Wednesday, September 30, 2015

Tsjechof In Kaapstad (Resensie: Die seemeeu)


Tsjechof In Kaapstad.‘Seemeeu’ bied ryke stof vir besinning

Resensent: Joan Hambidge


Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Klassieke tekste is klassiek omdat daar in so ’n teks ’n kern is wat die menslike lot getrou weergee.

Tsjechof, die Russiese dramaturg en kortverhaalskrywer (1860- 1904), het begryp dat die oorgang van een sisteem of lewenswyse na ’n ander onsekerhede oopmaak. Ons leef in die huidige Suid-Afrika eweneens in ’n tyd van oorgange en veranderinge.

Die agtergrond vir Tsjechof is Rusland. Is dit toevallig dat Arkadina reëls uit Hamlet voordra? ’n Teks waaroor psigoanaliste soos Freud en Ernest Jones lang analises geskryf het? Wat het Shakespeare te make met Tsjechof? Oor albei se tekste is die meeste rolprente klaarblyklik al gemaak. Tsjechof is deur Tennessee Williams en Raymond Carver tot storie verklaar. En sy invloed op die kortverhaal word eweneens sterk geregistreer.

’n Klassieke teks verduur teensange en parodieë wat binne ander kontekste die oorspronklike boodskap versterk. Christiaan Olwagen doen met Die seemeeu wat Pedro Almodóvar in All about my Mother (Todo sobre mi madre) gedoen het met A Streetcar Named Desire van Williams. Daar word in die teks gesoek na onbedoelde “openinge” of dalk ook na ’n rafel wat uithang sodat die weefwerk kan loskom.

Almodóvar fokus op genderspanninge wat ook deel was van Williams se lewe. Olwagen aktiveer vroulike histerie en neurose in sy weergawe van Die seemeeu. Hamlet se verhouding met sy moeder kom hier na vore nes Freud se werk oor die onderwerp.

Parodie is nie net opstuur nie; dit is eweneens ’n stylverskynsel wat die essensie van die oorspronklike teks herkontekstualiseer: onsekerheid, politieke onrus, die meedoënloosheid van tyd, die primordiale verhouding tussen moeder en seun.
Die teks waaier oop na ’n moderne konteks waarin die lyflike beklemtoon word. ’n Aktrise op ’n oefenfiets; ’n oorgewig akteur in ’n swembroek. (Lyflikheid sou vir Tsjechof tersaaklik wees; sy gesondheid was nie goed nie. En sy dood het eweneens al verskeie kreatiewe reaksie ontlok.)

Tsjechof die medikus het opgemerk die mediese beroep is sy eggenoot en skryfwerk die minnares – ’n komplekse siening oor die rol van skryf, wat dikwels vir hom gekoppel was aan ’n oorlewingstryd, ook in die finansiering van sy familie.

Boonop is hy modernisties in sy skryfwerk, soos Henrik Ibsen en August Strindberg s’n was. Sy tekste se strukture moet in hul eie terme verstaan en ontleed word.

Olwagen is in ’n post-post-moderne tydvak dan besig met ’n aweregse antwoord. Hugh Kenner verwys na hierdie ironie as ’n hangover van ons tyd.

Alles is reeds geskryf en juis om te fokus op die uitsigloosheid en noodlot word die Olwagen-teks ’n robuuste antwoord op die oorspronklike een.

In sy lewe het Tsjechof satires gepleeg en humoristiese stukke geskryf om aan die lewe te bly.

Hy sou in alle waarskynlikheid plesier gehad het aan die wyse waarop sy teks nuwe lewe kry met ’n balans tussen satire en erns. Misverstand, gefnuikte ambisie, melankolie, absurditeit, stiltes – die kenteken van alle groot dramas. En in Die seemeeu word dit tot ’n hoogtepunt gevoer. Met implisiete kommentaar op die skryfproses wat immer vir die skrywer binne ’n groter politieke konteks as ’n futiele, selfs nuttelose aksie ervaar word.

Wat bedui die seemeeu nie alles nie? Nina merk op dat sy aangetrokke is tot die meer asof sy ’n seemeeu is.

En wát dit alles simboliseer, sal van kyker tot kyker verskil. Nes die skote wat in die agtergrond opklink.

Hierdie teks neem jou terug na die betekenis van fin-de-siècle en waarom Anton Tsjechof, sensitiewe kunstenaar wat hy was, verstaan het dat simbole nie enkelduidig vaspenbaar is nie.

Saartjie Botha se vertaling is eweneens in die kol. Dit vra vir verdere besinning. Wat is uitgelaat en wat is saamgevoeg?

Bronne: Cornel West: Chekhov’s Legacy (2004); Janet Malcolm: Reading Chekhov – A Critical Journey. (2004).


Die seemeeu word van 19 tot 31 Oktober in die Baxter-teater in Rondebosch opgevoer. Bespreek by 021 685 7880.

Monday, September 28, 2015

Perspektief & Profiel – H. P. van Coller, Red. (2015) - Deel 2



Perspektief & Profiel – H. P. van Coller, Red. Van Schaik: Pretoria, 2015. ISBN 978 0 627 03104 5

Resensent: Joan Hambidge

Die uitstekende en uitgebreide inleiding van Henriette Roos gee ’n deeglike oorsig van tendense en sleuteltekste binne die Afrikaanse prosa.

Roos het haar deur die jare bewys as een van die gedugste lesers van die Afrikaanse prosa. En in hierdie bespreking is daar jonger literatore wat hul man staan teen die ouer, meer gevestigde literatore wat die hele proses van kanonisering en herkanonisering illustreer.

Rachelle Greeff word goed ingeskat deur Thys Human op ’n sobere, akademiese wyse. Hy wys op die kortkuns, rubrieke, romans en dramatekste en hoe verskillende genres op mekaar steun en mekaar amplifiseer. Greeff se beste bydrae, indien ’n mens tussen die lyne lees, is die kortverhale en uiteraard haar dramateks Die naaimasjien, wat Sandra Prinsloo haar eie gemaak het.

Human se profiel oor André P. Brink bied stof tot nadenke. Hy wys op die besondere strukturele beheer teen die kritiek wat dikwels net vassteek op die aanbod in hierdie skrywer se werk, naamlik geykte uitbeeldings van vroue en tematiese herhalings. Oor die polemiek rondom die gewraakte toekenning van die beurs aan Brink en die daaropvolgende satirisering van sy kritici in die roman is Human uitgesproke. Brink se geloofwaardigheid as kampvegter vir die enkeling se “nee” en “inteendeel” is hiermee ’n ernstige knou toegedien.

Wat eweneens relevant is in hierdie lang bydrae is hoe buitelandse kritici se mening verskil van binnelandse lesers, onder andere Mario Vargas Llosa wat Adamastor as ’n unieke boek ervaar het. (Nuwe navorsing behoort die verskille tussen die buitelandse en binnelandse resepsie te ondersoek.)

Die profiel word van nuttige noemers voorsien (”Die salwende mag van stories”, “Van stiltes en stemme”, “Anderkant swye”, “Mise en abyme”, ensomeer) wat die ontwikkeling in die oeuvre aantoon. (Daniel Hugo se naam word verkeerdelik met ’n deelteken geskryf, terloops.)

P.A. du Toit karteer die komplekse landskap van die veelkantige Hennie Aucamp: gerekende kortverhaalskrywer, digter, kabarettis, skryfmentor, meditatiewe skrywer (Pluk die dag), aforis, dagboekhouer, reisjoernaalhouer, skrywer van fabeltekste en egodokumente . 

Hy merk tereg op dat Aucamp se dagboeke benader kan word as ’n werksessie van die skrywer. Andries Visagie gee ’n ander perspektief op Aucamp. Hy begin met die egoliteratuur van die skrywer sedert 1998. Hy begin sy profiel met Beeltenis verbode: Bespiegelinge oor egodokumente en biografieë wat in 1998 verskyn het. En dit is die merkwaardige bydrae van Aucamp se werk. Benewens as gerekende skrywer, was hy ook wegbereider en teoretikus wat die aard van sy genre kon verduidelik en oopmaak vir die leser.

Wanneer ’n skrywer dus sy eie werk verduidelik of begelei, word hy uiteraard deel van die kanoniseringsproses. In hierdie opsig sluit Aucamp dan aan by die ryke tradisie in Nederland by onder andere Gerrit Komrij, eweneens kanoniseerder en essayis.

Daar is reeds in ’n vorige bespreking verwysing na Phil van Schalkwyk se profiel van Pirow Bekker. Hierin wyk hy af van die chronologiese benadering. Hy verkies die sirkelgang en die terugkeer na motiewe in sowel die digkuns as die prosatekste.

Heilna du Plooy skryf oor Henriette Grové wat in 2009 oorlede is. Vir my bly Jaarringe een van die belangrikste kortverhaalbundels nog: struktureel veral in die onderliggende samehang tussen verhale. Du Plooy begin haar stuk met ’n belangrike aankondiging: Soek tussen spieël en eggo.

Om ’n outeur te lees wie se werk meer as 40 jaar oorspan, vra geweldige insig en deursettingsvermoë en Du Plooy gee eweneens belangrike kodes vir die lees van hierdie prosateur en dramaturg se oeuvre. Sy beskou Die kêrel van die Pêrel as die hoogtepunt in haar oeuvre en verduidelik presies waarom sy so dink.

Grové se siening van die gewaande Vryheid van die skrywer, word ook onder die loep geneem. Omdat mense sekerhede verloor het, word skrywers dikwels vir hulle ’n soort Messias. Skrywers het egter nooit die antwoorde nie en ’n resensent het by geleentheid oor haar werk geskryf dat dit Bybelse resonansies sonder Bybelse troos bied (867).

Skrywers het nie antwoorde nie; net vrae. In hierdie deeglik besinnende profiel word ’n mens opnuut bewus van Heilna du Plooy se belangrike werk en hoe eerlik sy ’n skrywer inskat.

Sy verwys tereg na die oorstilering in die tekste (“oorversorg”), maar vir my gevoel is dit dikwels juis hierdie aspek wat die kortverhaaltekste wat tans verskyn so vergeetbaar maak.

Tyd is die gedugste kanoniseerder. Die werk van Eleanor Baker – wat veral deur die kritikus André P. Brink as belangrik geag is – word deur Dorothea van Zyl beskou. (Van Zyl noem dit tereg “lofsange”.) Aanvanklik misken, selfs skerp gekritiseer, totdat Brink gewys het op die sogenaamde postmodernistiese elemente, het gelei tot ’n bepaalde posisie binne die kanon. Sy word steeds gelees, meen Van Zyl.
Vir my is die een teks wat bly staan ongetwyfeld Morketiden.

Dorothea van Zyl betrek in haar stuk die relevansie van literatuuropvattings en die spanning tussen sogenaamde “middelmoot”-letterkunde en ernstige tekste.


Dat haar werk wel genietlik is, val nie te betwyfel nie. Maar hierdie leser is onseker of sy werklik vergelykbaar is met Dalene Matthee. En of sy die “digtheid en gewildheid” van die pomo-teks werklik deurvoer, val te betwyfel wanneer ’n mens terugkyk op haar werk vandag.

(Lees Deel 1 vir 'n oorsig oor die poësie).

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, September 27, 2015

‘n Nota by Debbie Loots se 'Split' (2015)


‘n Nota by Debbie Loots se Split

Queillerie, Kaapstad. 2015, ISBN 978 0 7958 0096 6plo

I
Nou onlangs lees ek toevallig ‘n Rooi Rose en ‘n voormalige redaktrise van ‘n vrouetydskrif begryp Simone de Beauvoir se dictum verkeerd. Sy approprieer “jy word nie ‘n vrou gebore nie, maar een gemaak” as ‘n positiewe stelling dat jy met lipstiek en wat nog verbeter kan word!

De Beauvoir het gemeen vroue is die “tweede seks”, dus onderdanig aan die manlike orde.

Op die voorblad van Debbie Loots se roman Split loof Marita van der Vyver dit as ‘n vars nuwe stem om oor opgewonde te raak. Op die agterblad staan Anchien Troskie se woorde: “Lekker gebeurtenisryk, met karakters wat in jou hart kruip – ek het heerlik gelees!”

Hierdie twee shouts (oftewel die blakertekste) laat ‘n mens nadink oor Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie (1992) wat destyds opslae gemaak het. Die sukses het uitgewershuis onverwags betrap het en die boek het met die volk gepraat. ‘n Seksuele rewolusie vir die Afrikaanse leser, gekonfronteer met lyflikheid – selfs vergelyk met Fear of flying (1972) van Erica Jong. Troskie is weer in die nuus - haar roman, Ek, Anna (2005) is verfilm en bekyk die grinterige arena van kindermolestering en agentskap. Die volwasse Anna praat uit en kom so tot heling.

Waar plaas dit Debbie Loots tussen hierdie twee skrywers, en meer spesifiek, vroueskrywers? Op die agterblad staan daar: “Terwyl verpleegster Vera se huwelik aan die verbrokkel is, knoop sy ‘n verhouding met haar buurman en lees verbode seks-boeke ...”  Noem die woord verbode en Afrikaanse lesers is daar. Sopas het die appèl teen die 18-perk op die film Ek, Anna geslaag. Griet skryf ‘n sprokie is indertyd juis bemark rondom die verbode vrugte en grensoorskrydende aard van die teks - wat vandag maar mak lyk, veral teen Jong se Fear of flying oor die zipless fuck, zipless soos in vryheid, vroulike orgasme en wat nog.

En wat lees sy?

Wat vroue in tekste lees, is ‘n kortpad om hul psiges te begryp. Dit het Nabokof vir ons uitgewys in sy beroemde Cornell-lesings gepubliseer in die tagtigerjare: beide Madame Bovary en Anna Karenina se lewenslot word bepaal deur die populistiese tekste wat hulle gelees het.

Op bladsy 43 verneem ons Vera lees Nancy Friday. Nie alleen lees sy dit nie, maar sy lees dit ook voor aan die minnaar: ”Simon se kop beweeg op en af met die deining van haar maag terwyl sy vir hom uit die Nancy Friday lees. Sy hand flap sy pap penis heen en weer. Hy luister, oë op die plafon. Hy geniet die stories, sy kan sien, en sy is bly toe hy harder aan sy penis begin trek”.

Die vrou is dus in beheer danksy die bevrydende teks wat haar fantasie weergee ...

II

Wat is die funksie van Nancy Friday in hierdie teks? Watter kortpad neem die outeur hier? Wat word ingesmokkel, by wyse van spreke?

Friday se My secret garden en Forbidden flowers (1975) gee die geheime fantasie-lewe van die vrou weer, een wat stilgemaak word deur die patriargie. In Loots se roman is swangerskap eweneens een van die temas wat ontgin word. Hiermee word die vrou verbind aan die man en is sy afhanklik van hom.

Swangerskap, aborsie, voorbehoedmiddels word deeglik onder die loep geneem, nes die sogenaamde “ongehude moederskap”.

My secret garden (1973) is ‘n teks met onderhoude waarin vroue hul seksuele fantasieë verklap. Hierdie teks het uiterse omstrede reaksies tot gevolg gehad. Friday is onder meer daarvan beskuldig dat sy sélf die fantasieë uitgedink het en binne sekere feministiese kringe is sy as on-feministies afgemaak. Vandag weet ons daar is nie iets soos die feminisme nie; eerder feminismes, te wete verskillende vergestaltings van vrou-wees. En dit is waarop Stanley Kubrik fokus in Eyes wide shut (1999): die fantasie van die vrou wat die man probeer troef.

Is dit tog nie ironies dat Tom Cruise en Nicole Kidman se huwelik na hierdie film verby is nie? Het dit iets te make gehad oor die betreding van die fantasie?

Een van haar tekste wat die blywende indruk op my jong gemoed gemaak het, is My mother, my self (1977) met die subtitel: The daughter’s search for identity.

Volgens Friday ontglip die jong vrou die mag van haar moeder vir ‘n kort periode: wanneer sy die huis verlaat na skool. Die oomblik wanneer sy trou en kinders kry, word sy al hoe méér soos haar moeder.

III
“Let us look at the web and not the spider,” het Nabokof opgemerk oor Dickens. Hoe tekste met mekaar in gesprek tree, bly ‘n fassinerende proses.

En dit is wat Roland Barthes die doxa van die teks genoem het. Al is die stories voorspelbaar en nie genoegsaam ontgin nie, is die ideologie van vroue se smagting na (seksuele) bevryding en agentskap presies dit wat hierdie leser in hierdie tekste vind; tekste wat vérby die middelmoot-dimensie beweeg.


En of vroue al meer bevryd geraak het, blyk nie die geval te wees nie. Dit bly dieselfde misverstande en gevegte binne die heteronormatiewe domein.


Dalk omdat die fantasieë verskil?

Lien se vertelling onder andere oor ‘n lesbiese tante met begrip, gee agentskap aan die jonger vrou.

‘n Mens sou ook die politieke dimensie van die roman kon ondersoek, maar die genderaspek het my geïnteresseer.


© Joan Hambidge