Thursday, March 21, 2013

Karel Benjamin - Pastoor Scholls trek sy toga uit en ander stories (1999)



Karel Benjamin. Pastoor Scholls trek sy toga uit en ander stories. Kwela boeke, 1999. ISBN 0 7957 0094 6.

Resensent: Joan Hambidge

Van Wyk Louw sou hierdie boekie bepaald as gemoedelik-lokale realisme beskrywe het. En hiermee is niks verkeerd nie, want 'n letterkunde kan nie net bestaan uit die ernstige en verhewe nie. Neffens 'n Verdwaalde land en Vatmaar moet daar net stories wees.

Karel Benjamin se debuut in 1996 het opspraak verwek (Staan uit die water uit! - 'n Kaapse jeug) en Kwela se oes was die afgelope jare baie ryk aan goeie boeke waarvan Peter Horn se My voice is under control now 'n uitstaande bydrae was.

Hierdie boekie is lekker-lees en -vertelstories in die genre van Jan Spies en P.G. du Plessis. As 'n mens 'n Tsjekof-wending of 'n Flaubert-aanslag verwag, gaan jy die verhale verkeerd benader.

Dis verhale wat die Kaaps-Afrikaanse leefwêreld weergee (en gelukkig is daar 'n handige woordelys vir die oningeligte wat nie uitdrukkings soos wurmland toe - die dood - ken nie).

Dit is verhale wat geskryf is om die illusie te skep dat ons dit hoor. Die oratuur is dan belangrik in hierdie soort vertelling in 'n gemeenskap waar die bo-baasstorieverteller vir die gehoor verhale ter stigting èn vermaak vertel. Kyk maar net na die gewildheid van Maak 'n las en die meeste van hierdie stories funksioneer bykans soos grappe. Dit wil opsetlik nie verhewe Letterkunde wees nie. Dis streekvertellinge.

Oom Kallie is die alter ego van die skrywer Benjamin en dit gaan hier om herinneringe en outobiografie. Orals “hang daar stories” en vertellinge wat vir die nie-bruin leser dikwels insig gee in 'n bestaan van swaarkry en uithou. Humor is dan ook die rede vir oorlewing en om stories te vertel oor 'n vergange era.

Ja, dis stories wat speel asof hulle net stories is. Maar al die slimmighede soos die alter ego laat 'n mens dikwels vermoed dat die skrywer nie so oningelig is nie!

In Oom Kallie se woorde kan 'n mens sê: gooi nat (laat waai) met nog 'n boek vir jou mense. Piet Grobler het ook die genoeglike lynsketse gemaak en dis een van daardie boeke wat jou laat glimlag terwyl jy dit lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]