Showing posts with label Virago. Show all posts
Showing posts with label Virago. Show all posts

Monday, March 11, 2013

Nancy Huston - The mark of the angel (2000)



Nancy Huston. The mark of the angel. Virago, 2000. ISBN 0 099 28364 6.

Resensent: Joan Hambidge

Nancy Huston se The mark of the angel is 'n goed geskrewe en lekkerlees roman. Me. Huston is die eggenoot van die Bulgaars gebore Tvzetan Todorov, onder andere 'n kenner van vertelteorie.

Die roman behandel die oorbekende gegewe: dit is die jaar 1957 en Parys herstel van die aanslag van die WO II. Saffie, 'n jong Duitse vrou, word aangestel as die bediende van Raphael 'n musikus. Twee sisteme word dus hier teenoor mekaar gestel, te wete die werkers- en gegoede klas.

Aanvanklik is Saffie en Raphael gelukkig en die leser ontvang baie inligting oor die fluit (is dit dalk simbolies?). Raphael moet dit elke dag skoon maak, anders kan die spoeg sy instrument laat roes. Op 'n dag - na huweliksgeluk en 'n kind - moet sy die fluit laat regmaak by 'n Hongaarse instrumentemaker. Die twee raak verlief en hierdie hartstog het 'n effek op almal se lewens om hulle.

Die roman word telkens geplaas teen historiese gebeure wat die leser laat blyk dat dit vir die meer intellektuele leser bedoel is. Daar is verwysings na Camus, die pied noir en ander klein intellektuele kopknikkies. Tog was dit vir my gevoel 'n roman wat tekstuur mis. Die boek lees eenvoudig te maklik en sonder enige weerstand. Dit word aangeprys deur Arthur Golden (van Memoirs of a geisha-faam) en selfs Alberto Manguel is oordrewe vleiend.

Interessant is die verteller se analise van die gegewe: soos dat daar in elke liefdesverhouding 'n draaipunt (dénouement) kom. Dit is 'n siniese siening oor die liefde wat meen dat die geliefde nooit werklik die ander persoon kan verander of kan heel nie (p. 158). Ook kan die uitwerking van die liefde nie verduidelik word as dit nog nie beleef is nie (p. 191).

Wanneer die ontdekking gemaak word, sing Doris Day Qué sera, sera wat die markante verskil tussen droom en realiteit wil uitwys. ook ontdek Saffie dat haar geliefde, wat uit Hongarye moes vlug, 'n Kommunis is. Sy anti-Semitiese siening ontstig haar. So word die politieke verwysings en die Algerynse bevryding deel van hul lewe.

Ook sy dra swaar aan haar verlede wat hul verhouding verder vertroebel.

Vir diegene wat belangstel in die postkoloniale letterkunde behoort die roman 'n insiggewende blik te gee op die pre-koloniale tydperk en die bevrydingstryd van die Algeryne.  Politieke werklikhede soos klokreëls en Moesliemdiskriminasie kom aan bod. Dit is 'n roman geskryf voor dat die kolonie teruggeskryf het, gedagtig aan die studie The empire writes back.
                 
Die verteller se kommentaar op die karakters se optrede en hul lot, maak hierdie roman deel van die sogenaamde ouktoriale tradisie. Hiermee wil die verteller ons deurgaans herinner aan die feit dat ons besig is met 'n verhaal en dat ons moet leer uit die gebeurde. Ook die nawoord bevestig dit wanneer die twee mans mekaar na jare weer sien na die dood van die kind en Saffie se verdwyning.

Die titel word hier verklaar en die invloed wat engele of spirituele gebeure op ons lewens het soos in  Wim Wenders se rolprent. Die sosiale en politieke kommentaar - van De Gaulle tot Brigitte Bardot, brylcream en hoe Parys vandag daar uitsien  - is baie goed nagevors.

'n Bo-gemiddelde roman, maar beslis nie een wat die fondamente van die letterkunde sal skud nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, March 8, 2013

Gillian Slovo - Red Dust (2000)



Gillian Slovo. Red Dust. Virago, 2000. ISBN 186049 915 5.

Resensent: Joan Hambidge

Gillian Slovo se roman is ‘n roman wat die implikasies van versoening ondersoek. Dit is dus ‘n roman oor die WVK en vertel die verhaal van Sarah, ‘n regsgeleerde, wat uit New York na Suid-Afrika terugkeer. Daar is ‘n polisieman (natuurlik gewese) Dirk Hendricks; Alex Mpondo, ‘n LP.

Die roman word op die buiteskutbladsy as ‘ryk, ambisieus en kragtig’ aangekondig. Dit is dit beslis, hoewel ‘n mens baie gou besef dat Red dust eerder gemik is op die buitelandse leser.

Slovo werk die verskillende teenstellings uit in haar roman: rassiste en ‘bleeding hearts. Ook word die opposisie tussen wit en swart goed uitgewerk en Sarah word ook gekonfronteer met mense uit haar verlede tydens die verhoor.

Die skrywer het ‘n fyn oog vir détail en dit vra ook om saam met Antjie Krog se Country of my skull gelees te word. Hoewel dit ‘n goeie ‘read’ is soos die Engelse dit sou noem, mis die roman die werklike kragtige ontginning wat hierdie gegewe bied. ‘n Mens kan dan ook nie help om te wonder wat ‘n J.M. Coetzee byvoorbeeld met hierdie verhaal sou doen nie. En dan weet ‘n mens: hierdie roman bly te te sterk in sy eie voorskrifte vasgevang. Dit gee sig nooit oor aan die waansin van die onbewuste nie. Miskien is die opset te polities-korrek en hierom dikwels voorspelbaar.

Goeie romans loop dikwels weg van die voorspelbare weë. Dit moet juis verby die werklikheid  beweeg en donker drifte openbaar. Hier gebeur dit egter nie genoegsaam nie. Gillian Slovo kan skryf: haar taaldbeheer is goed, sy is sintuiglik,  die spanninge is daar, maar soos reeds gesê, van ‘n diepgaande ontginning is hier nie sprake nie. Daar is te min metaforiek en waarskynlik ook te min fantasie (gedagtig aan byvoorbeeld Llosa of Garcia Márquez).

Interessant genoeg word ‘n interessante eet-sessie en kroegtonele weergegee, sonder dat dit ooit verder gevoer word. ‘n Mens dink byvoorbeeld aan wat Etienne Leroux met ‘n kroegtoneel kon maak  En die bladsy wat saam met Sizela se lyk begrawe is wat die verraad in die vertelling impliseer, word ook te vinnig gelos. Moontlik moes hier nog meer rooi stof oor die geskiedenis gewaai het voordat ‘n diepgaande roman geskryf kon word.

Die roman is meer as ‘n lughawe-roman, maar juis omdat dit meer potensiaal het,  voel hierdie leser ‘n onbehae met wat hier aangebied word. Momente wat wil-wil ‘groots’ word (soos die selfmoordtoneel) en die spel met waarheid/leuen in die WVK-verhoor, laat ‘n mens besef dat hierdie roman miskien ‘n bietjie moes oorstaan.

Want hoe ironies is die slot nie post-11 September: "It had once been home to her and yet now New York beckoned. She had a different life there, an ordinary life unmarked by the contours of heroism, sacrifice and guilt that were so much a piece of everything South African. Soon she would be going back. Of that she had no doubt.”

Ondertussen is die roman op die kortlys vir die gesogte Sunday times-award.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]