Showing posts with label Stephanus Muller. Show all posts
Showing posts with label Stephanus Muller. Show all posts

Friday, January 13, 2017

Die stilte van die skrywers

Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litnet en Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge

Sunday, November 23, 2014

Stephanus Muller - Nagmusiek (2014)



Stephanus Muller - Nagmusiek. Fourthwall Books, 2014. ISBN: 9780992226343

Resensent: Joan Hambidge 

I
Hierdie roman is ‘n gebeurtenis in Afrikaans. Dit vertel ‘n verhaal en die leser ontvang dit in ‘n boks met drie volumes. Volume I beslaan 228 bladsye, Volume II 148 bladsye, Volume III 548 bladsye.

Hoe moet ons hierdie drieledige teks, dus trits, karakteriseer?  Biografiese roman? Of roman in biografie-vorm? Hierdie genreverskuiwing open alreeds vrae oor die teks, begin as ‘n kreatiewe skryfwerk-projek aan die Universiteit van Stellenbosch en word geskryf deur ‘n musikoloog, Stephanus Muller, verbonde aan die Konservatorium aldaar. Dit handel oor die figuur Arnold van Wyk, ‘n ikoniese komponis, gebore in 1916 en oorlede in 1983.

Die boek is sowel akademies as fiktief of meditatief in aanbod. Dit is 'n baanbrekerswerk wat soveel verskillende diskoerse saamsnoer én bevraagteken. Dit verklap veel van die Subjek en die Optekenaar. Hermione Lee se kluif van 'n biografie oor Virginia Woolf (Methuen, 1977) is 'n voorbeeld van 'n akademies-gedistansieerde biografie, terwyl die werk van Janet Malcolm oor Plath The silent woman: Sylvia Plath & Ted Hughes (Penguin, 1994) deur die veelvuldige aanbod en perspektiefverskuiwings die idee van 'n biografie as 'n objektiewe studie ondermyn en dekonstrueer. Reeds deur die verpakking in 'n sogenaamde slipcase, oftewel foedraal, word die leser van Nagmusiek attent gemaak op verskillende bokse-binne-in-bokse ...

My kennis van Van Wyk is die liedere wat Mimi Coertse vertolk met ‘n hoogtepunt “In die stilte van my tuin”, ‘n elegiese gedig van I.D. du Plessis. Op Litnet skryf Suzanne Strauss oor die kanonisering van hierdie begaafde komponis: ‘Ek kan eintlik net hartseer musiek skryf …’ – Die selektiewe kanonisering van Arnold van Wyk (1916–1983) se werke (Besoek 20 November 2014)

II
Nagmusiek is 'n aweregse, individualistiese studie of navorsingsprojek, maar dit is ook 'n roman wat biografie wil wees. Dit verklap die obsessionele navorsing van die werklike outeur wat in verskillende gedaantes of stemme die teks vertel wat polifonies of veelstemmig in aanbod is. Daar is briewe, referate, besinnings, dagboeke, foto's, inventarisse, skinderstories, 'n plakboek met rugbyspelers, werklike besoeke aan werklike mense, meditasies oor die stand van musiek, of dan eerder: die betekenis van élitistiese musiek binne 'n (post)koloniale wêreld. Die stories oor die figuur Arnold (Nols) en sy ervaring van die kunswêreld en die onsekerhede wat so 'n kreatiewe figuur moes verwerk, word in die derde afdeling ondersoek. Muller/ Ansbach / ek word telkemale geplaas teenoor Arnold van Wyk. Die leerlinglisensie met die foto van Wyk aktiveer vraisemblance.

Daar is 'n soeke na die "werklike" Arnold van Wyk en die speurtog lewer onder andere 'n skulp op waarin daar sigarette doodgedruk is. Die Subjek is egter nie "heel" nie. Daar is verwysings na molle in die tuin (die onbewuste) en ook 'n verhouding met die moeder wat uiteindelik sterf, en 'n transgressiewe verhouding met 'n vroulike student. Die verwysing na Alzheimer se siekte word 'n slim set vir 'n teks wat juis wil onthou.

Die verteller, of eerder dan, die aanbieder is 'n hoogs sensitiewe, bykans obsessionele figuur, wat ook iets van homself verklap in hierdie boek, of eerder dan, boeke.

Dit is 'n teks wat jy letterlik op enige plek kan oopslaan en dit waaier uit na die ander twee tekste wat rugsteun, ondersteun én ondermyn. Biografiste, soos wat Leon Rousseau op 'n keer onthul het ná die voltooiing van Die groot verlange, raak inderdaad obsessief oor hul "man", net soos advokate wat 'n persoon in 'n hofsaak moet verdedig, alles moet weet, as't ware in die persoon se spore moet stap, ten einde die "waarheid" te vind. In hierdie teks word die transgressiewe soeke na het-dit-werklik-gebeur telkens op sy kop gekeer en ironiese kommentaar gelewer op mense se ewige soeke na wie was daar? En het dit regtig gebeur?

III
Linda Hutcheon se Irony's edge verwys na die politiek en die teorie van ironie. Hierdie studie het in 1994 verskyn, maar bly  'n relevante teks vir die ontleding van die polifoniese teks. Veral musikoloë sou meer kon werk op die simfoniese struktuur van hierdie teks. Vir Hutcheon is ironie meer as anti-frase, oftewel, die siening dat ironie die teenoorgestelde bedoel van wat jy sê. Dit is meer kompleks: dit gaan oor sowel die gesêde, as die on-gesêde en hoe dit inspeel op mekaar.

Daar is molle in hierdie teks wat doodgemaak moet word. Daar is vrese wat besweer moet word. Die twee hande stem ooreen (Escher se skilderende hande?), maar die skrywer hérken soveel van homself in die figuur, Arnold van Wyk, 'n man wat mense poetse gebak het. Hennie Aucamp het op 'n keer vertel hoe Nols vriende laat skrik het toe hy in die bad gelê het en "dood gespeel" het. Daar is die insident - 'n heerlike grap - toe hy maak asof hy in besit is van 'n kosbare stuk bladmusiek wat hy in die oond opwarm sodat dit verouder lyk. Daar is relasies met jong mans wat by hom loseer met wie hy stoei, fisiese aanraking ontwille. Die verwerking van die liefde-van-sy-lewe se selfdood. Daar is uitsprake oor Van Wyk se posisie aan die US en dat hy nooit na regte waardeer is en met bevordering oorgesien is. (Hierom dalk die ironiese bedankingswoord aan professor So-en-So in die erkennings?)

Elke vinjet word herhaal en van toepassing gemaak op die Optekenaar. Dit is 'n kladboek oor "unrequited love", oor begeerte en die konstruksie van 'n gay-identiteit binne 'n verdrukkende samelewing. Daar word vrae gestel en beantwoord oor die rol van kunsmusiek binne die apartheidsjare. Daar is baie toespelings en herkennings (is dit Kannemeyer?, o.a.) wat ons hier sien? Is dit Stefans Grové wat fluitgeluide maak? Ook hier trap ek in die strik gestel vir my!

Is Werner Ansbach gelyk aan Stephanus Muller? Of probeer die werklike outeur ook hiermee 'n verdere spel inbou dat die teks tog nie biografie kan of wil wees nie? Die keurverslag aan die einde - waarskynlik geskryf deur 'n akademikus en ons herken die styl van 'n kenner oor metafiksionele fiksie en al die probleme wat die hibridiese teks oproep - beskou die teks as nog vis nog vlees. Hierdie leser is van mening dat jy ál die vooropgestelde idees moet laat vaar en die teks kaleidoskopies moet benader. Soms is dit roman; soms eerder biografie. Ek het die derde "skelet" van agter na voor gelees, en toe weer chronologies benader - juis dan kry 'n mens 'n beter greep op die teks wat finale betekenis of interpretasie ontglip.

IV
 Dit is 'n komplekse, unieke teks in Afrikaans. Dit dwing bewondering en respek af. Dit handel oor meer as die melancholiese Arnold van Wyk. The Anatomy of Melancholy word ook raakgelees in die studie oor die plaasseun uit Calvinia wat in Engeland studeer het en o.a. vir E.M. Forster geken het. Sy storie vertel deur 'n jonger man wat eweneens buite die grense van die land gestaan het en terugkyk op die komplekse einde van apartheid, 'n ruimte waarin Van Wyk sowel gedy as verminder is.

Die besinning oor skryf word helder verbeeld in 'n konfrontasie met die Ander: "Jy is 'n niks, 'n onbenullige, onbewese parvenu" (439). Dit is die lot van alle skrywers wat die grensoorskrydende ver-teks. Koos Prinsloo is deur Ralph Rabie aangerand. Vir vele lesers is hierdie werkswyse nie kuns nie, omdat die herkenbare 'n ontoelaatbare praktyk is. En al is 'n figuur gefiksionaliseer, kan die skywer nie beheer uitoefen oor wát die leser gaan inlees nie.

Vir 'n onderhoud deur Wayne Muller lees: Onderhoud met Stephanus Muller (Besoek 23 November 2014)

Die partituur van Nagmusiek is ook aanwesig. Al het die komponis vertrek.

Sleutels is ook slotte. En die brief aan Van Wyk Louw en sy siening oor die sensuur is 'n verdere kode. In ons post-post-moderne wêreld is daar geen hekke meer nie, geen sleutels wat kan toesluit nie. Daar word verwys na kerkhofsleutels (233).

Hierdie drieledige teks sou 'n mens waarskynlik verder kan oopmaak met die gebruik van insigte uit Janet Malcolm se The Purloined Clinic (1992), 'n psigoanalis en teoretikus wat met haar unieke siening van die Freud argiewe en 'n slopende hofsaak vele raakvlakke met die probleme wat hierdie teks stel, eweneens aan die orde stel.

Die astroanalise (147) is ook 'n kode: die teks as gesplete persoonlikheid.

Die meisie se naam is Cecile: Sinte Cecilia ... beskermheilige van die musiek.

En idees word in die onderbewussyn gevorm, artikuleer Arnold van Wyk dit self in 'n brief gedateer 14/8/1978. En sy bewondering vir Britten en Sjostakowitsj moet eweneens nagespeur word.