Showing posts with label Gus Ferguson. Show all posts
Showing posts with label Gus Ferguson. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

Gus Ferguson - The best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed (2000)



Gus Ferguson. The best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed. Selected poems & drawings. David Philip, 2000. ISBN: 0 86484 358 6.

Resensent: Joan Hambidge

Gus Ferguson is 'n onverdrote bemarker van Engels Suid-Afrikaanse poësie. Snailpress, Firfield Press en Carapace poets word alles deur hom behartig. Eiehandig presteer hy dit om die Engelse digkuns lewend(ig) te hou.

Sy cartoons(kursief) is ook wonderlik. Miskien nie so “af” soos Gary Larson s'n nie, maar soms ook onvergeetlik: soos die een mier wat vir die ander een sê:”My Oupa het vir Eugène Marais geken!”

Die digter word 'n “alert and inquiring poet” genoem in David Philip se publisiteitstuk. Miskien 'n bietjie hooggestem, sou ek reken. Plesierig is meer die woord wat by my opkom om hierdie aweregse digkuns te beskrywe waar die aantrekkende vrou se omgekeerder striptease gade geslaan word.

Sy speelse reeks oor slakke (“Go well, go shell!”) wys op 'n soort vernuftigheid met woorde en “Shellancolia” is 'n gawe distigon.

Dit is verse wat dikwels 'n glimlag ontlok soos die grappige “M.C. Koei” (p. 19) waar die polities korrekte dan “HippopotaMs.” is. Die digter weet ook presies waar hy staan in die digkuns soos ons aflei uit “Light verse at the end of the tunnel” (p. 40).

Sy aweregse humorsin blyk uit sy knap tankas en haikoes:

On the death of an old computer;
Ascii to Ascii,
Dos to Dos. (p. 59)


I believe that God
encrypted the universe
for fear of hackers. (p. 58)

Met sy slakverse en klein gedigte het Gus Ferguson 'n markante bydrae gelewer tot die speelse vers in die Engels Suid-Afrikaanse digkuns. Hy is Engels se A.G. Visser.

Dit is baie mooi deur David Philip uitgegee.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, February 7, 2013

Gus Ferguson - Dubious Delights. Of ageing and other follies (2006)



Gus Ferguson. Dubious Delights: Of ageing and other follies. Unpublished Manuscript Press, 2006. ISBN 1-874923-73.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Mens kan jou haas nie die Suid-Afrikaanse digtoneel sonder Gus Ferguson voorstel nie. As bemarker van inheemse talent, uitgewer, kompileerder, aanmoediger, het hy sy merk gemaak. Die beroemde Snailpress het onder sy vaardige hand al menige jong digter lanseer. Op ‘n keer moes ek optree as redakteur vir Carapace en Ferguson se hulp was goud werd.
Maar hy self is natuurlik digter en satirukus. Saterdae is hy in By met sy aweregse “cartoons” en sy gedigte het al vir hierdie leser menige prettige leeservaring verskaf.

Die aweregse humor word alreeds op die agterblad uitgestal in die uitsprake en loftuitinge van wat die kritici mag kwyt raak: “A master of the demi-entendre”, aldus die Colesburg Express!

In die grappige “Paradox gained” (p. 53) staan daar:

I read all the classics. I studied the news.
I stared at my navel. I still had the blues.

I trudged in the mountains. I walked by the sea.
I carried a burden. The burden was me.

(...)

In “Second sight”(p. 50)  word daar die gek geskeer met die heldersiendes. Hoekom is die clairvoyante dan arm as hulle die toekoms kan sien? Die antwoord: hulle weier om hul gawes vir persoonlike verryking te gebruik! Die digter takel al die heilige koeie. Van ateïsme tot ekologiese wysneuse word opgestuur.  Die ellende van die alkoholis word speels, dog skerp verbeeld.

Op die Rue Escargot, oftewel die Slakkeweg, word daar inderdaad stadig beweeg (“we heave our heavy portmanteux”, “Chanson”, p. 47).

Gus Ferguson het dikwels dieselfde aanslag as Ogden Nash:

Ant

The tiny tiny ant
knows nothing of Immaneul Kant
and yet she hurries on her way
just as we do everyday (p. 45).

Die digter speel onder andere met verstegnieke soos die haikoe:

E-mail haiku –
if seeking enlightenment
ignore attachment.

Die gedigte is intelligent en getuig van ‘n wyse belesenheid: o.a. Rilke se Duino Elegieë word betrek en in opposisie met Zen geplaas.

“Voël vry” (p. 34) dryf die spot met die manlike geslagsorgaan in ‘n Franse ballade. Daar is geweldige vormbeheer in hierdie bundel wat o.a. die koepletvorm en rondeel ook ontgin.

Met plagiaat word daar die spot gedryf:

I

How clever of Edwin Morgan
to copyright his poem
about God not copyrighting
the Universe.

Die enorme belesenheid van die digter het ontsettende leespret tot gevolg. Die pretensie van die boekresensent wat sy/haar slimmigheid ten toon stel of die mites rondom die selfmoord-aard van die digter word alles skerp pyltjies in Ferguson se koker.

Die bundel herinner nogal aan D.J. Opperman se Kuns-mis in aanslag. Al die verhewe vorme word spelenderwys aan die kaak gestel. Maar hiervoor moet ‘n digter talent hê soos ‘n Daniel Hugo al bewys het.

Of dit nou ‘n epiese digter is wat filosofeer oor sy volgende bestaan op aarde of  spot met die Aubade maak nie saak nie. ‘n Mens bly gefassineer voortlees aan die heerlike spel met vorm en inhoud.

Hoe gemaak met ‘n letterkundige beoordeel wat sy eie werk inskryf vir ‘n kompetisie? Is dit werklik ‘n geval waar die postmodernisme triomfeer oor middelklas-moraliteit?
En is die vergelyking “a metaphor yearning for the ineffable”?

So tussen al die lag deur, is daar sprake van nadenke en filosofeer oor die rol van die digkuns.

Natuurlik is daar hulde aan die “late, great Ogden Nash” (en by implikasie aan al sy voorgangers). Die Engelse digkuns leen hom tot heerlike vergrype met die rym, van blinde- tot spieëlrym en ja:

En s8 val die skemer
en skielik is dit n8.     (setter: bedoelde 8).

En die volgende vers is waarskynlik een van die onthoubaarstes:

Long distance call from a pay phone

We regret that all
we spoke about was
how fast the money ran out (p. 15).

Daar word nie net oor letterkundige kwessies gedig nie, maar siekteteostande (soos Alzheimer), ouer-word, eensaamheid, en al die ou dinge van die menslike kondisie.

Dis ‘n lekker digbundel wat bewys dat poësie nie net “heavy” hoef te wees nie. Dit is so dat ‘n letterkunde ‘n plek moet afstaan aan Ogden Nash of Dorothy Parker. Ferguson is wrang, maar beslis nie bitter nie. En dit is waarom die verse so geslaagd is.

En wat heerlik is dit nie om ‘n bundel te lees waar die tegniese vaardighede so verbluffend is.

Jy voel asof jy na ‘n towenaar kyk. Natuurlik. Daar is mos iets soos goëlrym, nie waar nie?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]