Showing posts with label Kwela. Show all posts
Showing posts with label Kwela. Show all posts

Sunday, May 1, 2022

Resensie | Ashwin Arendse – Swatland | Kwela, 2022

Ashwin Arendse – Swatland. Kwela, 2022. ISBN: 9780795710070

Resensent: Joan Hambidge

 

Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie

en vegiewe oekie maklik ie. 

 

28 gedigte. Met die eerste oogopslag dalk te min. Maar onthou dat gert vlok nel se debuut ook min gedigte bevat het. Die res is geskiedenis.

 

Hierdie bundel is sopas met sowel die UJ- as die  Eugène Marais-pryse bekroon. 


Dit is gesitueer in die Swartland en die digter stel sprekers aan die woord met die bekende bry-r. Die bry word met ‘n ġ voorgestel. Hierdie leser het die digter sy verse hoor lees en dis belangrik dat dit praatverse is, maar ook verse wat uiters slim gekonstrueer is. 

 

Politiek en die gepaardgaande ellendes van hierdie land: armoede, werkloosheid, diefstal. Die digter vestig hom in die lang galery van belangrike bruin digters: Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips, Lynthia Julius, Ryan Pedro oa., wat in die onlangse verlede begin stem dik maak het.

 

Hulle skryf in Kaaps of wyk af van Standaard-Afrikaans.

 

Die kanon word op sy kop gekeer, nie alleen tematies nie, maar ook op ‘n taalvlak.


Tereg word die bundel aangeprys deur die digter Alfred Schaffer wat sélf die hele kwessie van taal aanspreek in sy bundels. 

 

In Schaffer se jongste bundel,  Wie was ik. Strafregels, gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, sowel as die werk van Susie King Taylor.

 

Ook wit digters doen dit. Met die onlangse afsterwe van Thomas Deacon het ons weer bewus geword van die Noord-Kaap se Afrikaans. En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald W. Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie.

 

In hierdie unieke bundel posisioneer die digter homself as ‘n unieke stem binne ‘n lang tradisie van digters wat buite Standaard-Afrikaans dig, en sover terug as Adam Small begin het.

 

Die praattoon is opvallend en ‘n mens kan as't ware die digter “Innie Malmesbuġy, vi coloureds …” hoor voordra.

 

Dis “poetry met ‘n purpose” soos Elodi Troskie geskryf het. Die digter het onder Nathan Trantraal gewerk (Ashwin Arendse se Swatland. Besoek 1 Mei 2022). 

 

Dis nie gedigte wat troos nie. Dit ontstig en die harde werklikheid word telkens vir die leser uitgewys. Die sogenaamde plat woord duik ook hier op; dit is gedigte wat die ander kant van ‘n leefwyse verken, so opvallend van hierdie digtersgenerasie. ‘n Bundel wat jou tussen die oë tref en word tereg dan ook in Kaaps geresenseer. Dit kan ek helaas nie.

 

So klink sy gedigte:

 

liefde angelo

 

As twie broese met hulle arms agte hulle ġugte

en floppies op hulle koppe in jou ġigting beginne ġol

isse slight slope in jou swag die eeste warning

wat jou liggaam afgie voorit in panic mode gan.

Ek’t it ignore wannie winkel is net vyf minute weg.

En oppe Saragaan issie plek woelag

mettie Muslims wie op en af in hulle VTECs

in Darlingstraat ġy opsoek nare kin

wat smaak voetjies hang.

Tien tġeë later.

Die naies doen “what Tiggers do best”.

Hulle hop, hop, hop tot by my, byg voo oo

soes goet watte curtain call doen,

en van onnerie floppies yt met koppe skyns

gedġai vġa hulle altwie in unison, soes harmony singers:

“Wat het jy daa virrie ouense?”

Twie chinks in my armour later.

Ek wôd nog steeds vanne awkward angle af interrogate.

Maa innie way hulle staan

soes mense voorie ATM

kan ek sien die ouense wag vi my om te antwood

soedat ie tġansaksie voltooi kan wôd.

Asse mens gerop wôd

wêk dieselle nerves wat wêk

as jy wag op final results.

Soe mens sê stupid goed.

Al wat ek kon ytkry

in dai moment wasse offer om vi hulle

’n pakkie Labamba beef

enne vyf ġand Cell C te koep.

Een moerse klap later.

Die ouense staan man-man menne mes

langer asse donkie-tollie.

Vat vi phonetjie.

Vat vi twinnag ġand.

Skud my yt asof ekke spaarblikkie is.

Hulle stap weg en een skġie vi my tġug,

“Saloet broetjie,”

asof om te sê ek het goed gedoen.

Maarie pyn in my wang lat my dink

ek kan bieter gedoen et.

Ek’s net ommie dġai toe Bentley

in sy Polo Playa optġek en ligte gooi.

Hy gym plus hyse mal bra.

Ek gie vi Bentley die noragge info

en hys daa weg om my gesteelde goed te gan soek.

Byrie join kap ek zip oorie phone cause my tanie

het net twie wieke geliede die lay-by gat afhaal.

’n Hele Sondagmarrag later.

Die Polo staan voo my hys

en boeta Ben se gesig getyg van goeie nuus.

Hytie phone gekry which means

een of altwie dai broese lê nou stukkend êrens.

Ek kyk of my memory card nog innie phone is.

En dan issit regyt bed toe.

Maa, net voo ek klaa mettie dag is

kom daa ’n please call me dee

vanne unknown nomme af.

Ek willit ignore, maa na dai

kom daa nogge paa dee.

Please call Ursula.

Ek check my balance en daa isse

twie ġand op wat ekkie gekoep et ie.

Die antie het net opgetel en

omtrent tien kee gevra wie die is

voorie phone afgeslat et.

Ek kyk deerie sent messages.

Heel boe kġy ekke boodskap wat sê:

Wil mami ni vi my ’n lyki gi ni asb

nwe job gkry innie Kaap, ma k need

fair vr d wiek

liefde

angelo



WWE

 

On this day I see clearly everything has come to life

A bitter place and a broken dream

– Edge intro song: Alter Bridge, “Metalingus”

 

As laitie het ek altyd oppe Sondagaan gehyl

om bietjie later wakke te bly virrie wrestling.

My tanie val gou vi tġane

soe soedra dai voiceover speel

wat sê ôs moetie die stunts byrie hys tġy nie,

het ek my kussings ġeggepak oppie sitkamevloe

en virre ieġ lank my ma se continental in sy moer geslaan.

Ek’t altyd gedġoem daavan

ommie stoei live te gat kyk.

Byrie skool,

as ek inne stġyery betġokke was,

het ek starag weggestap,

oo my skoue gekyk

en soes John Cena dai

“You can’t see me”-nommetjie gemaak.

En as ek sien ôs gat nou vysslaan,

het ek my oë omgedop,

my tong ytgestiek,

en my dym oo my nek getġek

tewyl al my tjommies dai klokgeluide

van Undertaker se intro song maak.

Soe ’n maan geliede, eintlik

heel eeste dag vannie maan,

manifest dai dġoem van my

inne strange way.

Soes ek innie pad af stap begin

’n ou oem enne ou antie mekaa spear.

Twie hall of shamers biesag

om innie sand ġond te ġol.

Asof hulle virre title fight.

Ek wou die match stop, maa daa was klaa ’n ref,

’n klein meisietjie wat mieste vannie tyd gehyl et.

Soes ek kon aflei wassit ’n TLC match.

Oupa het eeste die paal innie hanne gekġy,

een hou gegie en Ouma’s flou.

Oupa march daa weg soesie

Rated-R superstar

mettie SASSA-kaaġte

ġegyt smokkie toe

omme paa lieteġkies vaalwyn te koep.

Ouma het innie sand bly lê.

En net soes in WWE wanne iemand iets bġiek

is sy oppe stretcher daa weg.



Swatland

 

It’s a long camera

It’s a quantum leap to the beach

Is it too hot even for Speedos?

– Happy Mondays, “Somebody Else’s Weather”

 

Die Swatland hette way om temperature te gan ytgrawe

watte coloured familie lat kaalgat ġondstap innie hys

soes Scandinavians wat inne commune bly.

Innie Malmesbuġy, vi coloureds

wat an dai kant vannie bġug bly, isse pool

sewerage-wate wat langsie sypaadjie afloep.

Waarie klein laities heeldag in lê en float.

As jy te goot ġaak virrie kakwate

march jy oppe Sondagmarrag

af narie public pool toe.

Isse forty-minute walk tot byrie bads,

wan it was eens oppe tyd strictly reserved

virrie whiteys.

It kos van ôs om oorie N7 te stap

as ôsie journey kotter wil knip.

Wan veetag minute in veetag gġade

is jouself virre gat vat.

As ôs geland et, betaal ôs ie siewe ġand

en gat soeke dytlike spot wat ytkyk oorie hele scene.

Lunch isse paa pakkies Labamba,

suurvytjies en assie skarrel ’n sukses was,

syg ôs man-man anne JC vi afters.

Helfte van ôs kannie soe lekke swem ie

soe ôs lam innie kiddies pool.

Met ôs pecs op observe ôs ie goosies

wat parade voo ôs innie ways wat ôs

hulle byrie skool imagine.

Assie klokkie ly vi toemaaktyd, pak ôs ôs

sakkies op en beginne die pad anvat op hystoe.

Ommie trek lekke te maak gooi ôs man-man

’n paa klippe oppie wit mense se dakke

om sieke te maak hulle hoefie heeldag

veveeld te sit onnerie aircon ie.

As hulle ytkô, slat ôse gat tewyl hulle ġaas en skġie dat ôs

tġug moet fokof na ôs kant vannie bġug toe.

Laterie aan lam ôs ammel voo Wennie se join

en lag vi allie kak wat ôs angevang et deerie dag.

En beplan ’n anne route vi nex wiek.

Wan ôs kannie deal mettie hitte

aan ôs kant vannie bġug ie.

Ennie wit mense vegietie ’n bġyn gesig ie

en vegiewe oekie maklik ie. 

 

Monday, September 28, 2020

Resensie | Ryan Pedro – Pienk ceramic-hondjies | Kwela, 2020

 

Ryan Pedro – Pienk ceramic-hondjies. Kwela, 2020. ISBN 9780795709869

Resensent: Joan Hambidge

 

As Judith Butler verwys het na "performing gender" kan ons hier praat van "performing race". Ras, klas en identiteit word hier onder die soeklig geplaas in die aangrypende debuut pienk ceramic hondjies. Met die voorblad ontwerp deur Nathan Trantraal.

 

Ceramics op die kop. Die broosheid en breekbaarheid van alles word so uitgedra. Antjie Krog noem dit tereg 'n weerlose en aangrypende debuut met 'n nuwe generasie wat aan die woord is. Trantraal wys op die "craftmanship" en die invloed van hip-hop. En die "furniture" in die "hys" wat rondgeskuif word.

 

Dit is verse wat ook in gesprek tree met Adam Small in "ons is nie meer mense wat sing nie" en die digter betree met die hele skare van nuwe bruin digters soos Ronelda Kamfer, Lynthia Julius en Jolyn Phillips, o.a. 'n nuwe ruimte in die digkuns.

 

Praatverse wat die boodskap voorop stel teenoor die verbale ikoon wat werk met ironie en implikasie. Dit is praatverse met sterk beelde. Slotte tref jou goedskiks tussen die oë. 

 

In die slotvers "by die barbershop" - vir my pa - word dit 'n volgehoue gesprek met die vader en die kultuur van barbiere. Ons hoor Joe Barber ook saampraat, daardie wonderlike stuk teater at ons twintig jaar gelede wakker geskud het. In hierdie gedig word die vader aangespreek en in die derde strofe word dit 'n selfgesprek en soos in Lynthia Julius se Uit die kroes word hare 'n belangrike sosiale en kultuurkode.

 

Die barbershop is hier 'n manlike ruimte waar die jong seun ingelyf word in die manlike orde.

Monday, September 21, 2020

Resensie | Jen Thorpe - The Fall | Kwela, 2020

Jen Thorpe - The Fall. Kwela, 2020. ISBN: 9780795709579

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman speel in op die #Rhodes Must Fall / Fees Must Fall-beweging. Dit is 'n hoogs leesbare teks wat die impak van hierdie opstand weergee. Etienne van Heerden het dit aangepak in Die biblioteek aan die einde van die wêreld wat nog nie genoegsaam vertelling geword het nie en té na aan die dokumentasie gestaan het. Ook met 'n stywe skeut suspension of disbelief.

 

By Jen Thorpe vind 'n mens 'n vertelling van binne-uit en 'n gefiksionaliseerde en dikwels fantasieryke gegewe. Hector, die protagonis, word teenoor Thuli, die antagonis geplaas. Die angs, paranoia en onsekerheid van die spelers word effektief weergegee in 'n binnespraak waar verskillende vertellers aan die woord gestel word.

 

Die sementblok – waar Rhodes se standbeeld eens gestaan het – is in die afwesigheid steeds aanwesig. Hierdie leser het die beweging eerstehands aan UCT ervaar waar alles begin het en na ander kampusse uitgekring het. Studente se eise teenoor die owerhede se reaksie het tot dispute en opstand gelei. Daardie “underground root system of a forest” – soos dit op bladsy 312 opgesom het – het menige persoon uit 'n intellektuele gemaksone gelig en vele debatte oor postkolonialisme is en word steeds gevoer. Dekoloniseer ons voorgeskrewe werk, was van die eise. Ons is van Afrika en waarom moet ons betaal vir ons studies?

 

In die korona-tydvak het ons beweeg na 'n volgende vlak: aanlynklasse en verdere begrip vir studente se vrae oor waarom sekere boeke op hul voorgeskrewe lyste land.

 

Die moderne dosent weet ook dat tydens die 1968-opstande in Parys hoe dramaties denke verander het in die Linguistiek, Sosiologie en Literatuurteorie. Jacques Lacan het in 1968 sy seminaar onderbreek en met Daniel Cohn-Bendit in gesprek getree. Hier het hy dan die idee gekry om die meesternarratief te analiseer teenoor die diskoers van histerie, die Universiteit en die analis.

 

Die boek het 'n vliegoog-vertelling: elke storie ondermyn of bevestig die voorafgaande soos in William Faulkner se As I lay dying (1930).

 

Met die studenteopstande is dit dieselfde gesteld: daar is verskillende perspektiewe hierop van diegene wat die gooi van uitskot en die verwydering van beelde problematies vind en 'n miskenning van die geskiedenis tot diegene wat dink dit is reg. 

Die waarheid het immers altyd drie kante. En hierdie boek bewys daar is dalk meer. Van Hector se wit tekkies tot die einde. By die lees van hierdie boek het die verskillende perspektiewe iets van die problematiek opgevang.  Hector en sy meisie, Sindiwe teenoor Thuli, 'n heldersiende karakter wat gevare raaksien; die joernalis, ene Helen; Noné, die president; Ray, die minister van polisie en Adnan. Die roman het dus 'n sterk feministiese onbewuste en kritiseer die "fallostyne", met ander woorde, 'n blinde manlike orde. Dus is die titel dubbelsinnig: #Fees Must Fall maar ook 'n kritiek op die fallologosentriese orde.

Kan ons asseblief nou 'n swart vrouekarakter 'n ander naam as Thuli gee? Sewe dae se simboliese betekenis word ook geaktiveer.

Sarah Lotz se shout ("breathtakingly imaginative, original and entertaining") op die voorblad is ietwat oordrewe, maar 'n belangrike boek is dit wel. Bepaald vir die moderne dosent wat 'n roman oor hierdie tydvak wil voorskryf.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Wednesday, July 1, 2020

Resensie | Lynthia Julius - Uit die kroes | Kwela, 2020


Lynthia Julius: Uit die kroes. Kwela, 2020. ISBN­13: 9780795709531

Resensent: Joan Hambidge

In 2018 is Lynthia Julius bekroon as die wenner in die Afrikaanse kategorie in die AVBOB­-digkunskompetisie. Uit die Kroes is haar debuutbundel uitgegee deur Kwela. Hierdie bundel ondersoek die lot van die bruinvrou in 'n Noord-Kaapse leefwêreld met verse wat Namawoorde gebruik (soos xhoulag, ghwarra en xhit).

Sy neem haar plek in langs figure wat die lot van die bruinvrou in die digkuns beskryf: Ronelda Kamfer en Jolyn Phillips, om twee name uit te sonder.

In hierdie gedigte word ras- en genderkwessies aangestip en die leser bly bewus van 'n dubbele buitestaanderskap. Die digter is as vrou én bruinmens gemarginaliseer. Écriture feminine, soos Hélène Cixous dit definieer in The laugh of the Medusa van 1975 (vertaal deur Paula Cohen en Keith Cohen). Hierin ontleed sy die posisie van vrouwees waar eie behoeftes geartikuleer word in selfrefleksiewe narratiewe ten einde beheer te neem van die liggaam én 'n miskende identiteit.

Skryf is vir Cixous 'n opheffing van konflik en die oorlog wat woed in taal (die vrou as die tweede seks wat alreeds deur haar voorganger Simone de Beauvoir begin is). Cixous - soos Julia Kristeva - verstaan buitestaanderskap: die eerste uit Algerië, die tweede uit Bulgarye. Beide het egter van die marge geskuif na die hoofstroom en Derrida het Cixous as 'n belangrike filosoof beskou. In "Poppehuisie" 46) word daar na Spivak verwys, 'n belangrike kode vir die begryp van wat met vroue gebeur wat hul verdrukkende orde verlaat. En in "Die intellektualisme van goed" (54) verset sy haar teen bekende intellektuele. Ook Koos du Plessis en Breytenbach sidder onder die gedigte.

Vrou(likheid) word binne die Afrikaanse poësie op alle vlakke ondersoek en Karen de Wet se bloemlesing Vers & Vrou: 250 gedigte wat sopas by Human & Rousseau verskyn het, bewys die veelkantigheid van vrouwees: van die kombuis tot volwaardige eweknie van die manlike orde.

"Die vrouens in my familie" (34) verbeeld die lot van die skrywende digter. Sy het haar losgemaak van die vroue wat hulle mans verafgod. Hierom is die kinders heidene, omdat hulle "ongehoorsaam" is in die weë van die Jirre. Inderdaad rangeer die Ou Testament die vrou uit tot tweede seks en dit is wat hierdie gedig so treffend artikuleer: die vroue se stemme is ingeboet vir hulle manne s'n.

Skreiende en skrynende pyn word beskryf soos in "Krismisboom" (30) met sy slot:

daar is geen Krismisboom om meer van my af te vat 

Die gedig speel ook in op weggevat wat sy skryf as wegv-.

En daardie boom is een van goed en kwaad. Sy plaas dus die woord under erasure, in Derrida se terme en beklemtoon so verlies op alle vlakke. Die gedig "Skuld" (26) neem standpunt in oor letterlike en figuurlike skuld waarteen sy haar verset. Sy gebruik die wond (en die toewerk van die wond), eweneens bekend aan Derrida, om haar posisie uit te werk. Hierom in Bybelse terme kies sy haar beloofde land privaat. Met toespelings op Saul Barnard en die Bybelfiguur Josua wat die gedig se subteks sterker maak.

In "1993" word die impak van apartheid op bruinmense ondersoek: via Adam Small, om te lewe is onnatuurlik, stereotipes, taboes (soos dat bruin vroue nie met swart manne mag uitgaan nie), die potloodtoets ... En steeds na soveel jare weet sy steeds nie wat bruin of kleurling eintlik is nie.

"Ontheemding" (41) handel oor die moeder wat in Nababeep gebore is as 'n Namakwalandse kind. Hierdie ma kan nog in Nama tel tot tien, maar met haar trek het sy "verkimberley". Die kind vra dan die man uit oor die Namas en wie hulle god is. In hierdie gedig lê sóveel opgesluit oor ontworteling en kultuuronteiening.

"Vir 'n one laat vat" (58) handel oor die jong vrou wat universiteit toe gaan en dus deur die moeder as 'n heiden beskou word. 'n Verdere displacement dus in haar kultuur waarna sy nie kan terugkeer nie.

Die invloed van die kerk en Die Bybel om hoop te gee vir mense wat in ellende leef, word eweneens beskou soos in "Loslating" (17).

En hier is baie ironie in die bundel. In "Nes" (37) word die "Hebban olla vogala" opgestuur en sy praat sterk terug met Krog in "Kleur kom tog alleen" (28).

In "Die hulp" (39) neem sy standpunt in teen die manlike (wit) orde wat so graag die verkleinwoord gebruik om te beheer. Sy sal 'n eienaam wees sonder 'n tjie.

En die titel word verduidelik vir die leser in hierdie komplekse slotgedig:

Kroes

[I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that slave raped six times by the master birthing six mixed babies later hung blood. – Zora Howard]

Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans
net ’n bietjie BaByliss hier
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie
daar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen
ek was te kroes om ’n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees
ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie

Aanvanklik met die lees van enkele gedigte was ek nie so geïmponeer as met die bundel wat 'n weefwerk van pyn, ironie en selfgerigtheid (in die positiewe sin van die woord) beskryf nie.

Hierdie gedigte is nie vir die vergeetlaai geskryf nie.

Sunday, September 15, 2019

Resensie | Nadia de Kock - Die wolkversamelaars (2019)

Nadia de Kock - Die wolkversamelaars. Kwela, 2019. ISBN 9780795709036

Resensent: Joan Hambdige

Die laaste wens van 'n jare lange vriendin stuur Talla na die Glencoe-vallei in Skotland. Sy neem digbundels saam, asook haar wolkboekie om haar stokperdjie voort te sit – die soeke na seldsame wolke. Sy gaan by Munro's tuis, 'n onopgesmukte herberg gewild onder bergklimmers, en hoop om stories oor tradisionele tartanwewerye hier te vind. Sy ontmoet hier die eienaardige rondloper Mikey en die ontmoeting neem haar terug na haar verhouding met haar voormalige geliefde Astian.  

So word die roman bemark.

By die lees van hierdie hoogs leesbare roman het ek weer geluister na John O’Donohue se oudio-DVD, Anam Cara, wat handel oor die wysheid van die Keltiese wêreld. Hierdie Ierse filosoof en digter se werk verskaf vele sleutels vir die begryp van De Kock se roman wat handel oor die sogenaamde “dun plekke”.

Die roman begin met hierdie woorde:
Die ou Kelte – die Skotte en Iere – het geglo die hemel en aarde is slegs ‘n meter uitmekaar. Hulle het ook geglo daar is plekke waar dié afstand nóg kleiner is en het dit ‘dun plekke’ genoem.
Talla (Atalia) verloor haar paspoort, het min geld en word gekonfronteer met eienaardige en eksentrieke mense. Mikey is obsessioneel op soek na sy verlore Ierse meisie, en die koue landskap is bedreigend.

Haar gevoelens word vertolk deur aanhalings uit Breytenbach se gedigte en selfs Eybers se "elk langs sy yl weerkaatsing" uit "Busrit in die aand" word 'n kode vir hierdie roman. Die Ierse digter W.B. Yeats rig eweneens haar lewenswyse in die vreemde. En uiteraard ook Robert Burns.

Karakters wat sy ontmoet, verraai iets van haar innerlike landskap. Die leser kry insae in haar seksuele verhoudings. Astian, haar minnaar met wie sy die langste vertoef het, woon hier in Skotland. Deur hom, ontdek sy 'n donker geheim uit haar verlede.

Die vriendin wie se as gestrooi moet word, aktiveer ander herinneringe en mense wat haar lewe verander het. Hierdie oorledene het die reis moontlik gemaak wat verpak word met geheime oor haar self en die dood van Caitlin en hoe dit Mikey en Ailsa se lewens raak. (Hier wil ek nie 'n spoiler gee nie.) In die vreemde word daar oorleef in 'n ysige en bedreigende landskap. Vasvra-aande gee eweneens sleutels vir die oopmaak van die roman. (Soos waar is die City of Towers?) Die IRA, selfdood en ander ellendes is hier soos 'n Loch Ness-monster.

Die roman aktiveer ook Karel Schoeman se 'n Lug vol helder wolke en die leser word op subtiele wyses voorgestel aan wolke en die betekenis hiervan vir die fokalisator. Sy droom dikwels dat sy van trappe afval en dit word verbind aan Breytenbach se siening dat die self 'n solder is met 'n trap waarvan die sporte weggevrot het ...  ('n Kode vir wat in haar verlede gebeur het.)

Hierdie roman moet bepaald saamgelees word met Brave (2012), 'n animasiefilm wat die oerkragte van Skotland oopmaak en verduidelik. Hier gaan dit om die will-o'-the-wisp of die ignus fatuus, daardie spooklig wat die reisiger laat verdwaal in die moeras.

Die roman ondersoek eweneens terrorisme (kyk na die outeursnota oor die Warrington-bomplanters) en seksuele misdrywe.

Hierdie roman is 'n heerlike verrassing. Dit werk met ingebedde wyshede en is, by gebrek aan 'n beter woord, 'n spirituele roman wat die werklike reis met die innerlike reis verbind. Diegene wat al besoek afgelê het in hierdie besondere landskap sal weet dat Nadia de Kock die Ben Nevis, daardie ikoniese berg, en Loch Ness perfek teken.

Die skering en inslag van wewery, die verwysing na tartan, tatoeëring en tumbrels, is ander belangrike sleutels.

Ook wolke word helder geteken: cirrus, translucidus ... en Talla het 'n boekie waarin sy alles opteken. Cirrostratus, altocumulus, nimbostratus ...

En wolke wat uit yskristalle bestaan.

'n Roman sonder opsmuksel wat bekoor om die diepgang wat onder die oppervlak skuil.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Wednesday, August 1, 2018

Resensie | Gabeba Baderoon - The History of Intimacy (2018)

Gabeba Baderoon - The History of Intimacy.Kwela Uitgewers, 2018. ISBN 9780795708886

Resensent: Joan Hambidge

I
Gabeba Baderoon se gedigte ontleed die verskillende posisies van liminaliteite: kindwees; man teenoor vrou; geboorteland teenoor nuwe rusplek; Distrik Ses versus Apartheid; Moeslem en Christen.

In 2004 behaal sy dan ‘n doktorsgraad oor die representasie van Islam in Suid-Afrika. Sy het wyd klasgegee in sowel Europa as in die VSA en tans is sy mede-professor in Women’s, Gender and Sexuality Studies and African Studies aan die Universiteit van Pennsylvania.

Baderoon se gedigte het my nog altyd bekoor. In 2005 was ek op ‘n paneel vir die DaimlerChrysler-prys toe sy die eerste plek behaal het teen ‘n handvol ander digters wat tans hul regmatige plek ingeneem het as digters.

A hundred Silences het in 2006 eweneens by Kwela verskyn. Ander titels is The Dream in the Next Body en The Museum of Ordinary Life.

Hierdie jongste bundel word opgedra aan haar moeder: Groundbreaker, Healer, Muse.

Oor die moeder en digterlike taal, dink ‘n mens onmiddellik aan Julia Kristeva se Desire in Language (1980) en die semiotiek: die moederfiguur is ‘n ambivalente figuur in die vroulike onbewuste. Een wat die digter wil uitwis én behou. Trouens, ‘n mens sou hierdie hele komplekse bundel kon lees met Kristeva ter hand: Kristeva oor melancholie; Kristeva oor eensaamheid; Kristeva oor die baarmoeder; Kristeva oor bannelingskap; Kristeva oor vrouwees.

By Baderoon is daar ‘n voortdurende beweging tussen die wet van die vader en die wet van die moeder, oftewel tussen die simboliese orde en die semiotiese orde. Die eie identiteit, soos afgelees in hierdie bundel, is ‘n pynlike een: ‘n wegbeweeg van die “law of the mother” en die vader se ontdekking van seksuele betreding (70) saam met die pynlike raspolitiek wat die jong kind ervaar het. Dit word pakkend weergegee in “The History of Intimacy” (66). Deur oor die moeder se ervaring van die ongelykhede te skryf (sy word hier ‘n buikspreker vir die moeder), word ‘n hele gemeenskap se ervaring weergegee.

Sy bely:

Since the beginning, you have been breath,
and poetry. (67)

“The Law of the Mother” (70) handel oor verlies aan maagdelikheid (op ‘n wrede manier) met die sosiale en psigologiese implikasies wat dit inhou vir vroue. Hierdie sterk gedig analiseer die volledige implikasies van die betreding (met ‘n slim toespeling op Thelma and Louise).

Die terapie-sessie maak haar bewus van die gebrokenheid van die liggaam:

that ‘broken’ is a boundary
and the body is time
as well as place.

II
In “Answering” (69) word raspolitiek en genderpolitiek saamgesnoer. Identiteit, is immers altyd ‘n samesnoering van ras, klas en gender. Hier in ‘n werksonderhoud word sy deur twee manne ondervra met een wat meen hy haat dit wanneer swart vroue oor die voetoorgang stap asof “hulle” al die tyd in die wêreld het; die ander een vra vir ‘n antwoord wat sy nie geleer het by die pinko-liberale plek nie, dus UCT – iets wat hom sal verras.

Die gedig eindig:

I don’t get the job and sometimes
think of what he sees, stalled
at the light, metal drumming
beneath his feet, as a woman cuts
across the world, answering
only to herself (69).

Húlle, die twee regsgeleerdes, waar die digter aansoek doen vir ‘n werk as sekretaresse (met twee grade) word ‘n gedig wat al die gendersake aanspreek via Hélène Cixous (The Laugh of The Medusa, 1975) en June Singer (Androgyny – Toward a New Theory of Sexuality, 1976).

III
Baderoon se gedigte is eweneens fassinerend in die “cross over” tussen Engels en Afrikaans. Onder haar verse roer daar dikwels verwysings na die Suid-Afrikaanse kultuur.

Sy voorsien die leser van ‘n nuttige glossarium soos nuh (nè), doenya se goete (aardse dinge), ja (yes), sloot en tjorrie (o.a.)

Die taalaspek van haar bundel is dus iets wat ondersoek moet word: die gebruik van spreektaal uit ‘n Afrikaanse en Moeslemkultuur wat ons vind in ‘n gedig wat in Engels geskryf is.

“Everything We’ve Said” (30) bly egter net ‘n stelling – dit kon verder gegaan het in die spel tussen tale. “The Blue of the Night Before We Left (39) huiwer om ‘n distigon te word.

IV
In “Cardinal Points” (73) word name van mense genoem (Louise, Jane, David) en die leser wonder of hierdie name werklik relevant is vir die gedig se betekenis? Dalk vir hierdie lesers. Robert Lowell het meer gedoen wanneer hy name in gedigte gebruik het sodat die persone argetipiese status verwerf het. Die aangrypende liefdesgedig “Not You” (90) werk met die inkantatiewe herhaling van “I love” in al sy semantiese duidinge. 

Die gedig eindig:

I think poetry is the flood
for the not-you I’ve prepared for
from the start. (61)

Stilte (silence), tronke, hawestede, oorgange en dus die posisie van liminaliteit, word telkens vanuit verskillende hoeke belig. “Poetry for Beginners” (9) sal ‘n mens nie sommer gou vergeet nie. Hoe iemand iets vra en dit jou terugruk en jou eie aannames oor die digkuns laat ondersoek.

Daar is ‘n lange lys van bedankings wat ook ‘n bietjie af-showerig is. Oor al die vererings en besoeke.

In die geheel gesien, is dit ‘n ryp bundel waarin die ek-spreker vreesloos skryf oor ongeregtighede. Hierdie leser bewonder veral die beskrywing van liggaamlike betredings. Dit moes ongelooflike moed gekos het om hierdie verse te skryf en uiteindelik te publiseer.

Saturday, March 18, 2017

Nathan Trantraal - Alles het niet kom wôd (2017)


Nathan Trantraal: Alles het niet kom wôd. Kwela Boeke, 2017. ISBN 978-0-7957-0791-9

Resensent: Joan Hambidge

Met sy debuut Chokers en Survivors het die digter Nathan Trantraal die Ingrid Jonker-prys in 2015 verower. Dit was ‘n besonderse debuut geskryf in Kaaps met ‘n ongebreidelde aanslag en woede. Nou is die tweede bundel sopas gepubliseer deur Kwela, met ons. Dit heet: Alles het niet kom wôd.

Die tweede bundel, so weet ons al uit die kritiek, is die moeilike hekkie. Intussen het die digter, getroud met Ronelda S. Kamfer, wat eweneens ‘n rubriek in Rapport het.

Trantraal herinner my sterk aan die reaksie wat indertyd op Gert Vlok Nel se debuut uitgespreek is deur J.C. Kannemeyer: die digter speel dom; hy maak asof hy nie van die kodes weet of dit begryp nie. By Trantraal is daar dieselfde spel aanwesig, maar op ‘n ander manier. Hy is ook poseur wat kwansuis minagtend staan teenoor die Afrikaanse letterkundige sisteem, dit kritiseer en aanval, maar tog die pryse aanvaar. Hy is eweneens bekroon met die ATKV-prys vir sy debuut.

Sy kritieke, en hiermee het ek geen probleem nie, op Adam Small se hantering van Kaaps en sy belesenheid, soos bely in onderhoude, vra dus vir ‘n ander lees as van kritici wat ‘n reaksie het op die armoede en ellende van die digter. (En hét Kamfer dit nie goed getref met die groot Rabie-Wallace-prys nie?)

Cash for Gold

Ek kry respect en awards
wat vi genoeg mense baie beteken
en dan oppe Woensdag
wat niks beteken ie
staan ek innie voorhys en wieg
ie award in my hand
en vra my ma: “Wat dink Mammie,
is dié bronze of copper?”
Assit copper is issit ’n paar dae se kos
assit bronze is beteken it niks vi my nie.

(42)

Oor die eerste bundel het ek soos volg geskryf (Woorde wat weeg. Nathan Trantraal - Chokers en Survivors (2013). Besoek 15 Maart 2017):

Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps. 
- Daar is humor.
- Daar is ‘n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ‘n duidelike afskeid van ‘n pynlike, verwonde jeug.
- Die gebruik van plat woorde is opvallend. Cunt, poes, kak, befok, fokkol, piel, nai, fokof.
- Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ‘n weergawe van sy mense se spreektaal.
- Daar is ‘n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, om onsentimenteel te wees.

Hammie

My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe. (31) 

- Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval soos in ”Fifa 06” (52).
- Dit is gedigte wat ‘n storie vertel.
- Dit wil duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ‘n “dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer” op die maat van “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” (69).
- Daar is ‘n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld), casette, porn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.
- Die private word ontmasker en betree (masturbasie): “die Here wiet allien 1” (67).
- Die tronkbestaan / gangsters versus ‘n godsdiens (geloof) word ontgin.
- Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters wat ‘n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ‘n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos gert vlok nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie.
- Die gedigte wil soos strips toeganklik wees en soos in hierdie sub-genre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ‘n Mens dink hier o.a. aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.
- Die spel met die outobiografie – o.a. deur verwysings na Ronelda, sy vrou en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het.
- ‘n Sterk satiriese aanslag soos “Hard to kill trilogy (DVD Boxset)”, 23.

Dieselfde tegnieke is hier: satire, ironie, platwoorde, die uitskryf van die armoedige bestaan, Kaaps, gevaar, “living on a edge”, dus. ‘n Nuwe wending is die ontginning van die religieuse dimensie en in die openingsgedig “Alles het niet kom wôd” (11), bely die digter dat hy “minner dywels” in die water gegaan het as waarmee hy uitgekom het.

Die ontmaskering en bespotting van hierdie leefruimte is dus iets wat die leser moet aanvaar.

“S.o.b.” (38) striem die politieke en klasverskille wat hierdie spreker intens beleef. Son of a bitch word hier Silly old boer.

Daar is dus “gif” in “vegifnis” (39)

Die bundel het nie die werklike vuur en vreemdheid van die eerste een nie. Maar die toehoorders by Woordfeeste waar die digter optree, is kennelik onder die indruk van die praataanslag en fok-jou-houding. Hier lees hy "Cash for gold". Hy het bepaald ‘n groot aanhang onder jong lesers.

Hulle sal die ironie vang “soes butterflies wattie / na my toe wil kommie” (59).

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)