Showing posts with label 2002. Show all posts
Showing posts with label 2002. Show all posts

Sunday, March 10, 2013

Hennie Aucamp - Hittegolf (2002)



Hennie Aucamp. Hittegolf. Homeros, 2002. ISBN 0 624 04112 3.

Resensent: Joan Hambidge

Hittegolf (wulpse sonnette met ‘n nawoord) bevat ‘n hele aantal uiters bedrewe sonnette van die skrywer Hennie Aucamp. En oor die struktuur van die sonnet het Ronnie Belcher wel deeglik geskryf en ‘n mens sou ook jouself die vraag kon afvra: waarom vind ons soveel ‘gebreekte sonnette’ by digters uit die tagtigerjare?

Wat my eerder interesseer aan hierdie interessante versameling is die gebruik van die voetnoot/verklaring by elke gedig. Hoekom vind ‘n digter dit nodig om inligting by te sit? In L.S. van Leon Strydom word hierdie tegniek vermaaklik uitgebuit: die gedig word verironiseer deur die voetnoot.

Berlin von damals: nóg ‘n fiksie

Maskeer, soos alle skrywers pleeg te doen,
die I.D. van jou oermodel.
Ook Spender speel dié dobbelspel –
en List se naam word blink geboen

tot Lenz, esteet, in sy roman The Temple,
wat met sy foto’s stilweg stempel
die ganse Weimar-kavalkade
voor Sonnenuntergang – und Schade.

Maar Spender – “great big spender’ -
van name, mense en ‘n tyd –
moet jy jong Leavitt dit verwyt,
hom uitroep tot privaatheid-skender,

as hy jou in sý fiksie plaas?
Waarskynlik, ja. Want negatief, helaas.

Dan lui die voetnoot: ”Die eerste weergawe van David Leavitt se boek, While England Sleeps (1993), is onttrek omdat die skrywer en digter, Stephen Spender, hom te ná gekom gevoel het. Beide Spender en Leavitt gebruik foto’s van die beroemde Herbert List as omslae: Spender vir The Temple (1988); Leavitt (saam met Mark Mitchell) vir die bloemlesing The Penguin Book of Gay Short Stories (1994).

Dosente leer studente dat voetnotas nodig is. Dit is om erkenning te gee of om iets te substansieer wat nie in die hoofargument genoem kan word nie, omdat dit ‘n breuk in die argument kan veroorsaak.

In Johann de Lange se Vreemder as fiksie word verhale ook van voetnotas voorsien. In Koos Prinsloo se Weifeling is daar endnotas…

Dit is dan eintlik ‘n ironiese gedig hierdie, want die ‘in’-leser herken hier ook ‘n persoonlike dilemma: naamlik hoé Aucamp destyds moes gevoel het toe Prinsloo sy privaatheid geskend het in ‘n verhaal”Portrait of the artist” (in 1993) en een wat De Lange behendig uitbrei in sy weergawe”A portrait of the artist as a young dog” in die genoemde Vreemder as fiksie (1996).

Mag ‘n mens oor (h)erkenbare figure skryf? Veral as die name nie blink gepoets word nie? Is alle skrywers nie maar wesentlik besig om oor hul eie lewens en ervarings te skryf nie? Is skrywers nie maar besig met ‘n Madame Tussaud van die woord nie?

Of die dramatis personae Spender/Leavitt, Aucamp/Prinsloo, Aucamp/De Lange is, maak nie saak nie. Die gegewe bly identies. Die toneel van die skrywer.

Die skrywer wat ‘n storie sal vertel ongeag die prys wat dit mag inhou.

Elke gedig het ‘n voetnoot of endnoot. Een wat miskien nie altyd bekend is aan buite-lesers nie. Maar die ingeligtes, die twee (liefdes)- of (haat)partye ken dit. Die brose skoonheid van sonnette wat by Petrarca uitval in die oktaaf en sekstet. Verbeelding en werklikheid. Drif en ontnugtering. Alles glo te make dat toe hy Laura op 6 April in 1327 in ‘n kerkie in Avignon gesien het, is hy oorweldig deur die liefde…

Maar as Laura kon praat? Sy wat volgens Norman O. Brown die rede vir die Canzoniere was: die drif agter die gedigte?

Wat sou sy skryf? En dis hierdie intelligente spel wat Aucamp in sy reeks sonnette met die leser speel. Of dit is die agtergrond agter die teks wat hy via ander boeke bekend maak, of dit is ‘n bekende skildery of ets wat langs die sonnet staan gemaak word via ‘n verduideliking of kundige skets.

‘n Gedig soos “Pylvak”(p. 49) vra van die leser navorsing of belesenheid:

Waar begin volwassenheid by ‘n matinee-idool?
As hy ophou om sy hare en brouers te kleur
en jaarliks hom minder aan uitstulpings steur
en meewarig leer kyk na sy stuurse ou voël.

Die rolmodel hier is die filmakteur
wat sy image van vroeër dekonstrueer;
die Fransman Delon – geen spring chicken meer –
speel, wys en ironies, Casanova ontfleur.

Mastroianni is ‘n ander, en Josephson die Sweed,
wat hul ouderdom benut het, en hieruit kon skep
“ronde” karakters, wat jy nooit weer vergeet:
poefters en praalhanse; aftands, verlep;

maar elkeen ‘n mens, en hul oë sein deur,
uit ydel gesigte, ‘n fyn connoisseur.

Anders as die Vlugsout-rubriek en vinnige aforismes op Litnet is hierdie sonnette werklik uitstekend en goed afgewerk. Dit is gedigte wat tot in die fynste vesels afgewerk is en wat tegnies behaag.

Dit bevat ook ‘n kundige nawoord en ‘n flapteks van Johann de Lange wat ons terugneem na Aretino en Brecht se tekste. Aucamp se tekste bevat dikwels insigryke essays wat die leser van onnoembaar belangrike inligting voorsien. En hier is hy bepaald in die kol wanneer hy die skroomvalligheid rondom ruige taalgebruik in die letterkunde bespreek. Tereg wys hy op Krog se boesem-eerlike gedigte; ‘n mens behoort egter ook die baanbrekerswerk van Johann de Lange in Nagsweet te vermeld.

Hier speel Aucamp voortreflik met die struktuur van die Engelse sonnet.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Michael Chapman (Ed.) - The New Century of South African Poetry (2002)



Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Poetry. Ad Donker, 2002. ISBN 0 86852 224 4.

Resensent: Joan Hambidge

Michael Chapman is professor in Engels aan die Universiteit van Natal wat dikwels al die wind van voor gekry het oor sy omstrede uitlatinge oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Oor kanonisering  is hy al gestriem deur Johan van Wyk en Helize van Vuuren. Tog is die konsep van “Southern African Literatures” (waaroor hy ‘n boek laat verskyn het in 1996) nie ‘n verkeerde rigting nie, hoewel daar min, indien enige, litetarore bestaan wat al die verskillende tale en literature in ons Suiderland ken en kan behartig.

The New Century of South African Poetry probeer dan om die verskillende tale in hierdie land in digvorm te representeer. Die voertaal is natuurlik veral Engels. Hier en daar slaan ‘n swart taal en Afrikaans deur. ‘n Ysingwekkende werk. En ‘n bloemlesing wat by die titel al vra om polemiek, kanttekening, kritiek en vraag.

Die Afrikaanse letterkunde het onlangs die Brink en Komrij bloemlesings gesien. Eersgenoemde het redelik ‘stil’ en met ‘n akkoord verbygegaan, terwyl Komrij se samestelling met groot geraas begroet is. Wanneer ‘n samesteller afwyk van die bekende norme of opvattinge moet reaksie te wagte wees.

Die positiewe aspek van ‘n aweregse samestelling soos Chapman s’n wat as ‘n ‘post-apartheid’ en ‘nuwe millennium’ bloemelsing aangebied word, is dat dit vir die leser nuwe insette bring. Dieselfde geld ook Krog se vertaling en herdigting van swart digters in Met woorde soos met kerse: die leser word van die stilgemaakte stem bewus.

Bekende figure soos Roy Campbell, Van Wyk Louw,  Kunene, Douglas Livingstone, Mongane Wally Serote, Kelwyn Sole en Antjie Krog is hier, maar waar is Breytenbach?

Peter Blum is daar, Jan F. Celliers, Johann de Lange, Clinton V. du Plessis, Eybers, Us Krige, Langenhoven, Leipoldt, om ‘n paar name uit te sonder. Johann  de Lange is eintlik meer as een keer daar weens sy skitterende vertalings van ander digters wat opgeneem is.

Daar word ook handige en bondige notas geplaas. Dikwels van hulp, soms niksseggend. Soos onder meer oor Tatamkhula Afrika wat raakvat, maar waar ‘n hele boel digters onder een noemer ‘saamgegooi’ word soos De Lange saam met Ingrid de Kok en Metelerkamp, word die indelings gesog. Soos dat hulle almal aan universiteite verbonde is! En dis hierdie kwashaal oor die doek wat ‘n mens laat besef dat daar dikwels met veralgemenings gewerk word wat nie korrek is nie.

Boonop word daar ook ‘n hele spul gedigte opgeneem wat ook Guy Butler se idee van wat ‘n goeie vers is, dekonstrueer. Is dit werklik ‘gedigte’? Of is dit eerder opstanduitinge? Disparaat word dikwels eerder desperaat vir my smoel. Dieselfde geld dan ook vir die massiewe (soos Chapman dit noem) opgawe van Johan van Wyk e.a. in SA in Poësie/ SA in Poetry dat dit nie net historiese inligting of politieke cliché is wat in korter reëls opgebrek word nie. Nee, ‘n vers moet as’t ware die wêreld ‘re-make’. Gebeur dit orals?

Die veralgemenings oor Suid-Afrikaanse digkuns is eweneens problematies wanneer hy skryf: ”Whereas Eliot believed that modern poetry was bound to be difficult, poetry in South Africa achieves an immediacy of communication” (p. xviii). ‘n Fronsontlokkende uitspraak, veral omdat hy ‘n paar asemteugies voor dit oor Van Wyk Louw skrywe!

Hier meen hy: ”Van Wyk Louw’s massive image-structures cannot exclude the voice of the Afrikaner Calvinist disgusted at people’s eagerness to embrace crass bourgeois materialism”. Ek wonder wat dink die Louw-kenners hiervan? Die aweregse blik hou nie op wanneer hy skryf oor die invloed van jazz en die Beats op die digkuns nie.

Chapman gaan nie akkoord met Stephen Watson se siening dat Engels Suid-Afrikaanse digkuns gebuk gaan onder die juk van ‘n linguistiese dooierigheid nie. Maar is dit nie dalk so nie? Is dit nie dalk wel waar dat ‘n digter soos Isobel Dixon juis lewe geblaas het in hierdie digkuns nie, omdat ‘n mens ‘n Afrikaanse invloed kan voel nie?

Aan die positiewe kant word daar wel ‘n klomp interessante digters vir ons gegee. Maar daar word ook ‘n onnoembare aantal weggelaat. En wat sou ‘n kenner van ‘n Afrika-letterkunde dink?

Chapman besef die gebreke van sy allamagtige taak: daarom vra hy sy leser om die bloemlesing te lees saam met ander versamelings of antologieë. En ja, waarskynlik sou verskillende redakteurs een groot Bloemlesing met ‘n hoofletter moet saamstel. ‘n Bloemlesing met die oorspronklike vers neffens die vertaalde gedig.

Wat baie interessante en leersaam was – altans vir hierdie leser – is om begaafde vertalers soos Guy Butler, Johann de Lange en Rosa Keet in aksie te sien by ‘n Wilma Stockenström-vers. Miskien is ‘n digter tog nie altyd die beste vertaler van ‘n eie vers nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Tom Gouws - Syspoor (2002)



Tom Gouws. Syspoor. Human & Rousseau, 2002. ISBN 07881 4278 2.

Resensent: Joan Hambidge

Die domein van die Afrikaanse kortverhaal het die afgelope paar jaar vir onverkwiklike en grensoorskrydende reaksies gesorg. Die sogenaamde postmodernistiese verhaal problematiseer dikwels teksgrense: wat is waarheid? En kan ‘n verhaal steeds aanspraak maak op die ‘blote storie’-etiket as herkenbare mense uitgestal word?

Oor die postmodernisme in die digkuns is daar nog maar min geskryf. Parodie, persiflage, pastiche en dies meer is al uitgewys, maar die kwessie van die aanspreek van die kenbare subjek of ‘geskryfde’ is nog nie genoegsaam geteoretiseer nie. En dikwels verskyn daar bundels waarin geliefdes met mekaar ‘praat’: Louw & Cussons; Louis Esterhuizen & Marlise Joubert; ronel nel en gert vlok nel…

Tom Gouws het sopas by Human & Rousseau ‘n bundel gedigte laat verskyn onder die titel Syspoor. (Letterlik: sy-spoor; maar ook om op die smalle weg te wees…).  Dit is ‘n bundel wat werklik ‘n handvol gawe en  afgewerkte verse bevat en waarin die digter se spirituele inkeer  verwoord word. Die digter was voorheen aktiewe literator en sy indertydse bekering by die Welkom-Leeskring-seminaar het ook vir groot polemiek gesorg, omdat hy sekere figure in die Afrikaanse letterlike aangespreek het oor hul lewenswyse. Daarna het hy ook ‘n groteske misinterpretasie van H.J. Pieterse se omdat ons alles is gemaak en onder meer die tarotkaart van die gehangde man gesien as ‘n bose, duiwelse teken.

Die rede vir hierdie agtergrondsinligting is dat die digter steeds op hierdie betigtende pad aandreun. Die roede word swaar ingelê na die dramatiese Damaskus-inkeer. Met spirituele ontwaking mag mens nie fout vind nie.  As dit egter ten koste van ander gemaak word, dan moet daar ‘n vraagteken neffens ‘n vers geplaas word.

Toe Johann de Lange in Vleiswond ‘n risqué-gedig oor my laat verskyn het, moes ek skriftelik toestemming gee dat ek nie sou stappe neem teen my digtervriend nie. Die gedig was aan my bekend, en daar was ook geen probleem nie. Die vraag is: het dieselfde uitgewershuis te wete Human & Rousseau die galery ‘geskryfdes’ gevra of dit in orde is dat hul privaatheid, lewenshouding en vermeende gedrag so aan die openbare klok gehang word?

Die problematiek wat hierdie bundel skep is dat ‘n mens sou deelneem aan die skending as jy die verse sou plaas. Hier is nie genoegsaam gefiksionaliseer of verironiseer nie. Nee, net die vinger van Hoofouderling Gouws wuif en swaai voor T.T. Cloete, Daniel Hugo, Cas Vos, en andere se neuse.

Die tewerige trant van party van die verse kan ‘n mens ook nie mislees nie. Net om ‘n ‘lastige’ stuk aan te haal:

                                                             ... as boete 
moet jy m.b.v. virtual reality kyk hoe cloete
se ego ‘n ego lank swaartillend musiseer; 
miskien leer jy tog so om jou tong te beheer

word natuurlik tussen aanhalingstekens geplaas asof iemand anders dit sê! Maar die spreekwoordelike hou word ingekry(p. 44) “tot die swaneswang van u flagellant”.

Ook word Daniel Hugo “broederlik” aangepraat in ‘n reeks transgressiewe verse (pp. 41 – 42). Daar staan dan ook: ”bedrieg jy jouself en andere met verse van die ongeloof”. Ai die stoute Daniel tog wat deur Hoofouderling reggehelp word met die volgende vermaning:

As apologeet moet ek bely: nie die letter, maar die gees
Van die wet maak vry. Jy behoort te weet: die wettiese sonnet
Hou selfs stand deur God’s grasie van die rymparende koeplet”

(p. 41).

Enersyds word Hugo betig vir sy Opperman-beheptheid; andersyds vergeet Gouws dat juis hierdie selfde mentor sy akoliete geleer het dat kuns boos is.

3. dol-os
Madcow disease is a result of man’s evil tampering with God’s will

wannabe wambobos was ‘n hiperhupse os
in die afgekampte taalkraal van die opperos
speel-speel is hy sakramenteel
met die heilige bees kruisgeteel.
gesertifiseer is hy nou gekloonde dol-os

(p. 41)

Hieroor sal ‘n mens studente kan laat skryf: “How bitchy was my valley?”

Oor ‘n ander gedig wil ‘n mens nie eerder skryf nie, omdat die vuige implikasies en die effek wat dit op die mens se lewe mag hê dramaties mag wees.

Dit is jammer dat hierdie soort verse ‘n wrang smaak in die mond laat. Daar is ook goeie verse in die bundel. Ek dink dat die gedig oor selfmoord (“post mortem: death & co.” ), die twee verse oor Opperman (pp. 51 & 52), “pryslied vir die boerpampoen”, “ballansstaat vir die belastinggaarder”, “totius”, werklik goed is. Die digter het sy indertydse intertekstuele vernaamdoenery egter nou verruil vir ‘n beterweterige, betigtende en boetedoenende aanslag wat waarskynlik tot groot reaksie en omstredenheid gaan lei.

Gee my liewers die breë weg!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Friday, March 8, 2013

Gerda Saunders - Blessings on the sheep dog (2002)



Gerda Saunders. Blessings on the sheep dog. Southern Methodist University Press, 2002. ISBN: 0 87074 468 2.

Resensent: Joan Hambidge

Gerda Saunders se bundel kortverhale Blessings on the sheep dog dra die stempel van goedkeuring: J.M. Coetzee het dit goed gevind! Dit is dikwels mode om die naam van ‘n bekroonde op ‘n agterflap te plaas. Ons verneem ook dat hierdie teks die Utah Arts Council 1998 Publications Prize verower het.

Me. Saunders is ‘n uitgeweke Suid-Afrikaner en hierdie blik op buite is dus altyd ‘n interessante een: van onthou hoe dit was (sy gee ook erkenning aan haar familie wat van die stories vir haar vertel het) en hoe sy dink dit kon wees. Sy open met ‘n tipies Suid-Afrikaanse gegewe: verhoudings oor die kleurgrens en die uitwerking daarvan binne ‘n konserwatiewe gemeenskap. “A Sudden New City” werk met dit wat die kortverhaal so onderskei van ander genres, te wete sub-teks en die klinkende, opsommende slot. (Selfs waar dit '‘afwesig'’is, werk dit juis omdat die leser dit verwag.)

Waarskynlik is een van die mees verbluffende verhale “My brother can tell” met sy kragtige slot: ‘n jong dogtertjie wat haar boetie ‘red’ en haar bors vir hom gee. Teen die agtergrond van haar waarnemings oor word ‘n verhaal vertel van hoé kinders ‘n lewensveranderende ervaring interpreteer. Die verhaal is sielkundig ryk geskakeerd vertel met genoeg implikasies (soos die houding van ‘n vatterige onderwyser) wat hierdie kind se oorbewuste siening van die dood verklaar.

“Blessings on the sheep dog” is eweneens ‘n briljante verhaal waarin die donker drifte van die psige ondersoek word. En ‘n mens moet hierdie skrywer die kompliment maak: wanneer sy Afrikaanse verwysings gebruik, word dit ‘n integrale deel van die vertelling. Sy begryp die Afrikaanse psige baie goed en in “We’ll get to now later” word die hele geskiedenis rondom Koos Prinsloo se opmerking  in Die hemel help ons oor P.W. Botha vertel.

“The Epistemology of Romantic Despair” is ‘n boeiende analise vol feite. Al die stories in hierdie bundel is goed nagevors. Gelukkig word die wetenskaplike feit nooit ‘n belemmering in die verhaalgang.

“No money for stamps” is soos die reeds genoemde “My brother kan tell” ‘n verhaal wat aanspraak maak op antologisering. Dit is ‘n verhaal wat onder meer Griet skryf ‘n sprokie ook as interteks aktiveer en vertel die komplekse verhaal van ontheemding, liefdesverraad, moederskap en ‘n komplekse relasie tussen vrou en huishulp. Magriet beleef  binne ‘n nuwe ruimte (Amerika) felle emosies oor politieke ongeregtigheid. Ironies genoeg word sy hier ‘n soort huishulp vir skatryk mense en haar verhouding met haar indertydse bediende (en skuld omdat sy haar dogter aan die pas-polisie uitgelewer het) word a-chronologies vertel.

Die afskeidswoorde van Rose was toe sy haar vra om te skryf: No money for stamps”. Die mitologisering van die huwelik (o.a. kom Lady Di ter sprake as ‘n soort Sneeuwitjie) word hier aan die kaak gestel. Ook presteer hierdie verhaal om van ‘n politieke gegewe iets argetipies te maak: Rose is meer as die bediende. Sy verteenwoordig Magriet se gewete en verlede.

Dit is ‘n bundel wat behendig geskryf is. Dit werk met die donker kant van die menslike psige, met die wete, dat die positiewe ook bestaan. Sy beskryf donker drifte, sy gaan in op die chora van taal (in Kristeva se terme) en ontgin dit wat dikwels buite woorde lê: drome, begeerte na taboe-verhoudings, verliese, melancholie, ontheemding, wanhoop.

In ‘n verhaal word Foucault se siening oor seks weergegee: dat dit die plekke van geheime is en dat dit ook iets verraai van hoe ‘n mens met die werklikheid omgaan. Die skrywer ontgin al hierdie donker geheime waarvan haar karakters dikwels uitgelewer is soos in  die skitterende “Blessings on the sheep dog”.

Boonop ontgin die skrywer Afrikaanse uitdrukkings en idiome. Sy gee ‘n tipies Afrikaanse blik, maar dit word in Engels ‘vertaal’. Sy maak van die verhale iets universeels.En die taalbeheersing is uitmuntend. Sy erken dat die verhale elders ‘gehoor’ is of afgekyk is. Is Afrikaans haar moedertaal, wonder ‘n mens? Dit sal die verhale nog dwingender maak: dat sy buite die landgrense leef en in ‘n tweede taal skryf.

Dit is ‘n boek wat die gehaltemerk van J.M. Coetzee beslis mag dra.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]