Showing posts with label Malgas Publishers. Show all posts
Showing posts with label Malgas Publishers. Show all posts

Tuesday, March 15, 2016

Charl J. F. Cilliers – Dark Hole of the Moon (2016)



Charl J. F. Cilliers – Dark Hole of the Moon. Malgas Publishers, 2016. ISBN 978 0 620 604 39 0

Resensent: Joan Hambidge

Behind the View (2014), Grains of Sand (2013), Karoo: Haiku Variations (2012),  The Journey (2010) Collected Poems (2008) is van die bundels (en een bloemlesing) van die digter en vertaler Charl J. F. Cilliers al gepubliseer het en waaroor ek geskryf het.

Hierdie digter moet sy eie werk publiseer, omdat die posisie van die Engels-Suid-Afrikaanse digters bedenklik is. Net ‘n handvol word uitgegee en verdwyn vinnig as hulle nie deur die buitelandse mark opgeraap word nie. En daar, weet ons, is die snobisme groot. Indien jy as Engelse digter nie die pad van die little magazine en digkuns-voordragte geloop het nie, is jy onbekend. En digters uit die VSA en al die ander voormalige kolonies word nie geag as relevant nie.

Anders is dit gestel met Afrikaanse digters, ofskoon ook net ‘n handvol gesalfdes dit “maak” in die Lae Lande...

Dark Hole of the Moon vergestalt die digter se liefde vir die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere. Cilliers is ‘n uitstekende beoefenaar van die haikoe, kwatryn en cinquaine, aldrie digvorme wat enorme beheersing opeis van die digter. Cilliers is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat. Hierdie onmag - verwoord onder andere in “Basket” (41) - gee dan aanleiding tot etlike verse wat handel oor die skryfproses en die stiltes wat dit impliseer. Die soeke na ‘n werklikheid agter die werklikheid is immers iets wat die digkuns voortstu; hier in navolging van Paul Ėluard dat daar ‘n ander wêreld bestaan wat opgesluit is in hierdie een.

‘n Mens sou dan hierdie gedigte kon tipeer as die metafisika van die Oomblik of die Efemere ... Dalk ook die Kortstondigheid. Die digter is bewus daarvan dat ons nie as Westerlinge die haikoe-vorm met sy tegelykertydsaspek (waar simbool en ding een word) kan bemeester nie, maar dit net kan verwésters.

Die nostalgie van die ouer persoon word ook hier besê in die Bloemfontein van die digter se jeug wat weer saampraat met Robert Frost se gedig oor oor die twee paaie in ‘n woud. Want die digkuns vang iets op van ‘n werklikheid wat verby is; die gedig word ‘n weergawe of representasie van daardie (indertydse) ervaring.

“Spilt milk” (102) handel oor meer as melk wat val: breaking-of-the-vessels en die wete dat die skerwe iets word van die pyn wat die spreker ervaar:

and felt pain shine
a far, dark exploding star.

Die terugkyk of terug-blik (“in the cold fridigity of the past tense”, 88) word in die gedig “Verdict” besê: ons vind telkens ‘n opname van ‘n lewe, ervarings, verydelde drome, geliefdes afgestaan aan die dood waar woorde niks beteken nie. Die digkuns werk nie met diagramme nie, weet die digter te vertel, want ons is uitgelewer aan ‘n lewe sonder ‘n teks ... dit staan alles immers reeds opgeteken in Shakespeare.

In “Ballad of the Unbeliever” (79) word daar na die epifanie verwys. Ofskoon die spreker ongelowig mag wees, is hy op ‘n ander manier uitgelewer aan die epifaniese moment en word hy ‘n waarsêer in woorde.

Die digter sluit aan by die Simboliste: ‘n mantis, ‘n geitjie, die natuur word simbole wat sy idees dra. “Self-erased poem” (55) is selfs postmodernisties in die metarefleksie rondom die digkuns wat kompeteer met die werklikheid wat groter en boeiender is, maar as die digter ‘n pen vind wat werk, kan hy iets hiervan neerpen.

Dieselfde geld die “Cloud studies” vir John Constable waar gedig en indruk een word (49).

“The Shot” (52) is ‘n knap ars poetica waar die digter gekonfronteer word met sy eie maakwerk: ‘n mens vergeet die bedoeling van die vers, maar die impak is altyd sterk en oorweldigend.

Poet

With beguiling verses I must try
to scheherazade the nights away,
for truth be told: we know we die
when we have nothing more to say.  (47)

Delikaat, aangrypend - klein gedigte wat lank in die gemoed bly steur en nawerk:

in the pain

in the pain of dis-
integration God reveals
a broken wholeness (33)

Vir die leser is daar ‘n insigryke nawoord oor die haiku en die verplasing na die Engelse wêreld ...

Vir verdere besprekings, goegeloer hier: Woorde Wat Weeg/ Charl J.F.Cilliers - Behind the view (2014)


© Joan Hambidge



Tuesday, June 24, 2014

Charl J.F. Cilliers - Behind the view (2014)


Charl J.F. Cilliers, Behind the view. Malgas Publishers, 2014. ISBN 978 0 620 60894 7
Resensent: Joan Hambidge

I

Kort op die hakke van Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof en Hennie Aucamp se Skulp verskyn Charl J.F. Cilliers se bundel Behind the view, 'n selfpublikasie. Ondertussen is daar ook die vertalings en herdigtings van Daniel Hugo van Omar Khayyam se Rubaiyat. Aldrie Afrikaanse bundels het by Protea verskyn.

A.P. Grové se Woord en wonder (Nasou, 1984, 128) betrek Opperman se siening oor hierdie digvorm. Opperman noem dit klein stukkies dinamiek van die gees. As kort gedig, voer hy verder aan, staan dit onder beheer van kritiese werksaamheid en as gevolg hiervan kry ons 'n sentensieuse en epigrammatiese trekkie met 'n spaarse gebruik van die woord. In wese, besluit hy, is die kwatryn eintlik waarneming en kommentaar.

Vir my is daar 'n handvol – sowat 28 kwatryne – wat werklik uitstekend is. Die wat my persoonlik geval het, is veral gedigte wat handel oor die skryfproses.

Die vraag is – en ek het dit al vantevore gevra – waarom moet so 'n uitstekende digter sy eie gedigte publiseer?

Dis 'n pragtige bundel en dit is 'n skande dat die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde hom nie na waarde skat nie.

II

Daar bestaan vele handleidings oor die kwatryn se spesifieke aard. In The anatomy of poetry wat in 1953 by Routledge & Kegan Paul verskyn het, verwys Marjorie Boulton soos volg na hierdie digvorm:

"any metre with lines rhyming in sets of four. The possible rhyme schemes are obviously: abab, abcb, aaaa, abba, aaab, aaba." (144)

Sy onderskei ook verder tussen die volgende soorte:

(a)  common measure": hier het elke reël agt en ses sillabes met die rymskema abab of abcb. Coleridge se "The Ancient Mariner" is hiervan 'n voorbeeld;
(b)  long measure": hier vind ons agt sillabes in elke reël met die rymskema ababa of abcb. Verskeie ballades en Tennyson se "In Memoriam" is bekende voorbeelde;
(c)   short measure": kwatryne met 6.6.8 en ses sillabes met die rymskema abab of abcb;
(d)  the 'Omar Khayyam'-quatrain": hier vind ons die jambiese pentameter met die rymskema aaba;
(e)   the 'Gondibert'" oftewel 'Elegiese' stansa waarvan Gray se "Elegy" 'n voorbeeld is.

Ottone M. Riccio in The Intimate Art of Writing Poetry, wat in 1980 by Prentice-Hall verskyn het, sien dit so: die verskil tussen die "hymnal stanza" en "envelope stanza" (66, 67). Hy wys ook op die gewildheid van die jambiese pentameter.

So het ek indertyd geskryf oor De Lange se kwatrynbundel:

Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se nuusbrief destyds is die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word.

III

Dikwels lewer die gedigte in Behind the view kommentaar op die skryfproses en is dit meditatief in aanbod. Dit is 'n moeilike vorm om te beheer, omdat elke woord op sy plek moet wees.

Die digter werk met ryme en halfryme. Hy gee ook aandag aan metrum en ritme. Die gedigte is selfrefleksief, selfs meditatief, oor die aard van die kwatryn.

Poetry

Poetry, as we all know,
can only change the status quo
inasmuch as words can hope to show
more deeply what our hearts already know. (79)


Where do longings go?

Where do longings go
when what was longed for grows
too faint: image without sound,
ache without a wound? (81)


Quatrain

I started writing this quatrain
and now only three lines remain -
the damn thing's going down the drain
because I know the last rhyme is inane. (80)

Dit is net 'n behendige digter wat so selfrefleksief kan speel met die vorm van die kwatryn. Opperman het eweneens in sy gedigte gespeel met die konvensies van vorm. Hoe dit jou inperk, maar terselfdertyd nuwe moontlikhede laat ontdek.

Wild fig

Is the quatrian too small
for the wild fig tree?
Will it grow so broad and tall
more words would be necessary? (45)

Uiteraard is dit dan wat dikwels in die gemoed van die leser gebeur. Die gedig mag klein in omvang wees, maar die interpretasie-moontlikhede is oneindig. Is hier ook 'n toespeling op die wilde vy van die Bybel? Is daar 'n verwysing na die onmoontlikheid om iets groots in 'n klein gedig te verpak? Sou 'n mens al die interpretasies wou aktiveer, sou die gedig nie meer 'n kwatryn wil wees nie!

Die digter het kennis geneem van die moderne wêreld en sy bedreigings soos in hierdie gedig:

Modern sounds

Everything now is a sound-bite.
Rhythms have disappeared.
There's little sense in a flash of light,
no symphony in a single chord.  (23)

Die digter is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat:

Words

Words in which we live
in so many guises
trying so often unsuccessfully to give
tongue to something that surprises.  (22)

Behind the view is pragtig uitgegee - met 'n blom op die voorblad.  Charl J.F. Cilliers is nie alleen 'n uitstekende vertaler nie, maar ook 'n digter om van kennis te neem. Oor die digter se Collected poems het Henning Snyman indertyd geskryf. Dit staan opgeteken op die agterblad: “Die eenvoud van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse letterkunde”. Hierdie wyse woorde is ook op die jongste bundel van toepassing.

Bestel van die digter: franban@mweb.co.za


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Friday, February 8, 2013

Charl J.F. Cilliers - Grains of Sand (2013)



Charl J.F. Cilliers. Grains of Sand. Malgas Publishers, 2013. ISBN 978 0 620 53735 3.

Resensent: Joan Hambidge

Noem die woord “Haiku/Haikoe”: wat onmiddellik by ‘n mens opkom, is: kan ‘n mens die haikoe binne die Westerse letterkunde bedryf? In Afrikaans het ons die onteenseglike talent van Eveleen Castelyn, wat van die mooiste haikoes gepleeg het in Afrikaans en die wêreldletterkunde. Eveleen Castelyn is waarskynlik die mees onderskatte digter in Afrikaans, en wat my betref, die ongekroonde koningin van die haikoe. Sy verstaan die spanning tussen die abstrakte en die konkrete. En ja, die tegelykertydaspek van hierdie digvorm. Minder as die engele (Human & Rousseau, 1990) bevat van my persoonlike gunstelinge:

Roosblare bêre
hartvormig in diep laaie
die as van liefde

*

In die eendeweer
loop die dakkie van my hoed
oor soos my gemoed

*

Kelke eendagmooi
blom in die nag leliewit
maagdelike dood

*

Maanblom speel trompet
kaktusfagotte blaas ‘n
somernag-taptoe

*

Motsag toegespin
verswilde aardbol draai
maansiek om die son

Charl JF Cilliers se Grains of sand bevat haikoes. Die titel aktiveer William Blake en die digter noem in ‘n sub-titel die gedigte variasies, om te beklemtoon: die wérklike Japannese vorm is ‘n saak van onmoontlikheid vir die Westerse digter. Oor hierdie problematiek is die digter duidelik ingelig, want hy verskaf ‘n nawoord om sy leser te rig. Die bekende kritikus, Richard Gilbert skryf soos volg oor hierdie problematiek:

Although English haiku do not possess a central connection to Japanese gendai haiku, qualities of presentation are shared (barring vocabulary). Having these shared qualities in the cross-cultural genre complicates the issue of verisimilitude. Japanese haiku and English haiku may be at most kissing cousins. As Snyder indicates, the term “haiku” itself is a misnomer in English, from a scholarly point of view. Haiku in English seems in the main to be a short-form poetics, with aesthetics and stylism influenced by the Japanese haiku (and its culture). However, the literary context and poetic approaches in English haiku are all located within the evolution and concerns of modernist western poetics.

Does this mean we should abandon the term “haiku”? I do not think so — yet for scholarship, the use of a pre-existing Japanese genre term for what is so obviously a unique and divergent genre in English requires disambiguation. While there is mutual magnetism and strong dynamic interplay between the two culturo-linguistic genre forms, further academic exploration may examine how uniquely different these two short-form poetics are; how they have arisen and are currently perceived in their respective cultural contexts. By clearing the air we can more precisely inquire as to the standing of the English-language haiku form within contemporary literature, in English (p. 118).

Kom ons laat vir eers die geleerdheid en fokus op ‘n paar trefseker verse:

Diagnosis

after the diagnosis
the diary full
of empty pages  (66)


*

On her finger

on her finger
under the Gucci glove
the wedding band feels cold (23)

*

Basho’s Frog

a frog croaks ceaselessly
I listen
for the splash … (17)

Hierdie gedig tree in gesprek met die klassieke gedig van Basho.

 *

Lilies

I can hear the sound
of water round
the lilies of Monet (74)

Ek is ‘n groot aanhanger van hierdie digter se werk. Sy versamelde digkuns, sy vertalings, sy haikoes en sy gesprek met sowel die Suid-Afrikaanse as die groter Engelse tradisie maak sy werk van uiterse belang.

Die oorspronklike 17 klankeenhede (5-7-5) word nie deurgaans gevolg nie. Die kigo of sogenaamde seisoenale woord is part en deel van die haikoe. In sy leersame nawoord wys Cilliers op die verskille tussen die konvensionele patrone en die sogenaamde buigbare of organiese stylvorme.

Selfs in die moderne Japannese digkuns word daar afgewyk van die tradisionele patrone en die natuur speel nie meer ‘n groot rol nie. Cilliers gaan in op al die fyn nuanses en afwykings van die tradisie en hy verwys na Ezra Pound se se klassieke vers:

In a station of the Metro

The apparition of these faces in the crowd;
petals on a wet, black bough.


Die bestel kan direk bestel word van franban@mweb.co.za.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Charl J.F. Cilliers - Collected Poems 1960 – 2008 (2008)



Charl J.F. Cilliers. Collected Poems 1960 – 2008. Malgas Publishers, 2008. ISBN 978 0 620 42013 6.

Resensent: Joan Hambidge

Digkuns-liefhebbers sou hierdie Engelse digter, met die Afrikaanse naam, se werk al raakgesien het in kleiner tydskrifte en hierdie selfpublikasie van Collected Poems na bundels soos West-Falling light (Tafelberg Uitgewers. 1971) en Has winter no wisdom (Maskew Miller, 1978), wys hoe sake staan binne die uitgewerswêreld.

The heart is many islands en Postcards from the edge is dus hier nuwe bundels, nou saamgevoeg as verskillende afdelings.

Die waarde van die versamelbundel is dat gedigte nou kan terugspeel op ouer, selfs vergete gedigte, en die leser kan eweneens die digter se ontwikkeling raaksien. (Hierdie leser het eers die bundel van agter na voor gelees; en toe weer van voor na agter om juis die nuwes eerste te lees.)

282 bladsye is ‘n stewige versameling wat uitloop in die slotgedig “Finally” (282) waar die digter die futiliteit van die lewe en skryfproses weergee:

until with the futility of one last breath
love and loss are finally one in death.

Tog, ironies genoeg, bly die gedig vóórtlewe vir die leser.

Ons ervaar hier die digterskap van ‘n ervare hand waarin die balans tussen die konkrete beeld en abstrakte boodskap goed gehandhaaf word. In “Mist over gull rock” (281) kom die maan oor die see op soos die gesig van ‘n drenkeling. En so ‘n beeld gaan altyd by die leser spook. Nes herinneringe:

Shells of dead sea creatures lie strewn
all about like the many memories
the small waves bring to him…
(280). 

In “Truth in stone” (281) word die rympatroon van die kwatryn netjies volvoer. Elders hanteer hy die halfrym en spieëlryme puik.

Daar is ‘n melancholiese toonaard, bykans deurgaans aanwesig en by ‘n trouseremonie lyk die konfetti-bloeisels soos opgedroogde trane; ‘n restaurant op sy beurt beskut mense teen die oop wond van die buitewêreld. Dit is immers “postcards from the edge”. Soos ‘n gedig oor Alzheimer se siekte bewys.

In ‘n ironiese gedig (271) oor ‘n partytjie word die leë gesprekke van gasvrou en gaste geparodieer – met ‘n wrang slot. In ‘n gedig oor stiltes tussen mense, vee ‘n kelner die tafel skoon, terwyl die twee mense se bewus is van hul “shattered dreams / suspended there” (253, “Silences”). Met min woorde en suggestie word treffende boodskappe oorgedra. “Chance encounter” (252) kan as ‘n ars poetica gelees word:

The bullet
slit the air and tore
through the shocked socket
of a staring eye.

Daar is ’n vers waarin ‘n kritikus gekritiseer word een van die mees aangrypende verse is ‘n gedig waarin briewe van ‘n afgelope verhouding bekyk word met die wete dat dít wat ‘n hele lewensloop verander het, nou so min beteken (“The letters”, 226).

Die digter skryf nie net oor die intieme emosie nie; daar is besonder knap natuurverse: oor diere, oor jagpartye, oor die Karoo. Daar is verse oor verhoudings met kinders en ‘n pa, ‘n besoek aan ‘n inrigting en ‘n motorbegraafplaas. Die hele lewe word beskou teen die agtergrond van die bekende Quasimodo-aanhaling: en skielik is dit aand. Die kortstondigheid van die lewe, en juis hierom die intensiteit van die digterlike waarneming, maak van hierdie bundel ‘n lonende leeservaring.

Dit is belangrik om te sien hoe die digter na sekere temas terugkeer, dit herskryf, verfyn – met die wete: “and a world at once / that is / and never is” (36).

Die wêreld is onbetrokke, maar die digter wetend dat alles vervlietend is, skryf tog ‘n vers. “The most beautiful” (22) eggo ‘n Wallace Stevens-aanslag en die motto verwys ons na Zbigniew Herbert. Die beheptheid met tyd aktiveert ook T.S. Eliot se seining hiervan en ons vind dan ‘n motto van hierdie digter as sleutel.

Die besondere hantering van die prosodie, verrassende slotte, ‘n helder beelde, imponeer keer op keer. Kyk hoe knap word rympatrone hanteer en die slot van “Necessity” (169) gryp aan die keel:

The shock was the rigor mortis of surprise
(or expectation?) on her lips and in her eyes.

Dit is ‘n bundel waarin ‘n mens bewus word van die digter se komplekse verhouding met die digkuns - en hopelik ‘n paar vrae stel aan die Engelse uitgewers hier te lande wat belangrike bundel, soos hierdie een, oor die hoof gesien het.

franban@mweb.co.za vir bestellings of Malgas Publishers, posbus 169, Private Bag XI, Melkbosstrand, 7437


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]