Showing posts with label Patrick Cullinan. Show all posts
Showing posts with label Patrick Cullinan. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Patrick Cullinan - Transformations (1999)



Patrick Cullinan. Transformations. Carapace poets, 1999. ISBN 1 874923 47 7.

Resensent: Joan Hambidge

Met onverdrote ywer verskyn daar Engelse digbundels by die Snailpress. Carapace, 'n afdeling van die uitgewery, het sopas Patrick Cullinan se Transformations uitgegee. Vir my gevoel word daar dikwels te veel digters gepubliseer en 'n mens voel dat daar meer van 'n kritiese siftingsproses behoort te wees.

Maar tussen die vele eendagsvliegies van die Engels Suid-Afrikaanse poësie is daar Douglas Livingstone, Stephen Watson, Douglas Reid Skinner, Ingrid de Kock en Patrick Cullinan, om 'n paar sterre uit te sonder. As 'n mens egter na Leon de Kock en Ian Tromp se Penguin-uitgawe van ons Ingelse digters hier te lande kyk, dan lyk die span maar bloedloos. En dat daardie uitgawe as 'n represenstasie van ons digkuns voorgehou word, moet beslis nog aangespreek word. Te veel is gemaak van sosiale tematiek en te min van tegniek.

(As u mooi luister, kan u die wenkbroue hoor lig by Faber & Faber. Goddank Eliot is dít gespaar.)

Transformations is geen groot bundel nie, maar dit bevat 'n handvol gevoelig en ontroerend mooi verse.  Ook begin die bundel met 'n lykdig en spreek die grootste proses van transformasie aan, te wete die dood. Met min woorde word die dood van 'n geliefde persoon opgesom.

By Cullinan is daar 'n lewenswysheid wat in 'n gedig soos “Love and war” wat 'n mens om die wysheid sal onthou:

And to my friends I send
a blessing:
The shock of second sight.

But to enemies I reserve
truth absolute,
implacable light.

In love and war
you have to be fair:
serve both right.

'n Gedig soos “The construct” is 'n fraaie ars poetica. Die digter ken sy beperkinge, maar tog moet hy steeds sy gevoelens verwoord.

Soos dit 'n digter betaam wat krities met sy bedryf omgaan, is daar dikwels verse wat die cliché ontmasker of die ooreiste beeld weer nuut maak, soos in “One night”.

Die bundel bevat ook vertalings en verwerkings van Eugenio Montale wat in Afrikaans pragtig deur Rosa Nepgen vertaal is as Die geel van suurlemoene skyn(Tafelberg Uitgewers, 1979). “Memory” is onder meer 'n vers wat 'n mens tussen die oë tref.

Die digter is al dikwels vir sy poësie bekroon. Dit is poësie wat bly krap, 'n mens steur en weer laat terugblaai.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 15, 2013

Patrick Cullinan & Stephen Watson (Reds.) - Dante in South Africa (2005)



Patrick Cullinan & Stephen Watson (Reds.). Dante in South Africa. Centre for Creative Writing, UCT, 2005. ISBN 0 620 35549 2.

Resensent: Joan Hambidge

Jare gelede had ek die voorreg om Judith Mason se Dante Bestiary te sien by wyle Casper Schmidt wat dit vir my en Johann de Lange gewys het in Pretoria. Asemsnakkend. 

In daardie tyd was daar ook ‘n boek wat sy rondom ‘n Stockenström-gedig gedoen het en na Schmidt se dood, was vele van die sketse glo soek. Inmiddels onder die bekwame leiding van Patrick Cullinan en Stephen Watson het ‘n boek verskyn met die titel Dante in South Africa. En hierin is daar dan van Mason se sketse opgeneem. So uiteindelik gaan niks werklik verlore nie.

Patrick Cullinan skryf uiters onderhoudend oor hoe dit gekom het dat hierdie projek sy beslag gekry het en die behoefte vanuit Ravenna (waar die digter in 1321 begrawe is) om Dante wêreldwyd te promoveer. In The Western Canon argumenteer Harold Bloom tereg dat Dante een van die hoogtepunte is en bly in die Westerse letterkunde en die veelheid artikels, onder andere deur Italiaanse kenners soos Lawrence Kabat en Wilhelm Snyman, word die digter se enorme bydrae tot die letterkunde ondersoek en bekyk. Stephen Watson lees Eliot se The Waste land saam en as digter reageer hy primordiaal op Dante via Eliot. Hy sluit af met ‘n gedig at die invloed van die Florentyn karteer op sy lewe en digterskap: ‘n oomblik van die epifanie word só vergestalt.

Delamaine du Toit is hier die verteenwoordigende Afrikaanse stem met sy prosaiese vertalings.

Daar is natuurlik Opperman se “Ballade van die grysland” (uit Negester oor Ninevé van 1947) waarin Dante ‘n interteks is. Onlangs het ‘n literator verkeerdelik gemeen ‘n mens moet terugkeer na die manuskripte om te sien in welke mate Opperman die Dante-verwysings verander en uitgehaal het. Die gedig aktiveer dit alreeds.

Die aller-hoogtepunt van hierdie boek is wat my betref Judith Mason se sketse met haar begeleidende konfessie oor die ontdekking van Dante op die Richtersveld en hoe ver die twee wêrelde uit mekaar lê. Haar intelligente verduideliking van hoe die simboliek werk, is vir enige leser ‘n openbaring van hoe die beeldende kunstenaar ‘vertaal’ wat die woordkunstenaar skryf. Veral waar sy skryf oor hoe ‘n mens met die bose moet omgaan en die presisie waarmee dit geregistreer moet word: "This apprehension of evil imprints itself on the reader’s sensibility, so that, like Dante’s she-wolf , it becomes central to one’s own mythology – an example of how the worst of images need to be conveyed by the most precise of means”.

Dan is daar Pippa Skotnes, self ‘n uitmuntende kunstenaar se vertolkings wat alreeds die besit van hierdie boek ‘n moet maak vir die kunsliefhebber.

Die belangrikste bydrae van hierdie mooi uitgawe is dat dit sowel kunstenaars as digters en akademici insluit met hul spesifieke interaksie met die werk van Dante. Don Maclennan se “Two poems & a note” illustreer ‘n gesprek vanuit ‘n agnostiese posisie. Soos by Watson is dit altyd openbarend om digters te hoor in die onbewaakte oomblik. Maclennan verwys na die eerste ervaring van Dante en hoe dit uiteindelik neerslag vind in sy werk. Dit is dan die skakels wat die digter maak, die verwysings na ander tekste en ervarings wat eweneens nuwe lig werp op ‘n digterskap van die grote Dante en in hierdie geval dan Maclennan.

Intellektuele beskouings soos Cullinan se “Ironies: Notes on three poems from the Divine Comedy” getuig van belesenheid, vakmanskap en ‘n besonderse respek vir die tradisie van die letterkunde.  Trouens, dit is met ‘n welbehae wat die leser hierdie essay lees en bewus word van ‘n respek vir letterkunde en welke verwysings in die oer-teks skuilhou. Die digter se reaksie op Dante se invloed op sy lewe en digkuns word met ironie verwoord. P.R. Anderson in “A murmuration of starlings: On an image in Dante & others” ondersoek die eenmalige aanwesigheid van die “sturnus vulgaris” in die Heilige Komedie.

Anderson, self digter, neem die leser op ‘n uitgebreide en fassinerende reis deur Dante en ander tekste en die aanwesigheid en betekenis van voëls en hul simboliek word uitmuntend beskryf.

Guy Butler se lang gedig “On first seeing Florence” word aangebied as ‘n uittreksel. Geleerdheid en wysheid straal uit die gedig. Die volgende wonderlike beeld bly eweneens in my kop draai:

“Nun’s fingers tell habitual beads to still
the heart for timeless prayer...”

Dan Wylie oortuig met sy redes vir hoekom ons steeds Dante bestudeer (ek deel sy ekstase oor Robert Pinsky se vertaling van Dante). Chris Mann & Julia Skeen se refelksies oor Dante is insigryk.

700 jaar na Dante se dood, is ons steeds besig om hom te doseer en oor hom te skryf. En dit is die grootste bydrae van hierdie boek wat die nalatenskap van ‘n groot figuur beskryf. Daar is ‘n grappige Gus Ferguson-cartoon agterin (hoe dan anders).

‘n Digter soos T.T. Cloete het Italiaans geleer om Dante te kon lees in die oorspronklike en ‘n mens sou ook in sy werk vele Dante-tekste kon raaklees wat sy gedigte vergesel; soos onder andere in die voortreflike Monroe-verse, ‘n eietydse ‘donna angelicata’.

Hoe spyt is ek nie dat ek weens werkdrukte nie kon deelneem aan hierdie pragboek nie!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Patrick Cullinan - Escarpments. Poems 1973–2007 (2008)



Patrick Cullinan. Escarpments: Poems 1973 – 2007Umuzi, 2008. ISBN 978 1 4152 0048 3.

Resensent: Joan Hambidge

Die swenkslag van die digterlike indruk of beskrywing is Patrick Cullinan se sterkste eienskap. ’n Mens sien dan in die titelvers die kloppende hart van die akkedis . . . In die beskrywing van ’n oorlogsgeteisterde stad, gaan die lewe op die oppervlak oënskynlik normaal aan; onder draai die duiwels rond.

Dit is ’n omvangryke digbundel met uiteenlopende verse: oorlogsindrukke, politieke waarnemings (of die verset daarteen), die geboorte van ’n kleinkind, opstande aan die UWK in die tagtigerjare wat teenoor ’n gedig van John Donne geplaas word, natuurwaarnemings, ’n besef dikwels van tyd wat verbygaan, en dies meer.

Die vers lyk op die oog af dikwels eenvoudig of maklik. Dit is helaas die bedrog of oëverblindery van die meeste van die verse: die gedigte dra iets oor wat lank ná die lees steeds bly naklink of draal in die leser se gemoed.

Een van die belangrikste aspekte van hierdie bundel is dat dit die leser bewus maak van ’n uiters beskaafde, belese persoon se perspektief op die wêreld waarin hy dikwels nie behae het nie. In die gedig "The Passion. Western Cape. 1985" word daar politieke kommentaar uitgespreek en die funksie van die digkuns beklemtoon. Hierdie gedig aktiveer al die argumente van die struggle-tydperk waarin mense Westerse skryfwerk as élitisties en onbelangrik afgemaak het.

Hy spreek die digter Douglas Livingstone direk aan wat ook die sentimente gedeel het:

Sorry, Douglas
Sorry, Douglas, you’re out of fashion,
unversed in die prosody of shit:
your poems are only born of passion –
revealing, merely, your radiant wit.

Hierdie gedigte vind dan hul pendante in die vers "Venice" waar die dubbelaard van die stad iets van die digkuns se dubbelbestaan opvang: ook die digkuns is ’n “sleight of hand”... In "Grammar" vind ons eweneens ’n spanning tussen stilte en artikulasie wat ’n ander motief is wat regdeur hierdie bundel loop. Hier artikuleer die gedig die lot van die stemlose, die weggeraakte, die stilgemaakte.

Of dit wat paradoksaal behoue bly, soos die Etruskiese meisie wat in die gedig oor haar, tot lewe verwek word.

Dikwels is die sentimente polities-inkorrek, soos in "The beach, The evening" waarin ’n “nigger” se versteuring van die orde beskryf word. Of buikspreek die digter?

Die gedig vang iets op: ’n versteuring van orde en dan uiteindelik weer rus, die terugkeer na die normale – iets waarin Cullinan uitmunt.

Die perfekte bly altyd net-net buite ons belewenis van die aardse of die lewe . . . ("The Garden").

Die leser kry met hierdie bundel ’n versameling van verse tussen 1973 tot 2007, dit wil sê, ’n besondere lang periode. ’n Mens sou tog ’n deeglike inleiding of naskrif verwag het om die gedigte te begelei. Nou is daar net notas rondom of by sekere gedigte. So byvoorbeeld verneem ons dat die gedig "Venice" geskryf is alhier en dat die digter ’n hartaanval beleef het. Dus word die gedig vir die digter ’n meditasie oor die dood.

Dit verander weer die lesing van die gedig en dit open ander perspektiewe. Dit is vir hierdie leser altyd interessant en selfs relevant om te verneem hoe digters voel oor hul digkuns, watter vorme verkies word of wat ook al. Wat bedoel die digter as hy homself as liberaal sien en dan weer in gedigte minder politiek-korrekte uitsprake maak? Of stel die digkuns uiteindelik ander eise wat met die politiek van die dag nie veel te make het nie?

Daar is ’n handvol gedigte wat my altyd sal betower in hierdie versameling. Vir die speurende leser is daar ’n spel met digvorme, soos die nabootsing van die villanelle in "High summer", die kwatryn, tersine, en ’n duidelike voorkeur vir die vrye versvorm. Daar is sterk beelde in die bundel en ’n besondere blik op die geskiedenis: van die hier en nou se politieke uitbarstings (Soweto, toespelings op Verwoerd, John Harris) tot by Francois Le Vaillant, en verder terug tot by Dante.

Die digter het onder andere Italiaans bestudeer. Die klassieke wêreld van onder andere die Grieke en Etruskiërs, die skilderkuns van Carpaccio (1460 – 1526) maak van die bundel ’n ryke testament van ’n welbelese en belangrike digter binne ons Suid-Afrikaans-Engelse landskap. Die buiteblad van Caroline Cullinan maak van hierdie Umuzi-publikasie iets heel besonders. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]