Showing posts with label Riana Scheepers. Show all posts
Showing posts with label Riana Scheepers. Show all posts

Friday, March 15, 2013

Riana Scheepers - Met die taal van karmosyn (2001)



Riana Scheepers. Met die taal van karmosyn. Human & Rousseau, 2001. ISBN 0 7981 4211 1.

Resensent: Joan Hambidge

Min skrywers presteer dit om twee genres goed te beheer. Breytenbach is waarskynlik in Afrikaans 'n fenomeen wat letterlik kan oordraf van een genre na die ander. Riana Scheepers het veral as kortverhaalskrywer naam gemaak en 'n eiesoortige verhaal gelewer waarin veral die feministiese en Afrika-diskoers uniek ontgin word. Sy is tereg bekroon vir haar werk in hierdie genre.

Haar debuutdigbundel Met die taal van karmosyn word bemark as 'n verrassing. Die skrywer se gesig - soos Terblanche Jordaan s'n  - word groter as lewensgroot op die voorblad geplaas. Sy skuil ook agter 'n net wat waarskynlik vir die leser 'n soort opsetlike distansie tussen outobiografie en werklikheid wil inbou. 'n Fiksionalisering waarskynlik van die 'oop' medium: die gedig.

Paradoksaal is 'n gedig nie 'n getuigskrif nie en lesers wat gedigte wil gelykstel aan kenbare werklikhede lees nie die digkuns reg nie. 'n Gedig verdraai en versteur dikwels gegewens. Dit huiwer nie om atonaal te wees nie en vertel op sigself sy eie verhaal. Dit kan dikwels ook, tot die chagrin van sowel leser as digter, 'n ander boodskap oordra as die "werklikheid".

Scheepers se debuut is nie indrukwekkend nie. Tog is daar 'n handvol verse wat onthoubaar is tussen verse wat nog gewoon indrukke is (en waarskynlik te na aan die digter of die ervaring staan). 

Daar is ook verse wat opsetlik wil problematiseer en skok met 'n raspejoratief:

KwaZulu-Natal

Kyk op in die lug! Daar is 'n skrefiesmaan, dis 'n Moslemmaan,
'n KwaZulumaan, 'n piesangmaan, 'n romantiese nimfomaan
ek is in my land
ek draai my ruite oop
ek luister na die wind
ek hoor die kaffers sing
ek herken die woorde
ek sing saam
ek het jou lief

Dikwels is die liefdesgedigte hier nogal na aan die been en laat dit die leser bloos. Maar om skaam te kry, is nie 'n literêre argument nie, weet ons uit Johann de Lange se Nagsweet.

En om te liefde te banaliseer, is waarskynlik 'n gegewe wanneer jy oor die intieme ruimte van die vleeslike skryf. Tog is die mees bevredigende verse - vir hierdie leser altans - gedigte waar daar distansie of ironie ingebou is. "Rympies op 'yt'" (p. 76) en die skrynende "Swartland: wintermiddag"(p. 34) met sy harttreffende slotstrofes:

en as ek terugry deur die Swartland
het die laatmiddag room geword
maar daar is nie treine nie
net swerms wit voëls oor koringlande
die reuk van grond
die asem van die berg

en die verlange na jou

wat skerp
soos chroom
deur my sny

Hierdie herdigting van Van Wyk Louw is uitmuntend wat die ander gedigte flets laat lyk. Maar waarskynlik is die karmosyn alreeds 'n aanduiding dat sy emosioneel-direk wil skryf. Opsetlik word begrippe soos 'purple patches' of die 'sillepsis' geaktiveer. Maar wanneer die digter hierdie uitweg kies, staan sy die gevaar van die ontblotende soos "Verklaring"(p. 35). Vir my is die beste verse egter die wat agter 'n woord-net gebeur. (Karmosyn aldus die kernwoordeboek is 'n hoogrooi purper kleur.)

Daar is gedigte oor Afrika, gedigte wat die liefdesvers nuut probeer aanwend, maar soms nogal banaal raak en gedigte oor ouers. Daar is talle her-digtings van klassieke verse (soos "Lied in die voorwinter", p. 33) en gesprekke met ou Griekse digkuns.

Verder is daar ook reisverse. Marais, Watermeyer, Van Wyk Louw, om enkele name te noem, maak hier 'n buiging.

In die geheel gesien is sy eerder kortverhaalskrywer as digter.
Die bundel sal sy gevolg hê soos Steve Hofmeyr se Valkuns dan ook bewys het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Riana Scheepers - Katvoet (2009)



Riana Scheepers. Katvoet. Human & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5107 8.

Resensent: Joan Hambidge

Riana Scheepers se Katvoet versoen haar twee benaderings tot die kortverhaal te wete, die ernstige, langer verhaal (soos Die ding in die vuur) en die meer populêre, anekdotiese verhaal (soos verteenwoordig onder andere in die Katriena-verhale). Eersgenoemde soort verhaal het haar gevestig as ‘n bestendige, belangrike vroueskrywer; laasgenoemde soort verhaal, met die werk wat sy gedoen het om geletterdheid te bevorder, het haar by gewone lesers uitgebring. Die melkweg het ‘n ster laat val is ‘n bundel plaasverhale het by vele lesers aanklank gevind wat o.a. ‘n spesiale toekenning gekry het van die Departement van Landbou.

Scheepers se verhale aktiveer eweneens die orale tradisie en vanuit ‘n meer feministiese perspektief aktiveer haar verhale fassinerende perspektiewe: die Dulle Griet-figuur, die wit vrou wat die Afrika-wêreld betree, die oopskryf van die vroulike liggaam (erotiek en seksualiteit) en dan vir my een van haar belangrikste temas is die ervaring van die primordiale, die psigiese of verbeeldingwêreld. Daar is dikwels ‘n belydenis dat die verteller glo in spoke en heldersiende is: hierdie magiese aanvoeling voed dan verhale waarin die uitkoms van die vertelling verby die gewone of reële strek soos in die sterk verhaal “Amulet teen die koue”.

In “Verskoning (2)” is Scheepers op haar beste: die beskrywing van twee, oënskynlik nie-verbandhoudende ervarings, naamlik die verskoning van ‘n dief en ‘n geliefde wat gesinkopeer word met die wrang, ironiese slot dat die rampokker se verskoning vir haar meer beduidend is as die liegende geliefde. Of die bekende “angel in die einde” wanneer die leser besef dat die man sy verkragte vrou beskerm teen die aanslae van haar psige en die gevoel van vasgekeerdheid in die aangrypende “Ry, en ry, ry”. Dikwels lewer die verhale politieke kommentaar op die samelewing van ongelykheid. Veral die werkersbestaan kom aan bod in vele verhale en daar is vertellinge oor die rol van die vrou as beskermer en raadgewer. Die anekdotiese kom ook aan bod soos in “Die skoolhoof luister” of “Riano”.
Vanselfsprekend aktiveer die kat-tematiek ook die wolf en meer spesifiek Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves, daardie Jungiaanse cantadora wat die genesing in die argetipiese verhaal vind. Scheepers sluit hierby aan:

“Voor haar staan ‘n teef, ‘n wolvin, ‘n glimmende roofdier wat groen na haar gluur” (156 uit “Katvoet”).

Die kat-tematiek word dikwels verbind aan die bo-natuurlike of die Onsienlike en in ‘n verhaal soos “Man in die tuin” word die slot dalk ‘n té geforseerde verbintenis met die Christus-figuur. Scheepers se vermoë om in die klein besonderheid in te beweeg, kom dikwels goed te pas: die klein vinjet waaier dan uit om simboliese betekenisse oor te dra. Ongelukkig is noemers soos Maria Callas of Mozart, o.a. te maklike kortpaaie om ‘n sekere ambience oor te dra.

Hierdie bundel versoen die twee pole in Scheepers se vertelkuns. Vir my is die twee uitstaande verhale: “Amulet teen die koue” en “Verskoning (2)” verhale wat hul vrou sal kan staan in bloemlesings.

Dit is die eerste kortverhaalbundel in tien jaar en my persoonlike gunstelinge bly die debuut en haar opvolger: Dulle Griet.

Die voorblad aktiveer die vrou-kat-tematiek in die bundel. Vir my gevoel is dit te fraai, maar die bundel gaan waarskynlik – soos die kort biografiese opsomming agter in getuig – by haar gevestigde lesers aanklank vind.

“Ons wat so gewoon leef” is ‘n slotteks waarin die versugting na die magiese verhaal, na dit wat on suit die alledaagse red. Onvergeetbaar is die vertelling van die ma wat in die boom sit en lees het vir ure aaneen.

In hierdie belydenis staan daar:

“Ons tree vreeslik beskaafd en ordentlik op.
Ons het sommer niks geword.
Ek dink wat my kleinkinders eendag sal kan vertel; van my, van ons wat so dood en gewoon leef.
Daar is nie een storie wat hulle met skrik en verwondering kan oorvertel nie.
Ek skaam my dood, 203).

Talle van die verhale het ‘n Isabel Allende-dimensie in die aansluiting van die bo-natuurlike en die besinging van die mag van die storie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]