Showing posts with label David Philip. Show all posts
Showing posts with label David Philip. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

Gus Ferguson - The best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed (2000)



Gus Ferguson. The best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed. Selected poems & drawings. David Philip, 2000. ISBN: 0 86484 358 6.

Resensent: Joan Hambidge

Gus Ferguson is 'n onverdrote bemarker van Engels Suid-Afrikaanse poësie. Snailpress, Firfield Press en Carapace poets word alles deur hom behartig. Eiehandig presteer hy dit om die Engelse digkuns lewend(ig) te hou.

Sy cartoons(kursief) is ook wonderlik. Miskien nie so “af” soos Gary Larson s'n nie, maar soms ook onvergeetlik: soos die een mier wat vir die ander een sê:”My Oupa het vir Eugène Marais geken!”

Die digter word 'n “alert and inquiring poet” genoem in David Philip se publisiteitstuk. Miskien 'n bietjie hooggestem, sou ek reken. Plesierig is meer die woord wat by my opkom om hierdie aweregse digkuns te beskrywe waar die aantrekkende vrou se omgekeerder striptease gade geslaan word.

Sy speelse reeks oor slakke (“Go well, go shell!”) wys op 'n soort vernuftigheid met woorde en “Shellancolia” is 'n gawe distigon.

Dit is verse wat dikwels 'n glimlag ontlok soos die grappige “M.C. Koei” (p. 19) waar die polities korrekte dan “HippopotaMs.” is. Die digter weet ook presies waar hy staan in die digkuns soos ons aflei uit “Light verse at the end of the tunnel” (p. 40).

Sy aweregse humorsin blyk uit sy knap tankas en haikoes:

On the death of an old computer;
Ascii to Ascii,
Dos to Dos. (p. 59)


I believe that God
encrypted the universe
for fear of hackers. (p. 58)

Met sy slakverse en klein gedigte het Gus Ferguson 'n markante bydrae gelewer tot die speelse vers in die Engels Suid-Afrikaanse digkuns. Hy is Engels se A.G. Visser.

Dit is baie mooi deur David Philip uitgegee.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, March 25, 2013

Jane Fox - The killing bottle (1999)



Jane Fox. The killing bottle. David Philip, 1999. ISBN 0 86486 396 9.

Resensent: Joan Hambidge

Jane Fox is veral bekend vir haar gedigte wat in verskeie literêre tydskrifte verskyn het. In 1992 verskyn The dancer and other poems (Snailpress). The killing bottle is haar debuut as romanskrywer en vertel die verhaal van 'n ou skuur waarin verskeie bottels met motte en skoelappers staan. Dit het behoort aan 'n beroemde lepidopteris. Daar is ook die seun, William, van die beroemde wetenskaplike, sewentig jaar oud en eensaam; Mapunye, die geskonde swartman.

Die hele tematiek staan dus in die teken van transformasie (in Jungiaanse terme) en herinner ook aan Nabokof se obsessie met vlinders.

Die verhaal word gejukstaponeer tussen verlede en hede. 'n Jong ongetroude egpaar, Meg en Ash, se motor raak onklaar en so raak hulle dan betrokke by William en Mapunye.

Hulle aankoms lei tot 'n oplossing van konflik tussen William en Mapunye en die slot van die roman is werklik uiters subtiel hanteer.

Die roman is mooi geskryf en is vol subteks. Daar is baie momente wat primordiaal gelees kan word, soos die verwysings na die sogenaamde bottel wat deur die hele vertelling geweef word.

Ook word die verlede en die hede goed vir die leser aangedui in kursiewe en gewone druk sodat 'n mens die hele tyd die verskillende vlakke van vertellling kan vergelyk. Maar die roman wil kennelik ook 'n spanning tussen die simboliese en die reële uitwerk, Afrika-kultuur en Westerse rasionaliteit.

Dit word alles goed hanteer. Daar is klein momente in die roman wat 'n mens lank na die lees bybly, soos die kragtige beskrywing van geweld op bladsy 115. Ook die verhouding tussen die twee jong mense sit vol spanning.

Ook wanneer Meg droom tydens haar prekêre swangerskap, word daar soveel psigo-analitiese beelde gebruik wat die leser verder laat speur.

Die titel slaan dus duidelik op die onbewuste wat soos Jung en al die ander psigo-analiste beweer, 'n ruimte is waarin alles geberg word wat ons dink en beleef (het). Ook kan ons ervarings nooit negeer nie en kan dit uiteindelik op onverwagse momente ons lewens verander.

Dit is geen groot roman nie, maar 'n genoeglike leeservaring waaraan 'n mens bepaald plesier het. 'n Mens kan sien dat die romanskrywer 'n digter is. Hierom die dikwels poëtiese beskrywings in die mooi versorgde boek van David Philip.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Thursday, March 7, 2013

Nadine Gordimer - Loot (2003)



Nadine Gordimer. Loot. David Philip, 2003. ISBN  0 86486 632 1.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Nuwe versameling fiksies, soos die skutblad dan aantoon van Nadine Gordimer, is uiteenlopend en insigryk in aanslag. Gordimer het veral aansien bereik as ‘n skrywer wat die politieke ondeugde van die land beskryf, maar terselfdertyd  ook ‘n skerp analis van menslike verhoudinge is. In die verhaal “Karma” word die opeenvolgende fases van ‘n lewe se deugde en ondeugde behandel. Soos die woord uit die Sanskrit dan bedui: ‘n mens se lot word bepaal deur jou dade.

‘n Oënskynlik onskuldige inleiding van hoe iemand se soeke na status tot gevolg het dat hy ‘n eiendom besit wat effens bo sy vermoë is wat dan tot ander probleme sal aanleiding gee.  En ook hoe ambisie ons lotgevalle bepaal. Baie vernuftig is een man geplaas in versekering: om mense teen lotgevalle te verseker en te beskerm teen ander se grypsug.  En teen die noodlot.

‘n Mens sou kon aanvoer dat Gordimer die politiek as ‘n soort ‘back-drop’ gebruik waarteen sy universele lotgevalle laat afspeel, behalwe dat die politiek in hierdie land eiesoortig en ontwrigtend inwerk op die keuses van mense.  Die politiek-sosiale opset kan dus by voorbaat ‘n keuse blokkeer.  ‘n Mens se politieke ‘verlede’ en ervarings word dan ook jou lot, soos dikwels by Gordimer leer (o.a. July’s People).

Waarin hierdie verhale uitmunt is sub-teks. Daardie onuitgesproke ‘boodskappe’ wat tussen mense draal. Of dit nou ‘n ouer pa is wat sy vrou versaak om ‘n nuwe minnares in te neem (wat hom op haar beurt versaak) of  ‘n vrou wat in die diplomatieke opset ‘n kultuur-vreemde verhouding begin, is die verhale gelade. Met kultuurkodes, sosiale voorskrifte, leuens, implikasies (die man hoor aan sy minnares se stem dat sy iemand anders sien in ‘n vreemde land).

Die kort-kortverhaal is ook hier aanwesig en in die skitterende “Homage” kry die leser ‘n blik op die psige van die koppesneller. Iemand buite grense, verplaas, op pad wat gehuur word om ‘n regering se vuilwerk te doen. Die verhaal word opsetlik vaag geplaas sodat dit universele waarde kry: dit is die lot van elke huurling geteister deur sy paranoia en altyd op vlug. Die storie is besonder goed gekomponeer: elke motief uitgewerk, bykans soos in ‘n gedig.

Waarskynlik wil hierdie verhaal ook aan haar kritici bewys dat sy nie net oor die lokale kan skryf nie.

Loot is ‘n uiteenlopende versameling kortverhale, kort-kortverhale en een lang verhaal (“Karma”).  In vele verhale word die skrywer se funksie direk aangespreek soos in die aangrypende “Visiting George” waar ‘n pynlike ervaring net sin maak omdat dit verwoord kan word. “Look-alikes” weer takel die hier-en-nou: werkloosheid, armoede, bergies wat hul tuis maak op ‘n kampus en die dilemma wat dit tot gevolg het.

In al die verhale – in ‘n mindere of meerdere mate – is daar karmatiese wette te bespeur. Die boek is dan ook spiritueel, omdat daar ‘n onderliggende boodskap van dit wat jy saai, sal maai dra. Ook al word dit verironiseer: die malariamuskiet is nie die “Reaper with the scythe’ nie, maar sy “emissary, Anopheles”.

Dit is ‘n pakkende leeservaring en ‘n versameling vol verrassings, wendinge, en veral: nuanses. Die prosa is spaarsamig, gedronge en hierom treffend.

Dit is asof sy die besware van haar kritici, dat sy te sterk op die boodskap leun en haar karakters stereotipeer, hier wil verkeerd bewys. Dit kos R175, maar die 240 bladsye kan beslis herlees word.

Hierdie versameling is naas The Conservationist my gunsteling-teks van ons Nobelpryswenner.  

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]