Showing posts with label ‘n Paw-paw vir my darling. Show all posts
Showing posts with label ‘n Paw-paw vir my darling. Show all posts

Saturday, March 2, 2013

Jeanne Goosen - ‘n Paw-paw vir my darling (2002)



Jeanne Goosen. ‘n Paw-paw vir my darling. Kwela, 2002. ISBN 0 7957 0145 4.

Resensent: Joan  Hambidge

Jeanne Goosen het al by verskeie geleenthede die kontoer van die Afrikaanse vertelkuns verander. Om ‘n mens na te boots is so ‘n roman.  Die pragtige Ons is nie almal so nie met sy kindverteller en die feministiese Lou-oond kan aangestip word as besliste bakenverskuiwings in Afrikaans. Haar jongste en wonderlikste roman heet: ‘n Paw-paw vir my darling.

Goosen is bekend om haar sosiale kommentaar en die jongste roman is ‘n bytende satiriese klap in die rigting van die die nuwe Suid-Afrika, die ge-retrenchde Afrikaner wat hom bevind in Damnville. Nie Pretoria se Danville nie, maar Damnville en hierdie klein letter verskuiwings (ook van name) speel ‘n spel van kenbaarheid en herkenbaarheid wat die leser op die beurt laat skater en na die asem snak.

Die sogenaamde ‘vraisemblance’ van die roman word ook op sy kop gekeer: die leser ‘herken’ werklike persone wat dan karikature word in ‘n ‘larger than life’ opstuur van die ruwe Suid-Afrika. Die boek word eenvoudig vertel (die fokalisator is immers ‘n hond!), maar onder draai die duiwels van vernuftige sosiale- en romankommentaar. Dit gooi ‘n ‘paw paw’ in die ‘fan’ van die Afrikaanse roman wat polities-korrek en slim wil wees. Dit kritiseer daardie soort roman wat met sy mitologie ‘n ’aanvaarbare’ werklikheid aan die leser probeer opdring.

Dit probeer nie geleerd-mitologies wees nie; dit is gewoon vlymskerp in die disseksie van morele en sosiale politiek van die post-1994 Suid-Afrika. Alles word daarheen herlei, let die hond tereg op.  En alles en almal wat word aangevat en opgestuur.

Die verhaal word boonop vertel uit die perspektief van die Beeslaers se hond Tsjaka – ‘a free spirit en stud’, in sy eie gedagtes - wat die manewales van Tango du Toit, die Beeslaers, Elvis en Mabeline weergee van agter die wawiel-hek. Verder verdwaal ‘n hondjie uit die Oostelike voorstede van Pretoria, op die koop toe ‘n poedeltjie en so word die wrange klasseverskille uitgewys. Tsjaka se rus word versteur deur Mignon se binnetrede in sy lewe en die wete dat hy net soveel kan vat en nie meer nie…(p. 44).

Rapport se skandaalkultuur en die hele ‘underbelly’ van die kommen Afrikaner word hier raakgesteek met soveel behendigheid en vaart dat dit leser letterlik in een sitting die roman wil deurlees. Dis ‘n ‘no name brand’-roman. Ons leef van Loslyf, Frik du Preez- en Jaap Marais-strate, ‘n Emsie Schoeman-sopkombuis, Lucky Dube, Chicken peri peri, slap tjips en vetkoekstukke, McDonalds, carpet slippers, bunions, taxis,hijackers, Charlise Theron en Felisia Mabusa-Suttle! Ook moesies wat weer ‘n bles laat lewe kry word hier in die mees absurde toneel beskryf. Wat is die naam van die professor wat die poedeltjie kom red? So far and not further!

Natuurlik is een van die pivotale kwessies huismoles en die seun, Elvis se verbintenis met ‘n “Indian cherry”. Daar word ook genderkommentaar gelewer deur Rusty, die middelsuster se gay-verhouding (met ‘n nurse in Vanderbijlpark) en haar buite-egtelike kind wat sy laat afteken het. Die humor hier is uiters wrang: Rusty dra size 13 Grashoppers, ‘n borselkop en werk by Yskor as ‘n hyskraandrywer. As sy ‘n Mini dryf, trap sy aldrie lepels gelyk in!

Dit wil nie akademies wees nie, en die helder, eerlike vertelstyl maak dit eg en suiwer. Daar word baie winde opgebreek oor dié wat dink hulle is “êtie petêtie”; maar ook oor die winde van veranderinge.

My gunstelingkarakter is die skynheilige Soufie wat agteraf ‘n mond vol het oor die ‘darkies’, maar wat hard probeer om aan te pas binne die nuwe Suid-Afrika. Sy probeer almal leer van integrasie en transformasie saam met haar ou man. (En waar gaan sy kerrie kry vir Elvis se meisie as hy haar nie betyds waarsku nie?) ‘n Tweede gil is Girla van Huis Herfsblaar, Soufie se ma. Ook die intrige by die Bles Bridges-konsert rondom die roos, is Goosen-vintage. Die derde gunsteling is ou Huibie Hoëhol!

Afgerond tot in die vesels is hierdie roman. Die boek is geskryf in samewerking met Deborah Steinmair; ‘n waardevolle erkenning aan ‘n medewerker.

Dit is ‘n roman wat klein en dig in aanbod is. Maar die reikwydte is groot. Dit is soos ‘n handgranaat wat land in ‘n wapenfabriek. In die romankuns doen hierdie roman wat P.G. du Plessis se Siener in die suburbs vir die drama in Afrikaans gedoen het.

Damnville en Inflammasieheuwel sal nooit weer dieselfde wees nie. Ook nie Dorothy Parker se stelling wat Tsjaka oorneem nie:”Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.”

En natuurlik het die pawpaw te make met die genesing van hardlywigheid. Wat kan ‘n mens ten slotte sê: Jeanne Goosen jou ou doring?

Dit kan as ‘n antwoord gelees word op Marlene van Niekerk se Triomf.  Daar is ongelooflike momente in Goosen se nuwe roman. Miskien ook omdat sy agter die ligte satiriese hand werklik deernisvolle momente skep: soos die Seuna-toneel, die verdriet rondom Rusty se afgetekende kind, die werklike soeke na erkenning by ‘n Bles Bridges-konsert.

Na my eerse lees, het ek onmiddellik weer begin. Diep onder die indruk van die fyn orkestrasie van elke tema, elke motief.

Jeanne Goosen kan vertel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 8, 2013

Jeanne Goosen - ‘n Paw-paw vir my darling (2006)



Jeanne Goosen: ‘n Paw-paw vir my darlingKwela boeke, 2006. ISBN 0 7967 0241.

Resensent: Joan Hambidge

Elke beroep het sy ingeboude gevare en eise. Die beroepsresensent word uitgeskep as die resensie negatief is; verheerlik as dit positief lui. Met die jare leer jy om die kaf van die koring te skei en jou te troos aan jou oordeel wat ingekleur is deur die oomblik, die modes van die tyd en die letterkundige klimaat. Dikwels keer jy terug na boeke en lees jou eerste indruk – en dit is terloops al wat ‘n resensie behoort te wees – en voel: ek was tog nie verkeerd nie. Of jy kyk terug en dink hoe die tyd verander het en die eerste lesing te postief was. Die goeie resensent is soos ‘n Recce. Jy moet fiks wees en net luister na die opdrag in jouself: is dit ‘n goeie boek en wie is die teikengehoor?

Toe Jeanne Goosen se ‘n Pawpaw vir my darling in 2002 verskyn het, was ek gaande oor die boek. Marlene van Niekerk het ‘n dwarsklap na my uitgedeel omdat ek die boek as te positief ervaar het en ellelange ander satires aangestip wat oortuigender is.

Goosen is ‘n vernuwer in Afrikaans en haar Om ‘n mens na te boots, Ons is nie almal so nie en Lou-oond, om drie seminale tekste uit te sonder, bly hoogtepunte in Afrikaans.

Ook haar weeklikse rubrieke in By stip ‘n aweregse blik aan met satire en swart humor as haar handelsmerk.

In ‘n Pawpaw vir my darling het sy dit weer oor die Afrikaner van die verkeerde-buurt worstelend met die nuwe Suid-Afrika. Om die nuwe Suid-Afrika te verstaan, moet jy natuurlik telkens die oue inbring.

Dit lewer skerp sosiale kommentaar en beweeg verby politieke inkorrektheid in ‘n post 1994-Suid-Afrika.

Tsjaka, die Beeslaers se hond, is die verteller: “’n free spirit en stud” en hilariese (dog hartverskeurende figure) soos Tango du Toit, die Beeslaers, Elvis en Mabeline kom gooi hier in draai in ‘n verhaal vanagter die wa-wiel-hek.

Pretoria.

Pretoria verdeel in sy kommen Weste en ryk Ooste en ‘n verdwaalde poedeltjie, Mignon, versteur die orde.

Loslyf, Frik du Preez- en Jaap Marais-strate, ‘n Emsie Schoeman-sopkombuis, Lucky Dube, slap tjips, chicken peri peri, bunions, Charlise Theron en wie nog.

Elvis het ‘n “cherry” wat Indies is; Rusty het ‘n gay-verhouding met ‘n nurse in Vanderbijlpark.

Hiperbool en stereotiep.

Rusty dra ‘n nommer 13-skoen, werk by Yskor en ry haar mini met ‘n swaar voet.

Girla van Huis Herfsblaar.

‘n Intrige by ‘n Bles Bridges-konsert.

Hierdie roman doen vir die vertelkuns wat P.G. du Plessis se Siener in die suburbs vir die dramakuns in Afrikaans gedoen het, was my oordeel.

En dat dit ‘n soort antwoord wil wees op Van Niekerk se Triomf sonder die outeursmanipulasie en dat ek diep onder die indruk was van die fyn orkestrasie van elke tema en motief. Ek was te midde van lagbuie ook ontroer deur die verdriet rondom Rusty se afgetekende kind en die soeke na erkenning by ‘n Bles Bridges-konsert.

Die leser sal egter self moet besluit of die tyd hierdie boek ingehaal het en of die roman nog so snaaks is.

Is die patos steeds daar?

Of word satire se tande ongelukkig deur die tyd getrek?

Is dit steeds snaaks om die spel met “pawpaw” – Pretoria-Oos Afrikaners se uitspraak van pa en Wôterkloof aan te hoor?

Overgesetsynde: as ‘n Seder val in Waterkloof vandag weer opgevoer word, sal dit dieselfde trefkrag hê as indertyd? Of is baie van die grappe nou erg gedateer?

Damnville (nie Dannville nie) wil alreeds ‘n verwringing van die werklikheid aanstip en dat ons hier iets oordrewe en sat gaan aantref.

Jeanne Goosen kan vertel. Dis nou maar wors.

Haar blik op vernaamdoenery is ‘n handelsmerk net soos die gebruik van platwoorde (Huibie Hoëhol) en die verwringing van bekendes se name (die arme Lina Spies!).

Een van my kollegas weier om ‘n eerste goeie leeservaring te bederf. “Nee,” meen hy. So ‘n boek moet jy onthou nes dit was. Dis amper soos om ‘n skoolre-unie by te woon. Die teleurstelling is net te groot!”

Die hou op die maag is egter minder fel. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]