Sunday, May 29, 2022
Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022
Wednesday, May 18, 2022
Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022
Pase 2022
Die nag ‘n oorvol asbak
met besoeke van en na
verre plekke, ontmoetings
met vergetenes, vertrekkendes.
Vrese tot die dag breek:
‘n stil gebed soos Eugenio Montale
soekend na die stil punt van die wêreld
nes Eybers in haar winter-surplus.
Daardie Stil punt van die aarde,
soos my vriend dig, nou onmoontlik
met modderrampe en ‘n oorlog
op ons klein en silwerige planeet.
In hierdie concordia discors
onthou ek Pase by my ouers,
my vader se studeerkamer
‘n atlas-van-die-wêreld.
Toe was alles ver en in beheer
met “Vroegherfs” ‘n gebed
vol hoop en verlossing …
Nou smag ons na berusting.
Oggendmeditasie 2
‘n Dooie vlieg langs ‘n skuifspeld
tandestokkie neffens ‘n bril gebreek
laat my opnuut wonder oor jou vraag:
hoe bepaal ons die toon van die gedig?
Amper iets soos in ‘n droom kleurloos
waarin jy verskyn en steeds knieknik?
Iewers tussen hierdie beelde en ritmes
en hortende metrum met weefwerk bekyk
deur Ina Sintaksis en Henning Semantiek
hoor ek jou smalend lag oor die gedig-
as-literatuur-teorie en sien jou wegloop
met dié nikswerd-gedig nes ‘n dooie vlieg.
Die monodie in die Griekse tragedie,
‘n lament, oor die dood van ‘n ander.
George Steiner sou waarskynlik meen
nie sprake van soiets ná die 17e eeu.
Treurend oor jou in ons Ioniese drama:
Creusa versaak Ion en Hermes verklap
alles van Apollo se dade in ‘n grot …
Met ‘n terugkeer word ek dalk Pythia?
Jy verlaat my lank terug en voetspore
in ‘n herinneringsgrot die leidraad:
jou voete loop na ‘n Griekse eiland,
maar ek ontleed οἷα εἶναι δεῖ …
Euripides het dit reeds vertel: verraad
en versaking, immer met ‘n terugkeer
na die plek van skending of verminking:
in my grot van herinnering ‘n trenodie?
Oggendmeditasie 4
Verloor my Mont Blanc-pen, ‘n cadeau
van haar, vind dit op ‘n ander plek gestoor:
met hierdie pen in ‘n kroeg, einste seimste
‘n weddenskap gewen: ein Meisterstück
korrek vertaal, want sy was ‘n Duitse nooi
wat immer lag oor my grammatika-boeke
(hoog opgestapel langs my bed ‘n berg)
met Nachfüllung vir dié pen so woekerend.
En vandat sy weg is, is hierdie pen op stuk
van sake, in kompetisie met ‘n potlood
en skerpmaker, wat ek draai en draai
om die grein van haar stem te ont-hoor.
© Joan Hambidge
Sunday, September 20, 2020
Gedigte | Joan Hambidge - Twee verse | 2020
Die groot Tempel
Jdl
Is jy 'n Sondagdigter?, vra jy
op 'n keer. Neffens die Hanoi-stasie
sonder jou reisend voortvlugtend
tot in die Tempel van Letterkunde Van Mieu
en die Ba Din sq.
By die St. Josef Katedraal
neem ek 'n taxi tot by die Hanoi-stasie
na besoeke aan tempels en museums.
Wanneer begin 'n gedig?
Dalk die aand in die Hanoi-operahuis
'n paar blokke ver van die strafjaart.
Vreemde name en plekke en gewoontes
the making strange of things
beland in my notaboek vir 'n boodskap
aan jou, my toeverlaat en praatpendant.
In die katedraal onthou ek die saamsing
en voorlees uit Die Bybel, 'n geskenk
van my moeder toe geloof gehul
was in voorskrif en bedompigheid
en 'n prediker gevind later
in 'n gasgevulde motor en in my jeug
dikwels die leviete voorgelees
met my vader die beskermheer
bid toe-oog vir ons Sondagmaal
waar die horlosie op die kerktoring
se wysters nou stilstaan
in 'n Sabbat geroep chủ nhật,
chúa nhật soos die ander Sondagdigter
sondig sonderling hom oorgee aan 'n wandeling
in New Haven, Connecticut.
***
Prosopopeia
vir Johan Myburg
By al die meesters
van dié onsigbare bedryf
staan dit opgeteken
dat jy moet buikspreek
jou lyf laat verdwyn
soos 'n ratse koggelmander
met dakpansgewyse skubbe
en skerp punte
vir beskerming soos
'n opgeblase keel om klanke
metries ritmies uit te koggel
om almal net weer lie te maak
te verdwyn in 'n bamboesstok
vir die sluikhandel van versreëls
of snags die huis se stilte
te jukstaponeer of uit 'n verre land
te dig oor die dor verlate land
sonder olywe en veels te min katedrale
wat naby is word ver
selde meer as 'n fragment
wat koggel-koggel uit die vergeetboek
van onthou vergeet
agtervolg deur 'n rotskoggelmander
in die woestyn herinner
aan 'n kleurvolle pantserkoggelkopper
wat in Tanzanië snags onverwags
teen my spring en swart deeltekens
uitspoeg teen die wit muur
swewend tot in hierdie gedig
asof hy beunhaas net vir my