Showing posts with label André Krüger. Show all posts
Showing posts with label André Krüger. Show all posts

Sunday, August 25, 2019

Resensie | André Krüger – ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid (2019)

André Krüger: ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid. Wenkbrou (Lapa), 2019. ISBN 978 0 7993 9543 3

Resensent: Joan Hambidge

Die titel verwys na Humphrey Bogart wat hierdie woorde uiter in The Maltese Falcon (1941). En hierdie berekende en slim geweefde teks speel met die werklikheid en fiksie op ’n uiters behendige manier.

Die luukse Portugese passasierskip se kaping op 23 Januarie 1961 in Curacoa in die Karibiese see is die politieke ondergrond (via Fredric Jameson) vir die vertelling. Die diktatoriale Salazar en Franco was die teikens vir die kaping. Uiteraard was dit ’n poging tot dekolonisering. Die Santa Maria word egter deur die Amerikaanse vloot opgespoor en in ruil vir politieke asiel in Brasilië word hulle vrygelaat.

Ons anti-held, die fokalisator Robert was hierby betrokke. Hy was eers in die veiligheidsdiens en word later deel van die polisiemag. Sy vrou verlaat hom onverwags en sy hele wêreld tuimel ineen. Hy soek eers na haar in Portugal en word opnuut betrek by die onderwêreld van die veiligheidsdiens. Daar is afpersing en dubbelpratery. Skaakspeletjies.

Wat hierdie roman bó die gemiddelde krimie-uitlig, is die historiese verwysings en die intertekste.

Robert se gewetenswroegings word via Raka belig. Wat is boos? Wat is goed? Wie is Raka? Wie is Koki? Orde en chaos, oorlog en vrede, “crime en retribution”, kom uiteraard aan bod.

Sy Katolieke gewete dreun hom op en die Midde-Ooste is die begin en einde vir hom via die kerk. Hier is daar uiteraard ’n toespeling op Graham Greene se The Power and the Glory.

Verder word stede besonder effektief beskryf. Die leser sien en ruik Beirut. Dieselfde geld Johannesburg, Libanon, Limassol, o.a. en ons weet hoe stede in spanningsverhale ’n kode word vir politieke onrus. Die roman begin in Suid-Afrika, Maart 1961. Sharpeville word vroeg ’n belangrike motoriese moment vir al die geweld wat sal volg en die Franse studente-opstande 1968 is ook hier. Die roman begin in 1945: in Nazi-Duitsland (Flossenbürg-konsentrasiekamp).

En dan die films. Humphrey Bogart. En ons wroegende Robert wat sy liefde vir films bely. Dit is dan uiteraard ook tersake dat Casablanca hier sluimer, daardie film waaroor Umberto Eco so insigryk geskryf het:

Every story involves one or more archetypes. To make a good story a single archetype is usually enough. But Casablanca is not satisfied with that. It uses them all.

’n Film van liefdesverraad, politieke spel met ’n tuimelende einde.

Film noir is hier en Sam Spade, Philip Marlowe, en vele ander misdaadhelde. Een vrou lyk soos Sophia Loren; ’n ander slaan op Rita Hayworth.

Harry Lime uit die nooit volprese The Third Man word betrek. Die spanning tussen wit en swart – en grys. En kamerskote wat fokus op ’n kat en skoene. En daar is nie helde buite stories nie, is die bekende waarheid geuiter in hierdie film.

Die karakter ervaar homself dus as werklik terwyl hy hierdie verwysings maak na romans en films en die impak daarvan op sy lewensfilosofie.

Hierdie leser lees eweneens toespelings op Philip Kerr se romans en sy bemoeienis met Nazi-geskiedenis. In Krüger se roman word daar na verskillende diktature verwys en ’n anti-held wat hom buite die sisteem wil hou, maar dit nie regkry nie.

Is daar sluiting? Of bly die leser wonder soos aan die einde The Third Man oor wat verder gaan gebeur? James Bond in From Russia with love speel ook saam in die leesassosiasies met vroue as verraderlike spioene.

Internasionale spioenasie is veral deur John le Carré meesleurend onthul. En hierdie roman gee op ’n binneblik op die netwerke wat die leser se kop laat duisel. Die akronieme word verduidelik in ’n handige tabel.

En Robert weet: ’n Mens betaal vir alles, selfs al dink jy jy het iets om te ruil (111).

Die onrus van die sestigerjare met die verwysings na kernkrag, die destabilisering van die Midde-Ooste, Nasser in Egipte word terselfdertyd ’n sosiale analise tussen toe en nou. Watter netwerke is nie nou ondergronds aan die beweeg nie?

Robert Ferreira die ’n Afrikaans-Portugese, Roomse majoor in die Suid-Afrikaanse Polisie, is ’n goeie mens. Ideologiese en persoonlike konflikte dryf hierdie roman, nes die spanning tussen overte en koverte organisasies. Wat alles gebeur het na die WOII, kan nie meer tot stilstand gebring word nie.

In 2013 het hierdie skrywer die debuutprys by UJ ontvang vir Die twee lewens van Dieter Ondracek. Met hierdie roman bewys hy hom as ’n besondere spanningverhaalskrywer.

Here's looking at you, kid!

Monday, January 21, 2013

André Krüger - Die twee lewens van Dieter Ondracek (2013)




André Krüger, Die twee lewens van Dieter Ondracek. Human & Rousseau, 2013

Resensent: Joan Hambidge


Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger is ‘n uitstekende roman. Dit lees vlot en handel oor ‘n man wat wegvlug van sy verlede en dit probeer vergeet. Dit gaan oor naamsidentiteit: Dieter Ondracek word Gerhard Weber. Hy was ‘n Spoorwegingenieur, ‘n skrander mens in Nazi-Duitsland en hy bevind hom in ‘n gekwelde Suid-Afrika. Sy obsessie met treine – wat hy “vlamdiere” noem – bepaal sy lewe totdat hy betrokke raak by Sabine, ‘n dokter wat hom verraai. Sy raak verlief op ‘n SS-offisier, Kurt Wolff. Wolff is Dieter se nemesis en die persoon wat hom in Suid-Afrika ontmasker.

Die verre geskiedenis en ‘n liefdesverhaal word op ‘n pakkende wyse ‘n briljante psigoanalitiese studie van die Self teenoor die Ander (104). Daar is deurentyd aanwysings dat ‘n mens hierdie verhaal nie net ‘n as ‘n politieke of historiese teks hoef te benader nie. Diegene wat psigoanalities lees (en Jung en Lacan kom hier handig te pas), sal verskeie kere aspekte sien van o.a. Jung: self, skadu, animus, anima, ensomeer. Maar dit word nie op ‘n pedantiese manier gedoen nie; die verhaal stu voort soos ‘n trein met verskillende waens waarin verskeie intellektuele kodes gelaai is.

Uiteraard wil die roman implisiet vrae stel oor waarheid en versoening en in welke mate die huidige Suid-Afrikaanse politiek gelyk gestel kan word aan Nazi-Duitsland se vergrype. Dit is egter vrae en nie stellings nie.

Die roman handel oor die donker onderkant van die lewe en teenoorgesteldes (139). Magda, sy nuwe vriendin, se verlede is eweneens donker en sinkopeer met sy vrese en ellendes. Ook sý het ‘n verlede waarvan sy probeer vlug en ervaar saam met Gerhard tydelike geluk. Haar lewenslot, nes syne, stuur op die onafwendbare af.
Vir diegene wat hou van treine sal die roman eweneens ‘n besondere leeservaring wees. Die outeur skep ‘n realistiese weergawe van Johannesburg in die vyftigerjare, hoe mense op swartmense reageer, die klere wat gedra en sigarette wat gerook is, en ander kultuurobjekte.

“Mense is inherent feilbaar, masjiene so perfek as wat onvolmaakte mense dit kan maak” (208) is die gedagtestroom van die hoofkarakter met sy belangstelling in horlosies, treine en musiek. ‘n Treinongeluk word in besonderheid beskryf.
Die karakter is ‘n buitestander en ‘n persoon wat tussen grense beweeg, die sogenaamde ruimte van liminaliteit.

Uiteraard vra dit skerp vrae oor ‘n mens se aandadigheid aan oorlog en skuld. As roman is die fokus op die binnewerkinge van ‘n mens (soos ‘n horlosie). Die leser maak hierdie karakter oop soos Gerhard met horlosies doen; om tot beter begrip te kom. Om die roman te verdoem, soos Marius Visser in Rapport (Leser se strydvraag/ Vergeef of verdoem? | Rapport, 16.06.2012) gedoen het, is om die komplekse spanninge mis te lees. Die groter argetipiese aspekte (die donker onbewuste) en kollektiewe skuld moet begryp word. Dit is ‘n roman wat my teruggeneem het na Camus se Die buitestaander en oor hoe ‘n mens betrokke raak – weens omstandighede – by oorrompelende gebeure. Dit is die klein mens teen groter magte.

Die Nazi-verlede word gestel teenoor die vryheidstryd (daar is ‘n verwysing na Mandela se hofsaak) hier te lande.

En die wending? Natuurlik is dit gekoppel aan ‘n treinongeluk, maar ek wil nie die geheim verklap nie. Toeval? Die noodlot? ‘n Siening dat al probeer die mens sy verlede toehou, sal dit hom inhaal, is die sub-teks van die roman.

Dit is ‘n roman wat kommentaar lewer op boosheid, op ‘n poging om ‘n eerste lewe te probeer ontvlug; met die wete dat die tweede lewe dit eerder vererger het (351). Die mens, uitgelewer aan geweld en politiek, word hier die slagoffer.

Dieter/Gerhard se gewete en sy pyn word oortuigend weergegee. Die laaste gedeeltes – wat afspeel in ‘n tronk – gryp aan die keel. Soos die gelade slot.

Die skrywer het die kuns van vertel onder die knie en ‘n mens verwag beslis ‘n tweede roman. Die spanningsvlak van die roman word volgehou. Die navorsing oor Duitsland en Johannesburg van die vyftigerjare is goed gedoen. Selfs kommentaar op filmhuise is daar wat my laat nadink het: vir my gevoel sou dit ‘n film kon word, juis omdat die gegewe so dramaties is. Wyle Visconti sou die gegewe goed kon optel (‘n mens dink aan Rocco en sy broers) of dalk Polanski? Dit is ‘n sterk roman van 366 bladsye.

Met twee vlakke, twee verhale, die bewuste en die onbewuste. Die gedeeltes oor Eichmann het my teruggeneem na Hannah Arendt.

Sien ook:

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]