Showing posts with label Koningin Lear. Show all posts
Showing posts with label Koningin Lear. Show all posts

Monday, January 27, 2020

Resensie | Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaling deur Antjie Krog, 2019)

Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaal & verwerk deur Antjie Krog). Protea Boekhuis, 2019. ISBN  9781485310693

Resensent: Joan Hambidge

Afrikaans het ‘n lang galery van uitmuntende dramaturge: Adam Small, P.G. du Plessis, Pieter Fourie, Bartho Smit, Reza de Wet en ‘n hele boel jong stemme. Die publikasie van Tom Lanoye se Koningin Lear is ‘n belangrike toevoeging tot ons dramaskat. 

Dit is vertaal – en herdig – deur Antjie Krog en so word daar dan aangesluit by die hele vertaalprojek tussen Afrikaans en die Lae lande. Hierdie skitterende toneelstuk sluit aan by die moderne tradisie om Shakespeare vanuit ‘n ander genderperspektief te beskou of om die bekende gegewe te moderniseer. Ethan Hawke vertolk Hamlet in ‘n moderne New Yorkse familiebesigheid in die indrukwekkende film van Michael Almereyda (2000).

Verder terug in die tyd: Roman Polanski se interpretasie van Macbeth.

Dié samewerking tussen Krog en Lanoye is nie die eerste nie. Daar was ook medewerking met Mamma Medea in 2001.

Lanoye se teks word “vry na Shakespeare” aangebied met ‘n motto wat daarop dui dat ons in die tyd is waar alles beheer word deur familie dinastieë. De Montaigne rig die teks vérder met En attendant Godot van Samuel Beckett, Waiting on Godot, ‘n teks wat vir hierdie tyd waarskynlik die grootste rigsnoer is. Absurde eise, korrupsie, self-genoegsaamheid en narcisme kom aan bod. (Met die impak van Steinhoff as 'n subteks.)

Alles wat dus nie deur die karakters uitgespreek is nie, kom ook aan bod (die sogenaamde didaskalia). Die ingangsportaal se marmer en matglastoegangsdeure; wêreldhorlosies en verwysings na panieksituasies: werknemers wat toyi toyi, beursvloere in paniek, klimaatsgeweld (64).

Hoe meer alles verander, hoe meer bly dit dieselfde.

By die lees van hierdie teks – mooi uitgegee met Antoinette Kellerman op die voorblad – is my herbesoek van die teks sterk beïnvloed deur my teaterervaring met Marthinus Basson as die regisseur in die Baxter in Kaapstad. 

Hierdie produksie het weer eens bewys wat ensemble-spel behels: Kellerman as Bettie Lear teenoor Robert Kent, haar regterhand (vertolk deur André Roothman). Haar drie seuns (Greg, Henry, Corneltjie) word goed in beheer gehou deur die twee skoondogters: Connie en Alma. Dan is daar Oleg (die verpleër) en ‘n junkie. Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Neels van Jaarsveld het die verskillende fasette van die broederskap weergegee teenoor die oorspronklike teks waar daar dogters is. 

Lanoye ontgin eweneens die idee van familiehaat en hoe daar gevlei en witvoetjie gesoek word ter wille van eiebelang. Die gegewe word gesitueer in megalopolis – voor en na ‘n storm.

En dit word gesinkopeer met binnestorms: die een vrou se kinderloosheid; die ander een kitsch en vol eiewaarde, met Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe as vertolkers.

Wanneer ‘n mens ‘n teateropvoering beleef, mis jy dikwels belangrike dialoog en skakels. Hierdie teks het die eerste ervaring nog groter gemaak.

So klink Lear op bladsy 130:

Ons giggel, ons pleeg horribale laster
Uit die koerante waar ons onder slaap.
Snags stry ons vir die grap oor besighede!
Wie van die beursbedrieërs sneuwel eerste,
Of wen? Wie is nog in, en wie al uit?
En ek die ponzi schemers, the old boys,
The Stellenbosch élite en die Sjinese,
Almal in eb en vloed net aan die maan
Gehoorsaam …

So word alles flink binne ons konteks geplaas met al die slangkuile van bedrog.

Wanneer die Koningin in spanning verkeer, is haar taal op die spits gedryf en dus poëties:

"'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, 
 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ..."

En:

"'n Hond, 'n perd, 'n rot besit 'n lewe.
'n Asem. Jy nie. God dis tog 'n skande!"

Wanneer jy hierdie reëls skandeer, is die sluimerende woede sigbaar.

Lanoye en Krog herposisioneer Shakespeare. In die vertaling word die teks "huis toe gebring" in die vertaalkenner Lawrence Venuti se terme, omdat dit aards is en vol verwysings na ons hier-en-nou. Soos die akteurs se vertolkings ensemblespel weergegee het, is hier 'n vennootskap tussen Krog en Lanoye. 

Sowel Krog as Lanoye is vreesloos (vir sommige mense grensoorskrydend). In die produksie weet Marthinus Basson ook hoe om dit reg te vertolk. Hy het immers Breytenbach se werk geregisseer.

Die ondersoek van waansin en demensie en die afbraak van taal is imposant. En kyk hoe word die "fool" in die oorpronklike teks nou 'n nuwe raadgewer.

George Bernard Shaw het glo gemeen dat King Lear die grootste tragedie is wat die meester geskryf het. Met Koningin Lear in Afrikaans het ons ‘n teks waar twee kreatiewe talente die teks toe-eien en nuut maak. 

Nuwe wyn in ou vate.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, November 10, 2019

Resensie | Koningin Lear (2019)

Tom Lanoye se stuk (vertaal en gekontekstualiseer deur Antjie Krog), met die uitstaande regisseur Marthinus Basson, is 'n komplekse, briljante teaterervaring. Dit ontstig en boei om verskeie redes.

Die herwerking van Shakespeare se King Lear word 'n stereoskopiese ervaring van 'n teks verplaas na Vlaams en Afrikaans bekend aan vertalings. Die magspanninge in die oorspronklike drama word na hierdie land verplant met verwysings na Steinhoff. Op die televisieskerm bó – wat die storie vorentoe dryf – is Julius Malema en tornado's in Miami. Eers stilte: geboue in New York wat dan al hoe meer spannend en verwoestend raak. Die storm en oorlog in die oorspronklike teks word so geaktiveer.

'n Gesprek met 'n seun in die Ooste vind plaas op Skype. Daar is selfone. So behalwe vir die vertaling/verwerking wat alreeds stereoskopies in aanbod is, vind ons ook moderne tegnologie wat elke gesprek verder kompliseer.

George Steiner het in The death of tragedy (1961) geskryf dat in King Lear "the weight of the suffering lies in the prose." Hy wys op die verskillende taaldimensies in die stuk; iets wat sowel Lanoye as Krog ópvang.

Verder ruil Lanoye die gegewe om en maak hy van die magsbasis 'n genderkwessie. Ons het nou 'n Koningin Lear, 'n matriarg, vertolk deur Antoinette Kellerman wat haar register volledig bestryk. Eers as die beheerder van haar kinders en welvaart; dan as 'n verloederde persoon wat psigiese beheer verloor. Die waansin – so bekend aan vele Shakespeare dramas – word hier ondersoek. Die klere verander. Eers korporatiewe drag; dan slaapklere, 'n deursigtige rokkie ...

Van hakkies na plakkies. En 'n kapsel wat maller en deurmekaarder raak.

Kellerman word ondersteun deur mede-spelers: die twee skoondogters (vertolk deur Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe) se klere verraai ook hul innerlikes. (Alison Lurie wys immers hierna in The language of clothes (1981) dat klere 'n persoon opsom). Roland Marais is spoggerig geklee en Anna-Mart van der Merwe dra blink, uitspattige klere. Hul aksente verraai ook hul stand en wanneer Marais brry, is sy weerloos in die rusie oor kinderloosheid en die jaloesie tussen die skoonsusters. Van der Merwe is skitterend in haar vertolking van 'n dom, manipulerende vrou. Die matriarg noem hulle pofadders.

Want die matriarg wat haar naam wil afdruk op aandele, beheer haar kinders met afpersing. Die emosionele geweld in hierdie familie-romanse word 'n tragedie met die waansin en dood van 'n kind.

André Roothman se transformasie van raadgewer tot blinde man simboliseer wat in hierdie drama gebeur. Sy liggaamsbeheer is oortuigend. Kyk hoe staan hy eers ... Neels van Jaarsveld bewys weer vierkantig hoé veelsydig hy is. In sy benepe blou pak klere probeer hy sy broers troef: Wilhelm van der Walt en Edwin van der Walt wat puik is in hul vertolkings. Matthew Stuurman praat Engels en Afrikaans – om die spieëlaspek van vertaling verder te beklemtoon. Edwin van der Walt (as Cornald) ruk aan die hart wanneer hy 'n vertrapte, verslaafde vertolk.

'n Mens sou ook oor die musiek kon skryf wat verder die dramatiek van alles beklemtoon. Die naaktheid en sekstoneel is goed ingebed. Basson is 'n ou hand. Hy weet presies hoé om die grensoorskrydende te navigeer.

Die gehoor het dikwels gelag vir die taal wat skerp, beeldend en selfs vuig is. Nou ja, lag is 'n komplekse emosie.

In die eerste helfte van die drieuurlange produksie word die sleutels gegee wat die kyker in die tweede helte sien ontplof. Van klein besigheid tot sakeryk. Lojaliteite wat geeïs word met 'n jongste broer wat nie wil saamspeel nie. Familietwis en hebsug.

Hierdie teks is 'n hérverbeelding van die oorspronklike soos Michael Almereyda se Hamlet (2000) met Ethan Hawke.

Harold Bloom het insigryk geskryf oor King Lear wat hy as meer ironies as Hamlet beskou het in sy studie oor hierdie drama in Lear: The great image of authority (2018).

Kyk wat gebeur in hierdie drama met Cordelia, Goneril en Regan ... en kyk hoe die props verwyder word deur behendige teaterlui.

En Elizabeth Lear se jambes oortuig: “'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, / 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ...”

Hugo Theart het dit as opdragstuk opgevoer vir die 25e bestaansjaar van die KKNK en so 'n man moet eweneens die eer kry.

Teater uit die boonste rakke.


© Joan Hambidge