Showing posts with label Carapace Poets. Show all posts
Showing posts with label Carapace Poets. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Patrick Cullinan - Transformations (1999)



Patrick Cullinan. Transformations. Carapace poets, 1999. ISBN 1 874923 47 7.

Resensent: Joan Hambidge

Met onverdrote ywer verskyn daar Engelse digbundels by die Snailpress. Carapace, 'n afdeling van die uitgewery, het sopas Patrick Cullinan se Transformations uitgegee. Vir my gevoel word daar dikwels te veel digters gepubliseer en 'n mens voel dat daar meer van 'n kritiese siftingsproses behoort te wees.

Maar tussen die vele eendagsvliegies van die Engels Suid-Afrikaanse poësie is daar Douglas Livingstone, Stephen Watson, Douglas Reid Skinner, Ingrid de Kock en Patrick Cullinan, om 'n paar sterre uit te sonder. As 'n mens egter na Leon de Kock en Ian Tromp se Penguin-uitgawe van ons Ingelse digters hier te lande kyk, dan lyk die span maar bloedloos. En dat daardie uitgawe as 'n represenstasie van ons digkuns voorgehou word, moet beslis nog aangespreek word. Te veel is gemaak van sosiale tematiek en te min van tegniek.

(As u mooi luister, kan u die wenkbroue hoor lig by Faber & Faber. Goddank Eliot is dít gespaar.)

Transformations is geen groot bundel nie, maar dit bevat 'n handvol gevoelig en ontroerend mooi verse.  Ook begin die bundel met 'n lykdig en spreek die grootste proses van transformasie aan, te wete die dood. Met min woorde word die dood van 'n geliefde persoon opgesom.

By Cullinan is daar 'n lewenswysheid wat in 'n gedig soos “Love and war” wat 'n mens om die wysheid sal onthou:

And to my friends I send
a blessing:
The shock of second sight.

But to enemies I reserve
truth absolute,
implacable light.

In love and war
you have to be fair:
serve both right.

'n Gedig soos “The construct” is 'n fraaie ars poetica. Die digter ken sy beperkinge, maar tog moet hy steeds sy gevoelens verwoord.

Soos dit 'n digter betaam wat krities met sy bedryf omgaan, is daar dikwels verse wat die cliché ontmasker of die ooreiste beeld weer nuut maak, soos in “One night”.

Die bundel bevat ook vertalings en verwerkings van Eugenio Montale wat in Afrikaans pragtig deur Rosa Nepgen vertaal is as Die geel van suurlemoene skyn(Tafelberg Uitgewers, 1979). “Memory” is onder meer 'n vers wat 'n mens tussen die oë tref.

Die digter is al dikwels vir sy poësie bekroon. Dit is poësie wat bly krap, 'n mens steur en weer laat terugblaai.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Don Maclennan - Notes from a Rhenish Mission (2001)



Don Maclennan. Notes from a Rhenish Mission. Carapace, 2001. ISBN 1874923558.

Resensent: Joan Hambidge

Die bundel begin met die bekende aanhaling van Lawrence Durrell:”Far off events, transformed by memory, acquire a burnished brilliance because they are seen in isolation, divorced form the details of before and after, the fibres and wrappings of time”. Durrell het hier ook die gedig in gedagte gehad: die stollingsvermoë van die egte gedig.

Helaas, helaas is dit hier waar die epifaniese moment eindig. In Don Maclennan se bundel bly die vers dikwels net stelling en mis dit daardie inbeweeg in die “burnished brilliance” waarvan hy via die motto praat.

In vers 10:
Without myths the world is empty.
I smell the Mission garden
dug black and loamy after rain.
Is there no entry, then, for me? (p. 11)

In nommer 16:

To what do we aspire?
Do hyacinths know their fragrance,
or clouds the colour the acquire?

Is dit 'n gedig? Of bly dit blote stelling?

Gedig nommer 27 wil-wil 'n vers begin, maar die gedigte laat die indruk by die leser van indrukke wat nog nie werklik getransformeer is tot gedigte nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Lynne Bryer - The cancer years (1999)



Lynne Bryer. The cancer years. Carapace poets, 1999. ISBN 1 874923 48 5.

Resensent: Joan Hambidge

The cancer years van Lynne Bryer karteer die pynlike afskeidsproses van 'n vrou, en meer spesifiek, 'n digter wat weet sy het borskanker. Die bundel is pas voor haar dood vir haar vriendin Hilary Reynolds gegee en die volgorde van die gedigte is deur die uitgewer gehuldig.

Nou is dit so dat die skryf van poësie sterk aan die chora of die baarmoeder gekoppel is in Julia Kristeva se terme. Die taal van die digkuns gaan dus terug in hierdie primordiale bestaan en wanneer 'n digter skryf, verwag die leser dat hierdie aspek ontgin sal word.

Dit is egter jammer dat hierdie gedigte 'n serebrale indruk maak en dat 'n mens dikwels iets bloedigs in hul mis. Die gedigte is, om dit skerp te stel, is te veel met die kop en te min met die hart geskryf. Waar is die guts van byvoorbeeld Ernst van Heerden se aandoenlike gedigte oor amputasie? Of Antjie Krog se onthutsende gedigte oor geboorte en aborsie?

Dit is jammer dat die spesifiek-vroulike domein hier na genoegsaam ontgin word nie. Dit is een van die bundels wat waarskynlik gepubliseer is omdat die vriende (en die uitgewer) nie genoegsame kritiese afstand oor die bundel had nie. Die digter is ondertussen oorlede en die bundel oortuig die kritiese leser nie werklik nie.

Die argumentum ad misericordiam kan nogal neuk en die oordeel aantas. Ook is die vele gedigte vir geliefdes en familie geskryf. Maar dit word nooit 'n vers wat buite die persoonlike kring uitstaan nie. Hoeveel van die gedigte sou byvoorbeeld die paal gehaal het as dit nie vir die persoonlike geskiedenis was nie?

Te veel verse laat die leser teruglees en wonder: wat nou? Of, 'n mens besef jy het die skelet van iets wat vers kon word.

At the night door vra tereg waarom moet die digteres sterf? Maar die vers kom nie verby die neulerige, die cliché-agtige nie.

I stand at the door and wonder
why it is I have to die
Oh I know I am confusing 'I's'
and it is only the body that goed.
But the I of consciousness
the eye of bliss, is so accustomed
to dwelling here. Will I still
recognise myself? (tweede strofe)

Verkapte prosa paradeer as versreëls en 'n mens kan hierdie gedigte maar net neffens die wansinnige gedigte van Anne Sexton en Sylvia Plath sit om te besef hoe 'n mens werklik die dood kán aanspreek. Sexton en Plath se endogene depressies het aanleiding gegee tot die woedendste en mees beeldende poësie. Te veel in The cancer years word nooit beeld nie. Die gedigte hou 'n mens buite, wyl 'n leeservaring van genoemde digteresse 'n mens steur en tot onrus stem.

Die digbundel gee interessante voorbeelde van die verskillende fases wat Elizabeth Kübler-Ross aangeteken het wanneer 'n mens met jou eie dood gekonfronteer word, maar dit spyt my die digteres se vertrek na die ander oord ten spyt, dat dit as gedigte nie oortuig nie.

The universe, our mother,
says: Be not afraid.
Be not afraid of me.
For I am you
and you are me.
Be gentle.
Be. (p. 40)

Saam met Roy Campbell: waar o waar is die bloederige perd?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, March 15, 2013

Isobel Dixon - Weather eye (2001)



Isobel Dixon. Weather eye. Carapace poets, 2001. ISBN 1 874923 56 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die nostalgie is waarskynlik een van die belangrikste stylkenmerke van die digkuns. N.P. van Wyk Louw, Yeats, Auden is van die voorste beoefenaars van die nostalgie en in Isobel Dixon se debuut Weather eye, wat bekroon is met die Sanlam Letterkundige prys, vind 'n mens die nostalgie as 'n soort  refrein terug in bykans elke vers.

Die digter woon in Cambridge en haar verse roep 'n vergange jeug op. Tristia is geskryf tydens Louw se verblyf in Amsterdam en in Nuwe verse reeds vind 'n mens die blik terug op die jeug en ongeskonde landskap. Die digter romantiseer waarskynlik altyd die jeug soos ons dan ook lees in Dixon se openings- of programvers: dit was nie noodwendig 'n maklike jeug nie. Maar juis omdat die ouer digter terugkyk na die ouers, oor wie daar dikwels ambivalente gevoelens gekoester word, vind sy in hierdie vers 'n versoening met die jeug, die landskap en natuurlik ook die sosiale kodes van die tyd.

Dit is hierdie terugkyk wat Freud tereg as die "Besetzung" in die onbewuste beskryf het: juis dit wat die spreker maak wat sy is.

Ook die "weather eye" suggereer alreeds die veranderlike blik. Die kind versus die volwassene se interpretasie van sake. ('n Mens hoor ook die Afrikaanse woord verweerde inspeel.)

In die openingsgedig word daar dan ook verlang na die tyd toe alles gereguleer en op sy plek was. In "Fruit of the land" artikuleer sy al die elemente van die nostalgiese vers: die hier versus die daar en hoe iets sintuigliks 'n verlore lewe kan oproep:

 each small explosion in the mouth
the precious milk and honey of nostalgia

(p. 11).

In die lieflike "Plenty" (p. 13) werk sy hierdie verbande ook uit. Die afgetelde, suinige jeug waarin "each month was weeks too long" (p.13) geplaas word teenoor die sibaritiese hede. In die epifaniese gedig "Rapture"(p. 16) word die metafisiese in oënskou geneem en in "Nightwards"(p. 17) word die vertrek na die huis - met al sy vrese en gewaarwordinge - goed vasgevang.

"Four things on earth" (p. 19) artikuleer die effek wat gekko's op haar lewe. Die gekko's is volgens die Jungiaanse denkwyse 'n simbool van kreatiwiteit en in hierdie gedig word die implikasies goed beskryf. Ook die kiewietjie se spel met die melancholie word uitstekend verbeeld.

In die haikoe-agtige "valentine" (p. 27) beskryf sy die meer private emosie:

sweet fallacy the heart
this heaving muscle glistens darkly
something like a toad

Waarskynlik kan 'n mens in die skerp "Housewifery" (p. 30) die digter op haar beste sien. daar is 'n speelse verwysing na spiritualiteit, maar terselfdertyd word die samehang tussen alles beskryf en besing. Die gedig verironiseer die gegewe ('n yskas wat Om!), bely dat daar geen spiritualiteit in haar huis is nie, maar tog word die leser aan iets anders voorgestel. 'n Geval waar die gedig sy eie loop neem onder die digter se beheer uit.

Die bundel begin met 'n bestekopname van Afrika en sluit daarmee af - oor biddae vir reën, geweld, hongersnood, verkragting. "Back in the Benighted Kingdom" (p. 44) sien muskietbyte as liefdesbyte van 'n kontinent!

'n Mens lees selde 'n bundel waarin daar net afgeronde verse staan. Isobel Dixon se versameling getuig van vakmanskap en 'n eie stem. Ons vind hier 'n ryk debuut waarin die invloede goed verhul is. Dit is tereg bekroon met 'n letterkundige prys.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]