Showing posts with label Wilma Stockenström. Show all posts
Showing posts with label Wilma Stockenström. Show all posts

Thursday, April 16, 2020

Reisrubriek | Die ietermagô | 2020


Dinsdag 14 April 2020 | Dag 19

Vandag verwyder ek en my buurman die geut wat gevaarlik oorhang. Ons lees dat Frankryk se inperking verleng is tot 15 Mei.

Luide musiek van die oorkantste blok irriteer.

In haar bundel Van vergetelheid en van glans wat in 1978 verskyn het, skryf Wilma Stockenström ‘n gedig wat Freud as Unheimlich of uncanny sou beskryf.

Die puik gedig wat nou ‘n nuwe betekenis kry in die lig van die pandemie wat die aarde getref het, lui so:

Die oorwinning van die ietermagô

Goud die oorwinning van die ietermagô,
geboen tot blits en verweer, en gebal,
so rondomtalie geskub, die wilskrag
teen kwes en die lomp, kantelende val.

Sodat hy blydskap dans teen die dood,
die ietermagô, met snoetjie vooruit
gesteek en stert ‘n roerlose sleep,
‘n swaaiende verset teen tem en buit.

Sodat hy glinsterend ‘n agterpootdans
wiegelend trap en die armpies rek
om die son te gryp in ‘nvreugde
wat deur tot anderkant die jare strek.

Op hierdie meesterlike vers skryf ek ‘n palinode of teensang:

Die oorwinning van die ietermagô

vir Wilma Stockenström

Goud glo die oorwinning van die ietermagô?
Hierdie manis pentadactyla wat jy lof toeswaai
met sy geboende, geskubde lyf, rondomtalie
diehereweet, oor ‘n voleindige, totale aardbol.

Hy dans die dans van die dood vooruit
en sleep ‘n virus saam met sy agterpootdans
wiebelend saam met ander ye wei,
hierdie pangolyn, ‘‘n machocho magogwe:

vir sangomas helaas nie meer ‘n gelukbringer nie;
almal staan nou op hul agterpote oor ‘n ietermagô.

Machocho magogwe is Tswana vir machocho(mier) en magogwe (ratel). Die dier word gekoppel aan swart bygelowe.

En al die bespiegelinge oor wát die beginpunt van die virus was, word herlei na ‘n 
mark in Sjina en die eet van vreemde diergeregte (Jury still out on what species caused coronavirus pandemic outbreak. Besoek 14 April 2020).

Laasnag word Habbakuk gelees. ‘n Spanning tussen ‘n geloofskrisis en uiteindelike aanvaarding van geloof. Die teoloog D.F. O’ Kennedy sien die struktuur soos volg:

1:1 (Opskrif); 1:2-4 (Eerste klag); 1:5-11 (Antwoord van Jahwe); 1:12-17 (Twee­de klag); 2:1-20 (Antwoord van Jahwe); 3:1-19 (Habakuk se gebed).

Hoekom, wil Habbakuk weet, word ongeregtighede nie gestraf nie en gaan Juda onverpoosd voort met hul oortredings? Babilonië sal hulle straf waarop die profeet wil weet: waarom moet mense mekaar straf? Waarop God antwoord dat ook húlle gestraf sal word.

Ten spyte van die beproewinge, sal Habbakuk nogtans jubel.

So klink dit in Die Bybel 3: 17, 18:
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.
*

Dit was natuurlik die titel van ‘n boek met essays in 1977 van Audrey Blignault, ‘n voorste begeleier van boeke. Elize Botha het haar as ‘n voorste essayis beskou.

Twee dinge onthou ek:

* ‘n essay waarin sy skryf oor ‘n vrou wat vra dat sy eendag onderstebo begrawe moet word sodat sy die wêreld só beter sal kan verstaan,

* en haar kundige besprekings van sowel Patrick White as Saul Bellow wat my ‘n lewenslange bewonderaar van beide gemaak het. Elke jaar herlees ek ‘n roman van Bellow. Hierdie jaar sal dit Herzog wees.

Martin Amis beskou hom as die grootste Amerikaanse romanskrywer, ofskoon Vladimir Nabokof verminderend oor hom was. (Bellow is gebore in Kanada, maar Chicago word sy vesting.)

Die briewe tussen hom en Philip Roth, die ander uitstaande Joodse romanskrywer, is ‘n lafenis vir die siel. Vol humor, bitsighede, kruisverwysings en hoe belangrik vriendskap uiteindelik is vir alle mense.

Herzog is die verhaal van Moses E. Herzog wat verbeelde briewe skryf aan bekendes en familie in sy krisistyd. Die roman speel in die sestigerjare af en ondersoek die impak van ‘n egskeiding, sosiale ongelykhede en ‘n middeljare krisis. Sy lewe as skrywer en akademikus is aan’t kwyne. Huwelike is op die rotse; kinders bly by die moeders.

Een vinjet sal hierdie leser altyd bybly: hoe hy as kind seksueel gemolesteer is. Dit word subtiel, uiters subtiel in ‘n terugflits weergegee en eers ‘n paar bladsye later tref dit jou tussen die oë.

Hy het ‘n wye register: die absurde en platvloerse tot slim verwysings. Met ‘n boeiende verhaal.

In een van die romans herinner die verteller hom aan ‘n man wat ‘n hoerhuis besoek. Wanneer hy sy broek aftrek, fluit die gesellin vir hom waarop hy antwoord:

“Madam, I come to bury Caesar, not to praise him.”

En Bellow as verteller onthou dit as ‘n kindergrap en dis juis hierdie mélange van style wat hom so groot maak.

Verskeie kritici lees Herzog as ‘n outobiografiese analise van sy lewe.

Iewers spruit ‘n roman uit eie ervarings en belewenisse, maar word verhef deur plot en struktuur in verhaalvorm. Anders was almal se lewens publiseerbaar.

Maar hierdie nuuskierigheid word juis verder aangewakker deur skrywersonderhoude.

FMR speel. En daar klap mense weer hande. Dis 8 nm.

Hierdie klein ritueel begin nou steurend raak.


Woensdag 15 April 2020 | Dag 20

In die nag ‘n troebel droom: ek verpas ‘n vlug en al my reisgenote het vertrek. Sonder my. Soos dit maar gebeur in hierdie soort onrustige droom word ‘n mens tog weer wakker.

Die dag begin moeilik. Ek wonder wanneer sal ‘n reis na die buiteland my weer beskore wees. Ek onthou hoe ons op ‘n oujaarsaand in 2008 afkyk op mense wat in Hong Kong in gelid beweeg oor die straat - met polisiemanne wat toue oop- en toemaak. ‘n Uiters gedissiplineerde samelewing. Met min ruimte na buite. Daarom is die geboue hoog: heuningkoekgeboue op elke stukkie grond om die maksimum te benut.

Hong Kong

Op ‘n hoogste gebou
in Hong Kong
laat val ek
‘n orgidee
in Hong Kong
op ‘n hoogste gebou
val ‘n orgidee
soos ‘n mens
se soektog na ‘n brandtrap
ná illusies verloor is
soos die blare van ‘n orgidee
een vir een afgepluk
soos op ‘n hoogste gebou
in Hong Kong
(met woonstelblokke
saamgepers nes die blare
van ‘n orgidee)
amper ‘n simbool.

(Uit: Visums by verstek, 2011).

Hoe roep mense nie nou na mekaar nie? Woordeloos en in drome is daar ‘n netwerk van uitreik en kontak.

Hoe moes dit wees om soos Salman Rushdie vir lank in ballingskap te leef tydens die fatwa? Word skryf dan belangriker as publiseer?

*

Die Klaagliedere van Jeremia (יִרְמְיָהוּ) is waar die Groot Boek oopval. Dalk omdat die tydperk van inperking verleng is?

Dit is die 25e boek. Jeremia is een van die groot profete saam met Jesaja, Daniël en Esegiël.

Dit is ‘n teks van klaagsange - in die vorm van liedere wat die lot van die mense betreur wat in ballingskap weggevoer is. Daar is sowel melancholie as hoop in hierdie teks. Jeremia is vervolg en uiteindelik verban na Egipte.

TT Cloete publiseer in Allotroop (1985) die gedig “woordeskat van jeremia en sefanja”.

In 1989 publiseer die einste Cloete ‘n belangrike artikel oor die Afrikaanse poësie en die Bybel: Die Boek wat laaste uitgepak word: Oor die Bybel in die Afrikaanse digkuns.

Hy skryf oor die impak van die Bybel op alle digters, religieus en nie-religieus.

Cloete skryf: “In Van Wyk Louw se “Die swart luiperd” staan daar hierdie pragtige beeld van die wind:

Die eerste nag het ek geween
toe die geel oë na my kyk:
dat al wat Goddelik is, alleen
en magteloos is en rugwaarts wyk,

en in ‘n ou landskap huis
van swart rots en vroeë see
waaroor die magtiger sterre kruis
en die vierstreekse winde vee

Hierdie vierstreekse winde kom uit Jeremia 49: 36, met sy vier winde uit die vier hoeke van die hemelruim:

Ek laat die vier winde
losbreek teen Elam
die winde uit die vier hoeke
van die hemelruim” (10).

Louw se taal is Bybels en sy beeldeskat Bybels, meen Cloete verder.

En dan is daar natuurlik die grootse Cussons waarna Cloete ook verwys:

Christ of the burnt men
(Thomas Merton)

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

Cloete se artikel was oorspronklik ‘n openbare voorlesing van die CB Powell- Bybelsentrum, Universiteit van Suid-Afrika op 4 Julie 1988.

Hoeveel digters gebruik nie bewustelik of onbewustelik verwysings na hierdie boek nie? ‘n Mens lees byvoorbeeld in Breyten Breytenbach geweldig baie verwysings na die Bybel.

Gaan lees gerus Helize van Vuuren se skitterende artikel oor sy laatwerk (“’n Almanak van klippe”/ Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Besoek 16 April 2020).

Beginsel van stof aktiveer immers die bekende gedagte:

Uit stof is jy gemaak en tot stof sal jy terugkeer.

© Joan Hambidge

Monday, August 26, 2013

Wilma Stockenström - Hierdie mens (2013)



Wilma Stockenström. Hierdie mens. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 6373 6.

Resensent: Joan Hambidge

Deur die jare het Wilma Stockenström ‘n belangrike bydrae tot ons digkuns gelewer. Haar gesprekke met NP van Wyk Louw en Peter Blum is opvallend. Sy skryf ‘n gestroopte, intellektuele vers waarin die sintaksis van die gedig tot die maksimum uitgedaag word en die leser geïmponeer word deur ‘n gedig waar geen woord uit plek is nie. Haar verse is dikwels bondig en in haar satiriese verse – waar sy van haar beste werk gelewer het – is die aktrise aan die woord. Sy ontmasker en oordryf; haar leser is dikwels ‘n bysiende, speurende een (soos een van haar titels heet) wat met intellektuele genoegdoening die monsters van ons bestaan beleef. 

Haar Afrika-verse is aanskoulik, soos in Van vergetelheid en van glans (1976) en binne ‘n groter verband van die heelal, word die mens teenoor die klip geplaas, vasgevang in sotternye en selfbedrog. Die leser is dus paleontoloog en die jongste bundel, Hierdie mens, speel in op die klassieke gedig “Ecce Homo”.  Aan die Kaap geskryf (1994) en Spesmase (1999) het hierdie bundel al voorberei: ‘n terugkeer na die self en ‘n afskeid van en besinning oor die lewe. Hierdie bundel is geskryf in die sleutel van laatwerk en die literator Helize van Vuuren se essays oor hierdie onderwerp is tersaaklik vir die lees van hierdie digbundel. In die openingsvers skryf die digter:

Om ’t ewe

Hulle sê terloops my verse is nie singbaar nie.
Hopelik darem onthoubaar ofskoon onverstaanbaar.

Sal ek my steur aan hierdie hulle?
Wat weet hulle van die waarde van prulle?

Geagte leser, dink oor die volgendes.
Skaar u u by die verbolgenes?

Is u verwonderd of bedonderd?
Terloops, dis my om ’t ewe.

Die leser word dus betrek by die skryfproses en die digter is ironies en gedistansieerd oor haar gedigte. Poësie as ‘n waardelose, dog nodige aksie – skouerophalend – word hier aangetref. Ons vind ook ‘n gesprek met ander digters (“Skatpligtig”, 9) waar Celliers, Van Wyk Louw en Ingrid Jonker aan bod kom. “Sic biscuitus desintegrat”, oftewel dis hoe die koekie krummel.

Die verouderde tikmasjien word in ‘n Ode besing. Die troue maat deur dertien dun boekies moes sy weggooi, omdat sy nie ‘n tiklint kon vind vir hom nie.

Lof swaai ek jou toe, beskeie grys obsolete,
jy was draagbaar, toeritsbaar, dierbaar, myne (10).

In ‘n stukkende droom probeer die spreker die legkaarte van die self uitpluis, daardie een gedeelte wat nie gevind kan word nie. Hierdie gedig sluit aan by “Olke bolke” (12) waar die sittendes in die ouetehuis na mekaar kyk – uitgelewer aan ‘n situasie en bewus van die naderende einde. Hierom dan die dood wat in ‘n volgende vers aangespreek word:

Uitnodiging

Daar’s ’n glimlag in sy stem.
Hy sê: kom binne, kom binne,
ons werk nie meer met linne,
dis nou as en beentjies en rook
uit ’n vuur deskundig gestook
maar steeds vir daar doer bestem. (13)

Die ironies-sardoniese spreker maak ‘n grap van die geslag van die dood: hoekom altyd ‘n hy, vra sy. Nog ‘n onderwerp vir Vrouedag hierdie geslagsdiskriminasie, besluit sy in die gedig “Diskriminasie” (14). En die digter vergelyk ‘n gedig met ‘n kat met die gedig wat nie met ‘n kat kan kers vashou nie!

Ag wat kat

Geen gedig loop so lenig soos ’n kat. 
Geen gedig rek hom halfsirkel
en geeneen pronk soos ’n kat nie,

staar intens ’n kamerlengte
ver soos ’n kat nie, en geen gedig, geen,
openbaar kat soos kat kat nie. (27)

Die digter probeer telkens om die heilige onsin in ons dwalinge te ontmasker en hierom word die digproses ‘n ruimte van gestrooptheid. Sy verkies die sigbare, die natuur bó die Onsienlike: “Niks genadiger as die genade van niks” (36).

In “Maankeuse” (44) word digterlike simboliek aan die kaak gestel en dink sy wat sy sou doen as sý die maan was. Die gedig word ‘n ontsnapping van mites en ‘n vooropstelling van ‘n patent van egtheid.

Die slotvers “Daar en hier” (49) staan apart van die ander gedigte. ‘n Afskeid aan haar digkuns? ‘n Bestekopname? ‘n Gedig vir haar geliefde man, die poliglot wat sy bestendig en verewig in hierdie lieflike vers?

Dit is ‘n belangrike en aangrypende bundel wat sterk herinner aan die laatwerk van Elisabeth Eybers: ‘n bestekopname van ‘n lewe en terugspeel op bekende temas in die oeuvre, geskryf in ‘n mineurtoon, maar steeds dwingend, belangrik en imposant weens die tegniese beheer. Spieël van water heet ‘n bundel: inderdaad (in navolging van Lacan) kyk die leser in die gedig as ‘n spieël wat die besinnings van ‘n briljante vrou terugkaats. D.J. Opperman het tereg die enorme talent van hierdie digter raakgesien toe sy by ‘n klein uitgewershuis gedebuteer het. Die res is geskiedenis.

Vir hierdie mens bly net geluid oor
wat vorm soek om in te woon (24).


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Sunday, February 10, 2013

Wilma Stockenström - Die stomme aarde (2007)



Wilma Stockenström. Die stomme aarde. ’n Keur. Human & Rousseau, 2007. ISBN 9780798147484.

Resensent: Joan Hambidge

“Ek maak maar ‘n gedig wat drup-
drup van bewondering, ses keer”

1.

Wanneer ‘n mens die resepsie van die Afrikaanse digkuns noukeurig deurgaan, is die naam van hierdie digteres orals aanwesig. Sy is in die tagtigerjare ‘n aanwesigheid, bykans ‘”geur van die maand”,  saam met Cloete.

Haar Monsterverse het’n hele seminaar ontlok en “Die eland” is waarskynlik die mees geanaliseerde gedig in Afrikaans – naas klassieke van DJO en VWL. En hoe resensente en literatore nie gespook om al die slimmighede in hierdie bundel te ontfutsel nie! Gesiene literatore het verskil van mekaar en daar is ‘n magdom tesisse geskryf oor monsters as ‘n monster / voorbeeld of dier wat jy vrees.

Dit is ‘n digterskap van die intellek, van metarefleksie, van ‘n dekonstruksie van die mens se eiewaan gesien teen die grootsheid van die heelal.

Sy is waarskynlik – weens haar drama-en aktrise-agtergrond – hierom ‘n voorste vertolker van haar eie verse.

Sy is bekroon met die Hertzogprys vir haar bundel Van vergetelheid en van glans in 1977 – ‘n bundel wat Koekie Ziervogel, daardie anonieme kommentator, genoem het: Van vermetelheid en van mans!

Haar tekste is in Engels, Frans, Nederlands, Duits, Italiaans en Hebreeus vertaal en hierdie bundel vra dan ook om saamgelees te word met die uitstekende vertalings van die digter Johann de Lange.

Die stomme aarde is ‘n persoonlike keur en dit is altyd openbarend om te sien  wat ‘n digter kies uit ‘n oeuvre: wat is haar persoonlike gunstelinge. Die geskiedenis van hierdie digterskap is fassinerend. Sy het indertyd Vir die bysiende leser (1970) gepubliseer by Wilhelm Grütter se toenmalige uitgewershuisie, te wete Reijger uitgewers. D.J. Opperman het van die bundel kennis geneem en die res is geskiedenis. As DJO in daardie dae goedkeuring gegee het, was jy “gemaak”.

Brink – ‘n leidende kritikus in die 80er jare – haar van die lewende, aktiewe digters in Afrikaans die grootste genoem. Louise Viljoen verwys na die monumentale plek wat sy vir haarself oopgeskryf het. En na die konkreetheid van die verse asof jy aan hulle kan vat...


II.

‘n Keur, en meer spesifiek, ‘n persoonlike keuse, is altyd  tersaaklik oor presies wat ‘n digter as “goed” in ‘n oeuvre beskou. Wanneer Ted Hughes ‘n seleksie maak van Emily Dickinson, is dit verse buite hom. Hier beskou die digter haarself: is sy outo-kritikus, -keurder, -kanoniseerder.  Die vertolkings van haar verse, wat gebruik maak van ironie en dramatiese wendinge, belig sekere aspekte van haar digkuns.  Sy word as ‘n “moeilike” digter beskou -  ten spyte van vele toeganklike /maklike verse in haar oeuvre. (Al die indrukke tot dusver word gemaak sonder dat die inleiding geraadpleeg is. Ek sal my kanttekeninge later vergelyk met Ronel Foster se opmerkings.)

“Dalk gaan niks verlore nie”- so ‘n keur bestendig ‘n digterskap en binne die nuwe boekklimaat word bundels wat uit druk uit is of dalk nou mag verkoop nie, ‘n nuwe lewe gegee. Lesers wat nie werklik bekend is met haar werk nie, word nou teruggeneem na die belangrikste gedigte en die digkuns-liefhebber vergelyk hierdie keuse met ‘n eie persoonlike seleksie. Hoeveel universiteite doseer haar nog? 

‘n Mens lees hierdie bundel met verbystering oor die ongelooflike taalvernuf: so gepraat van ou woorde en begrippe wat in onbruik geraak het: wat beteken “blasoen” en “bordesse” vir die gewone leser? Of “patogeen”, anomie”, “guds”, “mastodonties”? En die ongelooflike taalbeheer is die sterkste indruk wat hierdie bundel maak waarin die leser geneem word op ‘n afwisseling tussen woede en onthutsing; pyn en melancholie – met dikwels ‘n ongelooflike verdriet en weerloosheid wat deurslaan in die latere verse, soos in die gedig “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” (p. 134), die slotgedig in hierdie bundel en waarskynlik ‘n soort testament van die digter waarin die geskondenheid van die nuwe-Suid-Afrika so voortreflik verwoord word. 

‘n Mens vind veral in die latere werk dat die aanvanklike intellektualisme met ‘n melancholie deurdrenk is – asof die voormalige “monsters van verse” nou ‘n oorrompelende weemoed geword het (p. 132). Hoe dan anders? In Monsterverse, o.a. is die ongeregtigheid uitgewys; nou is daar ‘n nuwe bedeling en ‘n ander monster het sig tuisgemaak.

Hierom is alles “buite belydenis en vergoeding en onmagtig” (p. 131). Talle gedigte getuig van ‘n metarefleksie en verse-oor-die-verskuns waarin die spreker verwonderd staan. In Spesmase  word verse gevind op die lig van die see....(p. 129).


III.

Kodes en temas in die hierdie digkuns:

Die mees opvallende en bykans refeinagtige aspek is die mens se nietigheid binne die kosmos; die mens is ‘n toevallige (melancholiese) oomblik met klippe, rotse, Tafelberg, die natuur wat onversteurd bly voortbestaan. Die aarde gee ook moelik sy geheime prys en slange, paddas,‘n hotnotsgot, lewe ten spyte van die mens se politieke of sosiale drange.
In die vroeër verse is daar satire en spotspraak oor die mens se eiewaan – in die laaste bundel, word die mens weer as weerloos en uitgelewer aan groter magte beskou. Die politieke veranderinge en klmaat word dus so geregistreer: só gelees, lewer die bundel implisiete politieke en sosiale kommentaar. In Monsterverse was dit “wit skrif”en die implisiete paranoïa wat oor alles hang; nou is dit openlike, barbaarse verkragtings, moorde, ensomeer.

‘n Digter herskryf waarskynlik altyd dieselfde temas. Ons vind hier ‘n preokkupasie met verganklikheid en in die laaste bundel is daar die vrees vir mooiskrywery – voorheen was die verse gekomponeer rondom ingewikkelde konstruksies en ‘n sterk Germanistieke aanslag.

Die “isheid” van alles word onder die loep geneem in ‘n digkuns wat afkerig staan teenoor die metafisika en die vervalsings wat ideologie en mites meebring:

Hierdie isheid van sandsteen en graniet (“Vanuit ‘n venster bekyk” uit Spesmase)

Ook taal is nie veilig nie.  Trouens, sy is “buite belydenis en vergoeding en onmagtig” (“Vrou met snoet” uit Spesmase) en  hierom in die slotvers, “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” die volledige onmag om iets deur middel van ‘n gedig te besweer.  Hierdie bundel het teer oomblikke en die gevaar van mooiskrywery is iets waaroor die self-dekonstruerende digter bly tob. 

Daar is in hierdie poëtika altyd sprake van ‘n dubbelloop-aksie, van dig en skepties wees oor die effek van die proses. Daar is dus spotspraak èn deernis. Met ‘n pynlike bewuswees van die verganklikheid van alles. Die aanvanklik ingehoue, verintellektuele digter van o.a. Van vergetelheid en van glans en Monsterverse word in die latere bundels ‘n belydend-openbarende stem.

Die tema van verganklikheid is ‘n deurlopende binding in hierdie oeuvre. Jong mense verwoes ‘n lewe van foto’s in orgie van opruimingsgeweld  – ‘n hele lewe in’n swiepslag verwoes. Dieselfde geld die mens en sy artefakte – uitgelewer aan groter magte. Ronel Foster maak tereg ‘n verwysing na die “raaiselagtige boodskappe” en dat die verse soms bruusk en brutaal opklink. Maar dat dit ‘n verbysterende sublimiteit geteig (p. 15). Ek wil dit tipeer as ‘n digkuns van die primordialiteit wat die metafisika op sy kop keer.

  
IV.

Daar is verruklike verse in hierdie bundel en my gunstelinge is te veel om op te noem.
Die gedigte speel op mekaar in hierdie keur en vergete verse meld sig weer aan. Ironie is waarskynlik ook een van die sterkste kenmerke van hierdie digterskap:

“Pret vir ‘n aand was die leeftyd van ‘n mens”  lui die slot van “Lêer van ‘n leeftyd”.
Skreeusnaaks is haar “Politikus” met sy “volksdit, volksdat, / volksvinger-in-die-hol, volkspêredrol”. Die leser is ‘n bysiende een ja, wat dikwels te staan kom voor ruite, afkaatsings wat weer ‘n Lacaniaanse lesing signifieer. Daar is immers ‘n spieël van water.  Die digkuns skep afstand; die spreker in die gedigte is deurgaans bewus van haar eie af-standelikheid, onthegting wat – as ons Jacques Lacan betrek – dui op die spieëlfase wanneer die “ek” sig self herken (vide o.a die Écrits.) (Dit sou ‘n hele studieveld kon wees vir ‘n jong navorser hierdie obsessie met spieëls en ruite.)

Ook die obsessie met taal en betekenis / stolling maak Lacan eweneens relevant.
Hoe verruklik bly die verse in Van vergetelheid en van glans nie! Die besef dat sy eenmaal ‘n mens was en kon deel aan die vreugdes en pyn van hierdie ‘stomme aarde’ maak van hierdei bundel steeds ‘n hoogtepunt. “Met my wysvingertop” waar daar met teerheid en geduld getrek word, spreek my steeds aan.

“Alles is eers wanneer beskryf”, lees ons op bladsy 116. So is dit, ja.

Wilma Stockenström – soos Peter Blum – het ‘n enorme bydrae gelewer tot die Afrikaanse digkuns. Hulle is nie populêr nie, omdat die persepsie bestaan dat hulle gedigte “moeilik” is.  Hierom verkoop die bundels glo nie. Hierdie keuse sal waarskynlik hierdie mite die nek inslaan. Daar is ingewikkelde verse, maar ook toeganklike gedigte. Mooi  om hul eenvoud, roerend in die menslikheid wat dit openbaar. Van ‘n sardonies-sarkastiese of skeptiese aanslag tot ‘n weemoedige refleksie oor ‘n land se verval.

Van die intellektueel-peinsende verse (soos Monsterverse) tot die laaste bundel waarin ons ‘n weerlose spreker sien: van buitespraak tot binnespraak.

En die oorwegende indruk vir hierdie leser dan, is die verbysterende tegniese beheer. Elke woord is op sy plek. Vorm en inhoud is hier in alle opsigte één.

Johann de Lange se uitmuntende vertalings sal hopelik die bundel aan ‘n groter leespubliek voorstel.

Ek doseer haar tans in my Kreatiewe Skryfwerk-klasse en die reaksie van my studente op haar werk, is uiters positief.


Bron:

Lacan, Jacques: Écrits - A Selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Wilma Stockenström - Abjater wat so lag (2008)



Wilma Stockenström. Abjater wat so lag. Human & Rousseau, 2008. ISBN 0798127740.

Resensent: Joan Hambidge

NB-uitgewers se publikasieprogram rondom die heruitgawe van klassieke romans in Afrikaans moet wyd geloof word. Die jongste een is Abjater wat so lag, die gedugte digter en prosaskrywer Wilma Stockenström se vaartbelynde konfessie. Vir hierdie boek is sy tereg in 1992 bekroon met die Hertzogprys.

Dit is ‘n eerstepersoonvertelling, die verhaal van ‘n wit meisie wat as bediende werk en haar indrukke gee van die wêreld om haar.

Sy is onaansienlik en kom uit ‘n armoedige agtergrond en hierom het sy ‘n bediende geword. Telkens kyk sy na haarself in die blink spieëls van die gepoetste oppervlakte om haar. Sy vertel hoe sy sien en onthou en haar sosiale bestaan maak van haar ‘n outsider: sy is wit, maar ‘n bediende. En in die tyd, ons dink dis so tussen 1945 en 1955, maak dit ‘n bepaalde sosiale stelling.

Verder is sy ‘n doodsbegeleider, ‘n “hospies” in haar eie woorde ‘n vroedvrou van die dood, en sy is dan ook waarnemer van die fase tussen lewe en dood.

Sy lewer kommentaar op hierdie proses, oor hierdie finale reis en sy wil ‘n soort mag hieroor uitoefen.Nie net is sy onaansienlik nie, maar het ‘n donkiestem en in haar konfrontasie met die dood, sing sy vir Abjater – en hy lag. Maar hierdie lag neem hom dan na die dood. Sy neem die begrafnis waar en die troebel verhouding tussen Abjater en sy vrou word vanuit haar perspektief gegee, gebaseer op die skinderstories van die dorp. Om jou dus dood te lag, word hier nuut beskou.

Sy is eenvoudig. Abjater het ‘n diep wond en ‘n letsel aan die siel opgedoen in Abessinië. Volgens haar het hy gereis na die woestyn waar Josef en Maria met die Kindjie Jesus geswerf het. Vir haar was hy in Egipteland waar hy laggend gaan veg het (108). So word die roman dan slim gesitueer binne die WOII en net daarna.
Die verteller is egter naamloos.

Ons sien alles vanuit haar perspektief raak en hierdie is haar binnespraak wat die leser meemaak in die vyfde roman van Stockenström wat oorspronklik in 1991 verskyn het. Die leser word ingetrek in ‘n teks, ‘n stuk vertelling, wat soos ‘n vloed oor jou spoel.

Dit het die kwaliteit van ‘n Virginia Woolf-roman en hierdie is dan die bewussynstroom wat jy al lesende meemaak.

Vir my is dit die hoogtepunt in hierdie outeur se besondere prosa-oeuvre. Meesleurend, intiem, subtiel, pynlik en ‘n roman wat binne die sub-genre van die belydenisliteratuur internasionaal kan meeding.

Die omslag is perfek: van Lien Botha.

Ook hier kan die leser die fantasie gebruik. Is dit selonsrose? Wilde rose? Takke?
Lees dit. Dit is werklik ‘n klassieke teks.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]