Showing posts with label Crito. Show all posts
Showing posts with label Crito. Show all posts

Sunday, September 29, 2019

Polemies | Crito oor Erns Grundling se resensie van Sushi en Shosholoza (2019)


Kritiese kanttekening:

In sy jongste reaksie skryf Crito die volgende:

Sushi en Shosholoza, deur Erns Grundling. Resensie: Marian van Wyk. (Rapport Boeke)

Marian van Wyk se naam duik nie gereeld op as resensent nie. Ook maar goed so. Sy begaan een van die groot sondes van die resensiekunde. Span 1269 woorde in om iets te sê wat in 100 afgehandel kon gewees het. Teen paragraaf vier begin mens wonder hoekom sy so heftig reageer, en haar slotopmerking in parentese laat jou besef presies wat makeer aan haar bespreking. Vlieë-afvangery in die gedaante van kritiek. Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shoshaloza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie (Crito | Just another blogs demo Sites site. Besoek 23 September 2019).

Helaas nie vlieëafvangery nie, Crito. Marian van Wyk wys tereg op die sterk kodes in die Japannese kultuur. Ek was self tweekeer daar en gaan akkoord met Van Wyk se besware.

Kyk gerus na Roland Barthes se Empire of signs.

Geen Engels is inderdaad 'n kode vir iets diepers. Japannese is uiters afstandelik en krities op Westerlinge se gedrag. Tydens my eerste besoek in 2002 het die hotelbestuurder vir my 'n boekie gemaak met alles wat ek sou behoef. En in Nagasaki was daar geen Engels nie.

'n Film soos Hiroshima, mon Amour (Alain Resnais, 1959) kan ook nuttig wees.

En Glencoe is in die Noorweste van Skotland - ek verwys na die resensie deur J.B. Roux van Die wolkversamelaars (Subtiele, boeiende verhaal | Netwerk24).


Bibi Slippers (praise her cotton pantoffels) is enigsins geringskattend oor die jongste Margaret Atwood. Volgens die resensent het Atwoord meer as 50 boeke op haar kerfstok en wanneer sy nie op haar beste is nie, is sy steeds goed. Hierdie uitspraak sou getemper kon word indien Slippers haar oeuvre deegliker beskou het.

Vir 'n liefhebber van haar werk as romanskrywer en digter is daar 'n Atwood vóór die kultusstatus van The testaments (Dis aanhou beweeg en geraas maak | Netwerk24).

Maar nog is het einde niet.

In Rapport 29 deser skryf Karin Eloff 'n baie goeie resensie oor Erla-Marie Diederichs se jongste boek: Seks, leuens en die internet (Soeke na seks bring wysheid | Netwerk24).

Onderaan die resensie protesteer die outeur, omdat daar kritiek gelewer word op haar lewenskeuses. Morele oordele word verwerp en Eloff moet tog nou nie soos 'n Sondagskooljuffrou tekere gaan nie ...

Eloff, vir die rekord (verskoon die anglisisme) is die skrywer van Stiletto, daardie openhartige boek oor haar lewe in die seksbedryf wat in 2009 verskyn het.

Sy vra uiters relevante vrae oor vrouens en dating en die ewige soeke na Mr Right. As genderteoretikus (en 'n woman-identified-woman) het ek hierdie vrae sinvol gevind en wanneer 'n mens 'n memoir skryf wat onthullend is, gaan daar uiteraard reaksie wees.

'n Memoir of outobiografie is helaas nie-fiksie en sal uiteraard kommentaar ontlok.

Wees eerder dankbaar vir die reaksie wat genderkwessies aanraak soos internet-dating en al die fopdossery wat daar plaasvind.

Die grootste wysheid is dat 'n skrywer liefs nie op 'n resensie moet reageer nie. Vra my.

Wanneer gaan Peter van Noord en Karin Eloff weer vir ons 'n Bloots uitbring?

© Joan Hambidge

Friday, June 9, 2017

Klitsgras en duwweltjies?

Photo credit: Metalifestream.com 

Op die maat van “How do you solve a problem like Maria” uit The Sound of Music kan ‘n mens gewoon Maria se naam verander na Crito, daardie groot intellektueel van Litnet.

Crito, die spreekwoordelike klip in elke resensent se skoen het skynbaar ‘n nuwe kloon. Daar is baie gewonder en gegis oor wie Crito is. Is dit iemand uit die Litnet-stal wat agter die skerms ‘n bietjie vrae vra?

Of is dit dalk verskillende skrywers en/of literatore wat die aflosstokkie aangee? Baie mense was al onder verdenking: ‘n eks-uitgewer wat ‘n smulpaap is; twee figure van en in die uitgewersbedryf; die redakteur van Litnet; ‘n digter van die duende; ‘n dosent van resensiekunde; ‘n verveelde jong PhD-student; ‘n gatlekker-eks-brieweplaser; ‘n faux-blowdry-kundige.

Wie die persoon (personas) mag wees, is nie ter sake nie.

Wat wel steur, is dat Crito kloekmoedig bely dat hy/sy nie die boek gelees het nie, maar nietemin voortgaan met kommentaar. In die jongste bydrae ("Onderbreking") word bely hy (sy) is halfpad deur die roman ... Sy lewensuitkyk is waarskynlik soos dié van Oscar Wilde wat gesê het, “I never read a book I must review; it prejudices you so”.

Die resensiebedryf is alreeds in ‘n krisis gedompel met te min ruimte en Media 24 wat slegs een resensie plaas wat landwyd sirkuleer. En min resensente wat gewillig is om te resenseer teen Facebook-kommentaar en ander onnoselheid.

Boonop vind ons dikwels by Crito lomp stellings, setfoute en veralgemenings.

Kan ‘n mens oor ‘n boek se resensie skryf as jy nie die boek gelees het nie? Of nog net halfpad staan?

Dis soos om nie ‘n vergadering by te woon nie, maar dan tog met groot stelligheid agterna jou mening oor die saak onder bespreking te gee.

Soveel in ons bedryf berus op hoorsê, op afgeleide menings – te min op eie leeservaring.

Crito laat my altyd dink aan daardie bekende idioom: Die beste stuurlui staan aan wal.

‘n Ou Afrikaanse siekte. Ook op sportgebied is hierdie leunstoelkritici ook met ons.

Self is Ouboet nie in staat om ‘n bal op te tel nie, maar hy weet beter as die ref en die afrigter en die spelers.

Daardie boelshit dat jy nie ‘n eier hoef te lê om te weet dis vrot nie, kan egter nie van toepassing gemaak word op die resensiekunde nie. Hier moet jy die basiese reëls nakom: lees te minste die boek en nie net die flapteks nie. Of die gerugte oor die boek nie.

Patricia Meyer Spacks, daardie bekende Amerikaanse intellektueel is besig om glo haar boek Gossip (1986) op te dateer met 'n hele hoofstuk oor Crito!

© Joan Hambidge


Sunday, July 12, 2015

‘n Nota by drie onlangse tekste: Judaskus (Rudie van Rensburg), Kamee (Roela Hattingh) en Wonderboom (Lien Botha)


I

Om ‘n dagbladresensent te wees, is ‘n ondankbare taak. Teen ‘n sperdatum in met sowat 800 woorde in jou bladsak, moet jy sowel die boek bemark as jou kritiese oordeel vel. Boonop het jy die gesaghebbende Crito blasend op jou nek, daardie drie-eenheid wat glo bestaan uit ‘n afgetrede uitgewer, ‘n ander uitgewer wat tans in die bedryf staan, en ‘n vrolike slampamper van ‘n redakteur. En hierdie Critikane lewer kritiek sonder dat hulle dikwels die boek gelees het, volgens eie erkenning!

Die Afrikaanse boek moet bemark word. En die polemiese is nie iets waarvoor die resensent hoef van weg te duisel nie. Elke rolspeler is belangrik. Van redakteur tot keurder; van resensent tot die arm man se Oprah Winfrey tot onderhoude in die pers en op Kwêla, Litnet, of waar ook al.

Daar is die afgelope paar jaar hopeloos te min oor styl geskryf in hierdie bedryf. En die uniekheid van styl. Etienne Leroux se onnabootsbare styl kan ‘n mens op ‘n myl ver herken. Selfs ‘n poging van ‘n joernalis en skrywer om dit na te boots nou onlangs op Facebook het myns insiens net bewys hoé enig Leroux in sy soort was. Daardie unieke vermenging van ‘n filosofiese insig met ‘n (on)bedoelde kamp opmerking, maak hom steeds groot. Van Jung tot die Kabbalisme, van argetipes tot popkultuur het hierdie maestro sy insigte ryklik tot roman “vertaal”. Geen wonder Graham Greene het so hoog opgegee oor hom nie. Boonop kon hy ‘n storie vertel en al het ‘n mens nie al die verwysings onder die knie nie, stu die storie voort.


II

 Nou onlangs resenseer Dewald Koen Lien Botha se debuutroman Wonderboom (Queillerie) vir Beeld. Die volledige resensie staan hier onder. Koen maak ‘n opmerking wat my toe laat nadink oor presies wat styl behels. Hy skryf: ”Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.”

Onmoontlik, meen ek. Winterbach se kwirkie-styl? Haar verwysings na Boeddhistiese of eksotiese tekste? Schoeman se gedrae styl, daardie lang sinne wat dikwels sommer oor ‘n paragraaf voortstu? Van Niekerk se styl verskil van boek tot boek: maar vir my gevoel dikwels ‘n poëties ryke aanslag, behalwe in Triomf waar sy buikspreek vir verskoppelinge.

Crito verskil eweneens van Koen:

Die enigste fout wat daar wel in sy redenasie is, is sy konstatering dat Botha se skryfstyl beskryf kan word “as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk”. Só ‘n opmerking help net mooi niks. Met hierdie drie genoemde skrywers wissel die styl van roman tot roman – die Karel Schoeman van Op ‘n eiland kan kwalik in verband gebring word met dié van Afskeid en vertrek; die Marlene van Niekerk van Triomf  met dié van Die vrou wat haar verkyker vergeet het; of die Ingrid Winterbach van Niggie met dié van Die aanspraak van lewende wesens. Waar plaas hy dan vir Lien Botha? Sulke opmerkings lyk imponered, maar beteken uiteindelik net mooi niks. Pleks dat hy fokus op die uniekheid van Botha se styl, en dié probeer tipeer. (Crito | Just another blogs demo Sites site. Besoek 9 Julie 2015)
En Lien Botha se aanslag? Keurige, poëtiese Afrikaans: “soos ‘n bog gesien vanuit die lug” (217).

*

Op die skaterteks van Kamee (Human & Rousseau) deur Roela Hattingh skryf die gesiene literator Henning Snyman: “...‘n egtheid van woord en gegewe wat geen foefies of truuks nodig het nie. Dit is kortverhale in ‘n tradisie van skrywers soos Elise Muller en Henriette Grové”. Die “skoon”, foefielose styl is wat die literator probeer beklemtoon, verskil van die postmodernistiese teks-binne-’n-teks-aanslag of die paper chase en intertekste.

In ‘n onderhoud met Willem de Vries merk sy op:

Daai slim outjie [Paul] Ricoeur sê dat dinge met ‘n mens gebeur en ons vermoë om dit in mekaar te weef tot ‘n narratief, maak ons mens. (‘Stories maak ons mens’. Besoek 10 Julie 2015)

Die verwysing na Ricoeur as “‘n slim outjie” (dalk ‘n bietjie familiêr om na ‘n gesiene teoretikus as ‘n outjie te verwys?) in ‘n onderhoud beklemtoon ook iets van die stilistiese aanslag in hierdie teks: ‘n opsetlike afbreek van die diskursiewe opposisie tussen teorie en vertelling. Die verwysings is verhuld en op haar beste is haar vertellings onthoubaar en geskakeerd.

Sy vang iets op van die moderne mens se mengeltaal, omdat sy karakters se egtheid wil voorstel. Daar is slim toespelings na liedjies en gedigte, dikwels verhuld.

“Cassandra stoei met Ricoeur se gedagte dat die onsamehangende gebeure in mens se lewe saamgevoeg kan word deur vertelling” (137).

Die verwysing toeganklik ingebed, is haar handtekening.

*

Oor Judaskus (Queillerie), wat swaar leun op my romantitel Die Judaskus, en hopelik daardie roman aan die vergetelheid sal ontruk, meen Deborah Steinmair dat die vorige roman Kopskoot ‘n naelbyt-misdaadriller is. Ook asof die roman homself lees, sommer in die loop van ‘n enkele nag. Hier sou ‘n mens kon interpreteer dat daar min leesweerstand is; dit is immers ‘n speurverhaal wat bedoel om te vermaak. Ofskoon ‘n speurverhaalskrywer soos P.D. James meer vermag as blote ontsnapping.

‘n Mens gaan beslis nie Rudie van Rensburg se styl met Deon Meyer s’n vergelyk nie. Sy styl is onmiskenbaar. Hy skryf minder gestroop as Meyer en dikwels is daar beelde om idiome wat sy teks verryk: ”Mervin Louw voel koud tot in sy murg ten spyte van die sonnige dag. Vandag gaan hier nie ‘n stralende bruidspaar voor die kansel staan nie. Vandag gaan Satan hier in bevel wees” (192).

Hy ontgin taal: ”Haar goeie bui het nie soos die vorige kere koers gekry nie” (73).
Rudie van Rensburg se styl beslis diepsinniger as die meeste speurverhaalskrywers s’n. Hy skryf ‘n keurige, idiomatiese Afrikaans.


III

Style in literature is the literary element that describes the ways that the author uses words — the author’s word choice, sentence structure, figurative language, and sentence arrangement all work together to establish mood, images, and meaning in the text. (Defining Style - ReadWriteThink. Besoek 9 Julie 2015.)

Hierdie definisie kom handig te pas, terwyl ek reis. Dit wat atmosfeer en veral betekenis in ‘n teks stig, is vir my die belangrikste aspek van styl. En dan: dit wat jy hierna onthou. Hoe ‘n skrywer deur woorde, die spesifiek gekose woorde, ‘n hele wêreld opbou en hoe jy die skrywer daarna onthou. Nooit weer sal ‘n mens na die landskap kyk op ‘n bepaalde manier, omdat ‘n skrywer (of skilder) dit “oopgemaak” en “vertolk” het. Pierneef se skilderye staan byvoorbeeld werklik so kleurvol in die natuur wanneer jy deur landstreke van die Vrystaat ry.

Om die uniek-heid van ‘n skrywer se styl te probeer omskryf, is nie altyd maklik nie. Maar dit is ook die uitdaging. Die debutant word dikwels met ‘n reeds bekende vergelyk om hierdie assosiasies te aktiveer.

Met wie is Philip Roth op sy dag vergelyk? Of Saul Bellow?

‘n Vergelyking moet gepas wees.  ‘n Skrywer wil immers aan sy of haar stem herken word. En ook parodieë of pastiches bevestig die uniekheid van ‘n stem.

Endnote:


Deur Dewald Koen Maandag 06 Julie 2015 04:00  
Lien Botha – Wonderboom. Queillerie, 2015. ISBN 9780795800955  
Lien Botha is ‘n kunstenaar-fotograaf wat bekend is om haar talle nasionale en internasionale tentoonstellings. 
 Haar debuutroman, Wonderboom, was die produk van ‘n MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die UK onder leiding van Etienne van Heerden.
 Wonderboom speel af in ‘n postapokaliptiese Suid-Afrika. Daar is geen sentrale regering nie en die land word deur vigilantes beheer. In die Wes-Kaap voer Albino X ‘n diktatoriale skrikbewind op Vergelegen, eens die plaas van Simon van der Stel. Albino X herinner aan ‘n diktator soos Idi Amin en het ‘n voorliefde vir menslike taksidermie en dekadente partytjies. Die ekonomie is aan flarde, daar heers voedseltekorte aangesien boerderybedrywighede grootliks opgeskort is en ‘n algehele tekort aan basiese lewensmiddele is aan die orde van die dag. Elektrisiteit is skaars, kannibalisme kom voor en die land se natuurlike hulpbronne is uitgeput.  
Die roman sluit tematies aan by Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990), Jaco Botha se Miskruier (2005), Koos Kombuis se Raka: Die roman (2005) asook Eben Venter se Horrelpoot (2006) om maar enkeles te noem.  
Die verhaal word vanuit die derdepersoonsperspektief aangebied wat afgewissel word met die protagonis se eerstepersoons­inskrywings in dagboekstyl. 
 Magriet Vos bevind haar midde in Albino X se wurggreep en beplan ‘n uitgerekte reis na die noorde om by haar familielede aan te sluit en sodoende van Albino X se tirannie te vlug. As deel van haar ontsnappingsplan moet sy allerlei uitdagings oorkom wat met tye tragiese gevolge het. Sy reis onder andere met ‘n musiekgroep wat musiek vir bome speel om hul groei sodoende te stimuleer.  
Tydens die tweede fase van haar tog na die noorde word sy as skaap vermom om van die vigilantegroepe wat hulle tydens die reis kan ­teëkom, te ontsnap (sekere gebeure neig telkens na die karnavaleske). Magriet word verder deur ‘n moordbende oorval en amper deur ‘n weldoener verkrag. 

Magriet se reis versinnebeeld menige Suid-Afrikaner se daaglikse vrese. Botha benut hierdie ­vrese deeglik as deel van haar ­literêre spel om spanning en afwagting te skep.  
Ironies maak Botha van talle onlangse aktuele gebeure gebruik om die morele en politieke verval van die gemeenskap uit te beeld. Verwysings na die MIV-pandemie, die herrie rondom koloniale beelde met spesifieke verwysing na Cecil John Rhodes, asook die elektrisiteitskrisis wat die land tans ondervind, kom aan die bod.  
Botha lewer indirek kommentaar op die kapitalisties georiënteerde verbruikersamelewing wat in hierdie postapokaliptiese Suid-Afrika tot ‘n nuwe vorm van ekonomiese segregasie gelei het. Verwysings na geskiedkundige gebeure soos kolonialisasie deur die VOC, die Anglo-Boereoorlog, apartheid en die Grensoorlog in die voormalige Suidwes-Afrika word op geslaagde wyse by die teks geïntegreer as deel van die verteller se herinneringe aan vervloë dae. Botha fokus dus nie slegs op die negatiewe gebeure van ‘n postapokaliptiese Suid-Afrika nie, maar kyk ook na die verlede om die toekoms beter te kan interpreteer.  
Met verloop van die narratief besef die leser egter dat Magriet aan geheueverlies ly en dat haar demensie stadig besig is om haar geheue en herinneringe van die verlede te verswelg. Magriet poog om haar herinneringe vas te lê deur dit in ongedateerde dagboekstyl in ‘n boek neer te skryf. Sy verwys ironies na hierdie boek as “Die vergeetboek”, waarin die ­leser gebeure wat voor die aanbreek van anargie in die land plaasgevind het, kan beleef.  
Talle verwysings na musiek, voël­spesies en veral bome kom in die roman voor, net soos in Schalk Schoombie se roman Boomkastele (2015). Hierdie amper terloopse verwysings vorm ‘n integrale deel van Magriet se lewensverhaal aangesien dit met spesifieke gebeure gepaardgaan en bydra tot die skep van ‘n spesifieke ­atmosfeer in die roman. Die beskry­wings prikkel die leser se sintuie en verbeelding.  
Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.  
Soos by laasgenoemde skrywers fokus Botha veral op die sintuig­like waarnemingsvermoë van haar protagonis om die leser te boei. Haar spel met woorde is poëties van aard en paragrawe moet soms herlees word om die inhoud ten volle te kan verwerk.  
Wonderboom is nie eenvoudige leesstof nie, maar is ongetwyfeld een van die belowendste en opwindendste debute wat ek in ‘n lang tyd gelees het.  
Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad. 

© Joan Hambidge