Sunday, March 10, 2013

Hennie Aucamp - Hittegolf (2002)



Hennie Aucamp. Hittegolf. Homeros, 2002. ISBN 0 624 04112 3.

Resensent: Joan Hambidge

Hittegolf (wulpse sonnette met ‘n nawoord) bevat ‘n hele aantal uiters bedrewe sonnette van die skrywer Hennie Aucamp. En oor die struktuur van die sonnet het Ronnie Belcher wel deeglik geskryf en ‘n mens sou ook jouself die vraag kon afvra: waarom vind ons soveel ‘gebreekte sonnette’ by digters uit die tagtigerjare?

Wat my eerder interesseer aan hierdie interessante versameling is die gebruik van die voetnoot/verklaring by elke gedig. Hoekom vind ‘n digter dit nodig om inligting by te sit? In L.S. van Leon Strydom word hierdie tegniek vermaaklik uitgebuit: die gedig word verironiseer deur die voetnoot.

Berlin von damals: nóg ‘n fiksie

Maskeer, soos alle skrywers pleeg te doen,
die I.D. van jou oermodel.
Ook Spender speel dié dobbelspel –
en List se naam word blink geboen

tot Lenz, esteet, in sy roman The Temple,
wat met sy foto’s stilweg stempel
die ganse Weimar-kavalkade
voor Sonnenuntergang – und Schade.

Maar Spender – “great big spender’ -
van name, mense en ‘n tyd –
moet jy jong Leavitt dit verwyt,
hom uitroep tot privaatheid-skender,

as hy jou in sý fiksie plaas?
Waarskynlik, ja. Want negatief, helaas.

Dan lui die voetnoot: ”Die eerste weergawe van David Leavitt se boek, While England Sleeps (1993), is onttrek omdat die skrywer en digter, Stephen Spender, hom te ná gekom gevoel het. Beide Spender en Leavitt gebruik foto’s van die beroemde Herbert List as omslae: Spender vir The Temple (1988); Leavitt (saam met Mark Mitchell) vir die bloemlesing The Penguin Book of Gay Short Stories (1994).

Dosente leer studente dat voetnotas nodig is. Dit is om erkenning te gee of om iets te substansieer wat nie in die hoofargument genoem kan word nie, omdat dit ‘n breuk in die argument kan veroorsaak.

In Johann de Lange se Vreemder as fiksie word verhale ook van voetnotas voorsien. In Koos Prinsloo se Weifeling is daar endnotas…

Dit is dan eintlik ‘n ironiese gedig hierdie, want die ‘in’-leser herken hier ook ‘n persoonlike dilemma: naamlik hoé Aucamp destyds moes gevoel het toe Prinsloo sy privaatheid geskend het in ‘n verhaal”Portrait of the artist” (in 1993) en een wat De Lange behendig uitbrei in sy weergawe”A portrait of the artist as a young dog” in die genoemde Vreemder as fiksie (1996).

Mag ‘n mens oor (h)erkenbare figure skryf? Veral as die name nie blink gepoets word nie? Is alle skrywers nie maar wesentlik besig om oor hul eie lewens en ervarings te skryf nie? Is skrywers nie maar besig met ‘n Madame Tussaud van die woord nie?

Of die dramatis personae Spender/Leavitt, Aucamp/Prinsloo, Aucamp/De Lange is, maak nie saak nie. Die gegewe bly identies. Die toneel van die skrywer.

Die skrywer wat ‘n storie sal vertel ongeag die prys wat dit mag inhou.

Elke gedig het ‘n voetnoot of endnoot. Een wat miskien nie altyd bekend is aan buite-lesers nie. Maar die ingeligtes, die twee (liefdes)- of (haat)partye ken dit. Die brose skoonheid van sonnette wat by Petrarca uitval in die oktaaf en sekstet. Verbeelding en werklikheid. Drif en ontnugtering. Alles glo te make dat toe hy Laura op 6 April in 1327 in ‘n kerkie in Avignon gesien het, is hy oorweldig deur die liefde…

Maar as Laura kon praat? Sy wat volgens Norman O. Brown die rede vir die Canzoniere was: die drif agter die gedigte?

Wat sou sy skryf? En dis hierdie intelligente spel wat Aucamp in sy reeks sonnette met die leser speel. Of dit is die agtergrond agter die teks wat hy via ander boeke bekend maak, of dit is ‘n bekende skildery of ets wat langs die sonnet staan gemaak word via ‘n verduideliking of kundige skets.

‘n Gedig soos “Pylvak”(p. 49) vra van die leser navorsing of belesenheid:

Waar begin volwassenheid by ‘n matinee-idool?
As hy ophou om sy hare en brouers te kleur
en jaarliks hom minder aan uitstulpings steur
en meewarig leer kyk na sy stuurse ou voël.

Die rolmodel hier is die filmakteur
wat sy image van vroeër dekonstrueer;
die Fransman Delon – geen spring chicken meer –
speel, wys en ironies, Casanova ontfleur.

Mastroianni is ‘n ander, en Josephson die Sweed,
wat hul ouderdom benut het, en hieruit kon skep
“ronde” karakters, wat jy nooit weer vergeet:
poefters en praalhanse; aftands, verlep;

maar elkeen ‘n mens, en hul oë sein deur,
uit ydel gesigte, ‘n fyn connoisseur.

Anders as die Vlugsout-rubriek en vinnige aforismes op Litnet is hierdie sonnette werklik uitstekend en goed afgewerk. Dit is gedigte wat tot in die fynste vesels afgewerk is en wat tegnies behaag.

Dit bevat ook ‘n kundige nawoord en ‘n flapteks van Johann de Lange wat ons terugneem na Aretino en Brecht se tekste. Aucamp se tekste bevat dikwels insigryke essays wat die leser van onnoembaar belangrike inligting voorsien. En hier is hy bepaald in die kol wanneer hy die skroomvalligheid rondom ruige taalgebruik in die letterkunde bespreek. Tereg wys hy op Krog se boesem-eerlike gedigte; ‘n mens behoort egter ook die baanbrekerswerk van Johann de Lange in Nagsweet te vermeld.

Hier speel Aucamp voortreflik met die struktuur van die Engelse sonnet.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]