Showing posts with label Finuala Dowling. Show all posts
Showing posts with label Finuala Dowling. Show all posts

Tuesday, March 5, 2013

Finuala Dowling - I Flying (2002)



Finuala Dowling. I Flying. Carapace Poets, 2002. ISBN 1-874923-66-3.

Resensent: Joan Hambidge

Wat ‘n wonderlike debuut is I Flying nie! Dit is gedigte oor ‘n geskeide vrou (en haar kind), verhoudings met Oom Piet, haar ma, ‘n getroude man, maar veral: ‘n deurlopende verhouding met die digkuns.

Die reeks Carapace Poets het Isobel Dixon se pragtige Weather Eye gepubliseer en ook Kim McClenaghan se debuut verdien vermelding. I Flying is hoofsaaklik gedigte wat ingaan op jeugherinneringe, verlies, die beskrywing dikwels van die onsêbare of sub-tekste wat tussen mense lê.  In die gedig “Repair” word oor die skrynende effek van jeugpyn geskryf. Twee vriende het ook op ‘n jong ouderdom ‘n moeder of vader verloor.  Oënskynlik het hulle herstel, maar wanneer haar dogtertjie huil, stap hulle saam na die kamer:

These friends followed when I carried her to bed,
stayed for the story, the caressing of the head, 
waited for the bottle, the curtains drawn across 
on a room full of children and their irreparable loss.

Die gedigte het dikwels ‘n ironiese aanslag, of byterigheid, soos ‘n Dorothy Parker-vers. “Rule three thousand and three” werk speels met al die moets/moenies van haar opvoeding. Die belangrikste een word egter laaste vermeld: moenie met ‘n getroude man slaap nie.

“Teaching Margaret Atwood” word ‘n siniese self analise en waarsku teen die gevaar van selfbejammering wat nooit in hierdie gedigte gevind word nie. Hiervoor is die verse te ironies; die digter tegnies bedrewe. “Like Boston” is meer as ‘n gedig oor ‘n verlore herinnering: dit word ook ‘n gesprek met al die ander Ooskus-digters wat al oor die ‘falling leaves’ geskrywe het en Elizabeth Bishop se herinneringsverse praat hier ook mee. (“The art of losing is hard to muster…”).

Daar is selfspot, opstuur, grimmigheid. Klaar ‘n beduidende self-ontginning soos die titel beduie. “I read the last page first” getuig ook van iemand wat al aan die ontvangkant van ellende gestaan het, maar tog leer oorleef het. “Poem as emotional blackmail” is ironies en speels. ‘n Mens kry ook die geval dat hier ‘n sterk afgebakende persona voor jou ontvou, omdat die digterlike stem so helder opklink.

In die digter se biografie word daar speels (self-verminderend) geskryf dat sy pas in 1999 gedigte bymekaar begin sit het nadat sy studente vir 15 jaar lank geleer het om dit uitmekaar te haal en te bederf! Bluf jou nie. Hierdie gedigte is geskryf deur ‘n uiters bedrewe digter wat veel beloof vir die toekoms.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 22, 2013

Margaret Orr, Mary Rorich & Finuala Dowling (Reds.) - Buttons and Breakfasts (2007)



Margaret Orr, Mary Rorich & Finuala Dowling (Reds.). Buttons and BreakfastsWits Wonderwoman project, 2007. ISBN 978-1868144235. 

Resensent: Joan Hambidge

Die posisie van vroue-akademici bly ‘n glibberige area. Tot ongeveer in die middel-tagtigerjare het vroue in SA nie huissubsidies gekry nie en is manlike akademici meer betaal. Danksy kritiek van vroue binne die akademci het vroue aktiewe rolspelers geword en in die senaatkamer van die UK hang ‘n bordjie wat daarop wys dat 88 % van alle volle professore mans is.

Onder leiding van Margaret Orr, Mary Rorich en Finuala Dowling het daar ‘n WonderWoman-boek verskyn: Buttons and Breakfasts.

Die titel verwys na die beroemde (berugte?) vraag aan professor Sarah Whiting, professor in astronomie, dat as alle vroue wetenskaplikes sou wees, wié sou omsien na die knope en die ontbyt?

Dit is 2006. Daar is professore, dekane, vise-rektore en selfs ‘n kanselier van die vroulike orde, maar reflekteer die kurrrikula en denkwyses aan universiteite die invloed en aanwesigheid van vroue? Of is vroue in magsposisies dikwels vroue van ‘n biologiese orde, wat soos mans dink en praat?

Butttons and Breakfasts ondersoek al hierdie kwessies rondom magsposisies, besoldiging, seksuele teistering en die gevolge daarvan op ‘n vrou se lewe en akademiese loopbaan, die vrou as wetenskaplike, ensomeer.

Gender aktiveer altyd ras, klas en identiteit. En hier dink ek is een van die belangrikste essays “Mrs Livingstone, I presume” geskryf deur Professor Livingstone. Nie alleen word imperialisme op alle vlakke geaktiveer met die gesprek tussen Livingstone en Stanley nie, maar hierdie pittige stuk wys op die transformasie van die vrou wat as Me(juffrou), Ms, Mevrou beweeg tot doktor/professor.

Sy mag dalk in die verkeerde hospitaalsaal beland of Virgin se gimnasium weet nie hoe om haar geklassifiseer te kry nie! En as iemand bel, dan dink hy onmiddellik dat die dr. verwys na die manlike wederhelf.

‘n Ander seminale essay is “Iron Ore”:

"What do you have to do to be a warrior?  Sometimes it’s really simple.  You have to speak.  Speak out into a silence.  Speak when no one wants to listen.  Speak when what you are going to say will be unwelcome; will be misheard; will expose you utterly to ridicule, to calumny, to anger, to public shame, to misunderstanding.  Speak when the price of speaking is unimaginably high, but the price of silence is even higher."

Hier vertel Orr, wat tans by Wits is, van haar hellevaart by UNISA toe sy ‘n senior manlike lid van die raad van seksuele teistering aangekla het. Ofskoon sy die hofsaak uiteindelik gewen het, moes sy vele pryse betaal: sy is weg van UNISA na Wits – om vele komplekse redes, maar ook weens ‘n eenvoudige oorsaak: die gebrek aan ondersteuning aldaar was ‘n stremming. Haar huwelik het in die slag gebly en die emosionele impak van die klag word in hierdie stuk bely.

Hierdie proses het haar fisiek bedreig, haar professionele integriteit is (en was) bevraagteken, haar moraliteit was onder die soeklig geplaas, en veral: haar pos was in gevaar.

Sy het egter deur die proses deur te sien van die stemlose na die stemhebbende beweeg. En dit, meen ek, kan as ‘n refrein gelees word in hierdie studie. Hoe vroue wat een stil was, nou ‘n stem kry deur hul werk op teken, navorsing te doen en die manlike domein van die Akademie te beveg en oorleef.

Hierom is Mary Rorich se kort stuk iets wat jou in die maag tref: “Julia’s Women”. Hoe die swart student wat ‘n oudisie doen deur ekonomiese realiteite aan bande gelê word. Want swart vroue, is steeds, die méés stemlose vrou.  Almal leef op die grootmoeder se pensioen – en as Julia ondersteun kan word, kan haar stem alles verander...

Dit is dan ook tersaaklik om te wys op stryd in die “sisterhood” – iets wat Margaret Orr aanraak: dat vroue kompleks en teenstrydig teenoor mekaar optree en dat vroue in bestuurposisies (dikwels) groot boelies kan wees!

Dit is ‘n belangrike teks wat verby die domein van Wits gaan en die posisie van alle vroue binne die Akademie aanspreek. Brenda Keen se “Selection Panel” slaan die spyker op syn kop: hoe gemaak as die vrou wat akademikus is terselfdertyd ‘n moeder is?

Wat van die angs wat sy ervaar rondom die baba wat versorg moet word? Rondom vrae wat aan haar gevra word tydens ‘n bevorderingsronde word ‘n briljante analise gemaak van gevoelloosheid en die mes wat op al die sagte plekke ingesteek word. Haar gevoel van nutteloosheid en selfloosheid word in hierdie stuk knap geanaliseer, nes Leah Gilbert wat met die “lost in translation”-idioom speel.

Dit is ‘n belangrike versameling hierdie wat op elke gender-teoretikus en –spesialis se rak hoort met nog vele essays en stukke wat tersaaklik, opruiend, b(r)oeiend en dekonstruerend is.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, February 19, 2013

Finuala Dowling - Doo-Wop Girls of The Universe (2006)



Finuala Dowling. Doo-Wop Girls of The Universe. Penguin, 2006. ISBN 978-0143025047.

Resensent: Joan Hambidge

Het jy al ‘n digbundel gelees wat jou deurentyd laat glimlag het? Nie die soort lag wat jy met ‘n Ogden Nash ervaar nie, maar die herkenbare lag van jy weet watter seerkry agter so ‘n gedig skuilhou. ‘n Mens dink aan die woord ‘poignant’ om die gedigte en indrukke van Finuala Dowling te beskryf in haar tweede bundel Doo-Wop Girls of the Universe.

Tereg is sy bekroon met die Ingrid Jonker- en die Sanlam-pryse vir haar eerstelingbundel: I flying.

Die tweede bundel het ‘n ligter, ironiese aanslag en kan inderdaad as tragi-komies beskou word. In die openingsgedig, “Straight men of Cape Town”, word die kondisie van die ewige soeke na liefde en vervulling beskryf. Die gedig eindig met ‘n ironiese ‘ensovoorts’ waarmee die digter implisiet dan wil aansluiting vind by die lang tradisie van die liefdesvers in Afrikaans. Die titelvers is die slotgedig: ‘n skerp waarneming oor die rol van die vrou wat altyd die agtergrondsmusiek verskaf, terwyl die man met die mikrofoon in die hand die aandag trek. Maar word jy die “doo-wop girl”, dan kry jy die aandag en die vryheid wat jou toekom.

Teenoor Antjie Krog se woedende ontleding van vrouwees en die melancholiese Anne Sexton, is hierdie verse “not sad, not terse”.  Alles word ‘n ironiese oog beloer, afstandelik dog terselfdertyd in beheer. Dit is by uitstek gedigte wat hulle leen tot voorlesing en wanneer ‘n mens Finuala Dowling die gedigte hoor voorlees het, kry dit ‘n sterker impak.
Die bundel bevat vier afdelings: 1 Peeling seaweed off our cleavages II Feeling of falling and fleeing III My family as asylum IV God knows I’m a writer.

Die bundel is ‘n absolute leesplesier wat dikwels werk met ‘n ontluisterende slot soos “On first meeting Shirley” waarin die vrees vir die professor debunk word met ‘n menslike versoek van Kossick: ‘n resep vir ‘n spinasie-tert! Of die suster se ligte beroerte belig word as ‘n impak op die outokratiese vinger (“My sister’s fingers”).  

Oor die skryfproses laat sy haar uit in ‘n vers waarin lesers se besorgdhede oor intimiteite (“Not writing”) of gewaagde temas (“The longest parenthesis”) stof tot nadenke èn gedig word. Die “repugnant odours” word verhul en simbolies weggesteek weens die aanwesigheid van die “anti-intimacy” polisie en ‘n mens dink onwillekeurig aan die beroering wat Krog te weeg gebring het met haar geil taal in Verweerskrif. Feministiese digkuns dekonstrueer dikwels die dekorum van wat “artistiek” aanvaarbaar is. En vroue-skrywers bly bewus van die leser wat oor die skouer loer en mag aanstoot neem. Hierom waarskynlik ‘n apologie aan ‘n ouer persoon soos uitgespreek in “The longest parenthesis”.

Die digter sien die familie as ‘n toevlugsoord (“Asylum”) en sy skryf insigryk oor die taalverbande van die twee ouers. Die spel met karakters in romans (onthou Dowling het ‘n baie goeie roman What poets need geskryf) in die vers “Loving novels” word ‘n verironisering van hoé mense (vroue)digters sien:

Now that I’ve published prose, which as everyone
   knows
is better than poetry – well, more noteworthy,
this makes me an author – well, not really an
    author,
but a woman author (p. 69)

Ek het besonder gehou van “Joni Mitchell now” (en dit roep onmiddellik Annie Leibovitz se portret in die herinnering) en “Past lives of my cars” gee ‘n speelse blik op die ontwikkeling van die digterlike persona. “Just a reflex” lewer snydende kommentaar op geweld en dat mans dikwels deur hul moeders gesanksioneer word om hul geliefdes te verniel. “The lime-green clasp” val vir my beslis onder die onthoubares.

Dit sal vir die ernstige leser ‘n interessante ervaring wees om die twee bundels langs mekaar te plaas. In die jongste een is daar méér spel, méér afstand en ironie. Die gedigte is beslis meer behendig en vlot, maar die vlotheid – bykans ‘n praat-aanslag in die verse – mag op die lange duur dalk negatief inwerk op die gehalte van die verse. Maar dis net ‘n tersyde oor ‘n baie aangrypende en goeie bundel.

Die sterk Britse digter John Stammers is tans een van my gunsteling-ontdekkings op die front van die digkuns met sy Panoramic Lounge-Bar waarin films, pop-kultuur, Freud, drome ensomeer inspeel op sy gedigte. Pop-verwysings is eweneens by Dowling aanwesig, maar minder duister of geënkripteer.

Well

When I am down my well,
the one with slippery black sides,
no toeholes, and only a pinhole
of light 3000 compass turns above,
I still describe myself as “fine”.

I am thinking of saying “well”
instead. Yes, I think in future
I will definitely reply, “I am well”.

“Well” is more accurate,
and more of a cry for help.

Die verse herinner aan Dorothy Parker se self-debunking-aanslag, maar dit is minder verbitterd of aserbies as by dáárdie ster van sinisme.

Daar is iets aan’t gebeure op die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns front!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Finuala Dowling - Notes from the dementia ward (2008)



Finuala Dowling. Notes from the dementia ward. Kwela Books, 2008. ISBN 978 079570274 7.

Resensent: Joan Hambidge

In haar derde bundel. Notes from the dementia ward, sit Finuala Dowling die besondere aanslag voort wat haar debuut I Flying en tweede bundel Doo-Wop girls of the universe gekenmerk het. Die jongste bundel is van Kwela, in samewerking met die Snailpress. Die tweede een het by die gesogte Penguin uitgewers verskyn wat dan bewys dat sy ‘n besondere posisie beklee binne die Engels Suid-Afrikaanse digkuns.  Die eerste een was deur Carapace uitgegee. (Dowling is ook ‘n gedugte romanskrywer soos o.a. What poets need en Flyleaf.)

Ek hou van Dowling se werk. Die aweregse humor, die Dorothy Parker-sinisme, die spel met tegniek (soos rym, binne- en verdoeselde rym), die wrang slotte – wat jou dikwels diep in die maag tref.

Die eerste bundel het gehandel oor die lewe van die geskeide vrou, haar kind en hoe sy die digkuns as ‘n toevlugsoord ervaar. Hierdie bundel is tereg bekroon met die Ingrid Jonker-prys.

In die tweede bundel is daar die soeke na vryheid: jy word een van die “doo-wop girls” op soek na ‘n straight man in Kaapstad.

Hier is daar dan gedigte wat die dekorum van aanvaarbaarheid toets en uitdaag: hoé die intimiteitspolisie nie hou van die gewaagde beeld of uitdrukking nie. Ons onthou immers hoe ‘n kritikus versoek het dat Anne Sexton eerder haar privaat-belydenisse tussen aanhalingstekens moet plaas.

In die tweede bundel, bekroon met die Sanlam-prys, word die familie as die toevlugsoord gesien, ‘n tema wat sy dan verder ontgin in die pas verskene Notes from the dementia ward. Hier word die aftakeling van die geliefde moeder ondersoek, die dood van ‘n broer, die belewenis van Kaapstad met sy natuurskoon endersyds en bewuswees van ontheemdes en verskoppelinge andersyds.

Steeds versaak Dowling se sin vir humor haar nie. Sy stel die moeder aan die woord en agter die groteks-humoristiese aanslag, beleef ons die pyn.

Jou ouers is immers jou identiteit, al rebelleer jy en kom jy in opstand teen hierdie bloedband.

In ‘n aangrypende vers oor die verhouding met die ouers, “Hearts of stone”, sien ons waarom Dowling se gedigte so geslaagd is. Daar is geen selfbejammering nie; nee, eerder ‘n keiharde blik op haar waarneming van die twee falende figure. Die vaderfiguur luister na Brel se “If we only have love”; hy is ongerehabiliteerde alkoholis. Die moeder op haar beurt is immuun teen die vader se roepstem via

Brel. Sy lees aan die kinders voor uit klassieke werke – en die ironiese slot (“and we wept for little Nell”) aktiveer die pyn wat die kinders ervaar het, en steeds bly ervaar, uit hierdie onvervulde verbintenis. Die aktrise moeder bly deurentyd toneelspeel, selfs in die inrigting.

In die lykdig “Daniel don’t die alone” word die lyding van ‘n persoon wat nie sy Vigsgeskiedenis en daarmee gepaardgaande aftakeling met sy familie wil deel nie, op ‘n hartgrypende wyse beskryf.

Deur gebruik te maak van die taxi-metafoor  (“Daniel caught a taxi to his death because / he didn’t want to disturb his family or bother his friends”, 42) word die pynlike alleenheid van sy dood beskryf. Dus, hierom as jy weer sterf, moenie ‘n taxi bel nie. Bel iemand met die wete dat jy dit nie alleen kan doen nie.

Die gedigte ontgin rym (verdoesel en eind), is ooglopend praatverse, amper mymeringe, maar tegnies vaardig. Dit is verse wat goed aanmekaar gesit is.

Miskien is hier in ‘n minder aserbies, skerp Dorothy Parker-aanslag. Die dood en afskeid van die moeder het waarskynlik die digter vermild.

Tog, daar is wel die vers waarin sy bely dat ‘n digter meer werd is dood as lewendig! (“My fellow writers”).

En grappige swenkslae is daar ook: die metaforiese gebruik van wurms en wat dit alles mag inhou vir ons of daar is ‘n gesprek met ‘n broer wat ‘n ystervark as ‘n alibi gebruik toe ‘n hek omgery is!

En hoe som ‘n mens jou lewe op?

You die. You go to the dentist.
You take your car to the mechanic.
You look out of the window.

Of is daar dalk meer?

In ‘n vers oor hoe slopend die ervaring van die moeder se aftakeling op die digter ingewerk het (“How I knew it wasn’t me”) word die selfmoord van ‘n jong meisie weergegee. Daardie meisie wat gesterf het, het egter in haar plek in die see gespring – al kan sy haar broer verbaal, en by wyse van ‘n gedig vir ons, almal oortuig dat dit nie sy was nie.

Hierom kan google ook nie antwoorde bied vir die pyn wat jy ervaar nie.

All the world’s a stage nie waar nie, konkludeer sy dan in “Mere oblivion”.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]