Showing posts with label Fourthwall Books. Show all posts
Showing posts with label Fourthwall Books. Show all posts

Monday, April 30, 2018

Resensie | Footnotes for the Panther:Conversations Between William Kentridge and Denis Hirson (2018)

Resensie | Footnotes for the Panther:Conversations Between William Kentridge and Denis Hirson. Fourthwall Books, 2017. ISBN 978-0-9947009-3-3
Resensie: Joan Hambidge
William Kentridge is 'n besondere kunstenaar, filmmaker, librettis en kunstenaar wat sowel die beeldende en grafiese kuns uitbring by musiek en opera. 'n Paar jaar gelede had ek die voorreg om 'n show van hierdie merkwaardige kunstenaar mee te maak in Kaapstad. Verskillende vertrekke in die kunsgalery was ‘n representasie van sy grafika en animasiewerk met musiek, o.a. van Philip Miller daarby.
Kentridge se internasionale statuur is welbekend van die VSA tot in Europa as grensverskuiwer.
Denis Hirson is bekend vir die roman The Dancing and the Death on Lemon Street. Verder is hy 'n antalogis van onder andere Heat of Shadows: South African poetry 1996–2013Ma langue au chaten 'n studie in Frans oor oor die posisie van die anglofoon wat skryf, werk en vertaal in Frans.
Hier kan sy poësievoorlesings gehoor word (Denis Hirson. Poetry Readings. 2013 - YouTube): 
Nou bring jy twee figure wat sterk opinies het oor die kunste en hulle tree in gesprek met mekaar. Terselfdertyd is beide die mening toegedaan dat kuns 'n politieke rol het om te vervul. Die titel aktiveer 'n gesprek rondom Rilke se beroemde gedig "The Panther"  ("Der Panther") geskryf in 1902. Die sub-titel van die gedig is In Jardin des Plantes, Paris
Hierdie gedig is al deur vele vertalers aangepak:
Sein Blick ist vom Vorübergehn der Stäbe 
so müd geworden, daß er nichts mehr hält.
Wat 'n wonderbaarlike boek is hierdie gesprekke nie. Twee belese en intellektueel-opgeskerpte figure tree in gesprek met mekaar. Beide Joods en Joodsheid, anti-Semitisme kom uiteraard onder die loep. Nes wit bevoorregting.
Waarom die kunstenaar begeerte het tot uitstalling ("What is the need to impose oneself?", 110) sal jare se psigoanalise neem om dit te begrond, meen Kentridge. Die sirkelgang van die kunswerke (Borges is hier 'n belangrike kode) én die kunswerk as proses, word geplaas teen die gesprekke en annotasies van Pound en Eliot róndom die ontstaan van The Wasteland (134). 
Die Norton lesings te Harvard in 2012, 'n gesogte uitnodiging, gee 'n verdere blik op hierdie intellektuele kunstenaar. Dit is gepubliseer as Six Drawing Lessons (Harvard University Press, 2014).
Borges het dit gegee in 1967-68 en hierdie besondere skrywer en digter se werkswyse sluit aan by die self-representasie, mise-en-abîme, die labirint, biblioteek (by Kentridge die studio), ensomeer.
Die endnote is verdere sleutels vir die leser, soos The Life and Death of 9413 a Hollywood Extra (1928), 'n film deur Robert Floey en Slavko Vorkapich. E.L. Doctorow se siening van die skryfprojek word gesien as 'n reis per motor; soms moet jy terugkeer om agter te kom waar jy verkeerd afgedraai het.
Die bekende film Ready to Wear (Prêt-à-Porter) van Robert Altman uit 1994, 'n satiriese analise van die modebedryf wat in Parys afspeel, is presies wat Kentridge in sy boek doen. Party van die akteurs vertolk hulself – en Kentridge plaas homself pens en pootjies binne-in van sy kunswerke.
Die boek is pragtig uitgegee en is vir lank lees, nabetragting en herdink met pragtige afdrukke.
Kentridge is in Frankryk vereer met die titel Commandeur de l'Ordre des Arts et des Lettres. Welverdiend.
En die titel? Iets van die poging om die oorspronklike dier vas te vang of weer te gee.
Kuns as grensverskuiwings, die kunstenaar as akteur. Kentridge het Politieke Wetenskap en Afrika Studies aan Wits bestudeer en mimiekkuns bestudeer en mimiekkuns aan L'École Internationale de Théâtre Jacques Lecoq in Parys, met die hoop om ‘n akteur te word. Hy is ook die seun van gesiene aktivistiese regsgeleerdes. Sowel die moeder en vader het mense verdedig teen die ou apartheidstaat en Nadine Gordimer was ‘n huisvriend van sy ouers. Refleksies oor Joodsheid kom na vore. 
Hy erken prontuit sy bevoorregte wit grootwordjare en hoe hy die Perseus-mite as jong kind gehoor het. En hier reflekteer hy op die ingewikkelde verhouding wat ‘n mens met jou eie jong self beleef wanneer jy terugkyk (173). Ons het immers verskillende selwe en op bladsy 220 word Czeslaw Milosz aangehaal om dit te illustreer:
The purpose of poetry is to remind us 
how difficult it is to remain just one person, 
for our house is open, there are no keys in the doors, 
and invisible guests come in and out at will.
Die boek is duur, maar beslis aan te beveel. Baie van die uitsprake vra vir herdink en herbesinnings. 
Die endnote is reeds ‘n studie op sigself: van Tinus de Jongh tot die I Ching, verwysings na Herman Charles Bosman, Athol Fugard, David Goldblatt, Picasso, Jackson Hlungwani, Homi Bhabba (wat die vraag-en-antwoord-sessie gelei het tydens die Norton-lesings), Tadeusz Kantor, die Poolse dramaturg, om enkele bakens te noem, begelei hierdie studie. Thick timeLullaby for a House Alarm.
Laurie Anderson gooi ook ‘n draai hier: "I’m lying in the shade of my family tree / I’m a branch that broke off / What will become of me?” (“Beautiful Pea Green Boat”).
Met hierdie lees – wat ‘n voorreg was dit nie – kom ‘n mens onder die indruk van ‘n komplekse mens wat sy teenstrydighede ondersoek en blootlê. Sy obsessie met tyd en herinnering is eweneens opvallend. Nes die “binne-immigrasie” teenoor die werklike migrasie (294).
Soos die insekplaag wat “kunswerke” word met suikerwater. Is die insekte geleer om te teken? (36)
Fouth Wall Books lewer weer gehalte: ons dink hier aan Stephanus Muller se Nagmusiek, daardie kluif van ‘n opwindende en uitdagende biografiese roman oor Arnold van Wyk.
 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, November 23, 2014

Stephanus Muller - Nagmusiek (2014)



Stephanus Muller - Nagmusiek. Fourthwall Books, 2014. ISBN: 9780992226343

Resensent: Joan Hambidge 

I
Hierdie roman is ‘n gebeurtenis in Afrikaans. Dit vertel ‘n verhaal en die leser ontvang dit in ‘n boks met drie volumes. Volume I beslaan 228 bladsye, Volume II 148 bladsye, Volume III 548 bladsye.

Hoe moet ons hierdie drieledige teks, dus trits, karakteriseer?  Biografiese roman? Of roman in biografie-vorm? Hierdie genreverskuiwing open alreeds vrae oor die teks, begin as ‘n kreatiewe skryfwerk-projek aan die Universiteit van Stellenbosch en word geskryf deur ‘n musikoloog, Stephanus Muller, verbonde aan die Konservatorium aldaar. Dit handel oor die figuur Arnold van Wyk, ‘n ikoniese komponis, gebore in 1916 en oorlede in 1983.

Die boek is sowel akademies as fiktief of meditatief in aanbod. Dit is 'n baanbrekerswerk wat soveel verskillende diskoerse saamsnoer én bevraagteken. Dit verklap veel van die Subjek en die Optekenaar. Hermione Lee se kluif van 'n biografie oor Virginia Woolf (Methuen, 1977) is 'n voorbeeld van 'n akademies-gedistansieerde biografie, terwyl die werk van Janet Malcolm oor Plath The silent woman: Sylvia Plath & Ted Hughes (Penguin, 1994) deur die veelvuldige aanbod en perspektiefverskuiwings die idee van 'n biografie as 'n objektiewe studie ondermyn en dekonstrueer. Reeds deur die verpakking in 'n sogenaamde slipcase, oftewel foedraal, word die leser van Nagmusiek attent gemaak op verskillende bokse-binne-in-bokse ...

My kennis van Van Wyk is die liedere wat Mimi Coertse vertolk met ‘n hoogtepunt “In die stilte van my tuin”, ‘n elegiese gedig van I.D. du Plessis. Op Litnet skryf Suzanne Strauss oor die kanonisering van hierdie begaafde komponis: ‘Ek kan eintlik net hartseer musiek skryf …’ – Die selektiewe kanonisering van Arnold van Wyk (1916–1983) se werke (Besoek 20 November 2014)

II
Nagmusiek is 'n aweregse, individualistiese studie of navorsingsprojek, maar dit is ook 'n roman wat biografie wil wees. Dit verklap die obsessionele navorsing van die werklike outeur wat in verskillende gedaantes of stemme die teks vertel wat polifonies of veelstemmig in aanbod is. Daar is briewe, referate, besinnings, dagboeke, foto's, inventarisse, skinderstories, 'n plakboek met rugbyspelers, werklike besoeke aan werklike mense, meditasies oor die stand van musiek, of dan eerder: die betekenis van élitistiese musiek binne 'n (post)koloniale wêreld. Die stories oor die figuur Arnold (Nols) en sy ervaring van die kunswêreld en die onsekerhede wat so 'n kreatiewe figuur moes verwerk, word in die derde afdeling ondersoek. Muller/ Ansbach / ek word telkemale geplaas teenoor Arnold van Wyk. Die leerlinglisensie met die foto van Wyk aktiveer vraisemblance.

Daar is 'n soeke na die "werklike" Arnold van Wyk en die speurtog lewer onder andere 'n skulp op waarin daar sigarette doodgedruk is. Die Subjek is egter nie "heel" nie. Daar is verwysings na molle in die tuin (die onbewuste) en ook 'n verhouding met die moeder wat uiteindelik sterf, en 'n transgressiewe verhouding met 'n vroulike student. Die verwysing na Alzheimer se siekte word 'n slim set vir 'n teks wat juis wil onthou.

Die verteller, of eerder dan, die aanbieder is 'n hoogs sensitiewe, bykans obsessionele figuur, wat ook iets van homself verklap in hierdie boek, of eerder dan, boeke.

Dit is 'n teks wat jy letterlik op enige plek kan oopslaan en dit waaier uit na die ander twee tekste wat rugsteun, ondersteun én ondermyn. Biografiste, soos wat Leon Rousseau op 'n keer onthul het ná die voltooiing van Die groot verlange, raak inderdaad obsessief oor hul "man", net soos advokate wat 'n persoon in 'n hofsaak moet verdedig, alles moet weet, as't ware in die persoon se spore moet stap, ten einde die "waarheid" te vind. In hierdie teks word die transgressiewe soeke na het-dit-werklik-gebeur telkens op sy kop gekeer en ironiese kommentaar gelewer op mense se ewige soeke na wie was daar? En het dit regtig gebeur?

III
Linda Hutcheon se Irony's edge verwys na die politiek en die teorie van ironie. Hierdie studie het in 1994 verskyn, maar bly  'n relevante teks vir die ontleding van die polifoniese teks. Veral musikoloë sou meer kon werk op die simfoniese struktuur van hierdie teks. Vir Hutcheon is ironie meer as anti-frase, oftewel, die siening dat ironie die teenoorgestelde bedoel van wat jy sê. Dit is meer kompleks: dit gaan oor sowel die gesêde, as die on-gesêde en hoe dit inspeel op mekaar.

Daar is molle in hierdie teks wat doodgemaak moet word. Daar is vrese wat besweer moet word. Die twee hande stem ooreen (Escher se skilderende hande?), maar die skrywer hérken soveel van homself in die figuur, Arnold van Wyk, 'n man wat mense poetse gebak het. Hennie Aucamp het op 'n keer vertel hoe Nols vriende laat skrik het toe hy in die bad gelê het en "dood gespeel" het. Daar is die insident - 'n heerlike grap - toe hy maak asof hy in besit is van 'n kosbare stuk bladmusiek wat hy in die oond opwarm sodat dit verouder lyk. Daar is relasies met jong mans wat by hom loseer met wie hy stoei, fisiese aanraking ontwille. Die verwerking van die liefde-van-sy-lewe se selfdood. Daar is uitsprake oor Van Wyk se posisie aan die US en dat hy nooit na regte waardeer is en met bevordering oorgesien is. (Hierom dalk die ironiese bedankingswoord aan professor So-en-So in die erkennings?)

Elke vinjet word herhaal en van toepassing gemaak op die Optekenaar. Dit is 'n kladboek oor "unrequited love", oor begeerte en die konstruksie van 'n gay-identiteit binne 'n verdrukkende samelewing. Daar word vrae gestel en beantwoord oor die rol van kunsmusiek binne die apartheidsjare. Daar is baie toespelings en herkennings (is dit Kannemeyer?, o.a.) wat ons hier sien? Is dit Stefans Grové wat fluitgeluide maak? Ook hier trap ek in die strik gestel vir my!

Is Werner Ansbach gelyk aan Stephanus Muller? Of probeer die werklike outeur ook hiermee 'n verdere spel inbou dat die teks tog nie biografie kan of wil wees nie? Die keurverslag aan die einde - waarskynlik geskryf deur 'n akademikus en ons herken die styl van 'n kenner oor metafiksionele fiksie en al die probleme wat die hibridiese teks oproep - beskou die teks as nog vis nog vlees. Hierdie leser is van mening dat jy ál die vooropgestelde idees moet laat vaar en die teks kaleidoskopies moet benader. Soms is dit roman; soms eerder biografie. Ek het die derde "skelet" van agter na voor gelees, en toe weer chronologies benader - juis dan kry 'n mens 'n beter greep op die teks wat finale betekenis of interpretasie ontglip.

IV
 Dit is 'n komplekse, unieke teks in Afrikaans. Dit dwing bewondering en respek af. Dit handel oor meer as die melancholiese Arnold van Wyk. The Anatomy of Melancholy word ook raakgelees in die studie oor die plaasseun uit Calvinia wat in Engeland studeer het en o.a. vir E.M. Forster geken het. Sy storie vertel deur 'n jonger man wat eweneens buite die grense van die land gestaan het en terugkyk op die komplekse einde van apartheid, 'n ruimte waarin Van Wyk sowel gedy as verminder is.

Die besinning oor skryf word helder verbeeld in 'n konfrontasie met die Ander: "Jy is 'n niks, 'n onbenullige, onbewese parvenu" (439). Dit is die lot van alle skrywers wat die grensoorskrydende ver-teks. Koos Prinsloo is deur Ralph Rabie aangerand. Vir vele lesers is hierdie werkswyse nie kuns nie, omdat die herkenbare 'n ontoelaatbare praktyk is. En al is 'n figuur gefiksionaliseer, kan die skywer nie beheer uitoefen oor wát die leser gaan inlees nie.

Vir 'n onderhoud deur Wayne Muller lees: Onderhoud met Stephanus Muller (Besoek 23 November 2014)

Die partituur van Nagmusiek is ook aanwesig. Al het die komponis vertrek.

Sleutels is ook slotte. En die brief aan Van Wyk Louw en sy siening oor die sensuur is 'n verdere kode. In ons post-post-moderne wêreld is daar geen hekke meer nie, geen sleutels wat kan toesluit nie. Daar word verwys na kerkhofsleutels (233).

Hierdie drieledige teks sou 'n mens waarskynlik verder kan oopmaak met die gebruik van insigte uit Janet Malcolm se The Purloined Clinic (1992), 'n psigoanalis en teoretikus wat met haar unieke siening van die Freud argiewe en 'n slopende hofsaak vele raakvlakke met die probleme wat hierdie teks stel, eweneens aan die orde stel.

Die astroanalise (147) is ook 'n kode: die teks as gesplete persoonlikheid.

Die meisie se naam is Cecile: Sinte Cecilia ... beskermheilige van die musiek.

En idees word in die onderbewussyn gevorm, artikuleer Arnold van Wyk dit self in 'n brief gedateer 14/8/1978. En sy bewondering vir Britten en Sjostakowitsj moet eweneens nagespeur word.