Showing posts with label Hilda Smits. Show all posts
Showing posts with label Hilda Smits. Show all posts

Tuesday, December 7, 2021

Resensie | Hilda Smits – mag die diep slaap jou dan | Protea, 2021

Hilda Smits – mag die diep slaap jou dan. Protea, 2021. ISBN 978-1-4853-1294-9

Resensent; Joan Hambidge

 

Om jou hart op jou leerbaadjie te dra

 

Smits debuteer in 2016 met die bome reusagtig soos ons was. Vir haar debuut is sy tereg bekroon met die Ingrid Jonker-prys.

 

Die beste manier om haar tweede verruklike bundel te beskryf wat heet mag die diep slaap jou dan is waarskynlik die konsep asindeton. Dit is ‘n tegniese begrip waar verbintenisse tussen reëls doelbewus uitgelaat of herhaal word. Die neweskikkende sin (versreël) ontbreek of bots met die hoofsin (versreël). In Afrikaans het die digter Gilbert Gibson al groot hoogtes met hierdie tegniek bereik. Soms vind ons dit ook by T.T. Cloete waar die eindrym terugkeer na die binnerym. e.e. cummings is die meester hiervan.

 

[i carry your heart with me(i carry it in]

i carry your heart with me(i carry it in

my heart)i am never without it(anywhere

i go you go,my dear;and whatever is done

by only me is your doing,my darling)

                                                      i fear

no fate(for you are my fate,my sweet)i want

no world(for beautiful you are my world,my true)

and it’s you are whatever a moon has always meant

and whatever a sun will always sing is you

 

here is the deepest secret nobody knows

(here is the root of the root and the bud of the bud

and the sky of the sky of a tree called life;which grows

higher than soul can hope or mind can hide)

and this is the wonder that's keeping the stars apart

 

i carry your heart(i carry it in my heart)

 

e.e. cummings

 

Die ritme van die vers word só opgeskerp en verhewig met hierdie tegniek. Ons lees:

 

die mense slaap soos gefrommelde banknote in sagte beddens 

die skoolgange is leeg soos dowwe pyn 

op die rugbyveld loop die eerste lig soos ’n vlak rivier 

van verlate datums lughawens op die lang toegesneeude pad van die telefoonlyn

 

Die digter gee ingebedde kodes waarmee die leser die verskillende tekste kan oopmaak. Byvoorbeeld: die verwysing na Willem de Kooning (1904 – 1997) se ingewikkelde konstellasies (26), die Nederlands-Amerikaanse skilder, maak die teks vir die leser oop. Hierdie skilder is gebore in Rotterdam, maar word later ‘n Amerikaanse burger. De Kooning se werk is abstrak, maar hy behoort tot “action painting” en die New York-skool saam met ikoniese kunstenaars, soos Jackson Pollock en Mark Rothko, om twee figure uit te sonder. Smits se gedigte herinner aan hierdie Abstrakte Ekspressionisme: verse vervreem, assosiasies loop onder jou finale interpretasie uit en die verskillende gedigte vorm uiteindelik een groot legkaart. Die retrospektief in die MoMa (2011 – 2012) wys op die meesterlike beheer en tegniek van De Kooning met die opsetlike verwringing van die herkenbare werklikheid. Die retrospektief het ek meegemaak in NY, ‘n uitsonderlike hoogtepunt in my lewe.

 

De Kooning beweeg, soos Hilda Smits, tussen twee kulture en hierdie gevoel van ontreddering en vervreemding vind die leser terug in haar gedigte. Mense lyk soos cardboard pop-ups en hierom is daar treinstasies en telefoonlyne dikwels aanwesig om kontak met die werklikheid te maak. Die leser beweeg tussen droom (fantasie) met ‘n surrealistiese werklikheid.

 

Die digter self verwys na die “gebroke legkaarte” met die inspeel op gebreek / gebroke.

 

Van Gogh is eweneens ‘n ander sleutel vir die leser in ‘n bundel wat werk met representasie. Die skilderye van Van Gogh is sleutels vir eensaamheid en pyn.

 

Haar ekfrastiese verse (gedigte wat skilderye interpreteer) is uitsonderlik soos “Washington Square, winter, André Kertész”, “Georgia O’Keeffe – hande, Alfred Stieglitz”,”Twee vroue omring deur voëls, Joan Miró”, “Goeie plek vir vis(se), Paul Klee” , ”Pienk engele, De Kooning”, om ‘n paar uit te sonder.

 

Veral Paul Klee se visse gee iets weer van die bundel se fantasie... Vreemde landskappe ondersteun die gevoel van diskonneksie:

 

na ’n land waar vreemde tale in monde poel soos geheime water

 

jou hande wat blindelings soos vreemdelinge aan ander behoort.

(52)

 

Ook die gebruik van ‘n kleiner font binne-in ‘n groter font (bekend aan e.e. cummings se digkuns) dwing die leser terug na die gedig se ikonisiteit en die gebruik van die ____ in gedigte  wys op dit wat nie geuiter kan word nie (14). Hierde tegnieke neem die leser uiteraard na Derrida se dekonstruksie en die sogenaamde sous rature (under erasure)-tegniek. Om iets uit te wis, maar dit ook te behou.

 

Die finale betekenis(se) word uitgestel en daar is eweneens implisiete politieke gedigte in hierdie bundel. Die bundel is inderdaad magies met ‘n bewussynstroom en vreemde assosiasies. Bykans asof ons in haar droomlandskap toegelaat word.

 

Die verlies aan die vader (pynlik onthou die spreker die graf) en die verlede in Potchefstroom (kleiner geskryf) bly draal in die gemoed.

 

Daar is verruklike beelde in hierdie bundel soos “die maan is ’n koper tweesent”, “en agter jou die swart bome soos grafte van ink” en “’n eerste gedagte jy was toe al bloekombome // & al die lug daar om soos ’n valskerm”.

 

Die bundel gee nie sy geheime dadelik prys nie. 

 

Dit is poësie wat ontroer en kwel. Lank na die lees van ‘n gedig bly jy nadink oor die implikasies van ‘n vers. Mag die diep slaap jou (dan ) na herinneringe neem van ‘n verbygegane tyd geberg in die digterlike gemoed. Daar waar die swart bome soos grafte van ink … (met peanut butter & stroop en kasterolie).

 

En kyk watter Oosterse stad word in ‘n gedig verskuil! (21)

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Monday, March 28, 2016

Hilda Smits – die bome reusagtig soos ons was (2016)



Hilda Smits – die bome reusagtig soos ons was. Protea Boekehuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0640-5. R160

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundeltitel aktiveer die Bee Gees se bekende liedjie “First of May” wat so begin:

When I was small, 
and Christmas trees were tall,
We used to love while others used to play.
Don’t ask me why,
but time has passed us by,
Someone else moved in from far away.

Die digter is ’n expat, eers woonagtig in Londen en nou besig met nagraadse studie in psigoterapie in die VSA.

Haar gedigte is sjarmant. Dit is geskryf in ’n soort praataanslag (parlando) en aktiveer die gesprek met gert vlok nel se digkuns.

Die onvoltooide sintaksis, die bykans surrealistiese beeld, die saamdink en -dig van assosiasies met die opsetlike ondermyning van konvensies soos interpunksie en vorm, is kenmerkend van hierdie soort digaksie.

Ek noem dit ’n digaksie omdat daar verskuilde kodes opgesluit lê in hierdie soort gedig vir die leser. Versreëls moet deur die leser voltooi word, terwyl beelde assosiatief werk – soos by e.e. cummings, waar die sintaksis van die gedig die semantiese spel uitdaag en beproef. ’n Brief aan die vader (bl. 9) word ’n gesprek met Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” en in “in die tonnel van my oog”, word die hele herinnering-nostalgie-spanning uitgewerk.

Die ervaring van die vreemdelingskap in die buiteland word ’n soort ars poetica (bl. 10): Die gedig is ’n onbewustelike verkenning van die nuwe ruimte wat selfs liggaamlike vervreemding inhou.

Gedigte buig in op sigself soos in die netjiese vers “Gokarna” (bl. 16) wat oor meer as Degas handel:

jou behendige hande skets my
versamelaar van geheime klanke
onder die blad van die spieël (...)

Jackson Pollock se “glibberige / blink binnegoed” (bl. 46) praat weer met Sheila Cussons se manjifieke vers oor hierdie “action painter” wat ’n verdere kode word vir die leser. Binnegoed word oopgemaak, uitgegooi, maar met beheer.

“Vir Primo Levi” (bl. 44) is ’n juweel in die opsomming van sy lewe en “die begrafnisstoet van ons agt stil asems in ’n ry” (bl. 51) is ’n aweregse lykdig, maar terselfdertyd ’n besinning oor die digkuns en hoe pynlike ervarings verwoord word (“as ek dit alles laat rym”).

’n Gedig oor ’n moeder (ook grootmoeder) en die herinnering aan hoe die moeder wasgoed gewas het, word eweneens meer as dit: Dit word ’n besinning oor die digterskap, oor moedertaal, oor jou plek van afkoms . . . Die digter is intens bewus hiervan, soos ’n mens by Wallace Stevens vind waar die objek én die besinning daaroor plekke omruil in die gedagtes (“The florist wears knee-breeches”).

’n Verdere belangrike kode of sleutel is die werk van die Russiese rolprentmaker Andrei Tarkofski (wat selfs met ’n posseël vereer is), waar die grense tussen fantasie, dood en werklike belewenis ondersoek word soos in Solaris (1972). “vir ’n digter” (bl. 37) vra vir so ’n “raaklees”. Hierdie assosiatiewe spel word tot sy uiterse gevoer op bladsy 36 waar die leser (via Breytenbach) ’n gat in die lug moet sny.

Gedigte groei organies tot ’n geheel en die intertekste is goed verwerk én weggesteek.

Stad teenoor platteland, eensaamheid teenoor familie-verbondenheid, lewe teenoor dood word in vibrerende verse verwoord.

Die slotvers neem jou terug na die begin: Daar was teenoor daar is.

Verse van die nostalgie sonder om sentimenteel te word. Helder en trefseker verwoord. Dit spreek vanself dat dit ’n beduidende en belangrike debuut is. ’n Gedig (bl. 13):

ouma jy het soggens vroeg die lig
gebreek jou lyf bonkige lyne
die son sku-slaperig geel die kom-
buis het geruik
na worseiers na warm brood onder
my het die groot bed gekraak
terwyl die botter in die pan spring
sissend fluister
die matras het my omvou ek was ­
nege ek was nege
’n donsige kuiken ouma jy met jou
een arm my eenduimouma
het die kombuis laat sing ’n musi-
kant van potte die ketel fluit
ouma die ketel fluit ouma en jy
breek die dag ouma jy breek
die dag en die grond deesdae ses
voet onder en ek is jammer
dat ek die musiek vergeet het ouma
jou bonkige lyf jou een duimhand
’n musikant breek jy die dag oop
soos ’n eier ouma breek


 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)