Showing posts with label Elisabeth Eybers. Show all posts
Showing posts with label Elisabeth Eybers. Show all posts

Saturday, December 9, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Elisabeth Eybers: Pegasus (2017)



Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,
boetseer die ritme van jou vaart ...
Elisabeth Eybers: 'Amasone'

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer;
dit wis jy met afstand en ironie as selfbevestiging.
In die verte tot woordimmigrant gepromoveer,
ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding.
Uitermate, uitgedien is elke digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?


© Joan Hambidge

Thursday, February 26, 2015

Eybers 100

Eybers 100

Puntdigte:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:
afgeweeg simmetries 'n gedig.

 (uit Matriks, 2015)

So dig ek in 'n reeks puntdigte oor Eybers, ‘n digter wat ek op vele maniere aanspreek in my digkuns. Ek sonder haar uit as een van my drie mentors in ‘n gedig in Meditasies (2014). Sy was (is) meer as ‘n vroulike aanvulling; sy is die grootste beoefenaar van die sonnet en die distigon in Afrikaans en haar vermoë om helder en suggestieryk te dig, verdien vermelding.

As jong kind het ek die gedigte van Eybers gelees en dit het ‘n blywende indruk op my gemoed gelaat. Haar gebruik van die mitologie in haar gedigte is eweneens indrukwekkend.

My gunsteling Eybers-gedig is "Navrae:

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur
twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig
om jou oor die vervaldatum in te lig
van daardie individueler hel?

(Balans, 1962).

Die fyn beheer van ironie en altyd met 'n skeutjie wrangheid, dit is Eybers. Met haar gedig "Digteres as huisvrou" het ek al telkemale in gesprek getree. En ‘n digter se grootheid word immers gemeet aan die palinodes, teensange en parodieë wat dit ontlok.

Digteres as huisvrou

vir Elisabeth Eybers

Altyd ‘n Mr Delivery-boks teen die muur,
nooit ‘n optelslet op die onvanpaste uur.

Agenda/memoranda-dae waardeer sy gatvol,
moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar
(‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy verwoed werk,
haastig beweeg van spertyd tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:
laat haar maar parodies dig! 


Langs my bed staan die versamelde gedigte van Opperman en Eybers. En Louw se Tristia.

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)


Monday, February 25, 2013

Elisabeth Eybers - Valreep / Stirrup-cup (2005)



Elisabeth Eybers. Valreep / Stirrup-cupHuman & Rousseau, 2005. ISBN 07981 44866.

Resensent: Joan Hambidge

“My vader was die dominee, my moeder vlees en bloed.” So het Eybers die spanning tussen die vader en moeder, ook tussen die twee tale, Afrikaans en Engels opgesom. In haar jongste bundel, Valreep/Stirrup-cup, kry die leser weer ‘n dubbelblik wanneer die digter vir ons die vers in twee tale weergee. Sy het reeds in Verbruikersverse/Consumer’s verse (1997) en Winter-surplus (1999) die leser verruk met haar dubbel-blik.

Hier het ons vintage Eybers: ironie, keurige woordgebruik, vormbeheer en lewenswysheid. Sy bly ‘n grande dame van ons digkuns en om op negentig wat nog so te kan dig, is met een woord verstommend. Sy skryf ‘n vers wat gepuur, dus suiwer is. Dit is gedigte wat met bykanse distansie aangebied word, maar juis hierom tref die pyn of ‘n gevoel die leser met groter skerpheid. Die afgestorwe seun, Bert, word soos volg waargeneem:

 Vir Bert

Noudat jy swyg is daar niks meer
vir my om ooit nog te begeer
buiten die tydstip waarop ek
dieselfde stilte mag bereik.

In die Engelse weergawe klink dit so:

Now that you’re mute there’s nothing more
that I could still be hankering for
except the freedom to abstain,
like you, from uttering words again.


Aan ‘n anonieme vriend

Ag, jy wat my plotseling so saligmakend verdoem,
Neem my nie kwalik nie dat ek jou naam nie eens noem.


To an anonymous friend

You, who suddenly heaps on me such beatific blame
do not take it amiss that I don’t even mention your name.

Die gebruik van twee tale illustreer ‘n behendigheid. Die twee gedigte, wat naas mekaar geplaas word, kry so gelees nuwe betekenisse, word herlaai met implikasies. Dus ‘n soort intratekstualiteit waarin die leser bewus bly van die feit dat ‘n geslaagde gedig uiteindelik te make het die digterlike vermoë om deur woorde iets raak te vat. Nie in enige woorde nie, maar in woorde wat daardie onderwerp skerp en finaal kan beskryf. Eybers het ‘n reeks gedigte geskryf waarin sy bewys gelewer het van hierdie uitsonderlike talent om ‘n netjies afgewerkte gedig te skryf waarin geen woord of beeld uit plek is nie en die leser as’t ware verbyster staan voor die balans tussen waarneming en beskrywing.

Ook is dit duidelik dat dit nie presies dieselfde vers is nie. Dit is as’t ware ‘n ander digter aan die woord. ‘n Engelse Eybers. ‘n Mens kry dieselfde spel onder meer by Brink wanneer hy sy eie tekste vertaal. Dit word herskrywings.

Herdigtings dus by Eybers.

Dit sien ‘n mens onder meer by die vers “Pyn”:

Pyn, met grimasse, met dierlike klanke,
Kan sterker dan wat ook jou wese versteur
En tog is jou egtheid juis daaraan te danke
En word pyn byna nooit uitermate betreur.

Die Eybers-ironie word opgevang in iets anders. Iets wrangers dalk, maar beslis nie so skerp-ironies as wat ons gewoond is nie:

Pain

Although pain with wry faces, with animal sounds,
Is irrefutable apt to reveal
Some derangement, regret for it stays within bounds:
There is nothing like pain to confirm that you’re real.

Uiteindelik is die grootste obsessie in hierdie digterskap dan uiteindelik die digkuns waarin sy die binariteite van haar ganske bestaan saamvat: die opposisie tussen hier en daar, Amsterdam en SA, jeug en ouderdom, lewe en dood. In bykans elke Eybers vers is die leser bewus van hierdie spanning waarom die verse sentreer, draai.

Human & Rousseau moet gelukgewens word met hierdie keurige uitgawe. Ofskoon dit nie ‘n hoogtepunt in haar oeuvre is nie (dit was Balans waarskynlik!), is dit steeds ‘n bundel wat vir elke leser van die Afrikaanse poësie bewys dat die Afrikaans digkuns nog lank nie uitgestorwe is nie. Een van ons belangrikste digters neem nog deel aan die ‘gesprek’ en tereg is haar Versamelde gedigte ook nou onlangs heruitgegee.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]