Showing posts with label Dolf van Niekerk. Show all posts
Showing posts with label Dolf van Niekerk. Show all posts

Friday, November 19, 2021

Resensie | Dolf van Niekerk – Splintertyd | Imprimatur, 2021

Dolf van Niekerk – Splintertyd. Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-94670-4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Dolf van Niekerk se bundel Splintertyd (Imprimatur) is ‘n belangrike bundel in hierdie tydsgewrig gekenmerk deur Angs, Onsekerheid, ‘n volledige nuwe bestaan, wat in Maart verlede jaar aangebreek het. Grendeltyd het, soos ons almal weet, op alle vlakke sy tol geeïs. Mense is ingeperk in hierdie versplinterde tyd en veral digters het skerp gereageer op hierdie inperking. Splinter is immers ook ‘n werkwoord (afsplinter) en die vele assosiasies word deur hierdie titel oopgemaak.

 

Van Niekerk is ‘n gerekende prosateur en digter. Van sy bundels is Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen. En op sy 90ste verjaarsdag verskyn Berigte uit die skemerland ook by Imprimatur.

 

Die digter is ook ‘n filosoof en in sy gedigte vind ons dan sterk besinnings oor die mens se lot:

 

alles keer in siklusse terug,

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was. 

 

(Portrette in my gang, 2015)

 

en in die lewe en die dood

is elkeen uiteindelik alleen

 

Hierdie reëls staan opgeteken in Dolf van Niekerk se bundel Nag op ‘n kaal plein (2006), ‘n gunstelingbundel vir hierdie leser:

 

“Skaduwoord” is ‘n sentrale vers:

 

Skaduwoord 

 

Ek wou liefde onder woorde bring

soos die HAT, nuanses 

van toegeneentheid tot plante, 

diere, mens en God, vibrasies

van die brein en hart. 

Ontsê hiervan sal die mens

iets soos liefde versin

in sy verlange na versoening,

onbewus van tye waar

liefde en haat verstrengel was; 

dors na ’n bries van liefde 

met die laaste onsekerheid 

voor ewigheid. (25)

 

Die dood is ‘n “inwonende aanwesigheid”, skryf die digter, ingeperk ook deur siekte waar reën die suising word van iets anders:

 

Middernagreën

 

Middernagreën, maar dis geen reën.

Dié suising is een bed ver, of is dit my suurstofmaker, ’n drupspoor op my huis se dak in tye van ’n ou normaal, se glo ’n Hoër Hand bepaal die reën.  (31)

 

In die volgende vers word Sartre se die-hel-is-ander-mense aangespreek:

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde, ontspring uit kweekgrond vir hebsug en haat. Waar liefde en waarheid weerstand bied, muteer hy in variante van lewensagterdog, ondergrawing en verdagmaking – tas die siel aan en verban die wese na ewige kwarantyn binne die self. (40)

 

II

Linda Hutcheon & Mario J. Valdés voer ‘n gesprek oor nostalgie, ‘n begrip wat ‘n terugkeer én pyn in sig dra. Ons kan terugkeer na ‘n ruimte, maar tyd kan ons helaas nooit weer terugvind nie. Ons lees:

 

Nostalgia, in fact, may depend precisely on the irrecoverable nature of the past for its emotional impact and appeal. It is the very pastness of the past, its inaccessibility, that likely accounts for a large part of nostalgia's power—for both conservatives and radicals alike. This is rarely the past as actually experienced, of course; it is the past as imagined, as idealized through memory and desire. (Linda Hutcheon & Mario J. Valdés | Irony, Nostalgia, and the Postmodern: A Dialogue | University of TorontoBesoek 21 Oktober 2021)

 

Wanneer ons die verse deur die oë van Hutcheon lees, is die ingeboude ironieë opvallend. Die woord nostalgie beteken sowel ‘n terugkyk as pyn; ‘n geïdealiseerde, opgemaakte wêreld wat aanklop by Van Wyk Louw se Nuwe verse, ‘n bundel met gestroopte verse.

 

Dié nag het nie ure nie

 

Dié nag het nie ure nie, elke uur is nag; oorlewing wankel op die grens van lig en duisternis; uitweg neig na nag terwyl ’n kakofonie suising in die brein begelei van êrens na nêrens, nêrens na êrens waar nag en dag gebore word. (50)

 

In koorsdrome word daar verlang na die Karoo in vele pynlike nagkonserte. Ons onthou:

 

my windharp

sing

in ballingskap

wat sing

my windharp

aan die wilgertak

waar nooit

karoowind waai

 

(Bleek planeet, 2013)

 

Dit is ook ‘n bundel van liminaliteite en oorgange: dag na nag, lewe na dood, siekte en herstel met die poësie wat alles registreer. Die pragtige voorblad – met die handskrif van die digter – is tekenend hiervan. Hierom word alles ‘n “dubbeldag” in ‘n pynlike binnereis.

 

Plato se grot is ook hier aanwesig wat die dubbel-kyk aktiveer.

 

Die digter-as-filosoof dink geweldig na oor die mens se verbintenis met die kosmos en die ewige soeke na sin:

 

Ek vors bestaan en wese na

 

Ek vors bestaan en wese na, die wese van wees in die labirint van ewige dinge; of alles oplaas saamvloei in Is en Is deel is van syn, sinoniem vir die Romein se sistere, omvorm tot eksisteer; staan tussen nou en ewigheid, ’n pendulum in tyd van kosmiese wordingsdrif. (12-13)

 

Die bundel is laatwerk en die gesprek met Elisabeth Eybers is tersaaklik, want daardie digter het oor ouderdom, siekte en die sin-van-die-lewe uitsonderlik goed gedig. Wat véral vir die speurende leser opvallend sal wees, is die self-palinodes en vele gedigte wat terugkeer na bestaande verse in ‘n proses van self-kanonisering.

III

Imprimatur onder die leiding van Martjie Bosman het ‘n belangrike bundel gelewer in hierdie vreemde tyd. Die uitleg en ontwerp van Annemart Swanepoel verdien vermelding.

 

Toeganklik, aangrypend en ‘n belangrike baken in die digter se oeuvre.

 

All nostalgia, then, would be what Davis (25) calls "interpreted nostalgia" wherein an analysis of an experience, however brief or mistaken, comes to be fused with that primary experience and thus alters it, aldus Hutcheon in voetnoot 17. 

 

Dit het my ook teruggeneem na Legkaart van 'n jong lewe (2019), sy herinneringsboek, en my opnuut bewus gemaak hoe digters terugkeer na dieselfde temas en dieper kyk. Die ewige spel tussen onthou en nou …

 

Die digter het nie geswyg nie en hy struikel beslis nie oor sy woorde nie …

 

‘n Klein, kompakte bundel wat uitwaaier na die filosofie, die kosmiese vraagstukke en die dood wat iets alledaags geword het.

 

Bestel by:

Snymanweg 46, Brummeria, Pretoria, 0184 www.imprimatur.co.za

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Monday, April 1, 2019

Resensie | Dolf van Niekerk – Legkaart van 'n jong lewe (2019)

Dolf van Niekerk -Legkaart van 'n jong lewe. Protea, 2019. ISBN: 978-1-4853-1009-9

Resensent: Joan Hambidge

In my jeug was daar so 'n lelike bruin boek in ons dorpsbiblioteek met die titel Herinnering se wei. Dit is 1966 uitgegee. Hoe wonderlik was hierdie jeugherinneringe nie wat my na skrywers se ervarings vervoer het. En my gelei het na hulle boeke.

In 2013 het Leti Kleyn en Riana Scheepers 'n opvolg saamgestel met die uitstekende titel Spoorvat. Nou kom Dolf van Niekerk, 'n gesoute en bedrewe, veelkantige skrywer, en publiseer Legkaart van 'n jong lewe.

Die jeug of herinneringe aan jeugervarings het 'n vormende invloed op 'n skrywer se psige. Die Pools-Joodse psigoanalis Alice Miller meen jy moet 'n pynlike jeug herleef sodat jy dit kan besweer. Die uwe is van mening: dit is nooit te laat om 'n gelukkige jeug oor te hê nie; om die bekende stelling effens aan te pas.

'n Legkaart is 'n puzzle. Party mense (soos skrywers) het eindelose geduld om die verskillende stukkies in mekaar te pas; ander het nie. Hierdie boek gee dan sulke stukkies weer wat 'n mens telkens kan inpas by 'n gedig, jeugverhaal of dramateks.

Van Niekerk is vanjaar 90 en is 'n kenner van en behaal 'n doktorsgraad in die filosofie. Hier is dan dikwels verwysings na Nietzsche, Dostojefski, Van Wyk Louw, en ander denkers. Terselfdertyd word sekere stukkies van 'n legkaart vir die leser gegee uit die beskeie jeug soos 'n kind wat vals beskuldig word van diefstal of per ongeluk 'n suster se pop beskadig. Hierdie sketse het my opnuut na Miller se The drama of the gifted child (1978) teruggeneem.

Hierin beweer sy: “Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood.”

Die voortydige dood van sy moeder, 'n moeilike stiefmoeder, sy andersheid as jong kind, hul armoede, oorloë en ander onsekerhede wat die jong gemoed kwel, word in hierdie onthouskrif onder die loep geneem. Soms neem hy jou na gedigte wat jy nou anders vertolk; ander kere is dit 'n stuk Boeregeskiedenis of die Voortrekkers se manier van doen.  Daar is ook humor.

'n Mens het dus twee stemme tegelykertyd aanwesig. Die onskuldige kind wat deur die wyse en terugkykende (en vergewende) skrywer bekyk word. Van Niekerk is dus outobiografies aan die woord en wat hy nie vertel nie, kan die leser self invul. Of uit sy fiksie byvoeg.

Hy vang 'n vervloë era vas en hierdie leser moedig almal aan om hul herinneringe of memories op te teken sodat niksverlore gaan nie, om met Hennie Aucamp saam te praat.

Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word, meen Van Niekerk. 

Die boek karteer in 48 sketse en essays sy lewensloop van vyf tot twintig jaar. Maar deur die ouer skrywer opgeteken. Die dubbelperspektief van die memoir of herinneringsteks is immers bekend, tegelyk karakter en verteller. Die koshuislewe, die gespook om geld te kry vir studies, die vriendskap met G.A. Watermeyer, die meisie wat 'n blaar pos aan die ouer Dolf, is so helder weergegee dat dit 'n mens altyd sal bybly.

Die betekenis van briewe in “Posjong” is 'n hoogtepunt soos die aanhoor van D.F. Malherbe. Wie kén vandag nog die verskil tussen bo-dorp en onderdorp? Of President Steyn se uitspraak dat die veroweraar se taal van mense slawe maak?

Ons lees hoe die vader gedwing is om uniforms te maak anders verloor hy sy werk.

Smoelneukers, leiwater, vandisiekrale, skotige – begrippe wat 'n ou vergange wêreld aktiveer. Nes byname (Hansie Grootskrik of oom Johnnie Botter-by-die-vis).

Die impak van die Tweede Wêreldoorlog word helder vertel, soos die jong kind se voortdurende blootstelling aan siekte en die dood. Rasverskille kom eweneens aan bod en so gelees, is die boek 'n historiese dokument. Sou kinders byvoorbeeld soveel mog deurmaak vandag?

Edenburg word 'n argetipiese dorp. Hier is die lewendes en dooies en die skrywer se teks bewaar. Hierna keer hy telkens terug.

Memories, reminisensies, mémoire, outobiografie, selfgesprek – dis hoe 'n mens hierdie teks kan tipeer. Hierdie leser sien dit meesal as sketse; soms is daar wel essays.

Die digter praat saam: “Die ou jaar is ’n geliefde, ’n bêreplek vir die smart. En die hartseer oor sy einde is ’n bymekaarkomplek vir al die ander verdriet.” 

Of: “die sterre kry drade om.” Hierdie leser het weer Nag op 'n kaal pleingelees.

Proust het met 'n madeleine-koekie sy assoisiasies losgemaak; Dolf van Niekerk doen dit met 'n kerfie biltong.

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was ...

Die voorblad is aangrypend mooi met die jong, maar terselfdertyd ou, wyse mensie op die voorblad saam met die sibbe.

Mag niks verlore gaan nie en mag almal ouer as sestig hul herinneringe opteken.

Thursday, February 21, 2019

Resensie | Dolf van Niekerk – Berigte uit die skemerland (2019)

Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen.

Sopas, op sy 90ste, verskyn Berigte uit die skemerland by Impramatur! 

Die meeste lesers ken hom waarskynlik vir sy roman Die son struikel uit 1960 wat menige kind op skool moes lees (dalk eerder deurworstel) as voorgekrewe werk. Vir my is hy die digter van die eenvoudige reëls wat jou bybly:


snags boor ek
na die oergesteente
van die Groot Karoo
en elke dagbreek
bid ek droë woorde op  

(Bleek planeet, 2013)

Of hy dig oor die panta rei, of die Karoo, of nadink oor wáár hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk 'n beleë (en onderskatte) digter in ons digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was. 

(Portrette in my gang, 2015)

Hy vermeng filosofie en natuur-waarneming op unieke wyse.  Soms stel hy groot filosowe aan die woord soos Nietzsche of word die massamens via Ortega y Gasset gekritiseer. Die digter is 'n opgeleide filosoof, maar dit oorwoeker nooit sy verse nie.

Wanneer daar ongerymdhede in ons letterkunde plaasvind, is hy immer die stem van rede.

Luister na hierdie video-greep van ’n voorlesing uit Nag op ‘n kaal pleindeur Dolf van Niekerk (Protea Boekhuis, 2006). Dié opname is gemaak tydens Versindaba 2007.

In Berigte uit die skemerland vind die leser 'n terugblik op sy lewe. Daar is verwysings na die Karoo, die verhouding met die vader, natuurverse én besinnings oor die lewe en dood.

Bykans 'n digterlike testament, sou 'n mens kon sê. Van Niekerk is 'n filosoof; hy het 'n doktorsgraad in die filosofie behaal. Verwysings na die filosofie, onder andere na Huizinga, figureer. Daar word nagedink oor die geskiedenis van taal: van "hebban olla vogala" tot Marais – tot waar ons nou met Afrikaans staan ... (29). Van skryf- tot digtaal.

Van die enkeling tot die eise van 'n kollektiewe bestaan, word in hierdie bundel ondersoek. Die tiptol word bekyk, so ook die herfskleure.

Buite die kring
wat van gees nie weet 
– brabbelklanke van die skare
in die roes van skyn
en dors na welvaart en mag – 
sal hy eenkant
van die meer-as-baie staan.

'n Mens kan uiteindelik die bundel benader as een lang gedig met verskillende rusposes in 'n digterlike bestekopname. Bekende Van Niekerk-temas, maar nou die wete dat dit in die lig van die laastelike val ... (Die aarde waarop ek loop wat in 2003 verskyn het, is immers die titel van een van sy outobiografiese vertellings.)

Hierom die stil aanslag; asof die gedigte na binne keer.

Hier is 'n paar verse:

Skemer se geheim ontwyk my steeds –
sal ek dit in die misterie van
my eie doofheid vind?

*

Skelet van ’n gedig:
By die middelpunt van nag
word nag gesplyt
ver van skemer, naby dag – 
bipolêre nag.
Waak ek by boeke
oor syn en wording,
wese en gestalte,
bring middernag ’n vraag:
Is twyfel die vader van glo,
onsekerheid die moeder van dink?
Waak ek op die mure
tussen lig en duisternis,
terwyl ek wag
op iets wat seker is.

*

Seisoene treur oor die aflê van die self,
verlies aan kleur en vrug,
gebind in die vloei van tyd, 
in die kosmos se gang 
waar begin geen einde het,
dag en nag in skemers versoen.
Seisoene daag in die spel van son
en aarde, buite die raamwerk
van kalendermens se kille waan 
om die absolute te definieer,
die onkenbare te ken en tyd 
aan kettings te slaan.

Hy het 'n besondere ryk oeuvre: prosa, poësie, jeugvertellings, outobiografiese sketse en dramas. Oor die intieme aard van die digkuns het Dolf van Niekerk vir jare al 'n beduidende bydrae gelewer.

Skrik kom huis toe (1968) is 'n jeugboek wat my altyd sal bybly.

Om op 90 so 'n bundel te lewer, wil gedoen wees!

Ten slotte, uit Portrette in my gang (2015):

Laaste woord

Bo-aardse wind uit oersee
waai deur my lyf
dat ek deursigtig voor my spieël
vel en pees van jare moet verduur.
Ek soek agter ou oë en ribbekas
nog jeug; wil met albatrosse vlieg
na stormwaters van die gees
en duik in gevaarlike getye
van denke en dade, nou dat
die liggaam so maklik meegee.
Opstand, weerstand tevergeefs,
maar tot die laaste bietjie weet
en asem die lyf verlaat
om na sy oorsprong terug te keer,
sal die gedig nog van onsterflikheid leer.



© Joan Hambidge






Sunday, January 17, 2016

Dolf van Niekerk – Portrette in my gang (2015)


Dolf van Niekerk – Portrette in my gang. Protea Boekhuis, 2015. ISBN 978-1-4853-0230-8 (gedrukte boek) / ISBN 978-1-4853-0231-5 (e-boek) / ISBN 978-1-4853-0482-1 (ePub)

Resensent: Joan Hambidge

Dolf van Niekerk se Nag op ‘n kaal plein (2006) en sy verse oor die Karoo bly állergunstelinge vir hierdie leser.

Op die voorblad van die jongste bundel Portrette in my gang word ‘n afdruk van die moeder, aan wie die bundel opgedra word, weergegee. Daardie portrette van die swygende voorouers wat in die gang van 'n ou huis hang en 'n verlede opvang langs die breede en smalle weg, word hiermee geaktiveer.

Die portretvers is ‘n gedig wat aansluit by die tradisie van die beelddig, ‘n vers wat oor ‘n beroemde of bekende persoon handel. In hierdie bundel word die portret sowel gekoppel aan die intiem-persoonlike, te wete die moederfiguur, en aan beroemdes soos filosowe, skrywers, musici en kunstenaars met 'n hoogtepunt oor Dostojefski (21). Vanselfsprekend is daar ook ‘n slotvers wat “Selfportret” (62) heet: dit wat die digter oor ander skryf, kan ook op hóm van toepassing gemaak word:

Kan die gesig tog sê,
moet ek eers leer wie ek is?
beelde aan die vergetelheid ontruk
vorm, kleur en lyn
aan ‘n enigma gee?

In ‘n gedig soos “nobilis” word die portrettering van Raphael weergegee. Die Mona Lisa is die al-vrou. Michelangelo, Van Gogh, Itzhak Perlman, Domingo, Mehta, o.a. kom aan bod in 'n ryk, geskakeerde bundel wat die stommiteite van die massamens uitdaag via Ortega y Gasset.

Dit is 'n sterk filosofiese bundel wat die “diktators en handeldrywers in die niks – /monsterspruite van geheiligde -ismes” kritiseer (33). Hierdie idee speel in op die werk van bekende Afrikaanse filosowe, Fanie de Beer en Danie Goosen. Die digter self is eweneens bekend vir sy filosofiese werk oor Dostojefski. In die hele bundel is daar 'n spanning te bespeur tussen die filosofie en die digkuns soos uitsonderlik verwoord in “Muse” (34).

“Nagwind”(43) tree in gesprek met Adriaan Roland Holst; “Slaap” parodieer Malherbe, met 'n ironiese wending (49). Klaas Geswind en Die Weduwee Viljee gooi 'n draai in “Langs die see” (57). Van Wyk Louw se halwe kring word voltooi (14). Nietzsche word aan die woord gestel:

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was.  (16)

Hiermee sluit hy aan by die tradisie van intertekste wat nou hoogty vier, maar in die geheel is sy verse modernisties; in hul eie spel afgesluit.

“Wind word winde van veranderinge”, dui op 'n veranderde wêreld waaroor die digter besin (24), 'n gedig wat sterk resoneer met ons huidige geestesklimaat van onrus en protes.

“Mastos”, 'n sentrale vers oor die moederfiguur, wat hy nooit geken het nie, word die basis van die digterskap (18):

Vergulde bronsraam, ovaal.
Gepatineer; agter geboë glas
die bolyf van ’n vrou
in somerbloes, oop voorkop
onder sober swart kapsel;
alkante in kleiner rame
twee kinders, haar skenking
aan die lewe. Voortydig afgesny,
dat sy onbekend vir my moes bly.
Verskyn verbeeld in prosa
en poësie; woorde word gees,
gesig, hande, borste
en oë; oplaas litanieë
vir die onsterflike onvoltooid.

“Oestyd”, 29 handel oor GA Watermeyer wie se digterstalent opgedoek is deur die reklamewêreld, ja, hy wat so aangrypend kon dig oor die liefde se bitter glas en die reën in die voorwinter.

“(D)ie nou se durende verlede” kan as 'n mantra in hierdie bundel gesien word en hoe niks uiteindelik verbygaan nie.

Ook die ekologie kom aan bod (Karoo: “Swartberg”, 30) en Kruie en plante selfs word in 'n portret verewig.

Of hy dig oor die panta rei of die Karoo of nadink oor waar hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk se jongste bundel 'n beleë, waardige toevoeging tot sy oeuvre en tot ons Afrikaanse digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

Daar is hartgrypende verse waarin kruie, die vag van 'n skaap, die reuk van 'n Karoo raak beskryf word. Met 'n vertaling van die Onse Vader uit Aramees via Engels.

Oplaas leer hy van Carl Jung:
Wat jy sien kan jy nie navors nie,
die eintlike gebeure lê diep verborge,
deur almal beleef, deur niemand waargeneem. (“Circa 1933”, 55).

Hierdie úitstekende bundel illustreer 'n fyn balans tussen konkrete beeld en filosofiese idee wat nooit onder blote abstraksies swig nie. Telkens keer 'n mens terug na 'n vers wat met onderstelling werk en met elke herlees iets nuuts verklap.



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)