Showing posts with label Deon Meyer. Show all posts
Showing posts with label Deon Meyer. Show all posts

Wednesday, November 25, 2020

Resensie | Deon Meyer – Donkerdrif | Human & Rousseau, 2020

Deon Meyer: Donkerdrif. H&R, 2020. ISBN: 9780798181662 

 

Resensent: Joan Hambidge 

 

Deon Meyer hét dit. Hy kan 'n pakkende speur-/misdaadverhaal skryf wat jou meesleur. So is dit gesteld met die jongste roman. Met die usual suspects: Bennie Griessel en Vaughn Cupido, en ander bekende randfigure. 

 

Die verhaallyne – soos in spanningsverhale – wissel vinnig van een toneel na 'n volgende. En uiteindelik hou dit alles verband met gierigheid, een van die doodsondes.  

 

Dit is duidelik dat die skrywer Steinhoff en Markus Jooste as vertrekpunt gebruik om die verhaal van nouveau riche en inkommers op Stellenbosch naatloos te vertel.  

 

Boonstra is duidelik op Markus Jooste gebaseer, ofskoon die skrywer beweer alles is verbeeldingsake. Hierdie ontkenningsklousule is egter nie waterdig nie. Die beskrywings van Boonstra is vraisemblance-materiaal. 

 

Herkenbare plekke waar Boonstra se vrou woon word wel verplaas, maar die leser wat hierdie eindelose sage in die media volg, weet presies wat hier gebeur. Boonstra is die baas van Schneider-König ('n uiters ironiese naam). 'n Man wat intimideer met vuige stories oor ander wat hy misbruik soos dit hom pas. 

 

Tussen kenbaar en herkenbaar woed die verhaal voort. Met arme Bennie Griessel wat dissiplinêr verhoor word weens insubordinansie. En verplaas word. 'n Paar maande lank platsak. 

 

En 'n sakevrou, ene Sandra Steenberg – 33, en aantreklik én in diep skuld – word  ingesluk in 'n verkooptransaksie met Boonstra se landgoed Donkerdrif. Boonstra se wettige vrou is onaansienlik en wraakgierig. Sy ruk 'n "kuberhaas" uit die hoed en ontmoet Sandra in die Decameron, die bekende Stellenbosse restaurant waar vele van die rykes en gesienes van hierdie dorp uithang. 

 

Die leser weet alles gaan nie goed afloop vir Sandra Steenberg nie. Boonop is haar man, Josef, 'n kenner van Ivan Vladislavic. 'n Mens verwag dat hy gaan vuil speel. 

 

En 'n jong student wat "wegraak" en deel is van kuberongerymdhede. Nog 'n spanningslyn wat die leser laat asemophou saam met sy moeder. 

 

Op die koop toe word die bedrog van die polisie ook ontmasker. Wie presies is verantwoordelik vir Milo April se dood? 

 

So alles is local en lekker. Ons dagblaaie onthul daagliks skandelike bedrog en onheil. En Deon Meyer as flinke storieverteller put uit hierdie diep put van ongeregtig- & ongerymdhede. 

 

Die roman begin met 'n tipiese woeste aanslag: 'n geweldige polisiejaagtog en skietery. Met 'n baba wat net-net betyds gered word en 'n jong kind wat alles aanskou. Dit eindig sonder closure ... 

 

'n Lyk in 'n vrieskas.  Hier breek die outeur die konvensie van die speurverhaal deur die slot oop te hou vir bespiegeling. (En dalk vir 'n opvolgroman?) 

 

Meyer verwys met voetnote na vorige tekste soos Ikarus (2015) en Prooi (2018) wat 'n ander speurtog tot gevolg het vir die literator. Ook dit maak alles komplekser. 

 

Meyer se resep is: deeglike navorsing, die skep van spanning, afwagting, vinnige dialoog. Met 'n skeut humor. Werklike mense – kyk wie speel kitaar! – genderwaarnemings en kritiek op 'n samelewing wat al hoe meer plofbaar en gierig geraak het, maak hiervan 'n eersteklas spanningsroman. Die verskillende verhaallyne word saamgesnoer en afgewissel bykans soos in 'n opera. Daar is cliff hangers en hierdie leser het die roman een nag tot drieuur uitgelees. Jy wil weet hoe alles gaan eindig ... 

 

Dis 'n roman soos die film LA Confidential waar die verrotting van binne af gebeur. Curtis Hanson se film van 1997 het hierdie kyker onlangs tweekeer na mekaar gekyk. Gebaseer op James Elroy se roman word 'n uitgebreide spel met die kyker gespeel. Guy Pearce, Russel Crowe, Kevin Spacey, Kim Basinger en Danny DeVito lewer besondere spel. Hollywood en polisiemag. Geldgierigheid. Magswaansin. En met 'n tweede kyk, sien jy al die leidrade. 

 

Dis onnodig om Meyer te resenseer. Sy romans verkoop en hy het 'n getroue aanhang by nie-literêre lesers en letterkundiges. Hy laat alles so maklik lyk, maar soos by Agatha Christie steek hy sy navorsing weg agter 'n storie wat vorentoe beweeg. 

 

Tereg is hy alreeds nommer 1 in die boekwinkels. 

 

Tuesday, October 30, 2018

Resensie | Deon Meyer: Prooi (2018)

Deon Meyer: Prooi. Human & Rousseau, 2018. ISBN 978 0 7981 7775 7

Resensent: Joan Hambidge

Om ’n Deon Meyer te resenseer, is waarskynlik onnodig. Ons praat van 50 000 eksemplare in Afrikaans. Hierom volstaan ek met ’n paar kanttekeninge by Prooi, die jongste roman met die sub-titel ’n Bennie Griessel-dossier.

Twee verhale word apart vertel (en saamgesnoer, uiteindelik). Kapteins Griessel en Cupido moet die moord oplos van Johnson Johnson, 'n oud-polisieman, wie se lyk langs die treinspoor gevind is. Johnson was ’n passasier op ’n luukse trein. Waarom was hy op die trein, en wie het hom vermoor? Hier kan ’n mens nie anders as om die beroemde treintonele uit die James Bond-film From Russia with love (1963) in die herinnering te roep nie. Terence Young se regisseurskommentaar by dié film bly insigryk.

In Bordeaux word Daniel Darrett se lewe geproblematiseer wanneer hy opdrag kry om laksman te speel en ’n president te “verwyder”. In die ou dae was hy verbonde aan Stasi en die KGB. 

En Bennie se verhouding met Alexa Barnard is ’n ander verhaal, soos sy bekende stryd teen drank.

Hierdie is ’n pakkende roman en wat my betref, Meyer op sy allerbeste. Die vaart is snel, blitssnel en die navorsing uitstekend. En die spanningkurwe hóóg.

Dié dubbelloop-roman sit vol wyshede, soos die insigryke interpretasie van ’n docket: “Die ses kartonbladsye bevat op sigself kardinale inligting, maar dit dien ook as ’n uitstekende, verrassend duursame omhulsel vir die dikwels tientalle, soms honderde, dokumente wat die saak in sy leeftyd gaan versamel. Die docket is terselfdertyd ’n pakhuis en ensiklopedie, bronnelys, Speurbybel en spanningsroman. Mits jy weet hoe om dit te lees, en dit natuurlik deur ’n nougesette, kundige poliesman geskep en in stand gehou is” (16, 17). 

Hier het jy dus die verteller wat meta-diëgetiese kommentaar lewer op die aard van die genre. Deon Meyer wat as behendige skrywer sy kennis uitstal. By Georges Simenon kry jy ook hierdie nadenke oor die bedryf; bykans asof jy die binnespraak van die speurder ervaar. Ook die speelse opmerking dat speurders nie speurverhale lees nie; te “airy-fairy” (395).

Hiermee wil die teks dus aanspraak maak op werklikheidstatus.

Die leser word ook inligting verskaf oor die tyd van die dood; o.a. die vyf stadia van bloedstolling (300), ‘n kopknik na Patricia Cornwall.

Verder word die treine realisties beskryf in Prooi, en die stad Bordeaux word toeristies beskryf (Barthes se vraisemblance); ’n mens kan letterlik die werklike stad sien asof jy dit met Google maps navigeer.

Die vlerke van die vrees-windmeul waaraan polisiemanne ly, word eweneens beskryf: oorlewingskuld, skeidingskuld, omnipotente verantwoordelikheidskuld en selfhaat (90). Ons beleef dus sy vrees en oordrewe pligsbesef – wat die rede vir sy alkoholisme is. Meyer gebruik woorde wat in ’n polisieman (hy skryf poliesman) se mond pas: suip in plaas van drink.

Daniel se identiteit is fassinerend. Hier wil ek niks verklap nie. Mbali Kaleni verskyn helder voor die oog. 

Of die gebruik van Nikita as ‘n bynaam. Daar is grappies oor musiek en gigs.

Die Franse frases word telkens in ‘n gemaklike Afrikaans weergegee sonder om die verhaal te steur.

En baie slim gelaai is die verwysing na Arnold Schwarzenegger in die film Predator (1987) – op vele vlakke toepaslik, slim en beduidend. Die oorspronklike titel was terloops Hunter.

Watertekort (Dag Zero), staatskaping, korrupsie is van die elemente wat hierdie verhaal vorentoe dryf.

Frenetiek. So word Amsterdam beskryf. En dit is ook hoe ‘n mens hierdie slim en goed gekomponeerde spanningsverhaal kan beskryf.

En Daniel se angsvlakke het my polse laat sweet.

Dié is ’n roman wat mens moeilik neersit, en terwyl ek die laaste sin lees wat die Suid-Afrikaanse werklikheid van geweld en moord karteer, verneem ek dat Advokaat Mihalik in Kaapstad deur ‘n huurmoordenaar uitgehaal is.

Truth is stranger than fiction.

Ek wou nog iets skryf oor die olmbome in die teks.

En die sogenaamde elm-disease.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

Saturday, March 11, 2017

Deon Meyer – Jagveld en ander draaiboeke (2017)



Deon Meyer – Jagveld en ander draaiboeke. Human & Rousseau, 2017. ISBN 9780798175708

Resensent: Joan Hambidge

I
Jagveld en ander draaiboeke, deur Deon Meyer, word tereg bemark as ‘n teks van "die gewildste skrywer in Afrikaans". Meyer as spanningsverhaalskrywer het sy volgelinge by verskeie lesers, letterkundig en gewoon. Hy het onlangs ook sy hand aan films gewaag en dit is dan 'n versameling van sy draaiboeke. (Jagveld en Ander Draaiboeke. Besoek 8 Maart 2017).

Meyer se redakteur, Etienne Bloemhof, is 'n filmkenner. En dit is bepaald belangrike inligting -agter die skerms - om van kennis te neem. Meyer het dus 'n kundige leser en raadgewer gehad. Bloemhof het onder meer vir my die belangrike film oor Truffaut en Hitchcock geregisseer deur Kent Jones (2015) persent gegee. En so kan 'n mens hierdie draaiboeke benader: Bloemhof as 'n latter-day Truffaut en Meyer as 'n afstammeling van Hitchcock. Truffaut het Hitchcock aan Europa bekend gestel en hom buite die sfeer van die speurverhaal en rillerfilmmaker verhef. (Hitchcock/Truffaut (film) - Wikipedia. Besoek 8 Maart 2017).

Die bundel begin met 'n Voorwoord waarin die skrywer vrae beantwoord oor die aard van die draaiboek.

Hy verwys na William Goldman se Adventures in the Screen Trade (1983) en die beroemde stelling: “Screenplays are structure, and that's all they are” (9). (Adventures in the Screen Trade - Wikipedia. Besoek 8 Maart 2017).

Truffaut se Stolen kisses (Baisers volés), uit 1968, bevat 'n klein swart-en wit-rolprent (Antoine et Colette) as 'n ekstra. 'n Vorige weergawe van die meer uitgesponne film. (Stolen Kisses - WikipediaBesoek 10 Maart 2017).

Dieselfde geld Meyer wat dieselfde temas van sy romans in hierdie draaiboeke herbesoek en dus terugkeer na die toneel van misdaad.

II
Die boek bevat kort opsommings van elke verhaal.

Die draaiboeke is met 'n sterk hand geskryf. Jagveld as film het die volgende opsomming: “Elke man vir haarself” en Neels van Jaarsveld staan sy man teenoor Leandie du Randt.

'n Draaiboek aktiveer altyd die leser se fantasie van hoe jy dink die film sal lyk. Hitchcock skryf 'n brief aan Truffaut en sê-vra waarom het jy die karakters hier laat praat? Suggestie of stilte sou beter gewerk het!

'n Draaiboek is 'n genre in eie reg. Apart van die verfilming wat 'n vertolking bly van 'n regisseur. Soos 'n kortverhaal wat met sy eie stel reëls werk.

Michèle Meyer © Jaco Marais

“’n Kortverhaal is ’n baie goeie vingeroefening in die vakmanskap van skryf. Dit is ’n verteerbare, hanteerbare medium vir jong en gesoute skrywers in ’n lesersvriendelike formaat”, meen Saartjie Botha. (Michèle Meyer wen kortverhaal-kompetisie | Netwerk24. Besoek 10 Maart 2017).

Nee dit is meer as dit. Dit is 'n genre in eie reg. Van die grootste skrywers op aarde is kortverhaalskrywers: De Maupassant – hier te lande Hennie Aucamp en Abraham H. de Vries.  En hulle is nie besig met “vingeroefeninge” nie, en is beslis ook nie “mislukte romanskrywers” of op pad om ‘n roman te skryf nie. Net soos alle digters nie dramaturge is, maar daar is gevalle waar dit wél die geval is.

Vingeroefening beteken jy gaan iets anders doen. Wat dit nie hoef te wees nie.

Ook Meyer het al kortverhale gepubliseer. Romans en nou draaiboeke wat elkeen sy eie leserseise en -verwagtinge stel.

Hoe lyk 'n goeie draaiboek?

Uiteraard 'n storie, skootaanwysings, mise-en-scène, kort dialoog, dag/nag-aanwysings ...

Lees die woorde van 'n raadgewer (10 traits of a great script. Besoek 10 Maart 2017):

Nommer 6. Eskalerende konflik, 7. “snappy” dialoog, 8. “fat free” en dus tot die punt kom, is waarin Meyer se draaiboeke uitmunt.

Boonop het dit die X-faktor!

Dit is ‘n boek vir Deon Meyer-aanhangers en vir dosente in Media-studies wat studente wil leer om draaiboeke te skryf.

Die bespreking kan gelees word as my voice over.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Wednesday, October 28, 2015

Joan Hambidge - Die Afrikaanse leser


I
Hoe lyk die Afrikaanse leser? Ons praat alte dikwels van die leser asof ons weet hoe hy/sy daar uitsien.

Kan ons empiries bepaal of ‘n boek deur ‘n leser gelees word? Is dit biblioteekstempels voorin ‘n boek of verkope wat ‘n boek se sukses bepaal? Leeskringe koop boeke aan wat deur meer lesers gelees word as die aankope getuig, omdat dit onder mekaar gesirkuleer word.

Soos skrywers verdwyn, verdwyn lesers ook. Skep die mark die leser of werk dit andersom? Met ander woorde, word die leser se behoeftes "geskep" deur die mark en die bemarkingstrategieë rondom 'n boek?

Die Afrikaanse mark het die suksesverhaal van ‘n Deon Meyer. En Deon Meyer het al vele avatare en afskynsels opgelewer soos Chris Karsten en Rudi van Rensburg. 

En Komplot (H&R) van André Krüger staan beslis nie terug vir die ander in hierdie sub-genre nie. Die twee lewens van Dieter Ondracek (bekroon met die UJ-debuutprys) het hom gevestig as 'n skrywer wat die sowel die historiese dimensie as speurkodes goed kan saamsnoer. Hierdie jongste roman getuig weer eens van nougesette navorsing.

En verder is dit opvallend hoe die tendens ook oorgeskuif het na ernstige romans waarin skrywers die gegewe van die speurverhaal gebruik soos in Etienne van Heerden se Klimtol en in Ingrid Winterbach se pas verskene Vlakwater.

Op sy beste in Deon Meyer in sy kortverhale besig met misdaad. In die slotverhaal met die gelyknamige titel van die bundel Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale (H&R) klim hy in die DNS van die reeksmoordenaar in. Hy word bemark as die gewildste skrywer in Afrikaans; en dit is hy bepaald, want gewone en ernstige lesers, lees Deon Meyer. Hy word geresenseer deur 'n afgetrede regter en literatore. En selfs pogings om sy gewildheid af te maak as populisme, stuit nie die gewildheid nie. Sukses nie net op ander speur- en misdaadskrywers nie, want die invloed is alreeds besig om geregistreer te word op ernstige skrywers se werk wat (on)bewustelik reageer op hierdie ongekende suksesverhaal.

Is daar iets soos Die Afrikaanse Leser? As gereelde en aktiewe boekeresensent is die bemarking van boeke uiters opvallend. Anchien Troskie word as ‘n blakerstem gebruik op sowel Paula Marais se Skaduself (H&R) as op Debbie Loots se Split (Queillerie). Soos wat Deon Meyer internasionale verkope en aansien simboliseer, dui die naam van Anchien Troskie (die skrywer van Dis ek, Anna) op die oopskryf van die ongenoemde, die transgressiewe – en: die gedagte dat jou verhaal dalk ‘n suksesvolle film kan word.

II
Stanley Fish het die konsep “community of readers” geskep, wat ek vrylik vertaal as ‘n gemeenskap van lesers wat sekere norme en standaarde impliseer.

Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog wat sopas by Tafelberg verskyn het, is vir hierdie leser 'n besonderse studie oor aspekte van Marais se lewe wat nog nie voorheen onder die loep geneem is nie. Die fokus val op die komplekse persoon van Marais.

Teenoor hierdie boek met sy voetnote en fokus op vele aspekte van Marais se lewe soos sy kritiek op Oom Paul, regstudent in Londen en lid van die geheime ekspedisie wat tydens die ABO probeer het om wapens en geneesmiddels te smokkel na die Boeremagte, ofskoon hy terselfdertyd ook kritiek gelewer het op die Boere se futiele stryd teen die Britte. 

Van der Merwe wys ook op die besondere vriendskap met Milner en die gedig - in Engels - wat hy oor hom geskryf het (360). 'n Imposante studie gewis - en ironies genoeg, 'n akademiese speurverhaal! Albert Grundlingh verwys tereg op die buiteblad na "nougesette historiese speurwerk".

III
Hartstories: Huis toe met 'n ligter tred (Tafelberg) is 'n versameling van beste saamrystories van die gewilde Amore Bekker se radioprogram. Dana Snyman, 'n ander volksfiguur en gewilde skrywer, skryf die blakerteks: "Eg menslik ... laat jou met genadige oë kyk na die mense rondom jou". Nou onlangs het Jens Friis berig in BY oor die troostelose monument vir die Helderberg op Mauritius: sonder blomme ...(24 Oktober).

Hierdie leser lees toe die verhaal oor die Helderberg raak van Ronel Eckhard Venter, 'n lugwaardin op bystand, wat die vlug na die ramp moes neem, 'n vlug vol persmense, belanghebbendes, familielede ... Hoe lees jy die veiligheidsmaatreëls voor as dit op die vorige vlug niks gebaat het nie?

Sy skryf in hierdie aangrypende verslag die volgende:"Ek het gesorg dat ek met niemand oogkontak maak nie."

So klink "Droogte", 145:
(Gedurende die erge droogte einde 2013 in Noordwes ontvang ek die volgende SMS:)
'n Plaaswerker van jare gelede bel gisteraand om te sê hy het van die droogte op die plaas gehoor en het intussen bietjie lusern byemkaargemaak - wanneer kan hy dit bring?
Mariaan - Kuruman

Hierdie bestes uit Bekker se Tjailatyd is nie groot verhale nie. Dit is eerder skerwe of vinjette, maar boeiende stories wat bevestig dat ons almal 'n storie het om te vertel. En waarskynlik sal van hierdie mense met aanmoediging skrywers kan word. En dit wys hoe wyd ons gemeenskap van lesers strek.

IV
Hoe lyk my interpretasie-model? In Reader-response criticism (Jane B. Tompkins, red. Johns Hopkins University Press, 1980) verwys Wolfgang Iser in sy artikel ("The reading process") na die skrywer wat die leser se gemoed beset: "Text and reader no longer confront each other as object and subject, but instead the 'division' takes place within the reader himself" (67).

Twee lesers lees: die "alien me" en "the real, virtual me". En hierdie twee lesers is in kommunikasie met mekaar en kan dus sodoende die onbekende begryp. En Iser wys tereg daarop dat die leesaksie ons toelaat om ons self te herformuleer en iets te begryp wat voorheen ons bewussyn ontglip het. "To formulate the unformulated".

So gesien, was hierdie leser op 'n speurtog. En vermoedelik is haar liefde vir speurverhale hoogs gepas om hierdie tekste te waardeer.

© Joan Hambidge

Saturday, March 14, 2015

Deon Meyer - Ikarus (2015)



Deon Meyer - Ikarus. Human & Rousseau, 2015. ISBN 9780798169776
Resensent: Joan Hambidge

I
Dit is waarskynlik onnodig om Deon Meyer te resenseer. Hy het sy getroue volgelinge. Die jongste stel beslis nie teleur nie. Die belangrikste merkers van die suksesverhaal word hier aangetref, te wete die nougesette navorsing en die inspeel op die werklikheid (daar is verwysings na Oscar Pistorius en Shrien Dewani, 48) wat die sogenaamde vraisemblance aktiveer.

Verder weet hy hoe spanning op te bou. Daar is ‘n lyk, ‘n lykshuis, ‘n uitkenningsparade, ‘n beskuldigde wat ‘n verklaring aflê voor ‘n vroulike advokaat.

Daar is Bennie Griessel met sy drankprobleem en post-traumatiese stres.

By Jane Austen is daar ‘n man, ‘n vrou en ‘n dans … en alles beweeg (dans) vorentoe.

Met Ikarus is daar die verdagte en die leser wat saam speurder speel.

II
Hierdie patroonmatigheid kan ook gesien word wanneer ‘n mens kyk na hoe die James Bond-films vervaardig is. En meer spesifiek Dr No (1962) en From Russia with love (1963). Met nougesette aandag is die figuur James Bond gekonstrueer: sy kleredrag, sy horlosie, sy wapen, sy humoristiese gevathede wat die regisseur Terence Young help skep het.

Veral die “voice over” oor die klassieke From Russia with love verduidelik presies hoe die film verloop: die kyker weet wie die moordenaar is en Bond is uitgelewer aan die meisie wat hy dink hom verraai. Maar uiteindelik deel hulle ‘n gemeenskaplike vyand, te wete SPECTRE.

III
Bennie Griessel en Cupido se rolle as good cop/bad cop, wat telkemale omgeruil word, rig die verhaal. Griessel se drankprobleem is deel van die spanning. Sy oordeel word aangetas en sy besoeke aan die sielkundige en Dok, sy ondersteuner, wys hoe sy lewe uitmekaar val. Sy vrou het hom verlaat weens sy jongste oortredings. In 'n spieël sien Griessel hoe hy agteruit gegaan het. Die leser word intens bewus van sy psigiese spanninge, die sogenaamde underbelly van die verhaal.

Cupido weer verloor sy afstand en raak emosioneel betrokke by 'n verdagte.

'n Moord moet opgelos word. Ernst Richer is vermoor, 'n berugte internet-entrepreneur en die skepper van die ruimte Alibi.co.za, 'n webtuiste wat jou help om via e-posse en sms'e 'n alibi te skep indien jy 'n transgressiewe lewe lei. Ontrouheid en leuens word verdoesel. Maar daar is afpersing en ondertussen word name aan die pers gelek. Die Son se verslaggewer is ook hier met sy valstrikke. Boonop het Bennie hom misdra in 'n kroeg en sy baas weet dit ...

Die speurders praat eg en aards, Kaaps.

Op 17 Desember word die lyk gevind en op 24 Desember begin 'n wynboer verklarings aflê voor 'n vroulike advokaat. Francois du Toit verklap sy hele lewe voor Advokaat Susan Peires. Ons sien 'n Afrikaner-dinastie se donker kant. Die leser word die speurder en dink soos die advokaat dat jy weet wie die moord gepleeg het.

Die handgeskrewe familieboom help beslis (42): Oupa Jean, Ouma Hettie; Pa Guillaume en ma Helena; Paul en "ek".

Die leser word behendig gefnuik deur 'n aanskoulike familiegeskiedenis ondergrawe deur  twis, gierigheid en psigopatie. Met verwysing na Shakespeare oor waar ons foute opgesluit is.

En die moordenaar is nie wie jý dink dit is nie.

IV 
Jy kan 'n straat in Belville sien. Stellenbosch word uitstekend beskryf en Hannes Myburgh van Meerlust word in die nawoord bedank. Wynbedrog (ofskoon die KWV se werknemers nie geraadpleeg is oor intriges in die jare negentig nie), berus op koerantargiewe en die skrywer fiksionaliseer die gegewe. Suiwer fiksie is dus nagestreef.

Maar die leser sien 'n plattegrond en weet wat werklik agter die skerms kan gebeur.

Neil Pendock het wel sy kennis gedeel.

Om tienduisend bottels Chăteau Lafite Rotschild te vervals met die rooi seël en wit-en-swart-logo met sy unieke vorm (vyf pyltjies op die buitekant van die bottel) speel eweneens in op die wending in die roman. En wynvervalsers weet dat wynkenners nie vir ape gevang wil word nie; so hulle sal hulle wynbekke hou! Net soos daardie keer toe Kaliforniese wyn Franse wyn getroef het by 'n blinde wynproe. En wynkenners weet dat Frankryk se wyne strawwe kompetisie het uit sowel Kalifornië, Australië en Suid-Afrika.

Vervalsing en kompetisie is belangrike kodes dus. Net soos identiteite op die internet vervals kan word.

Klein Zegen is nie Welgevonden nie. En jakarandas as 'n uitheemse boom (Jacaranda mimosifolia) is 'n belangrike leidraad oor wáár die moord plaasgevind het.

Die forensika is uitstekend nagevors nes die pligte van die speurders en hul afkeur aan administrasie.

Sarah Woodruff uit John Fowles se The French Lieutenant's Woman is eweneens 'n belangrike kode vir Tinder. Twee eindes (o.a.) in die roman.

Foonapplikasies, sms'e en wie het wanneer vir wie gebel, word deel van die speurtog. Nes die twiets wat alles verder kompliseer.

Uiteindelik lewer hierdie boek kommentaar op ons samelewing waar moord en doodslag deel van die bestaan geword het. En daar is genoegsame toespelings wat die boek begrond in die werklikheid van die hier en nou. Ons is deesdae almal sitkamer-speurders wanneer 'n moordverhoor gebeeldsaai word, en kenners van dolus eventualis.

Ons is in 'n Bennie Griessel-dossier. Met Ikarus wat te hoog gevlieg het.

And about suffering they were never wrong ...

V
Nes Ian Fleming en Terence Young is jy in veilige hande. James Bond ken sy wyn en whisky. Hy eien 'n jaartal van 'n whisky. En as M hom korrigeer, stel hy reg met 'n ek verwys nie na die jaar van die whisky nie, maar na die vaat of kuip waarin dit verouder is.

Die roman beweeg die hele tyd op twee vlakke. Deon Meyer slaag daarin om al die balle in die lug te hou in hierdie fassinerende speurverhaal.

Wie het geskryf die vyande van wyn is hulle wat dit nie ken nie? En wát drink Bennie Griessel after all?

Gee vir Deon Meyer 'n Bell's!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)