Showing posts with label Stephen Gray. Show all posts
Showing posts with label Stephen Gray. Show all posts

Wednesday, February 20, 2013

Stephen Gray - Shelley Cinema and Other Poems (2005)



Stephen Gray. Shelley Cinema and Other PoemsProtea Boekehuis, 2005. ISBN 1 86919 095 5.

Resensent: Joan Hambidge

Stephen Gray het veral bekendheid verwerf as ‘n kenner van sowel Herman Charles Bosman se lewe en werk as oor Beatrice Hastings, die skrywer bekend om haar vele skuilname, se letterkundige bydrae. Ms. Hastings was vir ‘n ruk lank Modigliani se minnares. Gray het eweneens belangrike werk as kritikus gelewer waarvoor hy ‘n paar jaar terug bekroon is.

In 1994 verskyn sy Selected Poems en sy jongste bundel – ‘n nogal lywige een daarby – heet Shelley Cinema.

Dit is ‘n bundel wat spreek van geweldige erudisie en ‘n behendige omgaan met die Engelse en groter Europese tradisie. Dit spreek van sarkasme, satire en dikwels ‘n aserbies-bitsige blik op die menslike lot.

Die punt is: jy kan hierdie bundel nie neersit nie. Jy word aangegryp deur die kamp-aanslag en die dikwels meedoënlose raakklap van dit wat die spreker erger, irriteer of besig is om op te stuur. (‘n Freudiaan sou vermoedelik kon wys op ‘n obsessie met vroulike geslagsorgane, veral van koeie, gevind in ‘n McDonald’s Burger of  ‘n Italiaanse salamie.)
En hoekom nie?

As Roy Campbell moedeloos uitgeroep het o waar o waar is die “bloody horse” in die Engels-Suid-Afrikaanse poësie, dan vra Gray dit steeds. Syne is waarskynlik ‘n satiries-spuitende perd, maar die behendigheid het my dikwels geïmponeer.

“Shelley Cinema”, die titelgedig wat die voorlaaste afdeling behels, karteer Shelley en Mary, die skrywer van Frankenstein, se lewe. Die lang epiese vers word ‘n verslag van die impak van die Twin Towers se val op ons psige. Die gedig is grieselig in aanslag, en mag selfs onbehoorlik wees vir sommige lesers.

and above the Twin Towers the smoke
        of human flesh appals,
poor Shelley is roasted now, his blue
            eyes like broken glass,
and all the charred smoke rises and rises    (p. 80)

‘n Soort postmodernistiese fantasie soos David Lynch se Blue Velvet.

Die digter bely dat hy Italiaans begin leer het en die gesprek met Montale en probleme rondom die vertaling van ‘n ingewikkelde digter, is uiters leersaam. 

Soos dit ‘n skerpsinnige kritikus en leser betaam, word tersaaklike kwessies van die dag onder vers gebring: die graf van Sarah Baartman; die ironie dat Senghor ou konserwatiewe digters vertaal het soos Yeats, Eliot, Hopkins en Dylan Thomas. (Hoe ironies klink die pryslied van Jeremy Cronin nie op nie! Hy spreek die hoop uit, op die agterblad, dat die digter nog vir baie jare prolifiek sal bly dig. En ja, uit Cronin se werk weet ons dat die regte politieke sentimente en ‘n goeie gedig het nie veel met mekaar te make nie. Cronin is ‘n verbluffende digter desnieteenstaande sy politieke sienswyse.)

“On a Lock of Pushkin’s Hair” word die “neat poetry” van hierdie digter geplaas teenoor ‘n nuwe sosiale orde, terwyl in “Chain letter” die digter die konsep van die kettingbrief gebruik om die impak van ‘n gedig op die leser te beskryf. Wanneer jy dan hierdie gedig ontvang, moet jy iemand soen wat jy liefhet...

“Send no money. Do not ignore this poem, it works” (p. 67)

Gaan lees gerus hierdie gedig!

Die bundel begin myns insiens met minder imposante verse soos “David at Settlers bar" (p. 13) en die weergawes van seksuele plesiere is vir my smaak nie altyd genoegsaam tot gedig omgetower nie.

Is die ervarings dalk nog te na aan die spreker/waarnemer?

Die knap reeks "64 Short Poems" wys Gray op sy beste: ‘n skerp waarneming – ook ‘n katterige een – word in ‘n kwatryn opgevang. Dit is hier waar Gray sy skerpste sintuig openbaar, naamlik daardie onvertaalbare Engelse kwaliteit: ‘wit’.

“Somewhere over the Rimbaud Nation” heet een en hy speel klaar met Kelwyn Sole se politiek-korrekte verse en akademici se breedsprakige artikels wat hy gelukkig as kladpapier kan gebruik!

Enige mens, instansie of persoon wat hom of sigself ernstig opneem, word hier opgestuur. Met ‘n skerp satiriese pen. Krog se digkuns waarin die man uitgestal word of selfs ‘n bisarre fantasie waarin Olive Schreiner in Playgirl aangetref word.

On Some South African Poets

About reviewers they complain in long retorts:
I’m there with you, I also undergo ‘em:
Misread, misunderstood, however much they hate bad sports
I sympathise, but where’s the bloody poem?   (p. 93)


On Some South African Academics

From theses to faeces they externally examine,
From Plaatje to potty-talk they theoretically strain;
Publish intellectual words on dunnies full of turds and jasmine –
Scented Sanpic. Their pages do absorb, I can’t complain.  (p. 107)

En die volgende Auden-aanslag het my laat glimlag:

The Louvre

Which way to the Mona Lisa?
Beyond the allegory of this world
And all its ills, and about Africa
They were always wrongt, the old masters.   (p. 105)

En inderdaad bly die vraag staan : waar is Roy Campbell se vurige aanslag in die huidige plaaslike Engelse digkuns? Of is jonger digters tog besig om vuriger, driftiger en minder polities-korrek te dig?

Ek dink daar is beslis dinge aan die roer!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Stephen Gray (Ed.) - Invitation to a Voyage (2008)



Stephen Gray (Ed.). Invitation to a Voyage. French language Poetry of the Indian Ocean African Languages. Protea Book House, 2008. ISBN 978 1 869 19 169 6.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Hierdie versameling wil die Suid-Afrikaanse leser bekendstel aan die Franse poësie van die Indiese Oseaan se Afrika-eilande. Plekke soos Mauritius, Madagascar, Réunion, die Seychelle, Komoro, Mayotte kom dus hier aan bod.

Gray is self digter en hy het gebruik gemaak van die hulp van Carole Beckett om die teks vir hom te versorg. In vertalings is dit altyd goed as daar so ‘n dubbelloop-aksie plaasvind: ‘n digter en konsultant; of twee digters wat beloer en bekyk. Min digters is in elk geval so behendig en vlot as Uys Krige wat Afrikaans verruim het met sy skitterende Portuguese en Spaanse vertalings. Wil Nicol Stassen nie asseblief M.M. Walters se Spaanse dans aan die vergetelheid ontruk nie? Daardie lelike ou geel Perskor-boekie met die pragverse in van Neruda en ander voortreflike digters. Protea was weer eens hier bereid om ‘n vertalings uit te gee soos in die geval van H.J. Pieterse se vertaling van Rilke se Duino-elegieë. Die Franse Instituut van Suid-Afrika het eweneens ‘n bydrae gelewer.

Gray plaas ook Roy Campbell se vertaling van Baudelaire en Wilma Stockenström se weergawe van Flavien Ranaivo.

Daar is ‘n kaart sodat die leser sigself kan oriënteer en die samesteller verskaf foto’s wat die gedigte verder konkretiseer.

Die titel is natuurlik afgelei van Baudelaire. Daar is die bekende “Aan ‘n Kreoolse dame” wat in 1973 in Rapport verskyn het en deur Gray en Stockenström vertaal is.  Hierdie prag-vers waar die Kreoolse dame ‘n versinnebeelding word vir die kreatiewe prosesse gekoppel aan die besoek van hierdie lande, vertel hoe daar ‘n duisend sonnette sou kon ontkiem in die harte van digters (p. 10). Joan Neethling het weer op haar beurt probeer om die beroemde “Die albatros” te vertaal en dit is oorspronklik in 1975 in Rapport gepubliseer.


II.

Die boek is geïndekseer met foto’s en verduidelikende tekste. Daar is digters uit Réunion (soos Dayot, Parny, ea.), Mauritius (soos Maunick, Carl de Souza), Madagaskar (Flavien Ranaivo, Allain, e.a.), die Seychelle (‘n tradisionele vers en gedigte van Antoine Abel), die Komoro (Salim, Salim Hatubou, e.a.) en Mayotte.

Uiteraard word die leser deurgaans gekonfronteer met gedigte geskryf in ‘n tussentaal: verse wat huiwer tussen die hartstaal en vertaling deur ‘n ander persoon. Wat gaan verlore, maar wat word gewen? Robert Frost meen dat dit wat in ‘n vertaling ‘verlore’ gaan die eintlike gedig is. Maar sonder vertalings kan geen letterkundige leser bestaan nie. Ons is dus in die hande van die kundige vertaler wat ons bekendstel soos ‘n buikspreker wat namens iemand praat, inlig of vertel.

Met hierdie bundel sou ‘n mens na die eilande kan reis en iets kan opteken van die leefwyse aldaar. Wat ‘n frustrasie was dit nie vir hierdie reisiger om geen poësie van Mosambiek te ken nie. Hierom het ek waarskynlik sommer self ‘n gedig gekomponeer, “Lykdig in die trope”, om iets van die huidige bestaansdilemma op te vang. 

Vir my is ‘n besonderse vers “Malay Pantoum” (p. 28), ‘n skitterende spel met hierdie nogal moeilike vorm.  Dit is ‘n gedig van Charles René Marie Leconte de Lisle. Ook sy “Palanquin” is hartgrypend mooi. Hierdie gedig is in 1845 geskryf. Dan is daar die “Love Song” van Ranaivo – vertaal deur Stockenström en Gray – en hierdie leser hóór Wilma voordra!  A, kyk hoe knap is hierdie vers getransporteer!

Die geliefde is troue gesel: soos ‘n kalbas. As dit heel is, ‘n skepding vir water. Stukkend: bruggies vir my kitaar! (p. 104).

Vele van die gedigte wil voorgedra wees. Jy moet dit nie net lees nie, maar hóór. Soms is ‘n vertaling hortend, soos Joan Neethling se “Die Vrou, Die Man” (p. 47). Of wil die gedig juis die dilemma van die vrou wat vasgevang is in ‘n onmoontlike situasie representeer? ‘n Vrou wat nie kan werk vind nie en hierom moet sy by die man bly…

“Mea Culpa” skeer die gek met die Rooms-Katolieke boetedoening (p. 64), ‘n gedig van Clifford Ng Kwet Chan, wat in ander verse sterk sosiale kommentaar lewer. By ander digters is daar woorde wat sing en dans (p. 57). Van hierdie gedigte het in Contrast en Staffrider ‘n publikasie-ruimte gevind, wat opnuut bewys hoé belangrik letterkundige tydskrifte as tydsdokumente is.


III.

En waarom ‘n intense belangstelling in hierdie letterkunde? Gray verklap dit in die voorwoord: die goewernante, Nesta Williams het van ‘n stoomboot op Mauritius afgeklim en vir hulle as kinders die wonderbaarlikste stories vertel.

Maar om haar te verstaan, moes hulle haar taal leer ken en hier weet ons hoe die digkuns gekoppel is aan die taal van die moeder.

Die samesteller werp ook lig op die haglike publikasie-toestande (veral in Madagaskar) en die hele postkoloniale debat word aangeraak via veral Fanon. Begrippe soos negridute, migritude word eweneens behandel.

Waarskynlik moet ptit op p. xxx petit wees.

Stephen Gray het belangrike bewaringswerk gedoen vir die leser met ‘n belangstelling in die digkuns.

Agter hom staan kundige medewerkers en natuurlik die digkuns. En Gray betrek Irma Stern, Batiss, Alexis Preller. Hy verwys eweneens na Elsa Joubert se reisbeskrywing: Suid van die wind. Hier is ‘n koloniale en postkoloniale blik dus met gedigte, prosas en verklarende tekste en reisbeskrywings.

Bemin my soos ‘n lieflike droom’’ sou die gepaste titel vir hierdie bloemlesing wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]