Showing posts with label Willem Anker. Show all posts
Showing posts with label Willem Anker. Show all posts

Sunday, November 29, 2020

Resensie | Willem Anker – Skepsel | Queillerie, 2020

Willem Anker – SkepselQueillerie, 2020. ISBN 9780795802171

Resensent: Joan Hambidge

 

J. Hillis Miller gebruik die metafoor van reading as eating om die leesproses te verduidelik. Die leesaksie is soos 'n spyskaart met 'n voorgereg, hoofgereg en nagereg. Hoe toepaslik is dit nie op Skepsel deur Willem Anker nie. Die leesproses as 'n stadige maaltyd eerder as kitskos-verorbering.

 

Lanklaas het 'n roman my so gevange gehou in die netwerk van kompleksiteite. 'n Posthuman biohacker wat trou met 'n olietenker.  (Love in the time of sensory overload, lees ons op bladsy 285) afgewissel met Rebecca Maas se versorging van haar sterwende vader in 'n slimhuis en haar ma wat "aanwesig" is in 'n stem. (En haar naam verwys subtiel na Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 van 1965.) In die yswildernis van Svalbard verdwyn 'n navorser se geliefde kollega. Die soektog is pynlik, en wat beteken die beendere in hierdie verhaal?

 

Waarom hou die roman jou gevange as roman? Omdat dit 'n ongelooflik pakkende analise word van die impak van Covid op ons lewens én hoe tegnologie alles dramaties verander het. 

 

Word die mufkol in die badkamer 'n simboliese waarskuwing van die bakterieë en virusse wat 'n lewe van hul eie het en in 2020 ons lewens dramaties ingeperk het? Wat beteken die ietermago alles?

 

Die roman ondersoek die betekenis van taal en identiteit versus gay-identiteite met die aanneem van 'n swart kind. Die betekenis van die abjekte én die obsessie met uitskot is hier aanwesig met die impak van die wetenskap. Besoeke aan en van die buitenissige word 'n verdere moontlikheid van ons somber en deurmekaar bestaan.

 

Patrick Parrinder se studie oor science fiction Science fiction - A critical guide (Methuen, 1980; opgedateer in 2002) bly 'n baken in die literatuurteorie. Vandag se spekulasie is more se werklikheid.

 

Tussen fantasie en werklikheid word die vertelling voortgestu: Svalbard en husky-sleë; biokrakers en die virtuele wêreld. Seks word hier via 'n skerm beleef en datagrepe muteer onverpoos (317).

 

Skepsel tree in gesprek met die films van Tarkofski en veral Solaris verdien 'n herbesoek. Ons lees van Mørketiden en die obsessie met objektum-seksualiteit. Waarom het die navorser weggeraak? Is dit selfmoord weens depressie of skuil daar iets demonies in die ruimte van die beendere?

 

Jy was te laat vir die toekoms, verneem ons op bladsy 109. En die roman dwing jou telkens terug na dieselfde gegewe wat soms herhaal word om iets beter te verstaan. Partenogenese versus transhumanisme. Daar woon 1200 spesies bakterieë in 'n gesonde mens.

 

'n Pynlike liefdesverklaring aan 'n hyskraan wat 'n onbestendige lover is weens 'n nomadiese aard word briljant vertel (114). Is Wikipedia dalk net 'n roman? Wat maak Moby Dick hier? En sal ons volgens die stemanalis dalk Jesus se stem in die bergpredikasie kan hoor? Selfs die bekende gebed word geparodieer. Ovidius se Metamorfose is 'n belangrike wenk nes die verwysing na die tindikeur ... Is dit dalk wat gebeur het met die karakter soekend na beendere? Of is hy deur 'n ruimteskip opgeraap?

 

Daar word baie sleutels gegee: Baudrillard oor hiperrealiteit, die films van Cronenberg, bakteriële kolonisasie en interkonnektiwiteit, J.G. Ballard, Parsami se paleopetrologie, Turing-toetse, woordspeletjies en die Fermi-paradoks (Besoek 27 November 2020).


Boonop is Ingmar Bergman ook hier in sy uitstaande analises van stilte (261). Compassion fatigue is 'n ander belangrike opmerking.

 

Hoe 'n T-hemp vervaardig in Sjina hier beland met 'n haar ingeweef in die kledingstuk. Pynlike sosiale kommentaar oor die uitbuiting van mense wat lang ure werk in 'n uitsiglose bestaan.

 

Hoe sou 'n mens hierdie roman beskryf? Distopies? Sci-fi? Isaac Asimov ontmoet vir Ursula Le Guin? Anker verplaas spekulatiewe fiksie (of paraliteratuur) binne die ruimtes van hoë literatuur weens die behendige samesnoering van temas en motiewe. Verskillende wêrelde word hier saamgeplaas: die primitiewe bestaan van bakterieë en virusse wat nou die wetenskap troef met mutasies.

 

Uiteraard word 9/11 as 'n ervaring in die verandering van ons denke aangestip, nes die pandemie alles nou verander het. Die nuwe metamorfose ...

 

Dit is 'n dieptastende analise van wat ons tans beleef en nog gaan ervaar. Dis 'n roman vir herlees en herbesoek. 'n Hoogtepunt in my leeservaring.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio.)  

Thursday, February 14, 2013

Willem Anker - Siegfried (2007)



Willem Anker. Siegfried. Kwela, 2007.  ISBN 978 079570254 9.

Resensent: Joan Hambidge

Willem Anker het reeds bekendheid verwerf as jong dramaturg met Skroothonde, Sielsiek en Slaghuis – wat met die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater bekroon is in 2006. Sy debuutroman heet Siegfried en is voltooi onder leiding van Marlene van Niekerk aan die Universiteit van Stellenbosch se Kreatiewe Skryfwerk.

Jaco Botha, Tom Dreyer en Nanette van Rooyen, o.a. is weer produkte van die UK onder leiding van Etienne van Heerden. (In Asbesmiddag skryf Van Heerden weer oor die komplekse verhouding tussen mentor en leerling.) Dit sou in die jare wat kom waarskynlik interessant wees om te kyk of daar verskillende “skole” of “style” van skryf ontwikkel.

Anker se roman handel oor ‘n soeke na self. Op die agterblad word die verhouding met die vader reeds aangestip:”Hy is op sy pa se skoot. Hy hoor die perde hardloop in sy borskas. Hy ruik die sweet en die tabak. Sy pa sê perde galop. Sy pa se gesig is bruin…”

Die hele kwessie van oedipalisasie / selfontplooiing staan sentraal in hierdie oeuvre. Op ‘n letterlike storievlak bemoei die outeur hom hiermee, maar ook op ‘n simboliese vlak worstel hy met die vaders in Afrikaans. ‘n Mens sou hierdie roman as ‘n gesprek kon sien met Dolf van Niekerk se Die son struikel en die oeuvre van Etienne Leroux. Die bewussynstroom-tegniek veral so bekend aan Die Mugu.

Dit is ‘n geskakeerde roman wat sowel ‘n Jungiaanse as ‘n Freudiaanse lesing kan opeis. Jung se siening van die ontginning van die self word onder andere as ‘n reis gesien in sy studie oor die tarot. By Freud – en meer spesifiek in sy herinterpretasie van Sofokles se Koning Oedipus – is die verhouding tussen vader en kind gewelddadig en bloedig. Wat agter hierdie mite skuilhou, meen Marjorie Garber in haar insigryke Bisexualities, is Laius se vermeende homoseksuele affiniteit vir die kind van die opposisie-koningshuis. En vrees dat hy ontmasker sal word, laat hom dan na hulp soek by orakel – met die waarskuwing dat sy seun hom sal doodmaak. Hierom gee hy opdrag dat die kind vermoor moet word, maar die skaapwagter, uit jammerte vir die seun, gee hom juis aan daardie vyandige koningshuis. En Oedipus maak dan sy vader per abuis dood op sy terugkeer huis toe.

Hierdie verhaal staan aan die basis van Freudiaanse psigoanalise, ofskoon die skrywers van skisoanalise dit verwerp.

(Een van hul kritieke is dat Freud vir Oedipus vashou binne die familiestruktuur, terwyl hy reeds buite dit staan as ‘n verslaande ou man. Punt bly: hy kan die verbintenisse, naamlik vadermoord en bloedskande, in sy gedagtes nie ontvlug nie.)

Deleuze & Guattari se bekende Anti-Oedipus skeer die gek met hierdie mite. Maar selfs in die parodiëring daarvan, erken dit steeds die bestáán van die mite.

Die roman sou ‘n mens ten beste kon lees in terme van skisoanalise en die teks gee genoegsame aanwysings van ‘n ineenstorting van die subjek. Die nomadiese Siegried se mediese verslae gee ‘n “objektiewe” of buite-waarneming van sy ervaring van die “realiteit”. Daar is verwysings na Borges wat die leser laat besef dat jy tussen vlakke van die fantasie beweeg. ‘n Mens sou ook Wagner kon betrek. Daar is meerminne en drake, ‘n opvoering van Franciskus van Assissi, ‘n reis na New York en ewige bewegings tussen verdigsel en werklikheid. Ons beleef dit deur die blik van ‘n uiters onbetroubare waarnemer wat verskillende plato’s beleef. Assosiasies en ‘n volledige afbreek daarvan. 

Deleuze & Guattari maak die teks ten beste oop as ‘n laterale, assosiatiewe teks verpak vol verwysings en ‘faux’-referensies. Ons beweeg as’t ware binne die labiele gemoedstoestand van die skisoïede hoofkarakter. Die teks se bou is eweneens skisoïed en word selfs katatonies. Die leser moet deur ‘n snelle pas beweeg waar realiteit deur fantasie vervang en ópgehef word.

Dis ‘n roman waarin selfmoord en –vernietiging aan bod kom. Daar is verwysings na kultusfigure en dwelms; ‘n opsetlike banalisering van die seksuele en die beskrywing van liggaamsfunksies bekend aan psigotiese toestande. (Hoe ironies dat Deleuze selfmoord gepleeg het.)

Deleuze & Guattari praat van die begerende masjien en die speelse opmerking, “sê dis Oedipus, of jy kry ‘n klap deur jou gesig”, is ‘n mantra van hierdie benadering wat psigoanalise wil debunk as ‘n geldmaakbedryf o.a.

Die nomaad, die begerende masjien, ewig buite die strukture van aanvaarbaarheid, is aan die basis van hul denke en dit verbeeld Anker.

Deleuze & Guattari meen dat die Oedipus-kompleks soos ‘n labirint funksioneer: jy moet dit weer binnegaan, om te kan uitkom.

Dieselfde geld hierdie roman wat bekende strukture en bewussynstroomtegnieke betree, herbesoek om by iets nuuts uit te kom. Dit het ‘n bepaalde krag (hylé).

Dis nie ‘n roman wat in almal se smaak sal val nie. Dit vra terug- en vorentoe-lees, maar as jy eers die knoop begin ontrafel, is dit ‘n plesierige leeservaring.

Siegried en Smet, sy alter ego, beleef die donkerste dieptes van verval.

Of dalk het hulle nooit bestaan nie?

Daar is volgens die mediese verslae geen aanduiding van substansmisbruik nie, maar volgens hierdie leser ‘n aktiewe verbeelding aan die werk.

Bronne:

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

Gilles, Deleuze & Félix Guattari: Anti-Oedipus. Capitalism and Schizophrenia. The Athlone Press, Londen. 1984. (1972).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]