Showing posts with label Steve Hofmeyr. Show all posts
Showing posts with label Steve Hofmeyr. Show all posts

Monday, November 6, 2017

Resensie | Steve Hofmeyr - Die onaantasbares (2017)

Steve Hofmeyr - Die onaantasbaresZebra Press, 2017. ISBN 9781776092680

Resensent: Joan Hambidge

Steve Hofmeyr is 'n sanger, akteur, opstoker, geselsprogram-aanbieder, gesprekspunt - én skrywer. En vergeet vir die oomblik van die openbare persona. 'n Volksfiguur is hy nou maar eenmaal, al hou jy nie van hom nie. Jy kan hom roast of jou buiksprekende pop teen hom opstel, maar hy sal terug kom. Hy is soos Jan Wilson se kat ...

Hy weet hoe om met die media te speel. Sy outobiografie in 2008 Mense van my asem was 'n topverkoper.

Oor sy romans het hierdie leser al positiewe resensies geskryf. Die man kan romans skryf. Dit is al in vorige resensies ook geuiter oor romans soos Vier briewe vir Jan Ellis (2010) en Kapabel (2012). Oor Valkuns (1997), sy digbundel, was ek minder entoesiasties.

Sy jongste roman heet Die onaantasbares. Dit word bemark as aksiebelaai, volwasse en brutaal. Dit betree dan inderdaad die skaduwêreld van huurmoorde en misdaad. James Bond ontmoet John le Carré met Deon Meyer in die agtergrond. Met 'n knipoog na Robert Ludlum. En 'n skeutjie Ruth Rendell. 'n Bietjie Wilna Adriaanse.

Al die bestanddele van die genre is hier. Die spioen of huurmoordenaar mag nie verlief raak nie. In James Bond is die wond die vermoorde vrou wat hom daarna harteloos en onwrikbaar maak.

En hy het ‘n “licence to kill”. In Ian Fleming se From Russia, with love (Jonathan Cape, 1957) lees ons:
At 7.30 on the morning of Thursday, August 12th, Bond awoke in his comfortable flat in the plane-tree'd square off the King's Road and was disgusted to find that he was thoroughly bored with the prospect of the day ahead. Just as, in at least one religion, accidie is the first of the cardinal sins, so boredom, and particularly the incredible circumstance of waking up bored, was the only vice Bond utterly condemned.
Emosies is dus taboe in die genre van die thriller.

Dieselfde geld Hofmeyr se hoofkarakter. Jy lees die roman met beklemming en met die enorme fantasie van geweld wat hier uitgespeel word. Inderdaad ‘n pornografie-van-geweld.

Politiek korrektes moet verbyhou. Dit is geskryf in ‘n hardepas-aanslag. Die verteller of fokalisator se gedagtestroom en dialoog word waarheidsgetrou weergegee.

“Niks heel jou siel soos ‘n strelende oordosis wraaksug nie” (101). Wraak en paranoia is twee woorde wat nogal opduik in die leser se gemoed wanneer jy hierdie teks benader.

Wanneer die ek herstel van ‘n aanval op hom, word dit as volg beskryf: Dit was ‘n narkotiese disko in Dante se hellevuur” (97).

Die roman word in verskillende hoofstukke verdeel met titels soos “Sleeping with the enemy”, “Psigoanaliseer dít, bitch”, “Fanta is vir fellatio”, ensomeer. Die pas is snel. Die navorsing uitstekend (kyk na hoofstuk 9:  “Dronetech WASP Mk4” en hoofstuk 22: “Cessna Skyhawk 172’) en die misogonisme (dikwels aanwesig in hierdie genre) ontstellend. Maar dit is hoe hierdie man is. Hy is verniel deur oorloë en huurmoorde; hierom sy laakbare optrede teen sy geliefde vrou. Hierdie passasie is erg ontstellend, maar karakter-getrou beskryf.

In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre  (1978) word die aard van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology".

Palmer verskaf hierdie handige tabel van opposisies wat so 'n verhaal stuur: 

Professionalism                Amateurism
                         Bureaucracy


Reciprocity                                    Ectopia
              One-way information flow

  
Experience                       Arrogance
                    Incompetence


Participation                    Isolation


Umberto Eco se The role of the reader (1978) analiseer eweneens die aard van hierdie soort vertelling.  Daar is sekere kombinasies of skuiwe en die leser moet dit probeer bemeester. Die naam van die roos (1980) werk immers met die thriller as matriks.

Eco beweer dat boeke altyd praat met ander boeke en Steve Hofmeyr se jongste teks praat met manlike beoefenaars van die genre waar daar dalk te "veilig" geskryf word?

En geweld is deel van ons samelewing met video-speletjies soos The Abbey of the Crime.

En die slot?

Hieroor moet die leser self besluit na die outentieke leeservaring van ‘n erg psigies-beseerde man wat die hoofbestanddeel van hierdie storie moet sluk, te wete: dubbel-spel.

Gaan kyk maar wat Bond oorkom in From Russia, with love.

In hierdie roman is die taal gekrui, die vuiste klap en daar is baie “geniepsige kinkels" in die storie. En in-grappies (‘n verwysing na Karlien van Jaarsveld), kommentaar oor die verspreiding van pornografiese materiaal en misdaad wat ons almal verlam in hierdie land.

Die een wat vir die blakerteks op die agterblad verantwoordelik was, moet weer dink:

"Almal is lief vir hom en lood penetreer hom nie. Hy dink mespunte breek teen sy groot hart."

Dis juis wat die roman nie doen nie.

Binne die sub-genre van vergeldingsliteratuur steek Steve Hofmeyr ‘n kleim af. 'n Liefdesdriehoek met ek, sy en die duiwel ...

Tuesday, January 29, 2013

Steve Hofmeyr - Vier briewe vir Jan Ellis (2010)



Steve Hofmeyr. Vier briewe vir Jan Ellis. Zebra Press, 2010. ISBN 978 1 77022 081 2.

Resensent: Joan Hambidge

Noem die naam Steve Hofmeyr en jy het menings, positief en negatief oor die sanger, gewilde verhoogkunstenaar wat Neil Diamond beter sing as Neil Diamond.

Die mense van my asem was ‘n topverkoper in 2008. Steve blog en spoeg. Hy baklei en stry. Hy word kwaad vir die media, maar hy kan ook nie sonder die media bestaan nie. Al is daar ‘n storm in ‘n teekoppie.

Hy is waarskynlik die beste voorbeeld dat ‘n media-konstruksie ‘n lewe van sy eie kan kry. Steve moet sing. Wanneer hy hom oor aktuele sake uitlaat, is hy dikwels buite sy diepte en stoei hy bó sy gewig. Sy onlangse uitsprake by die begrafnis van Eugene Terre’blance het eweneens fronse ontlok, nes sy opmerkings oor swartmense.

Vier briewe vir Jan Ellis is sy debuut as novelle. Die verhaal begin met die weggee van die geheim soos Nabokof se Laughter in the dark waar die leser reeds met die eerste twee paragrawe die rampspoedige einde van Albinus beleef. Maar daar is “profit and pleasure in the telling”, skryf Nabokof verder en dit is hoekom die leser dan lees oor die hoekoms en waaroms van die hoofkarakter se ellende. (Ek gebruik net die tegniek van Nabokof as ‘n voorbeeld en intimeer nie dat hierdie skrywers in dieselfde liga is nie.)

Die verhaal word dan vertel in die taal van die eenvoudige spreker (“Ek was my ma se enigste kind maar sy het my geslat vir die ander vier wat sy wou gehad het”, 15). Die probleem met só ‘n skryfwyse is dat dit dikwels ‘n leesversperring word en dat die leser die nabootsing van so ‘n verteller se stem as hinderlik en vals ervaar. Gaan kyk maar net na Marlene van Niekerk se flou-makou-gedigte op die Versindaba se webruimte geskryf in ‘n Adam Small-styl.

Die gegewe van die posman wat veertig jaar later vier briewe moet aflewer, krap sake deurmekaar. Die vierde brief is hartverskeurend in die ontboeseming en die soeke na die “verlêkind” en “closure”. Ook die derde brief gaan om vergifnis (“vergifnis sonder gif is mos maar vernis”, 97) oftewel die bitter gif van “regrets”. Die derde brief gaan om nood en word gerig aan “Vereerde Meneer Councillor Kees Wolfaard”. Aldrie hierdie briewe word ikonies voorgestel in eenvoudige handskrifte, terwyl die eerste brief in tikskrif is, onderteken deur die triomfantelike “Councillor Jake Fryer”.

Tussendeur word daar vertel. En die leser moet invul en uitvee. En in die laaste brief weet die leser met sekerheid hoekom Klein Jan van Groot Jan soveel pyn ervaar het.

Die novelle is pakkend geskryf en besonder mooi uitgegee met afskrifte van ‘n resep, ‘n psalm, ‘n staatsdokument en ‘n LP, onder andere, wat die verhaal dan ‘n bepaalde historiese aanslag gee.

Dit is ‘n teks wat besonder vernuftig omgaan met die leser se fantasie en kommentaar lewer op die politieke ongeregtighede van die verlede en hoe identiteit gekonstrueer word. Is jy ‘n psigopaat omdat ander jou verdink? Word jy die rol wat mense aan jou toeken? En hoe bewys jy uiteindelik jou skuld / onskuld in ‘n samelewing wat al reeds besluit het jy is “skuldig”?

Net vir laasgenoemde aspek is die teks al die moeite werd om te lees. Vir die Steve Hofmeyr-bewonderaarsklub sal die boek soos manna uit die hemel wees en waarskynlik alle boekverkope rekords oortref.

Ernstige literatore hoef nie diep te sug nie. Die boek het beslis meriete. Ek het die teks driekeer gelees en elke keer op ander nuanses en versweë implikasies afgekom.

Dit is ‘n teks wat meer as een lees behoef. En die weggee van geheime op die agterblad is net ‘n truuk.Die geheim lê opgesluit in die laaste brief. Die brief van Maddy M. Louw wat sy ontvang van die posman wat die brief aflewer, te laat. En vir straf moes hy briewe aflewer…

Steve Hofmeyr se prosa is sterker as sy digkuns.

Dis inderdaad ‘n boek van patos. Van hartseer en verdriet wat die persoonlike ellende laat saampraat met die politiek van hierdie land.

Wit versus gekleurd. Normaal en buite die orde.

Naskrif as ‘n belangrike wetenswaardigheid:

Jan Ellis na wie die hoofkarakter vernoem is, word beskou as een van die grootste Springbokke van alle tye. Sy flankmaat was Piet Greyling. Hy het 38 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy is ‘n rooikop met sproete en ‘n nagereg is na hom vernoem.
Daar is ook ‘n akteur Jan Ellis. Maar hierdie teks speel in op die rugbylegende (92).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Monday, January 21, 2013

Steve Hofmeyr - Kapabel (2012)




Steve Hofmeyr. Kapabel. Zebra Press, 2012. ISBN 978 1 77 0 22 418 6

Resensent: Joan Hambidge

Steve Hofmeyr is ‘n sanger, meningsvormer, publieke figuur, akteur en omstrede minnaar. Hy beskryf homself tereg as ‘n lewensvraat. Gevolglik kan mense hóm dikwels nie met rus laat wanneer sy tekste beoordeel word nie. Vier briewe vir Jan Ellis was ‘n uiters behendige teks en ‘n literator behoort dus Kapabel eweneens met ‘n “skoon gemoed” te benader. Wel, ten minste probeer. Maar hoe ‘n mens dit gaan regkry, is beslis nie ‘n maklike taak nie. Mense van my asem, die outobiografiese topverkoper van 2008, bly opduik. Druk gerus die delete-knoppie oor die politiek.

Kapabel vertel van ‘n lewenswyse van white trash. Van iemand wat die wêreld van Gunston Toasted en kroeggevegte wil verlaat om iets beters te word. Danie Fourie word Desmond Faure en in hierdie naamsverandering lê die moeilikheid. Die boek behels 164 bladsye wat jou dwing om uit te vind: gaan hy wegkom? Sal sy bullebakkery hom uiteindelik in die tronk laat beland? Hoe nou gemaak met iemand wie se bankrekening spring van R2 750 na vyftigmiljoen skille en ‘n propperse emosieswendelaar is wat ou tannies op ‘n toerbus belieg met sy hard luck stories? Jy ken, hê? Daar met weeklikse oempabaloelie-kompetisies (52) met ‘n karakter wat slim raak. Met ‘n hart in ‘n tuimeldroër (135).

Daar is plat woorde, ja, maar dit pas in die mond van die verteller en sy tjoms.
Die roman behels ‘n roman-binne-in-‘n-roman wat die skrywende verteller behendig saamstel. Op bladsy 117 verneem die leser dat jy dan die storie “tot dusver” meegemaak het wat verbrand is, omdat dit te veel “evidence” is. Dit resoneer met die moeder se geloof in haar kind wat ‘n werk-in-wording is, ‘n kapabelkind. Italo Calvino se If on a winter’s night a traveller gebruik die truuk van jy is, liewe leser, besig met die “verkeerde roman”; so begin asseblief maar weer. Die punt is: jy het reeds beginne gelees en doelbewus word jou gedagtes gekleur deur dit wat sogenaamd ontersake is. Dis natuurlik alles net ‘n fiksionele truuk.

Steve Hofmeyr se karakter is die meester van die “suspense of disbelief”. Jy glo in sy maneuvers en kapasiteit om op sy voete te dink en elke “hendikep” te troef. Van die tronk (wat besonder goed beskryf word) tot sy leuens by Jazz Naidoo Transport & Travel. Hy is ‘n besonderse liegfabriek, wat nie alleen bus dryf (nie bestuur nie!) nie, maar ook sy leser se saamspeelvermoë insleep. Die einde is dalk te dik vir ‘n riksdaalder. Maar weer eens: al die leuens, speletjies, bedrog word netjies opgesluit in die slot.

Soos dit dan gesteld is met alle karakters in die letterkunde wat ‘n ander identiteit of naam oorneem, is hulle in ‘n plek van liminaliteit. Hulle beweeg tussen grense en word getransformeer. (Die karakter self meen hy is in ‘n Twilight Zone). Hofmeyr kan vertel. Die pas van die roman is vinnig en by tye is daar tonele wat skreeusnaaks is. ‘n Mens dink onder andere aan die rooftoneel in die poskantoor waar die moeder toevallig haar seun sien. En dan moet hy bieg!

Die leser kan gerus sy of haar vooroordele opsy skuif. Steve Hofmeyr se stories is outentiek en hy begryp iets van die lot van ‘n verskoppeling wat uit die benoude bestaan van armoede en ellende wil vlug. En dan sy hand oorspeel. Die karakters word helder en goed beskryf. Gesiene romanskrywers kan gerus gaan kyk hoe hy karakters laat praat! Ook van ruimte weet hy veel: jy sien Kaapstad, Kraaifontein en Krugersdorp voor die geestesoog. Dis nie ‘n groot roman nie, maar ‘n goed beplande, outentieke, en goed geskryfde “page turner”. Musiek bekend aan mense in daardie ruimtes help ook vertel. Wanneer laas het jy Pussycat geluister?

En een wat beslis goed gaan verkoop, resensies ten spyt. Maar komaan wees regverdig: ‘n skrywer se boeke is nie ‘n getuigskrif nie, omdat daar baie prosesse plaasvind tussen die (werklike) hy en die (fiksionaliserende) hy.

Kapabel soos in bekwaan en nugter. Deon Meyer het Steve Hofmeyr ‘n maestro genoem na aanleiding van Die verste uur.

“Jy’s gehendikep en fok jou dood”, sou ‘n mens van toepassing kan maak op die literator en leser wat nie die sjarme van hierdie boek kan raaksien nie. Moenie snobisties wees nie. Hierdie man kan skryf al is soms ‘n bietjie hitsig en vinnig met die vuiste soos Norman Mailer. Maar wag, hier oortree ek my eie reël: los die persona uit en geniet die boek.

Dit is in ‘n mooi hardeband-formaat uitgegee.

[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]