Showing posts with label Dante Alighieri. Show all posts
Showing posts with label Dante Alighieri. Show all posts

Monday, March 25, 2013

Dante Alighieri - Purgatorium (Afrikaanse vertaling deur Delamaine du Toit) (1998)



Dante Alighieri. Purgatorium. (Afrikaanse vertaling en kommentaar deur Delamaine du Toit). 1988. ISBN 0 620 22459 1.

Resensent: Joan Hambidge

Vir sy monnikewerk, 'n vertaling van die Inferno, het Delamaine du Toit tereg die Akademie-prys in 1993 vir Vertaalde Werk ontvang. Nou verskyn die tweede gedeelte (met kommentaar), te wete die Purgatorium.

'n Mens kan dit as 'n aanklag beskou teen ons uitgewershuise dat die outeur sélf hierdie boeke moes publiseer, maar godesydank, is dit vir die leser van klassieke tekste beskikbaar!

'n Mens kan geen letterkunde sonder sy klassieke beskou nie. Anders is 'n mens soos 'n lobotomie-lyer en selfs in vertaling is 'n kennis van 'n belangrike werk onmisbaar vir die leser. As jong student het ek die Penguin-edisies (oorspronklik 1955) van Dorothy L. Sayers verslind.

Nou kerm kenners dikwels oor vertalings. Maar: as dit nie vir D.M. Thomas was nie kon ons nie belangrike Russiese digters ken nie en Uys Krige het die Suid-Amerikaanse en Spaanse landskap vir ons oopgemaak met sy besonderse rendisies. Nou is daar kenners wat mor sy Lorca is te stroef en groot Russiese literatore het ookal vir Thomas gestriem. Tog is Uys Krige se vertalings nou onlangs in Time vermeld as 'n voorbeeld van hoe ver Lorca al oor hierdie planeet gereis het.

Vertalings is verraaiers, is die refrein wat mense tot vervelens toe aanhaal. Nee, vertalings is paspoorte tot 'n vreemde taal en kultuur en binne hierdie konteks moet 'n mens altyd die werk evalueer. 

Nou weet ons dat Ms. Sayers 'n digter in eie reg was (sy het twee digbundels gepubliseer en ook die Rolandslied vertaal). Du Toit pretendeer nie om digter te wees nie, eerder kultuur-imbongi.

Nou is dit ook algemeen bekend dat Dante die terza rima vernuftig kon hanteer. so begin die Purgatorium:

Wanneer die spel met dobbelstene tot 'n einde kom,
bly hy wat verloor hartseer agter,
herhaal sy gooie en leer droefgeestig sy les.

In die Italiaans:

Quando si parte il gioco de la zara,
colui che perde si riman dolente,
repetendo le volte, e tristo impara;

In die tweede strofe gaan Dante natuurlik verder, wanneer 'dolente' rym met 'gente' en 'mente'.

Du Toit se vertaling mis dus die kompakte poëtika van Dante. Sy tweede strofe lees prosaïes:

Met die ander gaan al die mense weg;
een loop voor, 'n ander trek hom van agter,
en die een aan sy sy vra dat hy hom moet onthou.  (p. 99)

Kyk ook na # 37:

want die hoogste geregtigheid word nie geskaad
omdat die vuur van liefde in een oomblik
die skuld kan vrykoop van hulle wat hier vertoef nie. (p. 101)

Dikwels voel 'n mens: die idee is daar, maar die korset moet stywer getrek word.

Die wins van hierdie vertaling is wel dat dit Afrikaanse lesers nou die geleentheid gee om die storie in Afrikaans te volg. Dit is jammer dat moderne lesers nie meer klassieke tekste lees nie, en, dit is nog méér ontstellend dat Italiaans al hoe minder aandag trek aan Suid-Afrikaanse universiteite, gegee die ryk skat van Italiaanse tekste.

Terwyl ek hierdie resensie skryf, het ek weer gekyk na Mevrou Rosa Nepgen, weduwee van die digter W.E.G. Louw se vertaling van Eugenio Montale se Die geel van suurlemoene skyn (Tafelberg Uitgewers, 1979). Haar uitmuntende verdigtings mag nooit vergeet word nie, net soos Uys Krige se Spaanse dans (Perskor, 1991) jaarliks op my voorgeskrewe lys staan om studente bewus te maak van die belangrike landskap van die Mediterreense poësie.

Maar dit is Dante wat die basis bly van ons sieninge en projeksies van die hiernamaals èn die digkuns. 

Die boeke is 'n bonus: vertaling plus kommentaar.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, March 8, 2013

Dante Alighieri - Die Paradys (Afrikaanse vertaling en kommentaar deur Delamaine du Toit) (2002)



Dante Alighieri. Die Paradys. (Italiaanse teks met Afrikaanse vertaling en kommentaar deur Delamaine du Toit). Zebra, 2002. ISBN 0 9583144 4 6.

Resensent: Joan Hambidge

Daar bestaan vele vertalings en herdigtings van Dante. ‘n Mens dink byvoorbeeld aan Robert Pinsky se magistrale Inferno en in essays en boeke oor die Westerse kanon word hy telkens geloof as ‘n baken in die Westerse letterkunde. Hier is Harold Bloom ook tersaaklik in sy studie The Western Canon.

In Afrikaans is daar Dante-vertalings en herdigtigings van Rosa Nepgen en Delamaine du Toit. Die Paradys, het pas verskyn. Die verklarende aantekeninge is vir die toegewyde leser uiters waardevol.

Die vertaling word vergesel van die oorspronklike teks sodat die leser as’t ware vergelykenderwys kan lees.

Du Toit is nie ‘n digter nie en sy vertalings is dus nie in Pinsky se klas nie. Hy maak egter goeie vertalings vir die leser en daar is eweneens opsommings wat die leser rig om die teks te verstaan.

Hy bedank eweneens die digter Daniel Hugo tereg in sy voorwoord vir die hulp met die lees en nasien van die teks. Dit is goed as die onsigbare hand ook sigbaar gemaak word.

Du Toit verskaf waardevolle inligting vir die belangstellende en hierdie soort studie, soos Stuart Gilbert se rigtingwyser by Joyce se Ulysses, is goud werd.

Veral sy kommentaar oor die allegroie en die topopgrafie van die teks is insigryk. En die verwysing na die trone in die vorm van ‘n enorme roos.

Dit kos R150 en kan bestel word by:

Dr DAH du Toit
Ocean View Rylaan 327
Fresnaye 8005
Telefoon: 021 434 7365

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]