Showing posts with label Daniel Hugo. Show all posts
Showing posts with label Daniel Hugo. Show all posts

Sunday, January 14, 2024

Resensie | Daniel Hugo (red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging | Naledi, 2023

Daniel Hugo (Red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging. Naledi, 2023. ISBN 9781 991 256 447. R330, 336pp

Resensent: Joan Hambidge

Onder die sub-titel Digter van die kwiksilwerwoord word Ina Rousseau vereer met die digter en vertaler Daniel Hugo as samesteller. Sy ontvang die Reina Prinsen Geerligsprijs vir haar debuut Die verlate tuin (1954) en die Hertzogprys vir haar laaste bundel ‘n Onbekende jaartal (1995).

Hugo het Rousseau se poësie gebloemlees as Die stil middelpunt (2003).

As voormalige dosent het studente immer plesier gehad aan haar komplekse verse in lesings waar ‘n mens op verskillende aspekte kon fokus in haar digkuns: vreemde woorde, versvorme, genderkwessies, Bybelverwysings, tydshantering, die gesprek met Blum, haar plek in die kanon, ensomeer.

Daar word hier na haar werk gekyk as digter, kortverhaalskrywer én vertaler. Dit is bekend dat sy verse afgewerk het tot in die laaste sillabe in. Haar verbintenis met die digter Peter Blum is eweneens bekend. Hieroor het sy ‘n aangrypende reeks geskryf “Steppewolf”.

Vir my is haar kortverhaalbundel Soutsjokolade (1982) ‘n besondere bundel. Die verhaal “Onthou jy vir Helena Lem?” kan geen leser ooit vergeet nie. ‘n Verhaal oor ‘n verloofde man wat sy vrou met wie hy op trou staan sonder erbarming ervaar wanneer hy haar vertel van sy ontmoeting met ‘n jeugvriendin wat ondertussen blind geword het. Sy onthou haar egter as iemand wat ‘n skoenlapper se vlerke afgetrek het. Vir hom het sy egter ook húl kosbare verbintenis vernietig met haar gemene reaksie. Die brief wat hy aan haar skryf – met woorde wat deurgekrap word – gee ‘n weergawe van sy vertroebeling. Wie die skoenlapper se vlerke afgeruk het, word in die ontknoping weergegee.

Francois Smith, ook prosaskrywer, gee ‘n interessante psigoanalitiese interpretasie van hierdie Atwood-agtige teks, terwyl Daniel Hugo as stipleser fokus op die gesprek tussen Johann de Lange en Ina Rousseau. Hugo wys hoe die digter De Lange as’t ware sy eie poëtika op haar projekteer in sy pragtige verse oor én vir haar.

Smith skat haar goed in as prosaskrywer en wys ook op haar hantering van simboliese getalle en offergawes. En waar sy ook haar leser dalk mag onderskat het in ‘n vertelling?

Die verskillende variante in haar digkuns dui op haar werk as ‘n groeiende organisme en Shané Kleyn wys op verskeie aspekte van variante en hoe dit benader moet word. Juis omdat die perfeksionistiese Rousseau telkens gedigte verbeter het, was daar verskillende variasies (soos by Yeats, Achterberg, Nijhoff, o.a.)

Sy was inderdaad uiters ambivalent oor die publikasieproses. In persoonlike gesprekke was sy ook afwysend oor enige navrae oor die spreekwoordelike koek in die oond. Trouens, in ‘n telefoongesprek teenoor my het sy opgemerk dat my handskrif onleesbaar-lelik is (korrek!) en dat sy dit nie kan ontsyfer nie. Hierteenoor ‘n poskaart van haar: kort en kragtig. Afgesluit: I.

Kleyn vertel die anekdote van die koekbakker-van-formaat, via Abraham H. de Vries. Inderdaad. Maar die resep bly tog ‘n geheim …

En hierdie komplekse geheimsinnigheid analiseer die digter en literator, Hein Viljoen behendig, ook as kenner van die Simbolisme en as ‘n leser wat die hele kwessie van die dubbele negatief (soos by Eybers) onder die loep neem. Die sogenaamde “simple replacement and the suggestion of the mystery” via Wellek, die groot literatuurteoretikus word bespreek. Hierdie bydrae is uiters leersaam oor hoé die sogenaamde “kognitiewe domeine” in ‘n gedig versmelt word.

Fanie Olivier gee ‘n hoogs leesbare (en deeglike) geskiedenis róndom die ontvangs van Rousseau se poësie wat opnuut bewys: ‘n resensie is ‘n eerste reaksie, boonop tydsgebonde en die boek bly staan selfs wanneer die Malmokkies en ander ou Boekgodjies ses voet onder die grond lê.

Die voetnote hier is openbarend. Olivier wys op ‘n fout wat ‘n literator maak met verwysing na Standpunte op bladsy 49.

Bernard Odendaal, ‘n kundige vertaler en raadgewer, gee ‘n uitvoerige verslag van Rousseau se werk as vertaler. Hy wys op die “uitleengeskiedenis” in die Ferdinand Postma-biblioteek in Noord-Wes om sy argument te staaf oor vertalings en hy vind dit jammer dat herdenkings by haar dood die vertalings nie vermeld nie.

Die digter se idiosinkratiese woordgebruik is algemeen bekend en haar werk by die Woordeboek van die Afrikaanse Taalhet kennelik haar taalkennis verruim. Die gebruik van sogenaamde “onpoëtiese woorde” en wetenskaplike terminologie is ‘n belangrike stilistiese bydrae, soos Bernard Odendaal tereg uitwys.

Tania Colyn ondersoek die komplekse verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum vanuit ‘n genderperspektief. Via Hélène Cixous en Barbara Johnson word die leser opnuut bewus van hierdie intertekstuele wisselwerking (en uitruiling) tussen twee belangrike digters. Hierdie artikel wys op die in transit-aspek van vrouedigters wat buite die manlike orde skryf. 

Die grootste waarde van hierdie bundel is die Engelse vertalings en gedigte uit die Italiaans na Afrikaans versend deur hierdie woordsmid. Soos sy opmerk in Die Burger, 1 April 2006.

"Ek werk nooit aan ’n bundel nie. Ek werk selfs nie aan ’n gedig nie. Ek skryf woordgroepe, en later sluit die woordgroepe by mekaar aan en word ’n gedig." Erika Terblanche gee vir ons ‘n biografiese oorsig.

En die pragfoto’s in die boek is aangrypend mooi, veral die een wat Philip de Vos van haar geneem het in haar woonstel in Hofstraat, Kaapstad. Pragtige foto’s met mooi, stylvolle klere.

En ‘n klassieke Rousseau-kwatryn bly hierdie een vir my:


In sneeuwit siermotiewe van die pyn

breek die verwording deur in blaar en stam.

O was die lewe mooier sonder die fyn

borduursel van die skimmel? Van die swam?

(52)

 

Van die huldigingsbundels is al gestriem oor setfoute of swak keuses. Hierdie een is goed afgewerk en gee ‘n vars blik op hierdie uitsonderlike digter. Ja, sy met haar woorde van brokaat.

 

Joan Hambidge Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

 

 

Wednesday, September 22, 2021

Resensie | Eddy van Vliet – Na die wette van Afskeid en Herfs | Protea, 2021

Eddy van Vliet – Na die wette van afskeid en herfs (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2021. ISBN: 978-1-4853-1179-9

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Eddy van Vliet se bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet. So staan dit opgeteken op die buiteblad van hierdie verruklike, hartgrypende, lieflike versameling vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea uitgewers.

 

Dis helder, glashelder gedigte en oënskynlik eenvoudig. ‘n Dieper lees, wys op die parlando-styl en hoe vernuftig beelde sluit. Met ‘n slot wat jou in die maag tref.

 

Die digter se verse is outobiografies en van sy beste verse handel oor die versaking van die werklike vader wat die spreker probeer terugwen en begryp in die neerskryf van gedigte. Abandonment / versaking is immers die basis van Freudiaanse denke. Dit is weer herleibaar na die verhaal van Oedipus met vaderversaking en -dood.

 

Die vaderfiguur in hierdie teks word deur die gedigte opgeroep, aangekla en begrawe. En die spreker gaan in die herinnering terug na die oomblik van hierdie abandonment soos in die gedig “Pa” (17). En helaas is die mes verroes en dit is hierdie gevoel van magteloosheid om die vader te konfronteer en oorrompel wat enorme psigiese pyn veroorsaak, maar ook die drif (libido) word vir die kragtige verse. 

 

In die gedig “Die stad” (83) gebruik hy die ont- (negatief): ontneem, ontloop, ontkom en herhaal ontneem. Dit herinner aan Eybers se gebruik van die negatief soos briljant deur Hein Viljoen uitgewys in sy artikel “Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” (Literator | ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Besoek 20 September 2021).


By Van Vliet word die ont- egter omgekeer en die gedig herstel die orde van dit wat die “jy” hom ontneem het. Die digter is ‘n meester van verlies en die ingehoue aanklag wat daarmee saamgaan.

 

Die dood word direk aangespreek (“Dood”, 89) en uitgenooi om binne te kom:

 

Vee jou voete af en wees welkom.

 

Uit die bundel Glazen (1979) word genoeglike verse opgeneem wat elke liefhebber van whisky en konjak sal geniet. En jenewerdrinkers word ook vermaak.  Die konjakglas word ‘n heer met ‘n ronde pens vir wie Napoleon groete stuur met die slot:

 

Dit is die ware lewe

armoede is ‘n rooi leuen. (33)

 

Dit is my soort digkuns, moet ek openlik bely: outobiografies sonder dat jy hoef te gaan koekeloer in die kaste van die digter om die donker geheime na vore te bring. Die gedig word daardie donker kis vol familiegeheime, maar word ook méér as outobiografie. Die ware digkuns moet immers altyd verby die outobiografiese of konfessionele beweeg in die domein van die primordiale. Daarom is Anne Sexton se gedigte so treffend. Bloedskande en skandale staan opgeteken, maar die gedigte word meer as ‘n bandelose skinderkolom.

 

Hier is ‘n pragvers:

 

Vakansie

 

Dit was warm. Dit was Spanje waar ek vir briewe wag

en telegramme wegstuur. My suster wat nie ’n suster is nie

van verdrinking red. ’n Pa wat my verfilm, te lank in beeld

volgens haar wat hom van my vervreem het.

 

Dit was Spanje waar ek die haat verduur

soos brandnetelvuur ná ’n woeste gespeel in die veld,

die rykdom ervaar soos ’n bediende

die skittering van die silwerservies.

 

Dit was met my rug op Franco se portret gedraai

dat ek in my gedagtes die volmaakte moord kon pleeg.

 


En hier is nóg een van sy verse, in die oorspronklike taal
:
 

Afscheid van mijn vader [1]

 

Ik wil alleen maar zeggen dat ik het niet weet.

Dat ik het allemaal niet zo duidelijk zag,

zoals gebleken achteraf.

 

Het tuinhek diende plotseling gesmeerd.

De lege plekken op de muur bedekt en vlug

vlug de geur van scheerzeep weg.

 

De kalende die Homerus declameerde. De maïsvretende.

De charmante die uit Frankrijk parfum meebracht. Hadden zij

ook hun koffers gepakt, de huisvrienden van de vrije dag?

 

Ik schreef het reeds meer. Die morgen

liep hij van de keuken naar de straatdeur

en kwam niet weer.


Uit: Jaren na maart, 1983.


Eddy van Vliet (1942-2002) sorg vir vele leesplesiere.



[1] Gedichten | Afskeid van mijn vader, Eddy van Vliet | Gedichten.nlBesoek 21 September 2021

  

[2] Sien ook: Woorde wat weeg | Eddy van Vliet - ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998) | Besoek 21 September 2021


Friday, October 30, 2020

Resensie | Charlotte van den Broeck – Kameloen (vertaler Daniel Hugo). Protea, 2020

Charlotte van den Broeck – Kameloen (vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978 1 - 485 31 021 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie pragtige bundel, Kameleon, is deur Daniel Hugo vertaal. Die digter is bekend in België as voordragkunstenaar en haar debuut is bekroon met die Herman de Coninck debuutprys vir poësie. Sy is vertaal in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies en is kennelik gewild as digter. Van haar verse kan beluister word op YouTube

Daar is drie afdelings: I Die rooi kruis op die skatkaart II Discovery Channel en III Die oorsprong.

 

Die gedigte, wanneer die leser dit afgedruk sien, maak uiteraard op ander beginsels staat as wanneer gedigte vir die podium geskryf is. Sommige digters kry dit reg om sowel goed voor te lees as om 'n werkbare ikoniese vers te skryf.

 

Soms is daar lang praatverse, maar ook 'n klein juweel soos:

 

Handleiding

 

Om te vergeet 

is 'n sirkelredenasie.

 

Steek 'n stok tussen die ratte,

doen dit.

 

Moet niks

oor die rand van hierdie kop stoot nie.

 

Ek was absoluut verruk met hierdie verse wat gedistansieerd-ironies funksioneer. Daar is wonderlike gedigte en 'n hele klomp onthoubare versreëls:

 

'n Wasmasjien lek die dag se wonde. (56)

 

Sy kry die kleur van wange ná 'n gevry

van mans wat op vakansie slegs poskaarte vir hul stamkroeg stuur. (37)

 

Ek leer 'n tweede taal, waarin sugte

selfstandige naamwoorde is. (58)

 

Ons is net 'n besitlike voornaamwoord,

'n huis gebou van taal met oneindig baie ander name. (59)

 

Sy dig oor die liefde, die soeke na identiteit en die verhouding met die moeder en ouma. In "Ausflug / Auszug" is sy en die moeder in 'n kamer "in 'n plaaslike baarmoeder" en hierdie verwysing maak deure oop vir Julia Kristeva se sieninge oor poëtiese taal en die chora.

 

Hierdie digter dig met presisie. Sy kyk van ver (soos in "Fernweh"), maar ander kere het sy 'n vergrootglas met die ogies van 'n kameleon wat die kleinste besonderheid opvang.

 

So klink sy in Engels:

 

Bucharest


Some places are so small

they’d fit on the tip of a finger.

I try to point at where everything was

but I can barely remember.

 

Among the rubble of forgetting stands 

my grandfather’s bookcase and that Sunday afternoon 

when we read the atlas together, his finger 

resting on the capital of Romania.

 

‘A smashing bunch of slags’ they had, he said 

and I thought a slag was some sort of Eiffel Tower

and resented him for never 

bringing me back a miniature version.

 

Later I learned that borders and grandfathers are relative. 

Only that afternoon is marked in the atlas

by raised alphabet letters, as the afternoon 

when I still saw in him the most perfect guide.

 

(Vertaal uit die Nederlands deur Michele Hutchinson.)

 

En in die oorsrponklike:

 

Boekarest

 

Sommige plaatsen zijn zo klein

dat ze in een vingertop passen.

Ik probeer te wijzen waar alles is geweest

maar ik weet het zelf nog amper.

 

Tussen het puin van het vergeten staat de boekenkast 

van mijn grootvader en de zondagmiddag 

waarop we samen de atlas lazen, zijn vinger 

op de hoofdstad van Roemenië.

 

Dat men daar ‘een schitterende verzameling hoertjes’ had

en dat ik dacht, dat een hoer zoiets als de Eiffeltoren was

en hem verweet, dat hij daarvan nooit 

een miniatuurversie voor mij meebracht.

 

Later bleken landsgrenzen en grootvaders relatief

enkel die middag staat in reliëfalfabet 

in de pagina’s van de atlas, als de middag 

waarop ik in hem nog een uitstekend gids zag.

 

Gaan lees die Afrikaanse vertaling en word verruk!

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio.)

Monday, September 7, 2020

Resensie | Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo) | Protea, 2020

Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978-1-4853-0766-2 (gedrukte boek) | ISBN 978-1-4853-1194-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

 

Vertalings is glo verraaiers. Die vertaler moet afwesig of onsigbaar wees. Moet die vertaling die teks huis toe bring of eerder tuis bly en getrou bly aan die oorspronklike weergawe?

 

Dit is drie van die bekendste mantras oor die vertaalproses. En vertalings – soos Uys Krige ons geleer het via sy Spaanse dans – is om 'n ander man se bruid deur 'n sluier te soen. Dit het hy by 'n Italiaanse vertaler "geleen". 

 

Lawrence Venuti, die gedugte vertaalteoretikus, onderskryf laasgenoemde twee uitsprake. Ons sou nie kon bestaan sonder vertalings nie, en groot vertalers is bekend om hul  monnikewerk: 'n onbaatsugtige diens aan die letterkunde. Agterna sal cognoscenti altyd meen hierdie vertaling is beter as daardie een. D.M. Thomas is bv. telkemale gelooi oor sy Russiese vertalings. Hier te lande vertaal Daniel Hugo sowel poësie as prosa.

 

En ons weet wel dat die geslaagde vertaling dans in die nuwe taal. Die Vlaamse skrywer Hugo Claus se klassieke Die verdriet van België beslaan oor die 700 bladsye en is deur Daniel Hugo vir ons gedomestikeer. Hierdie teks is áldaar allemansgoed soos J van Melle se Bart Nel of Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins by ons is.

 

In die Lae Lande ken almal daardie roman van Claus, 'n veelsydige, prolifieke én briljante skrywer, gebore in 1929 oorlede in 2008. Digter, skrywer, filmmaker en in sy dae ook getroud met Sylvia Kristel van Emmanuelle-faam. In 1922 benoem vir die Nobelprys en in die Lae Lande talle kere bekroon, o.a. met die Belgiese Staatsprys.

 

Sommige lesers kan nog Nederlands en Vlaams lees, maar 'n hele geslag jong lesers het ongelukkig nie meer daardie voorreg gehad om die taal en haar grammatika baas te raak nie. Nog minder die konsep van "valse vrienden" te begryp, met ander woorde, begrippe wat dieselfde klink, maar verskillende betekenisse het in die twee tale. Ons dink nou maar aan die woord neuk. Of eventueel. Op Litnet is daar 'n rubriek wat dit onderhoudend verduidelik.

 

Louis Paul Boon, Hugo Claus, Jan Wolkers en Reve is my gunstelinge uit die Lae Lande. Claus se roman is 'n grootse stuk komposisie soos 'n Bolano-roman. Hier word die impak van die oorlog op die gesin Seynaeve ondersoek. Meelopers of kollaboriste wat met die Nazi's meegewerk het in die hoop dat Vlaandere onafhanklik sou word van Wallonië. Die Duitsers verloor egter die oorlog en die geskiedenis draai teen die verraaiers. Die noorde teen die suide; Vlaams teenoor Frans, met Brussel die middelpunt as 'n tweetalige stad. België se taalverdelings is eweneens relevant vir ons land waar daar ook divisies en spanninge róndom taal heers.

 

Die roman lewer eweneens kommentaar op taal en die baasskap van die heerser:

"Mamma sê ook af en toe in die middel van ’n Vlaamse sin woorde soos zweifelloswunderbar of die vreemde ähnlich." Is dit dalk waarom Afrikaans ook Engelse woorde oorneem?

Die roman is soos die Engelse skryf  gewoon"unputdownable". Dit is eweneens tersaaklik om Roman Polanski se film The pianist, 'n meesterstuk van 2002, saam met hierdie roman te lees.

'n Roman wat duidelike outobiografiese elemente in sig dra (Claus se vader, 'n drukker en uitgewer, moes boet vir sy gekonkel), maar uiteraard verwerk én verhef tot roman. 

Daar is kinders se reaksies op verbode boeke wat dan die hele kwessie van waarheid en leuen inlei. Daar is beskrywings van karakters wat inzoem op hebbelikhede. Daar is vinjette wat my altyd sal bybly. Die Reglementeboek van die Kerk word bespot en die straf wat uitgedeel word vir belaglike oortredings. 'n Jong kind se fantasie oor hoe 'n baba ontstaan, is wonderlik.

En grappe wat vertel word, bewys opnuut dat humor regstellende aksie is.

Die komma word beskryf as 'n asemhaling. 'n Baardskeersessie is dawerend snaaks en die vertellende instansie weet dus ook dat hy per implikasie hiperbolies skryf: "Veels te kwistig. En te vergesog" (721).

 

So word daar die spot gedryf met 'n digter-van-die-tyd:

Hy skrik nie, bloos nie, skyt nie in sy broek soos iemand wat ek ken nie. Hy draai na alle kante en buig. Hy haal ’n folioblad uit wat baie onlangs opgevou is en lees met ’n onverbloemde Kortrijkse aksent, ek skryf dit hier neer: 

 

   Geseënd is die wurger van die nagtegaal, geseënd is alle vroulike soogdiere, die holtediere en die syriviere, 

   die nete en Zwevegem. 

   Geseënd is die onmisbare behoeftes en die getye

   en die gasgevulde vliese en die ambervlieë.

   Geseënd is dié wat van die slyk gespeen is 

   en hulle wat nie die dinge ken soos wat hulle is nie 

   maar soos wat hulle voorkom. 

   Geseënd is die plant en Tarzan wat hang aan die plant. 

   Geseënd is ek. 

 

Hy knik vir die yl applous. (723)

Satire, humor, ironie meesterlik saamgebind soos daardie 'n groot epiese filmmaker, David Lean 'n stuk geskiedenis weergee en vertolk soos in Doctor Zhivago (1965). 

Die vertaling lees vlot en lekker. 'n Mooie vonds is konkeldoor. In die geheel gesien is hierdie roman soos 'n simfonie of epiese film met baie karakters en ekstras met die verteller wat 'n grimmige blik op godsdiens werp met die "besmetting van sonde" (91).

Dit is 'n roman-in-vertaling wat hierdie leser met bewondering én plesier gelees het. Wanneer resensente hier te lande die woorde meesterlik, uitstaande en 'n hoogtepunt kwistig rondslinger, kan 'n mens dit wel hier opplak. 

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Vlaams Fonds voor de Letteren en gepubliseer deur Protea. En dat 'n vertaler die stamina gehad het om so 'n dikke boek te vertaal, dwing bewondering af.

 

Sunday, February 2, 2020

Resensie | Marc Tritsmans – Die singende wêreld (2019)

Marc Tritsmans - Die singende wêreld (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Naledi, 2019. ISBN: 978-1-928518-25-9

Resensent: Joan Hambidge

Die singende wêreld  van Marc Tritsmans het verlede jaar by Naledi verskyn. Dis 'n bundel met vertalings deur Daniel Hugo.

Wat 'n wonderlike verrassing is die ontdekking van hierdie digter nie. 'n Boek oor die see en voëls en bome en die planete – en 'n besinning oor presies wat ons hier maak.

Reeds in die openingsgedig konstateer die digter dat hy 'n “oudmodiese kompas” in sy kop huisves en dat niemand sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie. En dan neem hy sy leser op 'n fassinerende reis oor hoé hy homself hiér op die ondermaanse beleef.

Bekende konstellasies

ek is ’n man uit die noordelike halfrond
en wil nie my noorde van my laat afrokkel nie
waarskynlik deel ek tog iets met die duiwe

huisves ek ’n oudmodiese kompas in my kop
want waar ek ook al neerstryk begin ek in die donker
vasberade soek na bekende konstellasies

fluister stemme van verre voorouers – jagters
reisigers? – dringend in my oor dat niemand
sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie

my voete wil altyd weet waar hulle hul presies
bevind: beveilig en geaard ook al dwaal ons
almal stuurloos te midde van ontelbare heelalle

Die leser vind sowel die oorspronklike gedig as die vertaling deur Daniel Hugo met 'n nawoord deur Yves T'Sjoen, van die Universiteit van Gent, waarin hy nuuskierig is oor hoe Afrikaanse lesers op hierdie gedigte gaan reageer. Wel: hierdie leser vind Die singende wêreld  'n pragboek. 

Dis gedigte wat oënskynlik maklik "lyk", maar vernuftig inmekaar pas. Die metriese -en klankpatrone pas by die gemaklik, oënskynlike praataanslag. Die digter gebruik dikwels personifikasie moeiteloos - een van die moeilikste tegnieke wat maklik 'n gedig kan beduiwel - om die spanning tussen mense en natuur aan te stip. Die son word (soos) 'n moeder; die liggaam kry kos soos 'n hond. En hierdie gedig "Die liggaam praat (ook vir 'n keer)" (31) gee 'n belangrike geheim weg van hierdie bundel waar alles tweeledig en dus op twee vlakke tegelykertyd afspeel.

En dan ook goed om die oorspronklike met die vertaling te vergelyk.

Gewoonlik die kenmerk van 'n geslaagde gedig juis hierdie vermoë om twee dinge één te maak.

Die mens se lot as onbenullig kom telkens na vore. Nou onlangs is daar 'n nuwe planeet ontdek en liefhebbers van programme soos Sterre en planete weet hoe klein en ontersaaklik ons "klein en silwerige planeet" maar is.

En dit "Zoem en gons" skryf hy:

die onstuitbare vliegwiel van die lewe stel vir ons dommes
wat eens gedink het ons is die heersers van die heelal
totaal willekeurig en onontrafelbaar al die bakens vas

In "Draers van lig" dig hy tereg:

oor die geboorte van verre newels en sterre
wat vandag, noudat ons oë hulle vir die eerste keer
mag sien, nogtans lank reeds gedoof verdwyn het

Boonop is ons almal irrelevant en eenmalig, meen hy in "See":

want ons het almal die lewe kortstondig eensellig
beoefen, dit toe as vis en amfibie uitprobeer
om ten slotte as mens op droë grond gespoeg te word

T'Sjoen beklemtoon die epifaniese moment en liminaliteite in sy digkuns. Die dagsoom impliseer breuke: "Epifanieë stel ons in staat om anders te kyk. Hulle bied in ’n efemere oomblik insig in die hoëre, die gans andere, die sublieme."

Daar is geen swak vers in hierdie bundel nie. Die leser lees met verstomming agter die tegniese beheer aan soos in die geval van Benno Barnard wie se Die trouservies
my ook geboei het. (En die tegnieke word verdoesel, nes die binneryme.)

Die digter spreek ekologiese kwessies aan nes onse Martjie Bosman en Johann Lodewyk Marais. Soos by hulle word dit gedigte wat dans en sing. Sommige gedigte herinner aan die gesprek met die natuur in Stil punt van die aarde deur Johann de Lange en Hennie Nortjé se In die skadu van soveel bome.

"Saadstorting" is 'n belangrike gedig waar die digter gekonfronteer word met 'n beukeboom se plantaardige klimaks.

De wetten van de zwaartekracht was sy debuut in 1992 en ek gaan beslis alles lees wat hy geskryf het. Komrij het sewe van sy verse in sy Nederlandse bloemlesing opgeneem - al 'n aanduiding dat hierdie ou guru baie gedink het van Tritsmans.

Dis 'n bundel vir George Claassen én predikers. Vir gewone lesers én poësieliefhebbers. Nog 'n bundel wat die vertaalskat vir Afrikaanse lesers verruim met dank aan die vertaler en Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, July 23, 2019

Resensie | Benno Barnard – Die trouservies (Vertaal deur Daniel Hugo) (2019)


Benno Barnard – Die trouservies (Vertaal deur Daniel Hugo). Naledi, 2019. ISBN 978-1-928426-87-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Die vertaling van Nederlandse en Vlaamse tekste eis ’n besondere taalkennis en -vaardigheid op.

In die jongste poging van Daniel Hugo word Afrikaanse lesers aan ’n Vlaamse digter bekend gestel. En wat ’n wonderlike leeservaring word dit nie. Die titel – aldus Yves T'Sjoen aktiveer Auden se bekende reëls:

And the crack in the tea-cup opens
a lane to the land of the dead.

Die digter word tipeer as romanties-serebraal. Sy lang gedig “Gebed sonder end” is ’n kragtoer. Hy gebruik die slotreël telkens in ’n begin in tien afdelings waar die gedig bykans soos ’n pantoem funksioneer. Dit word in die Vlaamse letterkunde as ’n suite beskryf.

Die digter se klassieke beheer word in die nawoord geloof en sy hantering van die tersine is skitterend.

Yves T'Sjoen wys op sy tong-indie-kies-aanslag en sy hantering van ironie.  Terwyl daar grappig ’n wind gebreek word, oorweeg hy die heiligheid van die digkuns (65).

Sy gedigte getuig van dieselfde vormbeheer as Auden en aktiveer in my gemoed ’n gesprek met die voormalige poet laureate van die VSA, Robert Pinsky.

Daar is uitstaande verse by Barnard soos die een oor Bob Dylan (29) met hierdie wonderlik onthoubare reëls:

Maar die waarheid is dat ek jou bewonder. Jy vee jou af
aan meta-taal. Jy is soveel stemme: jy is ’n nasale
eenmansmenigte van ons almal se denke, protes, verlange,

geboorte. En agter jou luidneusigheid klink die stom stemme
op van jou voorouers in ’n moerassige, vervloekte grensgebied
van die tsaar: immerklaende dooies wat doodwees verpes.

“Ode aan Joy” (41), eweneens uitstekend, sluit só:

dit het jou seker al opgeval dat die lipstif
te voorskyn kom soos ’n hondetril
uit sy voorvel? Ja, kind, alles is seks.

II

Kritiese vrae is daar wel rondom die vertaling, maar dit verminder bepaald nie die leesplesier nie.

Waarom word “De moderniteit heeft hem God en de interpunctie ontnomen” vertaal as “Die moderniteit het hom God en die interpunksie ontneem”? Sou “van God” nie beter klink nie?

“Plat du jour” kon eerder na Afrikaans vertaal word? (130)
“Anus” eerder as “poephol”. (21)
“Laat een scheet” word vertaal as “los ’n poep?”
Waarom “ligtekooi”? Dis tog “hoer” in Afrikaans? (7)
Daar is per ongeluk ’n punt op p. 9 (Namaakleef.)

III

En hier is ’n vers van Barnard:

Pianoforte

Sien u daardie Europese meubelstuk by uitstek, okkerneut,
kandelare, gebou deur Stephan Hain in Krefeld
vir die statiese, Wilhelminiese, sonnige salon
van ’n morsdood dame in ’n reeds lank vergane japon?
Ek bedoel omstreeks 1910 en terstond sien ek so ’n stywe
mevrou met ’n goewernante, ’n poësiealbum
en heimwee na haar meisiedae; en ongetwyfeld druk die eksbruid
se vingers die vrees vir haar opdringerige eggenoot
saans in die vorm van die noodsaaklike dromerigheid uit.
Nou staan daardie ding in my woonkamer en swyg,
net so dood soos die boom waarvan hy gemaak is. Maar
sien u nie ook ’n voormalige Duitstalige provinsiestad,
Tjernowitz of so iets, met kastaiinglanings, ’n byna reeds
ekspressionistiese son, ’n okerkleurige skoolgebou,
bedaarde antisemitisme, jong digters – die hele
wêreld wat nog uitgewis moet word, voor die troepe kom,
die konvooie, die kornette met hul praatjies en, onder ’n snor,
’n melodie uit die negentiende eeu; voor die nag toesak
en die reën val en die modder styg en die kollaborateur swaai
aan ’n boom wat nie in ’n klavier verander nie? Hoor tog hoe
die kadense van die kontinent hul saans uit oop somervensters stort!

Uit: Die trouservies.

Hoe wonderlik praat hierdie vers nie met Robert Pinsky se gedig “The green piano”:

Aeolian. Gratis. Great thunderer, half-ton infant of miracles 
Torn free of charge from the universe by my mother's will. 
You must have amazed that half-respectable street 

Of triple-decker families and rooming-house housepainters 
The day that the bole-ankled oversized hams of your legs 
Bobbed in procession up the crazy-paved front walk 

Embraced by the arms of Mr. Poppik the seltzer man 
And Corydon his black-skinned helper, tendering your thighs 
Thick as a man up our steps. We are not reptiles: 

Even the male body bears nipples, as if to remind us 
We are designed for dependence and nutriment, past 
Into future. O Europe, they budged your case, its ponderous 

Guts of iron and brass, ten kinds of hardwood and felt 
Up those heel-pocked risers and treads splintering tinder. 
Angelic nurse of clamor, yearner, tinkler, dominator — 

O Elephant, you were for me! When the tuner Mr. Otto Van Brunt 
Pronounced you excellent despite the cracked sounding board, we 
Obeyed him and swabbed your ivories with hydrogen peroxide. 

You blocked a doorway and filled most of the living room. 
The sofa and chairs dwindled to a ram and ewes, cowering: now, 
The colored neighbors could be positive we were crazy and rich, 

As we thought the people were who gave you away for the moving 
Out of their carriage house — they had painted you the color of pea soup. 
The drunk man my mother hired never finished antiquing you 

Ivory and umber, so you stood half done, a throbbing mistreated noble, 
Genuine — my mother's swollen livestock of love, lost one, unmastered: 
You were the beast she led to the shrine of my genius, mistaken. 

Endlessly I bonged according to my own chord system “Humoresque,” 
“The Talk of the Town,” “What'd I Say.” Then one day they painted you pink. 
Pink is how my sister remembers you the Saturday afternoon 

When our mother fell on her head, dusty pink as I turn on the bench 
In my sister's memory to see our mother carried moaning up the last 
Steps and into the living room, inaugurating the reign of our confusion. 

They sued the builder of the house she fell in, with the settlement 
They bought a house at last and one day when I came home from college 
You were gone, mahogany breast, who nursed me through those 

Years of the Concussion, and there was a crappy little Baldwin Acrosonic 
In your place, gleaming, walnut shell. You sere gone, despoiled one 
Pink one, forever green one, white-and-gold one, comforter, living soul. 

Pinsky is Joods en Barnard kom uit ’n Christelike tradisie. Hy is ook bekend vir sy omstrede sieninge oor die posisie van die Jode in Israel wat al baie polemiek ontlok het.

Beide digters in hierdie gedig aktiveer ’n stuk persoonlike en sosiale geskiedenis. Ek had die voorreg om Pinsky hierdie gedig uit Jersey Rain te hoor voorlees op Harvard Square in 1999.

Dan hóór jy die musiek in die gedig.