Showing posts with label Wilhelm Knobel. Show all posts
Showing posts with label Wilhelm Knobel. Show all posts

Monday, January 25, 2016

Wilhelm Knobel – Die ongewapende man op 80 in vertaling (The unarmed man in translation) (2015)

Wihelm Knobel

Wilhelm Knobel – Die ongewapende man op 80 in vertaling (The unarmed man in translation). Bel Monte Uitgewers, 2015. ISBN 9 780620 685115

Resensent: Joan Hambidge


Wilhelm Knobel het Salvatore Quasimodo se “en skielik is dit aand” vertaal in 1961:

Elkeen staan alleen op die hart van die aarde
deur ‘n straal van die son deurboor
en skielik is dit aand.

Hierna het ander digters ook op hierdie reëls digterlik kommentaar gelewer, en ofskoon Knobel dit in Afrikaans vertaal het, behoort dit aan Quasimodo, die Italiaanse liriese digter (1901 – 1968). Knobel se verse is eweneens liries; soms surrealisties; ander kere intiem in die verkenning van die binne-landskap.

Die ongewapende man op 80 bevat ‘n handvol vertalings van Knobel se gedigte met kommentaar van literatore agterin opgeneem, soos Petra Müller wat meen dat hy as “vervloekte” digter op eweveel aanspraak kan maak as Ingrid Jonker. Sy het dit dan oor die “verval van die gemoed” en ingeligte lesers is bekend met Knobel se sensitiewe psige en manies-depressiewe gemoed.

Ander literatore se tersaaklike kommentaar word ook opgeneem soos J.C. Kannemeyer, Louise Viljoen, Johann de Lange en Marius Crous.

Die titel kom uit “Brief vir Breyten” wat hy afsluit: ”Die gekheid kom nie soos ‘n gewapende man nie.”

Vir my is Knobel die digter van ‘n handvol uitstekende verse en hierdie bundel vertalings stel hom bekend aan ‘n wyer leesgehoor. In die kolofon word daar vermelding gemaak van vertalings deur die digter se broer, die vertalers Gisela en Tony Ulyatt, en in die teks is daar ‘n vertaling deur die digter self en C. Bennett. Die afkorting CJFC staan vir die bekende digter en vertaler, Charl JF Cilliers. Phil du Plessis, wat lang gesprekke met Knobel in sy digkuns gevoer het, is eweneens hier aanwesig: ”Fabel” (51).

Die digters wat meegedoen het aan die vertalings het hul goed van hul taak gekwyt en die gedigte getransporteer van een taallandskap na ‘n ander. Maar vertalings is soos om in ‘n vliegtuig te sit – iewers tussen twee landskappe dink jy na oor wat agter jou lê en waarheen jy op pad is. En as jy nie die regte taalvisum het nie of ‘n digterlike inenting teen geelkoors nie, kan sake skeefloop. Gelukkig is die vertalers se paspoorte en mediese kaarte getjap.

Vertalings kan net suksesvol behartig word deur digters wat sélf die kompleksiteite van taal begryp en dikwels besef welke waagstuk enige vertaling is. ‘n Kennis van die teikentaal maak jou bepaald nie ‘n vertaler nie. Die Ulyatts en Charl JF Cilliers is gerékende vertalers, omdat hulle die semantiese reikwydte begryp en implikasies kan vertolk. Dit is soos om oor ‘n vreemde landskap te lees en dit dan self te ervaar. So is dit met die vertaalde gedig gesteld: iets voltrek sig in die gemoed.

‘n Mens raak bewus daarvan dat daar soms hoofletters gebruik word aan die begin van reëls; ander kere nie. Die “bloedsteen” is opvallend en in “XI Weer aan die kritikus” word die pynlike herhaling van woorde verduidelik, omdat die digkuns ‘n manier is waarop die digter hom verweer teen die lewe en ‘n slopende siekte.

Dit is dalk die hoogste tyd om ‘n studie te onderneem tussen die werk van die Amerikaanse digter Robert Lowell (1917 - 1977) en Wilhelm Knobel. Beide digters het aan ernstige depressies gelei; beide het die digkuns gebruik as ‘n ontsnappingsroete, as ‘n soort “bloedsteen”. Lowell se klassieke “Man and wife” is ‘n ikoniese vers wat so begin:

Tamed by Miltown, we lie on Mother’s bed;
the rising sun in war paint dyes us red;
in broad daylight her gilded bed-posts shine,
abandoned, almost Dionysian.

En as die vertaler ‘n paspoort en visum en geelkoorskaart het, is dit ‘n besondere belewenis. Met Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Twee siklusse (2005) en As die woorde begin droom (2011) het Wilhelm Knobel ‘n unieke bydrae tot ons digkuns gelewer. Hierdie is ‘n keur uit sy digkuns behartig deur Johann de Lange, ‘n uitstekende bloemleser en vertaler.

Suiwer is hierdie elegiese vers van Knobel:

Elegie
vir V. Cuenod

Êrens in die Atlantiese oseaan is jou liggaam ter see gelaat
In geen benouende seil gewikkel nie
het dit stadig deur die skemergroen lig gesak
tussen kleurige tropiese vissies wat vir ‘n oomblik
    verskrik is
om dan weer soos mossies nuuskierig byeen te drom
en die vreemde gebeure gretig maar geheim in die
    roering te bespreek
‘n besorgde dolfyn
het jou ‘n rukkie meer waardig op  jou tog vergesel
jou ledemate wat net effens
in suggestie van ‘n dans beweeg
het hom ‘n tydjie laat vermoed dat jy leef
en jou hare wat jy kort geknip gedra het in jou lewe
het lank en donker in die stroom geroer
Êrens op jou reis die diepte in
waar die skemerte oorgaan in donker
het die vae gestalte van ‘n haai
(of twee?)
geduldig, genadig
gewag
die beelde hier word minder duidelik
maar in drome sien ek reeds hoe ‘n hopie bene
ewig en wit begin vasgroei in koraal
*

Vir ‘n interessante nota rondom die onstaan van die gedig, lees die volgende: Deon Knobel. Toeligting tot die gedig “Elegie” deur Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel in ons digkuns verewig: vasgegroei in koraal.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Thursday, January 24, 2013

Wilhelm Knobel - As die woorde begin droom: ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel (2010)



Wilhelm Knobel. As die woorde begin droom: ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Bel Monte uitgewers, 2010. ISBN 0 620 48688 0.

Resensent: Joan Hambidge

Wilhelm Knobel sal immer onthou word vir sy gedig “Elegie”, ‘n vers wat ‘n mens nooit kan vergeet nie. Oor daardie persoon wat in die see sterf en wie se hopie bene uiteindelik vasgroei in ‘n koraal. Sopas het daar ‘n keur uit die digter se verse verskyn As die woorde begin droom, deur Johann de Lange versorg en saamgestel. Daar is verse gegroepeer in vyf afdelings: Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Onversamelde verse (1956-1972) en ‘n vyfde en laaste afdeling wat heet Vertalings / Translations. Verder is daar ‘n handige alfabetiese register van eerste reëls en titels met huldewoorde van Gerrit Komrij en Petra Müller. 

Komrij noem hom een van die indrukwekkendste digters uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Die kranksinnigheid, doodsangs en “mededogen met het weerloze, opstandigheid en de sarcastische onhebbelijkheid om zichzelf tegen beter weten in moed in te spreken”, terwyl Müller verwys na die “verskriklike selfinsig, van nugtere aanskoue van ‘n koue noodlot”. Daar is terselfdertyd vir haar lewensliefde en openbaring aanwesig in hierdie proses. Sy skryf verder:”Hy het as digter waarlik nie sy eie doodsgang versaak nie”. Komrij se uitspraak is in die jaar 2000 gemaak in die NRC Handelsblad en Müller s’n in 2005. Johann de Lange skryf tereg in die binneflap dat hy dieper gevoel het as ons meer siniese generasie. Hy op sy beurt voel dat die kritiek hom nie reg ingeskat het nie.

Die waarde van so ‘n bloemlesing is dat dit kommentaar lewer op die kanoniseringsproses en vir ‘n navorser ‘n besondere belangrike versameling word om verskillende temas, versvorme, gesprekke met ander digters, soos Breytenbach wat in ‘n brief aangespreek word of Rilke, na te speur. Die digter is oorlede op die ouderdom van 38 jaar en ‘n mens wonder altyd hoe sou die latere gedigte daar uitgesien het as hy sy siektetoestand oorleef het? Of was die bipolêre stoornis dalk júis die rede vir die kreatiwiteit? Ook neem dit ‘n mens dit terug na sy tydgenote soos Ingrid Jonker (oor wie hy ook skryf), die reeds genoemde Breytenbach, Freda Plekker, onder andere.

Die titel van die bundel word in die digter se handskrif weergegee, met ironies genoeg, ‘n gedig op ‘n soort doktersvoorskrifbladsy waar daar staan: Butazolidin Cream.

Die broosheid van alles loop reg deur hierdie bundel met sy inkantiewe aanslag: die dag breek oop soos ‘n okkerneut (67) en in ‘n brief aan Lina Spies word erotiese begeerte onverhuld en sonder skroom bely. In ‘n gedig waarin die digter vertel hoe hy ’n pak, onderbaadjie en das dra van die vader (71) kry ‘n mens ‘n direkte aanspreek van die ontslape vaderfiguur in ‘n soort eenwording, wat elders as vermanend beskryf word. In hierdie aangrypende vers word daar gevra:

Maar smôrens
as ek die beige onderbaadjie aantrek
en die warmte daarvan voel deur die dag
wonder ek
hoe koud is jy nou
of straal daar tog warmte uit
van die idee van die wolstof dig teen my lyf

Dit is duidelik dat die digter se familie uit ‘n eng en voorskriftelike familie kom en vele gedigte spreek dit aan.

Daar is mooi beelde (“oorryp lemoene in ‘n ontydige herfs”, 77) en gesprekke met skilders en digters (Phil du Plessis, Jeanne Goosen, Wopko Jensma). “5 Junie 1968” is aangrypend:

die woorde stap nie langer geduldig
paar-paar in die ark van die gedig nie (114)

en die verskillende vertalings (deur die digter self en ander soos Charl J. Cilliers) lewer interessante vergelykings met die oorspronklike gedigte. Die digter tipeer himself as ‘n dromer wat hom ingedroom het in sy gedig (124). Die Jules Supervielle-vertalings is besonder goed vertaal.

Ook die kritikus word direk aangevat oor die soeke na Vorm (46) en dit is dan, hierdie kritikus se beswaar teen meeste van die verse. Dit is inkantaties ja, dromerig, weerloos, maar vir my smaak is verse dikwels nie genoegsaam in die Pegasus-bek geruk nie. Maar terselfdertyd was dit dan hierdie soort gedig, met ander woorde, die losser gestruktureerde vers, wat in die sestiger en sewentigerjare hoogmode was.

‘n Relevante boek vir die navorser en die versamelaar van Afrikaanse digkuns.
Dit is ‘n herdenkingsbundel ter viering van die digter se 75e geboortedag en besonder keurig uitgegee.

Bestel van Bel Monte Uitgewers, Oranjezicht, Kaapstad, 8001.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]