

Dit is inderdaad verhale van die wending, van karakters wat tot selfinsig of –konfrontasie gedwing word.

In die eerste verhaal “Crooner” word die gegewe in Venesië gesitueer. Liefdesopbreuk en –(on)trou word verhelder met die verwysing na musiek: ons verneem die verteller het op een middag “The Godfather” nege keer gespeel in ‘n orkes. En dit is ‘n belangrike sleutel vir die begryp van die verhale, te wete herhaling, refrein en verskillende instrumentele weergawes.

As die verteller dus bely dat hy, soos Emily, hou van Broadway-songs, moet die leser haar Streisand- en Sinatra-kennis afstof. Die liedjies draal dus in jou gedagtes en word ‘n ‘short hand’ vir die begryp van die verhale. (Ek het een keer ‘n MA in Kreatiewe Skryfkursus beoordeel waarin die skrywer voorgestel het dat die leser telkens na bepaalde musieksnitte moes luister ten einde die toon of ambience van die vertelling te versterk.)

“Malvern hills” wentel rondom weerwraak en die ontmoeting met twee vreemdelinge vertel vanuit die perspektief ‘n jongeling wat by sy suster tuis gaan en met vreemdelinge in interaksie tree.

Die skrywer het kennelik ‘n voorliefde vir die aweregse: ‘n skaakbord wat uit Meg Ryan-stukke bestaan (“Nocturne”) of ‘n man wat speel asof hy ‘n hond is om sy eie bas te red (“Come rain or come shine”) of ‘n tjellis wat nie die tjello kan speel nie (“Cellists”)!

Venesië, Londen, Beverly Hills is van die ruimtes wat bestryk word in die verhale wat telkens vanuit die eerstepersoon-perspektief vertel word. Tipies Ishiguru is daar wat ‘n mens skrywerswyshede kan noem:

“And the way he gestured with his finger, calling for a waiter, there was something – maybe I imagined this – something of an impatience, the off-handedness that comes with a certain kind of bitterness” (220 – 221). Ten minste het hierdie verhale my weer teruggeneem na Frank Kermode se A sense of an ending veral omdat die eind-verhaal jou terug dwing na die eerste verhaal.

Die verhale handel oor onvervuldheid of is humoristies: ek meen hoe dan anders as ‘n beeldjie in ‘n kalkoen se maag land? Die verhale weifel dikwels ook op die rand van die absurde. (Twee geliefdes loop met verbande oor hul gesigte rond!) Of verhale eindig op ‘n onverwagse noot.

Daar is dan die onverwagse wending (dénouement), dikwels die kenmerk van die ervare kortverhaalskrywer wat die mat onder jou voete ruk. Hier neem Ishiguru dit selfs verder: in die slotverhaal eindig die verhaal met ‘n moontlikheid of oop slot: as die persoon sou terugkeer, dan sal daar ‘n gesprek gevoer word.

Ishiguru is in 1954 in Nagasaki gebore en woon sedert sy vyfde jaar in Brittanje. Hy het al die gesogte Booker-, Whitbread- en die Chevalier de l’Ordre des Arts des Lettres ingeoes.  “You’re the top!”, het ons saam met Barbra Streisand geneurie met sy pakkende romans. Dit ten spyte van die leesbaarheid van die verhale en die enorme musiekkennis. Five stories of music and nightfall heet die subteks en die nokturne, is ‘n musikale komposisie wat deur die nag geïnspireer is of in die aand beluister word.

You're the top - you're the Colisseum.
You're the top -
mmm... you're the Louvre museum.
You're a melody from a
symphony by Strauss.

Met hierdie kortverhaalbundel, die slimmighede ten spyt, voel die leser dikwels dat Ishiguru eerder ‘n skrywer van romans is.

Dit is die outeur se sewende boek.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Sebastian Barry - The secret scripture (2008)



Sebastian Barry. The secret scripture. Faber & Faber, 2008. ISBN 978 0 571 239610.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman behandel die tema van verlies en dit is geskryf in die toonaard van die caion (cian), die Ierse lamentasie. Sebastian Barry is gebore in Dublin en hierdie roman vertel die verhaal van Roseanne McNulty, ‘n pasiënt van die Roscommon Regional Mental Hospital wat gesluit gaan word. Niemand is presies seker hoe oud sy is en war sy vandaan kom nie. Haar verhouding met die psigiater, dr Grene, is die tema van hierdie roman. Die leser word bekendgestel aan hul onderskeie joernale en ons ervaar dus eerstehands hul persoonlike ervarings. Ons lees van haar verhouding met haar vader,’n eenvoudige grafgrawer en ons beleef sy verwerking van die dood van sy vrou, Bet.

Die outeur presteer dit om die verskillende persoonlikhede oor te dra en die tekstuur van die vertellings verskil.

Die roman werk met ‘n buite-spanning, naamlik die sluiting van die gestig teenoor die binnespanninge van die twee karakters: die ou vrou wat haar jeug herroep die dood van haar vader en die psigiater wat terugkyk op die verbintenis met sy vrou. Die subtiele interaksie tussen psigiater en pasiënt word in die verskillende joernale gejukstaponeer met mekaar. Die intense Ierse geskiedenis en die verhouding tussen die Katolieke en Protestante kom aan bod. Sligo in die dertigerjare word met presisie beskryf en die eenvoudige vader en die verhouding met sy dogter word met subteks gelaai.

Sy noem haarself die vroedvrou van haar lewensverhaal en die leser is toeskouer van hierdie ingewikkelde en dwingende proses. Sy beskryf haar psigiater se baard en hoe dit iets wegsteek. Amper nes ‘n voël wat in ‘n toegemaakte kou skuil. “Or a hedge around a secret garden”(97). Hierdie is dan ‘n metafoor vir a die geheime en onthullings wat ons beleef. Die psigoanalitiese leser sal by uitstek hierdie roman opwindend vind in die voortdurende spel tussen analis en analysand (Lacan) of selfs ‘n Jungiaanse lesing hiervan kan maak. Vir die buiteleser is die beskrywings van die Ierse gewoontes en geskiedenis eweneens ‘n belangrike reistog.

Die romanskrywer se digterlike beelde is opvallend: ons verneem van ‘n cornucopia van verdriet, ‘n beeld wat die leser duidelik neem na die mitologie, maar ook na die oordadigheid en bykans skoonheid van hierdie proses.

En die slot wat deur sekere wysneuse as té melodramatise afgemaak word?

Ek vind dit een van die ongelooflikste beskrywings, want in hierdie hellevaart van die vrou besef ‘n mens watter rol ‘n gemeenskap speel met hul etikettering van mense sodat ekstreme dade uiteindelik die enigste wyse is waarop so ‘n mens tot stilstand kan kom.

“Morality has its own civil wars…”(278) besef die psigiater wanneer hy verwonderd staan voor haar ontboeseminge wat hy voel vir hóm geskryf is.

Dit is ‘n aangrypende roman. Die toespelings op die politieke ongeregtighede in Ierland wat soos trauma werk, naamlik leuens wat waarheid word, is ‘n ander leestog.

Reading in the dark van Seamus Deane en Frank McCourt se Angela’s ashes het my laas so aangegryp. The secret scripture is ‘n ryk geskakeerde roman wat reeds ‘n gesogte prys ingepalm het.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]