Showing posts with label Afrikaans debat. Show all posts
Showing posts with label Afrikaans debat. Show all posts

Friday, July 21, 2017

Polemies | Dertien gebooie vir Afrikaans

AVBOB repliek Regter van der Westhuizen

Die voormalige regter van die konstitusionele hof, Regter Johann van der Westhuizen, se artikel (“Dertien gebooie wat Afrikaans kan red”, 17 deser Media24) behoef reaksie. Nie om die regter se siening van die grondwet nie; daar kan ‘n mens sy interpretasie eer.

Dit is egter wanneer hy met voorstelle kom vir die redding vir Afrikaans, dat hierdie skrywer genoop word tot wederwoord. Die hele kwessie rondom die beskerming van minderheidstale en tale in die spervuur, is kennelik iets waarvan die regter onbewus is. Ek was verlede jaar by die Internasionale Kongres vir Vergelykende Letterkundes (ICLA) in Wenen. Verskeie deelnemers het hul besorgdheid uitgespreek oor die problematiek, o.a. geleerdes uit Indië. In Afrika is daar klein statte waar ‘n laaste geslag nog ‘n inheemse taal kan praat. Matthias Brenzinger aan die Universiteit van Kaapstad doen baie werk om sogenaamde inheemse tale op te teken en te bewaar.

Ek het oor sy boek (mede-redakteur Sheena Shah) gekryf, Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. Uitgegee deur CALDi, Universiteit van Kaapstad.

Sheena Shah & Matthias Brenzinger met Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary­Ann Prins Vyf mense, waarvan drie susters, is die enigste mense wat nog die N|uu-taal kan praat en ’n groep akademici het hulle gehelp om ’n ortografie vir hulle taal te skep. So sal hulle taal en die geskiedenis bewaar bly. (WoordeWat Weeg/ S. Shah & M. Brenzinger - OumaGeelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu (2016). Besoek 21 Julie 2017).

Die Universiteit van Princeton is eweneens besig met so ‘n bewaringsprojek.

Van der Westhuizen beweer verder met groot stelligheid:
Filistyns, Moabities en Amelekieties het nie oorleef nie. Hebreeus het – vir eeue sonder ’n land, regering of beskermende regstelsel, deur onder meer harde werk en volgehoue studie.
En dis juis die punt. ‘n Taal hoef nie uit te sterf as die mense wat dit praat, omgee nie. Meer nog, ons praat hier van die hoër funksies (soos ‘n wetenskapstaal) en nie patois nie.

Maar waar ‘n mens werklik dink die skrywer weet nie waarvan hy praat nie, is wanneer hy hom ook verder uitlaat oor kanonisering. Koos du Plessis die Hertzogprys vir poësie? Hy was / is ‘n puik liriekskrywer, maar bepaald nie in die liga van ‘n Krog of ‘n Opperman nie. Ek verwys die regter na Harold Bloom se The Western Canon.

Wanneer ‘n persoon van statuur inbeweeg in komplekse kwessies soos taalpolitiek (-ideologie) en kanonisering kan hy bepaald nie anders as om net ‘n persoonlike opinie te gee nie.

Sonder skroom bely hy:
Ek is skuldig. Ek was betrokke by die Universiteit van Pretoria se besluit om Engels (met uitsonderings) as voertaal te gebruik.Tesame met ’n proses van raadpleging op die kampus wat vir almal oop was en waaruit die EFF en AfriForum geloop het, was ek voorsitter van ’n paneel wat aan die universiteitsraad verslag moes doen.
Ek doseer Afrikaans aan die UK waar meertaligheid erken word. Toe ‘n gesiene kollega, Henning Snyman, onlangs oorlede is, het die Monday Paper my eulogie in Afrikaans gepubliseer.

CALDi aan die UK is ‘n sentrum vir Afrikatale en die projek vir meertaligheid word deur my ondersteun – eerder as ‘n siening dat ons almal Engels wil wees en is.

AVBOB is tans besig met ‘n massiewe projek vir die digkuns.

Daar bestaan uit twee dokumentêre programme (een oor die Afrikaanse poësie, en een oor die Engelse poësie) waar daar gepraat word oor die relevansie van die digkuns. Op 1 Augustus word ook ‘n poësiekompetisie gelanseer waaraan sprekers van al elf landstale kan deelneem. Uiteindelik sal daar ‘n webruimte wees waar mense van alle taalgroepe ‘n lykdig of troosgedig sal kan aflaai om te help met die verlies van ‘n geliefde.

En in Augustus 2018, ter herdenking van AVBOB se 100ste bestaansjaar, word daar ‘n bundel met 100 nuwe gedigte deur gevestigde en nuwe stemme gepubliseer, 9 verse in elke landstaal plus een gedig waarvan die identiteit eers dán bekend gemaak sal word.

En hierdie representasie van inheemse tale is ‘n eerste in Afrikaans (Woorde Wat Weeg/Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal. Besoek 21 Julie 2017).

Hierdie projek bewys hoe kompleks ons samelewing is en dat ons eerder moet fokus op die verskillende tale in ons land, as om terug te val op ‘n gelykmakende, swak Engels. Ons het genoeg ge-mea culpa. Dis nou die hoogste tyd om vooruit te beweeg.

* Ek wou nog sê sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.

© Joan Hambidge

Thursday, December 3, 2015

Joan Hambidge: Reaksie op Amanda Gouws se "Identiteit is nie die vertrekpunt" (2015)

Amanda Gouws

Brief: Die Burger, 03.12.2015

Amanda Gouws se reaksie in Die Burger (“Identiteit is nie die vertrekpunt”, 1 deser) bring ‘n paar kwessies aan bod wat ek graag hier beantwoord.

Oor die verdwene Randse Afrikaanse Universiteit en waarom Afrikaanse sprekers toe nie hewig reageer het nie. Ek onthou dit anders. Wyle professor FIJ van Rensburg en JC Steyn, en andere,  het hulle sterk uitgespreek hierteen, maar die demografie van Johannesburg kan nie met Stellenbosch vergelyk word nie. Johannesburg is ‘n sterk Engelstalige stadsgemeenskap; Stellenbosch is in die Wes-Kaap geleë met ‘n Afrikaanse gemeenskap. Dis soos om Wallonië met Vlaandere te vergelyk.

En presies waar word taal en kultuur ooit van mekaar geskei?

Sy meen Afrikaans is “verpolitiseer”. ‘n Eng siening van die geskiedenis, veral met Engels se geskiedenis as sterk bemarkers en voorstanders van konsentrasiekampe wêreldwyd. Opvallend dat Britse historici veral sterk standpunt inneem teen die Britse optrede tydens die ABO.

Sy het dit ook teen “uitheemse taalmodelle”. Wel, hierdie “uitheemse” taalmodelle is van toepassing hier te lande. Afrikaans is ‘n semi-kreoolse taal wat behoort aan hierdie land en waarom dit verpand vir Engels?

Om kultuur wat”floreer” gelyk te stel aan die taaldebat, is nie hier relevant nie. Natuurlik sal Afrikaans gepraat word en woordfeeste van krag tot krag gaan. Ons het dit egter oor die posisie van Afrikaans as wetenskapstaal, ‘n posisie wat wat wys hoe die taal getransformeer het van kombuistaal tot internasionale taal wat, nota bene, deur intellektuele in my vakgebied begryp word by internasionale kongresse, omdat hulle Duits magtig is.

Om landverlaters wat hul prysgee met die taaldebat hier te lande te wil vergelyk, is onhoudbaar. Ofskoon daar plekke in Australië en New Zeeland mense is wat steeds Afrikaans praat, was dit húl keuse om hul land te verlaat. En gaan lees gerus Danie Marais se As almal ver is (2009) oor watter impak ‘n bestaan in die vreemde op identiteit het.

As skrywer en dosent van Afrikaans en alumna van die US, neem ek standpunt in teen diegene wat ‘n sterk inheemse taal met ‘n lang skryftradisie probeer verloën. Ook onrusbarend hoe veel mense en polemici hul tans uitspreek oor taalfilosofie (en-politiek) en daar weinig van weet. Gaan lees gerus JC Steyn se klassieke teks Tuiste in eie taal (1980) en dink na hoe 'n Afrikaanse koerant ook afhanklik is van Afrikaans aan universiteite.


© Joan Hambidge