Showing posts with label Imprimatur. Show all posts
Showing posts with label Imprimatur. Show all posts

Monday, December 18, 2023

Resensie | Kobus Lombard – Sandskrif | Imprimatur, 2023

Kobus Lombard – Sandskrif. Imprimatur, 2023. ISBN 978-0-7961-1000-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

In 2001 debuteer die digter Kobus Lombard met Geknipte naelstring. Hierna volg in 2005 Tussen wysvinger en duim. In 2010 Vlerke vir my houteend en in 2015 Skadu oor die sonwyser. In 2018 verskyn Tussen toeval en willekeur.

 

Só word Sandskrif bemark:

Die Namibiese landskap en mense van die land figureer deurgaans in Kobus Lombard se sesde digbundel. Reeds in die openingsgedig staan die sterflikheid en kortstondigheid van die menslike lewe teenoor die grootse, onveranderlike woestyn, die see en die taai plantegroei. Die digter tree in gesprek met God, met sy aanneem- en pleegouers, sy gesinslede, die inheemse mense van die land én met homself. Woorde bied beskerming teen die koue, donker en honger en dors van die aardse bestaan. Selfs die digterlike woorde is soms net “’n gevlekte lys/van gedane sake/sonder keer”, maar die digter weet ook dat taal die enigste instrument is waarmee die mens die geheimenis van sy eie geboorte en lewe op aarde “oop kan sê”. Lombard se poësie is oënskynlik eenvoudig en deursigtig, maar met ‘n kenmerkende ironiese blik op die mense en wêreld om hom, en veral ook op die self. Daardeur wen sy gedigte aan insig in die menslike kondisie en die voortdurende soeke na die betekenis van die kort menslike lewe in die grootse skepping. 

Sandskrif is Lombard se sesde digbundel. 

 

II

 

Lombard het ‘n belangrike tematiese bydrae gelewer as ‘n digter wat skryf oor versaking. Sy verse verwys voortdurend na die traumatiese ervaring wat die aangenome kind beleef. Gebore as Johannes Vermeulen in 1952. Sy moeder, ‘n ongetroude verpleegster, raak swanger by ‘n man van Griekse afkoms. Haar ouers weier dat sy die kind mag grootmaak. Sy teken hom af en hy word opgeneem in die Maria Klopperhuis in Johannesburg. (Hierdie inligting is opgeteken in Wikipedia).

 

In 1954 word hy aangeneem deur die Lombard-gesin van Gobabis en hy word groot as hul seun Kobus Lombard. Hy gaan skool in Windhoek.  Hierdie agtergrondinligting word telkemale in sy aangrypende bundels na vore gebring: die wond van abandonment.

 

Hierdie aspek word aangrypend verwoord in “Periodieke tabel” (43):

 

my partikels vibreer 

teen frekwensies waarneembaar 

as Jacobus Gideon Lombard 

alias Johannes Vermeulen 

 

maar in leë spasies 

skuil ’n element 

wat ek vergeefs bly soek 

op my periodieke tabel

 

Die ander belangrike tema is sy aangrypende gedigte oor Namibië en die wyse waarop hy die inheemse wêreld beskryf. Ook met woordverklarings in die jongste bundel Sandskrif.

 

Soos:

 

p. 26 en 27: Abu-itse: Die Boesmans se hemelgod 

p. 67: omahango: Pêrelgiers, ’n graansoort wat die Ovambo’s verbou as stapelvoedsel. 

p. 67: Kalunga: Naam van God in die tradisionele Ovambogodsdiens. 

p. 67: oshanas: Vlak waterlope in die noorde van Namibië  

 

In hierdie bundel vind ons ook religieuse verse én ‘n bemoeienis met die digterskap. 

Die religieuse gedigte maak aanspraak op die leser se kennis van Die Bybel. Hier is ook ‘n twyfelende spreker aan die woord. In die aangrypende “Twee millennia later” (25) word moderne media gebruik om die mens se probleme met geloof weer te gee. Hierteenoor gebruik hy Agarob, die kind van die duineveld, om te wys dat geloof altyd kultuurgebonde is soos in “Gasprediker” (27):

 

straks is ons god en julle s’n 

ewe oud rook 

hulle dalk dieselfde pyp

amen

 

Daar is uitstekende ars poeticas soos “Sandskrif” (8) en “Woordwewer” (53). Anders as die geelvink is die digter se skryfproses geheimsinnig en vind plaas op ‘n plek waar niemand dit kan sien nie. In “Al my verse” (56) word bely dat elke vers ontspring uit die trauma van sy moeder se pyn; daardie eggo’s uit ‘n leë kamer, soos hy dit beskryf. Die broosheid van die skryfproses word beklemtoon in ‘n vers wat heet “Ongepubliseerde vers” (61). Hierdie vers sal die lem van resensente ontglip, bely die spreker. ‘n Mens dink hier aan Tom Gouws se resensie indertyd van Vlerke van my houteend wat lemmig was. ‘n Resensent behoort nie ‘n bundel te lees vir wat dit nie wil wees nie.  (https://www.netwerk24.com/Netwerk24/Skadu-oor-die-sonwyser-Vaardige-digter-se-bundel-kort-vlerke-20150608. Besoek 17 Desember 2023).

 

 

III

Kobus Lombard skryf die volgende uitstekende vers in Tussen toeval en willekeur (2018):

 

Duine

 

duine het nie agendas nie

dit kan nie laat kom

of vroeg vertrek

verkeerde besluite neem

en bekommerd wees nie

duine hoef nie voluit te leef

bang te wees vir die dood

of ʼn vers te skryf

voor dit sy gedagtes ontglip nie

duine is tot die laaste sandkorrel

uitgesorteer

 

In die jongste bundel word hierdie gesprek voortgesit:

 

Insig 

(Windhoek 2021) 

 

moeg van waak 

dat niks die berge en kastele 

voor my venster steel nie 

vlug ek die Namib in 

waar duine en see 

net aan my behoort 

 

eerlank trek die mis 

ook sy gordyne dig 

daag my woestyngetrou 

om uitsig 

vir insig te verruil

 

En in die volgende vers is die vloei van asem onsigbaar … soos ‘n rivier in die Namib. Ons dink hier aan die Kuiseb.

 

Nagrus 

(vir Zouna) 

 

jou silhoeët lê stil 

’n gebed sonder woorde 

jou asem vloei onsigbaar 

soos ’n rivier in die Namib

 

Sy verse mag eenvoudig of “oop” klink, maar daar is bepaald implikasies wat die leser verder neem. Dalk is die oorrompelende landskap van die Namib en die land van stilte ‘n rede vir ‘n digkuns van min woorde hier?

 

Dis ‘n bundel vol onthoubare verse en ‘n vooruitgang op die vorige bundels.

Sunday, August 27, 2023

Resensie | Ilse van Staden – verveertaal | Imprimatur, 2023

Ilse van Staden – verveertaal. Imprimatur, 2023. ISBN  978 0 6397 86391 

Resensent: Joan Hambidge 



Ver in die wêreld Kittie

 

Sedert haar debuut Watervlerk (2003) het hierdie digter se poësie bekoor met die veelkantige segging. Hierna volg Fluisterklip (2008), Die dood is ‘n mooi blou blom (2009) en Waar die oog van stil word (2016). Sy het ook romans en ‘n kortverhaalbundel gepubliseer. Sy is eweneens ‘n skilder. Vir haar debuut bekroon met sowel die Ingrid Jonker- as Eugène Marais-pryse.

 

Hierdie bundel bekyk en beskryf die hele kwessie van migrasie. Die digter as migrant word gelyk gestel aan voëls. Die titel aktiveer die veerpen en Boerneef se beroemde gedig:

 

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê

 

In hierdie bundel is die liefde die digter se bemoeienis veral met taal en meer spesifiek: Afrikaans. Die openingsvers en die slotvers handel duidelik hieroor.

 

ver taal


ver in die wêreld

oor die see

ver oor die aardbol uitgetree

waar talle tale tonglepellê

spruit sprokies

word sprak gesprook totdat

anderstaliges eendag

dié taal gebroke aftelsê:

A is vir Afrikaans. (9)

 

Vertaal en ‘n taal wat ver is …

 

Heerlik speels is “aftelrympie vir immigrante”(62) waar spesifiek Afrikaanse uitdrukkings opgeskryf word met die verlange wat vlak lê.

 

Dit herinner aan Krog se vers:

 

Abecedarium vir Afrika

 

Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis

Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis

Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot

Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop

Eekhoring Engelvis Elsie Eland

Feniks Fiskaal Flamink Fisant

Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok

Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod

Ietermago Impala iMpevu Ibis

Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis

Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan

Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan

Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe

Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe

Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou

Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou

Quagga Quil snuif op Engels aan die lot

Ratel Roerdomp Rinkhals Rot

Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael

Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal

Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)

Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis

Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond

Xhama laat in Xhosa spore op die grond

Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark

Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard

 

Ja alles van hier van huis en van haard

Alles wat kruip volgens suidelike kaart

Alles wat fladder, doodle of dool

Wag reikhalsend op die koms

van die Amazi-voël

 

(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)

 

Van Staden se vers is in ‘n ander sleutel. By háár gaan dit om verlange en veral die vrees dat die taal mag uitsterf.  Sy dig oor walvisse en haar aangrypende “vier gebede by seegetye in die onderland” praat met Louw se bekende gebede. Daar is ‘n gesprek met T.T. Cloete wat hier heet “oopooggebed by Sondagmiddagete” (47) en liefdesverse.

 

Dit is veral die klankontginning wat hierdie leser bybly soos “kamerorkes, ‘n oefening” (56) en in die volgende vers:

 

Slakkesibillant

 

slakke sit nie stil nie

hul gly eenvoudig

veellettergrepig

gesillibeerd sibilant

en onvoorspelbaar slymend

in patrone en paadjies om

in ruwe klankgrepe

liploos en voetfoutloos

tongverdraai vorentoe

los te kom

 

*

 

Sibilant is ‘n sisklank, oftewel frikatiewe konsonante; sillibeer speel in op sillabe (lettergreep). En dalk ook sibille (waarsegster)?

 

‘n Sentrale en hartgrypende vers is “in die museum vir ververende tale” (60) wat so eindig:

 

in ‘n diaroma agter vuilgevatte glas 

vergaan die opgestopte eksemplare

van verveerde tale tot sillabes

en onsamehangende fonetiek lê rond

soos dons in die vertoonkas van die mond (60).

 

Ons migrerende digters en digters wat uit die buiteland skryf (en geskryf het), word in hierdie bundel ook aangeraak. Casper Schmidt, Julian de Wette, Breytenbach … 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, July 11, 2023

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia | Imprimatur, 2022

Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia. Imprimatur, 2022. ISBN 978 0 6397 4398 1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

‘n Memorieboek. ‘n Uitsonderlike boek van die digter (en historikus) Johann Lodewyk Marais se reise na Kenia. Regdeur hierdie digter se digkuns is daar ‘n bemoeienis met Afrika en meer spesifiek: Kenia. Die reisverslag is besonder insigryk met ‘n historiese gegewens wat afgewissel word met die digter se indrukke. Oor die verskille in kulturele kodes, misverstande rondom taal, onverwagse tegemoetkomende gidse en natuurlik kansvatters.

 

Die digter het grootgeword in Noordoos-Vrystaat en as skoolkind ‘n obsessie ontwikkel met Oos-Afrika.

 

Deurgaans bly die leser bewus van die digter-as-optekenaar. Wanneer hy ‘n notaboek verloor en onverwags terugvind in ‘n sakkie aan sy tas wat hy nooit gebruik nie, is die leser verlig saam met hom. Anders was ons hierdie verslag kwyt (94). So dig hy in Nomade (2014):

 

Heilige skrif

 

Die vrou wat onder die tamarinde

die Koran sit en lees, keer my vierspoor

wanneer ek buk en met my wysvinger

aan die mooi karakters voor haar wil raak.

Sy gru en hou haar hande beskermend

oor die letters wat vir haar heilig is.

“Elke ayat is wonders en tekens

en het net so uit die hemel gekom,”

sê sy en prewel Mohammed se gebod.

Deur die boomtakke en -blare teken

die son die arabeskpatrone na.

 

Die ayat hier verwys na die genommerde verse in die Koran. Dit beteken ook teken én mirakel.

 

En alle reisigers weet hoe toevallige ontmoetings ‘n hele reis (positief of negatief) kan beïnvloed.

 

Die voortdurende spel tussen belewenis en optekening (wat later gedigte word), is vir hierdie leser die belangrikste aspek van hierdie herinneringsboek, soos die titel reeds aandui.

 

Hierdie reisverslag gee vir ons ‘n kaart van die ruimte wat die reisende digter besoek. Ons beleef sy vreugdes en frustrasies. Maar dit is veral die kaarte van onthou wat hier tersaaklik is: ‘n terugreis na sy jeug op Harrismith waar hy ‘n swart taal aanleer as kind.

 

In “Versugting” (in Ondertussen, 2020) dig hy:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

So met ‘n subtiele verwysing na Van Wyk Louw uit Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

 

II

In hierdie reisverslag verwys hy na die Mau Mau; verder terug: die invloed van die Portugese seevaarders en Vasco da Gama se besoek in 1498. Later natuurlik, die kolonisering deur die Britte en hoe besetters ryk geword het weens koffie- en teeplantasies. Out of Africa deur die Deense skrywer Barones Karen von Blixen-Finecke (in 1937) karteer politieke oorgange.

 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kenia uiteraard voedsel en soldate voorsien aan die Britte. En die belangrike historiese oomblik beskryf Marais ook: in 1952 was Prinses Elizabeth en Prins Philip  op besoek in Kenia toe haar vader, Koning George VI in sy slaap oorlede is. Sy is terug Engeland toe en in 1953 as Koningin gekroon.

 

Die opstande van die Mau Mau’s, Jomo Kenyatta en die opkoms van Daniel arap Moi is die ondergrond van hierdie vertelling met latere politieke woelinge.

 

Leakey is hier en die Adamson’s met ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees.

 

 

III

 

Uit Johannesburg, rigting Mosambiek, Tete, Malawi dan oor Tanzanië waar hy Berg Kilimanjaro sien.

 

Mombasa en Malindi. Nairobi en Douala en Bangui …

 

Lees hierdie boek saam met Lae wolke oor Mosambiek (2003).

 

Dis in ‘n pragtige hardeband gepubliseer deur Imprimatur met mooi foto’s.

 

Kumbukumbu beteken herinnering. Die werklike reise word gesinchroniseer met die reise van die hart.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en navorser aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Tuesday, December 14, 2021

Resensie | Nachoem M. Wijnberg – Liedjes/Liedjies | Imprimatur, 2021

Nachoem M. Wijnberg – Liedjes / Liedjies (Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-95640-6 

Resensent: Joan Hambidge

 

Uit die hoek van jou oog. Aweregs. Onverwags. So kan ‘n mens hierdie pakkende bundel van Nachoem M. Wijnberg beskryf. Liedjies heet dit en gepubliseer deur Imprimatur wat naam maak as ‘n belangrike uitgewershuis.

 

Die digter is bekroon met VSB Prys (2009) en die gesogte P.C. Hooft in 2018. Hy het al opgetree by Poetry International en sy werk is gewild in Nederland.

 

Die digkuns het immers begin by die lied of gesang en die leser besef dat die digter met hierdie aspek werk.

 

Liedjie 

 

Die laaste keer toe ek met jou praat,

was ek skaars aan die woord; 

die laaste keer dat ek gepraat het, 

maak nou maar ’n liedjie daarvan. 

 

Ek het gesê ek kan nie sing nie, 

maar kan jy dan sing, 

het ek daardie laaste keer gevra, 

ek het jou nooit hoor sing nie. 

 

Die gedigte werk met teenoorgesteldes en paradokse:

 

In die lig kry ek nie wat ek in die donker wou hê nie, 

 

in die donker nie wat ek in die lig wou hê nie. 

 

Hierdie bundel wat oënskynlik “oop” en toeganklik geskryf is, bevat egter sterk Jungiaanse argetipes. Donker teenoor lig; onthou teenoor nou – die ewige jin/jang van ons bestaan.

 

So lui ‘n strofe:

 

Asof diepte nie nodig is nie, 

donkergroen struike, 

’n goue voël wat verbyloop, 

die dae en nagte ’n deel van mekaar. (165)

 

Die hele bundel werk met hierdie opposisies om in Jungiaanse terme tot individuasie of heelheid te kom. Leegheid teenoor volheid. Links teenoor regs. Traag teenoor vinnig. 

 

Hierdie bundel maak ons bewus van Jung se uitspraak in On the nature of the psyche:

We must get at the Eastern values from within and not from without, seeking them in ourselves, in the unconscious.  We shall then discover how great is our fear of the unconscious and how formidable are our resistances.  Because of these resistances we doubt… the self-liberating power of the introverted mind.

Simbole word geaktiveer met verwysings na Leviatan, Egipte en Moses. Jacques Brel hier aktiveer ouderdom, verganklikheid en weerloosheid.

 

Die herinnering aan die jeug en wat die digters van sy ouers ontvang het, lewer bewys van hierdie proses. Alles wat hy sien is soos ‘n herinnerde gedig (167).

 

Die digkuns suiwer die digter, maak hom as’t ware van binne af skoon; trouens, dit stroop die digter tot essensie (169). Die gedigte word nie gemaak nie; hulle kom na hom, die digter (157). Gedigte word herskryf en die reëls van die prosodie is bekend aan hom: begin word einde; einde word begin (127).

 

Imprimatur gee vir ons die oorspronklike vers en die vertaling, behendig gedoen deur Daniel Hugo.


Die maklike vers is immers die moeilikste een om te skryf.

 

Bronne:

Cirlot, J.E. 1971.  A Dictionary of Symbols. (Londen: Penguin).

Jung. C.G. 1960 On the nature of the psyche. (Princeton: Princeton University Press). 

Stevens, Anthony. 1998.  Ariadne’s Clue:  A Guide to the Symbols of Humankind.  (Princeton: Princeton University Press).

 

Hier is van die bundels wat die digter al gepubliseer het:

 

De simulatie van de schepping, Holland, Haarlem, 1989
De voorstelling in de nachtclub, Holland, Haarlem, 1990
De expeditie naar Cathay, Holland, Haarlem, 1991
Langzaam en zacht, Holland, Haarlem, 1993
Is het dan goed, De Bezige Bij, Amsterdam, 1994
Geschenken, De Bezige Bij, Amsterdam, 1996
Alvast, De Bezige Bij, Amsterdam, 1998
Vogels, Contact, Amsterdam, 2001
Uit 7 (a selection from Wijnberg’s first seven collections), Contact, Amsterdam, 2003.
Eerst dit dan dat, Contact, Amsterdam, 2004
Liedjes, Contact, Amsterdam, 2006
Uit tien (a selection from ten collections), Contact, Amsterdam, 2008
Het leven van, Contact, Amsterdam, 2008
Divan van Ghalib, Atlas Contact, Amsterdam, 2009
Als ik als eerste aankom, Atlas Contact, Amsterdam, 2011
Nog een grap, Atlas contact, Amsterdam, 2013
Van groot belang, Atlas Contact, Amsterdam, 2015
Uit tien, Atlas Contact, Amsterdam, 2016
Voor jou, van jou, Atlas Contact, Amsterdam, 2017

So klink die digter in Engels:

 

Song

 

The last time I spoke to you, 
I hardly got a word in; 
the last time I spoke, 
make a song of that. 

I said I couldn’t sing, 
can you sing, 
I asked the last time I spoke to you, 
I’ve never heard you sing.
 

(Song (poem) - Nachoem M. Wijnberg - Netherlands, Poetry InternationalVertaal deur David Colmer, 2007. Besoek 4 Desember 2021)

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Friday, November 19, 2021

Resensie | Dolf van Niekerk – Splintertyd | Imprimatur, 2021

Dolf van Niekerk – Splintertyd. Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-94670-4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Dolf van Niekerk se bundel Splintertyd (Imprimatur) is ‘n belangrike bundel in hierdie tydsgewrig gekenmerk deur Angs, Onsekerheid, ‘n volledige nuwe bestaan, wat in Maart verlede jaar aangebreek het. Grendeltyd het, soos ons almal weet, op alle vlakke sy tol geeïs. Mense is ingeperk in hierdie versplinterde tyd en veral digters het skerp gereageer op hierdie inperking. Splinter is immers ook ‘n werkwoord (afsplinter) en die vele assosiasies word deur hierdie titel oopgemaak.

 

Van Niekerk is ‘n gerekende prosateur en digter. Van sy bundels is Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen. En op sy 90ste verjaarsdag verskyn Berigte uit die skemerland ook by Imprimatur.

 

Die digter is ook ‘n filosoof en in sy gedigte vind ons dan sterk besinnings oor die mens se lot:

 

alles keer in siklusse terug,

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was. 

 

(Portrette in my gang, 2015)

 

en in die lewe en die dood

is elkeen uiteindelik alleen

 

Hierdie reëls staan opgeteken in Dolf van Niekerk se bundel Nag op ‘n kaal plein (2006), ‘n gunstelingbundel vir hierdie leser:

 

“Skaduwoord” is ‘n sentrale vers:

 

Skaduwoord 

 

Ek wou liefde onder woorde bring

soos die HAT, nuanses 

van toegeneentheid tot plante, 

diere, mens en God, vibrasies

van die brein en hart. 

Ontsê hiervan sal die mens

iets soos liefde versin

in sy verlange na versoening,

onbewus van tye waar

liefde en haat verstrengel was; 

dors na ’n bries van liefde 

met die laaste onsekerheid 

voor ewigheid. (25)

 

Die dood is ‘n “inwonende aanwesigheid”, skryf die digter, ingeperk ook deur siekte waar reën die suising word van iets anders:

 

Middernagreën

 

Middernagreën, maar dis geen reën.

Dié suising is een bed ver, of is dit my suurstofmaker, ’n drupspoor op my huis se dak in tye van ’n ou normaal, se glo ’n Hoër Hand bepaal die reën.  (31)

 

In die volgende vers word Sartre se die-hel-is-ander-mense aangespreek:

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde, ontspring uit kweekgrond vir hebsug en haat. Waar liefde en waarheid weerstand bied, muteer hy in variante van lewensagterdog, ondergrawing en verdagmaking – tas die siel aan en verban die wese na ewige kwarantyn binne die self. (40)

 

II

Linda Hutcheon & Mario J. Valdés voer ‘n gesprek oor nostalgie, ‘n begrip wat ‘n terugkeer én pyn in sig dra. Ons kan terugkeer na ‘n ruimte, maar tyd kan ons helaas nooit weer terugvind nie. Ons lees:

 

Nostalgia, in fact, may depend precisely on the irrecoverable nature of the past for its emotional impact and appeal. It is the very pastness of the past, its inaccessibility, that likely accounts for a large part of nostalgia's power—for both conservatives and radicals alike. This is rarely the past as actually experienced, of course; it is the past as imagined, as idealized through memory and desire. (Linda Hutcheon & Mario J. Valdés | Irony, Nostalgia, and the Postmodern: A Dialogue | University of TorontoBesoek 21 Oktober 2021)

 

Wanneer ons die verse deur die oë van Hutcheon lees, is die ingeboude ironieë opvallend. Die woord nostalgie beteken sowel ‘n terugkyk as pyn; ‘n geïdealiseerde, opgemaakte wêreld wat aanklop by Van Wyk Louw se Nuwe verse, ‘n bundel met gestroopte verse.

 

Dié nag het nie ure nie

 

Dié nag het nie ure nie, elke uur is nag; oorlewing wankel op die grens van lig en duisternis; uitweg neig na nag terwyl ’n kakofonie suising in die brein begelei van êrens na nêrens, nêrens na êrens waar nag en dag gebore word. (50)

 

In koorsdrome word daar verlang na die Karoo in vele pynlike nagkonserte. Ons onthou:

 

my windharp

sing

in ballingskap

wat sing

my windharp

aan die wilgertak

waar nooit

karoowind waai

 

(Bleek planeet, 2013)

 

Dit is ook ‘n bundel van liminaliteite en oorgange: dag na nag, lewe na dood, siekte en herstel met die poësie wat alles registreer. Die pragtige voorblad – met die handskrif van die digter – is tekenend hiervan. Hierom word alles ‘n “dubbeldag” in ‘n pynlike binnereis.

 

Plato se grot is ook hier aanwesig wat die dubbel-kyk aktiveer.

 

Die digter-as-filosoof dink geweldig na oor die mens se verbintenis met die kosmos en die ewige soeke na sin:

 

Ek vors bestaan en wese na

 

Ek vors bestaan en wese na, die wese van wees in die labirint van ewige dinge; of alles oplaas saamvloei in Is en Is deel is van syn, sinoniem vir die Romein se sistere, omvorm tot eksisteer; staan tussen nou en ewigheid, ’n pendulum in tyd van kosmiese wordingsdrif. (12-13)

 

Die bundel is laatwerk en die gesprek met Elisabeth Eybers is tersaaklik, want daardie digter het oor ouderdom, siekte en die sin-van-die-lewe uitsonderlik goed gedig. Wat véral vir die speurende leser opvallend sal wees, is die self-palinodes en vele gedigte wat terugkeer na bestaande verse in ‘n proses van self-kanonisering.

III

Imprimatur onder die leiding van Martjie Bosman het ‘n belangrike bundel gelewer in hierdie vreemde tyd. Die uitleg en ontwerp van Annemart Swanepoel verdien vermelding.

 

Toeganklik, aangrypend en ‘n belangrike baken in die digter se oeuvre.

 

All nostalgia, then, would be what Davis (25) calls "interpreted nostalgia" wherein an analysis of an experience, however brief or mistaken, comes to be fused with that primary experience and thus alters it, aldus Hutcheon in voetnoot 17. 

 

Dit het my ook teruggeneem na Legkaart van 'n jong lewe (2019), sy herinneringsboek, en my opnuut bewus gemaak hoe digters terugkeer na dieselfde temas en dieper kyk. Die ewige spel tussen onthou en nou …

 

Die digter het nie geswyg nie en hy struikel beslis nie oor sy woorde nie …

 

‘n Klein, kompakte bundel wat uitwaaier na die filosofie, die kosmiese vraagstukke en die dood wat iets alledaags geword het.

 

Bestel by:

Snymanweg 46, Brummeria, Pretoria, 0184 www.imprimatur.co.za

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Thursday, August 12, 2021

Resensie | Meyer van Rensburg – Heenkoms | Imprimatur, 2021

Meyer van Rensburg – Heenkoms. Imprimatur, 2021. ISBN 978-0-620-92969-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Heenkoms is die tweede bundel van die digter Meyer van Rensburg. In 1983 verskyn Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat die betekenis van klank in ‘n gedig ondersoek en ontgin. Nou, 38 jaar later, is daar Heenkoms. Heenkome, tuiskoms, afkoms, heengaan en al die ander versluierde betekenisse word deur hierdie titel opgeroep.


In die afdelings Uittrek, Uitbeeld, Uitspraak navigeer hierdie digter die impak van vertrek uit jou land en aankoms in ‘n vreemde ruimte. Die “gekopuleerde klinkers van my klankbord” waarsku die programgedig, wat telkens die afskeid (en vertrek) uit die moederland (en moedertaal) ondersoek in verskillende verse. Pynlik, maar sober. En klank is hierdie digter se métier, ‘n voormalige klankingenieur by die SAUK en liedjieskrywer vir musiekkunstenaars.


So dig hy dan:

 

Beeldkontroleur

 

voeg visie by die woorde

laat klank substansie kry

beligte klankakkoorde

crescendo vol verby

tot lampelegkaart vierkant pas

’n prentjiemooi geheel

en niks word dan weer bygelas

dis woordwys fyn gereël

profeties klaar

gekontroleer

deur woordbeeldregisseur

(41)


En:

 

Klankmanie

 

Ek wil, soos mikrofone,

woorde in my net vasvang:

die instrument se nootpatrone,

weer, berigte, klanknuanses

klodder teen my aan

terwyl ek met my gospel-goggles

die lewe gadeslaan.

Ek wil my klinkers so verstel

dat ek klankgetroue goeie nuus vertel:

die manie gaan nie dood nie,

al doof hy allengs uit.

(43)

 

Ons het hier ‘n woordvaste digter wat uit ‘n vreemde landskap terugkyk na Van Wyk Louw en Opperman. Hoe dan anders? Die digter karteer sy verlange na sy herkoms en in ‘n nostalgiese vers soos “Ganspan” (23) onthou hy die “suikersagte sand”.

 

II

Behalwe vir die migrasieverse en verse wat die klankmatige van die gedig ondersoek, is hier ook teologiese besinnings. In die slotvers “Die laaste vertrek” (93) word daar verwys na die “lyflike Egipte”  … en die gedig eindig met “Eksodus!”.


Hierdie gedig verwys terug na die vers “Eksodus 4:10” (13) waar die digter homself tipeer as “swaar van mond en tong”. Tog uit hierdie selfironiese opmerking sien ons dan verse oor klank en musiek en ‘n spreker wat hom meet aan Louw en Opperman. Tog skuil daar in hierdie gedig ‘n belangrike spel met sy “prullerige gestotter” wat uiteindelik uitstekend verwoord word. Ook die spel tipografie sien (en hoor) ons in “Wandelende Jood” (33) met sy dubbelsinnige slot. Die tuinier is hier ook die digter wat snoei en kap.


In “redigering” (42) gebruik hy die begrip anastomoseer wat netwerke en verbintenisse impliseer, maar vir hierdie leser ook die begrip anastrofe oproep. En hoe verruklik is “’n Simpel liedjie” (48) nie. “Soho: Diane Schuur” (79) is ‘n uitsonderlike huldeblyk.  Hy verwys na die “dinamies perfek getoonde woorde” en “helder kaskades” met ‘n slot wat aan die keel ruk.


Eweneens is daar beeldverse soos oor Winston Churchill en Jan Smuts wat ‘n bepaalde politieke diskoers aktiveer in hierdie dae van beeldverwydering.


Die verskille in toonaard is opmerklik: van die ernstige, wufte, frivole, satiriese tot selfspot. Die gedig sit vol ironie en dubbelspraak, die kentekens van ervare digters.


Ons vind ook ars poeticas – netjies opgebou róndom klankspel en assosiasies – wat die poësie “tradisieklas” via Van Wyk Louw, Opperman, Peter Blum en Lina Spies aktiveer.


Die migrasie na Engeland plaas die digter binne ‘n vreemde (taal)landskap met ‘n nostalgiese verlange na sy mense.


Ons tref vele Bybelse verwysings en toespelings regdeur die bundel. Die digter is opgelei in die teologie en het boeke hieroor gepubliseer en in “Teoloog” (28) soos in “Religie: sistematies opgedis” (26) word die plek van godsdiens ondersoek.


Ouderdom, liefde, familieskap, die dood en die natuur maak van hierdie bundel ‘n ryk geskakeerde werk wat elke herlees sy geheime stadig prysgee. Iets hiervan sien ons in die voorblad (“Island refuge”). In “Ou skilder” (92) som die digter sy lewensfilosofie op:

 

Ou skilder

 

En nou, voor die laaste dae kom,

wil ek nog een verfkwas laat blom:

oor seildoek strepe trek wat wys

hoe ek natuurwonders kan prys

in diep karmosyn,

chartreusegroen of amber

en teen ’n lasuur of kobalt lug

nes note in ’n koloratuurgesang

sneeuvlokwolke los laat dryf:

dan, as my doek die vrye kleurevlug

vasvang,

het my siel vir eers genoeg gelyf.

(92)

 

III

Die pragtige omslag is na ‘n skildery van die digter sélf wat ook onderlê is in die teologie. Hy het sewe boeke gepubliseer oor teologiese onderwerpe. Die gedigte verval egter nie in die abstrakte nie, omdat hy telkens die worstelende vrae konkretiseer.


In hierdie bundel word geworstel met die sin van die lewe en die ouderdom. En ‘n fan van Sinatra se “foutlose frasering” is ‘n digter so na my hart.


Daar is wat hierdie leser betref nie een swak vers in die bundel nie. Welkom terug, Meyer van Rensburg!


Dit is ‘n loflike publikasie en dank aan Imprimatur wat dit gepubliseer het. Die resensie het oorspronklik op die Versindaba verskyn (Versindaba » Blog Archive Resensie. Heenkoms (Meyer van Rensburg).

 

Naskrif:

Kyk hoe mooi het wyle Gisela Ullyatt oor die eerste bundel geskryf wat ek vir haar present gegee het (Versindaba » Blog Archive Gisela Ullyatt. 'Ek wil weer jou rooikors breek'/ ontworteling in KlankmanwoordboomBesoek 14 Junie 2021).