Showing posts with label Johann Lodewyk Marais. Show all posts
Showing posts with label Johann Lodewyk Marais. Show all posts

Tuesday, July 11, 2023

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Sirkelgang | Naledi, 2023

Johann Lodewyk Marais – Sirkelgang. Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-09-6


Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie bundel vind ‘n mens veral ‘n bemoeienis met Afrika en die natuur.

 

Die openingsgedig sê dit reeds:

 

Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei

met miljoene vingerafdrukke op.

 

Die titel van die gedig “Interteks” neem die leser nie net na ander skrywers nie, maar veral ook na die skrywer se ondersoek na hierdie temas, soos nou onlangs beskryf in Kumbukumbu: ’n Reisboek oor Kenia (2022). Gesprekke met skrywers soos hierdie een met Pound:

 

Ek lees Ezra Pound 

in die trein en sien druppels 

op die vuil blare. (83)

 

Ezra Pound:

 

     The apparition of these faces in the crowd:

     Petals on a wet, black bough.

 

In “Reisplan” (92) praat hy met tydgenote en hul reise. Marais met ‘n reisplan op die knie. “Onvoltooid II” (44) is ‘n lieflike palinode op Louw se bekende vers:

 

Of dalk sterf jy vannag stilweg 

met die laaste woorde wat steeds 

gesê en ongesê bly voortbestaan.

 

By hierdie digter is daar werklike reis na onbekende ruimtes, maar ook besoeke in die fantasie en herinnering. Die jeug word dikwels opgeroep wat die idee van ‘n sirkelgang oopmaak. ‘n Mens keer terug na jou verlede om die hede te probeer begryp.

 

In “Geel Nyl” skryf hy oor die grense en liminaliteite:

 

Op die grenslyn tussen die dor woestyn

en die doringstruike van die savanne

lê die tekens van vroeër in die sand. 

 

En dis hierdie soeke na tekens wat ‘n mens opval in hierdie bundel met die digter as semiotikus.

 

Veldslae, grafstene, gedenkplate word gesien in hierdie terugreis na die jeugbestaan in Harrismith met ‘n besinning oor die impak van die Boereoorlog. Figure uit die jeug word argetipes van die bestaan wat die kind blootstel en bekend stel aan pynlike ontnugteringe soos oor Kevin wat weggeneem word na ‘n inrigting en die niggie Charlotte. Hierdie leser sien dan ook die terugkeer van jeugmense terug in die nou in mooi liefdesgedigte – maar iets bly in hierdie sirkelgang onvoltooid en ongesê.

 

Foto’s wat nie ontwikkel kon word nie en leeg uitkom, maak van herinnering via die skryfproses die enigste uitweg vir die digter: besonder goed beskryf in ‘n gedig oor Etienne Leroux met verwysings na Jan Rabie en sy vrou, die Vlaamse lettterkundige Marcel Jansens en die biograaf en kanoniseerder J.C. Kannemeyer. 

 

Gedigte oor die natuur en diere – is bekend aan hierdie digter se werkswyse - word hier bevestig in ‘n besondere reeks oor slange. In “Gewone luislang” (47) word die slang gekoppel aan die digter se jeugherinneringe.

 

Gewone luislang

Python natalensis 

 

Tussen die plaashek en die voorhekkie 

vlam die weste op in ’n wêreldbrand 

soos uit ’n prent in die Kinderbybel 

en ek dink die einde het aangebreek. 

 

En uit Genesis hoor ek van die slang 

in die Paradys: Adam en Eva 

se ontmoeting in hulle vrugteboord 

met ’n listige en slu besoeker. 

 

* * *

 

In die dieretuin op Okahandja 

lei Pa my tussen kameeldorings deur 

na olifante, leeus, kameelperde 

en ape ingehok agter tralies. 

 

Skielik lê reg voor ons oë ’n slang 

met yslike donkerbruin rugvlekke, 

die kop soekend en nie vermorsel nie 

en ek vlug gillend los uit Pa se hand. 


Zoopark, Okahandja

 

Ook sinryk hier omdat die oeroeboros ook die slang van kreatiwiteit is met die ewigdurende siklus van geboorte en dood. Die terugkeer na die jeug en hoe dit die volwassene se lewe bepaal, neem ons terug na Carl Gustav Jung se sieninge oor argetipes, die sirkelgang van die bewuste en onbewuste en die numineuse.

 

Die politieke verse beklemtoon ‘n verdere sirkelgang van hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die digter se groenpolitiek word bewys in verse vir en oor Gretha Thunberg met ‘n inspeel op Ingrid Jonker se gedig oor die kind. Die oorlog in die Oekraïne (met moontlikhede vir verskillende weergawes) bewys hoe behendig Marais dig.

 

Die slotafdeling vergestalt ‘n spirituele bewussyn mooi verwoord as volg:

 

Die uur

 

Daar is ’n uur as die lig verander,

die skadu van die bome langer word, 

die tortelduiwe se gekoer aanhou

en die kraaie naby die huis kom sit. 

Dit is die uur om varkore te pluk

in die ruie tuin van vantevore

en oorkant na die graftes toe te neem

waar my voorouers steeds ter ruste lê

in bestrede en belaste aarde.  (86)

 

Gestroopte verse wat met min woorde ‘n hele sirkelgang laat oopwaaier. Terug na die digter se oeuvre en na ‘n ander digters en plekke:

 

“vol durf met drif en drang, onbevry”.

 

Marais is ‘n uiters produktiewe digter en navorser met uitsonderlike historiese studies en reisboeke.

 

 

Bronne:

Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Aldus Books.

 

Jung, C.G. 1953 – 1979. The collected works (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Ed. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton: Princeton University Press.   

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

 

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia | Imprimatur, 2022

Johann Lodewyk Marais – Kumbukumbu. ‘n Reisboek oor Kenia. Imprimatur, 2022. ISBN 978 0 6397 4398 1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

‘n Memorieboek. ‘n Uitsonderlike boek van die digter (en historikus) Johann Lodewyk Marais se reise na Kenia. Regdeur hierdie digter se digkuns is daar ‘n bemoeienis met Afrika en meer spesifiek: Kenia. Die reisverslag is besonder insigryk met ‘n historiese gegewens wat afgewissel word met die digter se indrukke. Oor die verskille in kulturele kodes, misverstande rondom taal, onverwagse tegemoetkomende gidse en natuurlik kansvatters.

 

Die digter het grootgeword in Noordoos-Vrystaat en as skoolkind ‘n obsessie ontwikkel met Oos-Afrika.

 

Deurgaans bly die leser bewus van die digter-as-optekenaar. Wanneer hy ‘n notaboek verloor en onverwags terugvind in ‘n sakkie aan sy tas wat hy nooit gebruik nie, is die leser verlig saam met hom. Anders was ons hierdie verslag kwyt (94). So dig hy in Nomade (2014):

 

Heilige skrif

 

Die vrou wat onder die tamarinde

die Koran sit en lees, keer my vierspoor

wanneer ek buk en met my wysvinger

aan die mooi karakters voor haar wil raak.

Sy gru en hou haar hande beskermend

oor die letters wat vir haar heilig is.

“Elke ayat is wonders en tekens

en het net so uit die hemel gekom,”

sê sy en prewel Mohammed se gebod.

Deur die boomtakke en -blare teken

die son die arabeskpatrone na.

 

Die ayat hier verwys na die genommerde verse in die Koran. Dit beteken ook teken én mirakel.

 

En alle reisigers weet hoe toevallige ontmoetings ‘n hele reis (positief of negatief) kan beïnvloed.

 

Die voortdurende spel tussen belewenis en optekening (wat later gedigte word), is vir hierdie leser die belangrikste aspek van hierdie herinneringsboek, soos die titel reeds aandui.

 

Hierdie reisverslag gee vir ons ‘n kaart van die ruimte wat die reisende digter besoek. Ons beleef sy vreugdes en frustrasies. Maar dit is veral die kaarte van onthou wat hier tersaaklik is: ‘n terugreis na sy jeug op Harrismith waar hy ‘n swart taal aanleer as kind.

 

In “Versugting” (in Ondertussen, 2020) dig hy:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

So met ‘n subtiele verwysing na Van Wyk Louw uit Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

 

II

In hierdie reisverslag verwys hy na die Mau Mau; verder terug: die invloed van die Portugese seevaarders en Vasco da Gama se besoek in 1498. Later natuurlik, die kolonisering deur die Britte en hoe besetters ryk geword het weens koffie- en teeplantasies. Out of Africa deur die Deense skrywer Barones Karen von Blixen-Finecke (in 1937) karteer politieke oorgange.

 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kenia uiteraard voedsel en soldate voorsien aan die Britte. En die belangrike historiese oomblik beskryf Marais ook: in 1952 was Prinses Elizabeth en Prins Philip  op besoek in Kenia toe haar vader, Koning George VI in sy slaap oorlede is. Sy is terug Engeland toe en in 1953 as Koningin gekroon.

 

Die opstande van die Mau Mau’s, Jomo Kenyatta en die opkoms van Daniel arap Moi is die ondergrond van hierdie vertelling met latere politieke woelinge.

 

Leakey is hier en die Adamson’s met ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees.

 

 

III

 

Uit Johannesburg, rigting Mosambiek, Tete, Malawi dan oor Tanzanië waar hy Berg Kilimanjaro sien.

 

Mombasa en Malindi. Nairobi en Douala en Bangui …

 

Lees hierdie boek saam met Lae wolke oor Mosambiek (2003).

 

Dis in ‘n pragtige hardeband gepubliseer deur Imprimatur met mooi foto’s.

 

Kumbukumbu beteken herinnering. Die werklike reise word gesinchroniseer met die reise van die hart.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en navorser aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Wednesday, December 30, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur | 2020

Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur, 2020. ISBN 978-0-620-90396-7 

Resensent: Joan Hambidge  

 

Die mens moet die aarde bewoon:

die helder, onbekende hier.

 

I

 

Johann Lodewyk Marais se gedigte moet gelees word asof die digter werk aan een groot oeuvre. 'n Mens dink hier aan T.T. Cloete se opmerking met Allotroop dat hy 'n katedraal bou en selfs mindere gedigte word binne die katedraalwêreld belangrik.

 

Telkens is daar temas – soos oor insekte byvoorbeeld of oor die ekologie – waarby hy stilstaan. Hy is bekroonde digter, reisbeskrywer, historiese navorser en samesteller: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).

 

Sy gedigte is ondersoekend en fenomenologies. Hy staan stil by die "dinge" soos J.H. van den Berg, die metabletikus. Hy is terselfdertyd nostalgies en intellektueel-besinnend. Hy kyk térug na sy plaasagtergrond as 'n ouer, gedistansieerde persoon. 

 

Sy verse werk dikwels met die litotes, dus met die eenvoud of enkelvoudigheid van die understatement.  Vormbeheer is hier (soos "Bobbejaanoor") en sy vers oor Diego Maradona bly 'n wenner. [1]

 

Sy gedigte word gekenmerk deur spaars, min woorde. Soms is dit dalk te min, maar wanneer hy die gedig laat balanseer tussen suggestie en uitvoering, is die gedig 'n klein meesterstuk soos:

 

Atlasseder

Cedrus atlantica

 

In die Atlasberge van Marokko 

het die sade in goeie grond geval

en uit die molm onder die ruigte

verskyn dan klein, stekelige boompies.

Penwortels wat diep in die berg indring,

anker die seders aan die donker eeue

wat in die ewige lewe verskiet.

 

Hoe sou 'n mens sy digkuns opsom? 'n Moderne Leipoldt? 'n Voortsetting van Opperman se Afrika-bemoeienis?

 

Een van die vreugdes van die afgelope semester was om weer Leipoldt te doseer saam met Opperman. Hoe digters by mekaar aansluit en mekaar "voltooi", bly vir hierdie leser 'n invalshoek. Ons dink hier aan Opperman se "Mukene" (uit Dolosse van 1963) met sy slot:

 

Stiltes stippel in dié land

klippe tot voormalige verband.

 

Die metaforiese sintese in hierdie gedig (om Henning Snyman aan te haal uit Mirakel en muse, 107) is eweneens aanwesig in Marais se werkswyse.

 

Ons vind dan by Marais die verkenning van verskillende Afrika-ruimtes via bome o.a. soos hierdie vers oor Namibië:

 

Witgat

Boscia albitrunca

 

Die lokale en gemoedelike 

tussen die verknotte witgatbome

wat vroegaand oor hulle skaduwees hurk,

word versteur wanneer die trop slagbokke

tussen die skewe stamme deur beweeg,

na die laaste blare en takkies reik

en gedwee verby die hekpale tou. 

 

Okahandja, Namibië

 

Die ikonisiteit van die gedig is vernuftig: die vorm van die gedig stel die beweging van die bokke verby die hekpale voor.

 

Die wetenskaplike naam en die volksnaam van die boom bring 'n verdere spanning na vore en die digter verskies ook in sy vers noemname vir bome.

 

Die vader het o.a. 'n peul uit 'n ander landskap, die ou Suidwes, saamgebring en nou is hierdie boom besig om die koue van die Vrystaat in eensaamheid te trotseer:

 

Kameeldoring

Vachellia erioloba 

 

My pa het ’n peul soos ’n bok se oor

uit die kameelveld saamgebring en tuis

oopgebreek om die pitte uit te skud.

Nou trotseer hierdie reus van ou Suidwes

met sy plat kroon en harde, rooibruin hout

en kleure van die diere van dié land

die Vrystaatse winters alleen en koud. 

 

Dikwels is daar personifikasie en in die hand van 'n mindere digter sou dit steurend kon wees, maar die ou reus trotseer die koue winters soos 'n mens.

 

Wanneer Marais dan oor hierdie landskap skryf, tree hy in gesprek met Kobus Lombard en Hendrik J. Botha wat in hul gedigte hierdie wêreld verken. 

 

Landskapdigters skryf uiteraard meer as oor landskap. Dikwels word dit personifikasie of 'n spieël van die innerlike van die digter wat identifiseer met die wêreld om hom.

 

Die hele kwessie van migrasie en die huidige politieke kwessies rondom mense wat nie meer geborge in 'n hul wêreld voel nie, vind ons hier:

 

Peulmahonie

Afzelia quanzensis

 

’n Onwettige immigrant 

van Mosambiek bring die sade

van ’n mahonie oor die grens,

voel met sy vingers in ’n sak

die gladde, blink omhulsels

en gewaar met die terugkyk

in ’n blik deur die taxi-ruit

agter hom op die horison

die dik rook van ’n houtskoolvuur. 

 

Verder is daar verse oor Gaboen en ander onbekende Afrika-streke voorheen nog nie besoek in ons digkuns nie.

 

 

II

 

Hierdie beeldvers oor Pierneef is betowerend mooi.

 

J.H. Pierneef

1886–1957

 

In Afrikakuns ontdek hy 

lyn, sirkel, driehoek en vierkant

en herhaal twee of drie kleure

ritmies in suiwer samehang.

 

Hy teken bome oor en oor: 

getuie van die lewenskrag 

tussen hemel en aarde

net soos die natuur dit beskik.

 

Stroop bome van hulle blare, 

skep soetdoring en maroela

teen die aandrooi spel van wolke

geëts bo die hart van die land.

 

Blaai vinnig na sy ex libris

en sien ’n monnikefiguur

staan by ’n hoë, steil esel

teen ’n duistere kremetart.

 

 

III

 

Dit is 'n boeiende bundel wat bekoor, ontroer en die leser imponeer met navorsing wat oënskynlik moeiteloos tot gedigte getransformeer is.

 

Die vierde afdeling heet dan Geestelike eskarp en 'n mens vind hierdie digter 'n soeke na spirituele sin.

 

Marais is 'n tydgenoot – soos Johann de Lange – en hul verse bly vir hierdie leser en digter 'n belangrike verslag van hoe ontwikkeling plaasgevind het. [2] Die gesprek met Willem Boshoff registreer ook iets hiervan in die slotvers "Verklaring". 

 

Jeugherinneringe, grondhervorming, Afrika-belewenisse, die migrasieroetes van mense en plante (as peule saamgeneem word) en 'n uitgebrande boom, en die gedig  as 'n totem, vind ons hier. Die ouer digter kyk telkens terug na sy ongeskonde plaasbestaan en met helderheid kan hy nou daardie mense en sy wêreld verstaan. Die plante en bome en swamme en grasse  en ligene aktiveer dus meer as net die natuur. Neil Cochrane noem dit tereg op die agterplat "digterlike botanie". Hierom dan 'n vers oor Thomas Pakenham soos ander botaniste en navorsers.

 

Die digter as nomaad, maar geborge in sy jeugervarings (bykans 'n idille).  'n Gedig soos "Inkblom" is dan ook 'n ars poetica en "Rooi-ivoor" is beeldend mooi:

 

Rooi-ivoor

Berchemia zeyheri

 

Rooi-ivoor, ek skryf by die lig 

van ’n lampstaander uit jou hout 

gedraai deur ’n kundige hand 

en soek woorde om jou te eer.

 

Rooi-ivoor, ’n naakte byl het 

jou gevel, wolframversterkte

saagtande deur jou bas geklief

en ’n beitel jou afgesplyt.

 

Rooi-ivoor, ná die ritseling 

van jou blink, geskulpte blare

stil geword het, klink jou naam op

in ivoordraers se donker bloed.


Imprimatur het met hierdie bundel 'n belangrike digter, sowel tematies as tegnies, vir ons gegee. 'n Mens kan net die hoop uitspreek dat ander boetiekuitgewers hierby kan leer met betrekking tot versorging en gehalte.

 

 

Nawoord:

 

[1].  Die vers oor Diego Maradona speel met die idee van die vlugvoetigste ... hy wat met passie die nommer 10 dra. Ons vind dieselfde passie en vlugvoetigheid in hierdie bundel.

 

[2]. Hierdie bundel het die volgense vers geïnspireer:

 

Geestelike eskarp 


vir Johann Lodewyk Marais

 

Die landskap 

van my jeug:

'n aalwyn,

bloekoms, wilgers.

 

Aalwyne oorleef,

bloekoms ruik verdrietig,

wilgers treur

in 'n waterspieël.

 

Onvermeld:

die sipresse

langs ons huis

posmeesters van die dood.

 

 

Bibliografie

 

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

Monday, October 19, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Ondertussen | Naledi, 2020

Johann Lodewyk Marais - Ondertussen. Naledi, 2020. ISBN: 978 1928518556

Resensent: Joan Hambidge

 

Johann Lodewyk Marais is 'n produktiewe en bekroonde digter wat terugbeweeg in Ondertussen na jeugherinneringe van die Oos-Vrystaatse landskap. Daar is reisverse deur Afrika en Europa. Liefdesverse en lykdigte. Ekologiese besinnings. Fragmente en langer verse. En politieke verse van langer terug en resente opstootjies.

 

Marais is eweneens samesteller van bundels oor die ekologie: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en 'n bloemlesing róndom die gedig Winternag 100 wat in 2006 verskyn het. 

 

Die somer is ’n dag oud (1983), sy debuut, is bekroon met die Ingrid Jonker-prys en vir Diorama (2010) ontvang hy 'n SALA-toekenning. Daar is reeds elf digbundels op sy kerfstok en die leser bly bewus van 'n digter wat kennelik besig is om te bou aan 'n oeuvre waarin elke digbundel 'n onderdeel vorm.

 

Marais se verse is bekend om hul subtiliteit en suggestie. Die klein tersyde wat 'n mens altyd bybly: grootouers wat beskryf word róndom 'n skildery wat hulle nooit kon bekostig nie; 'n plaas in Harrismith waar die jeugherinneringe ópgevang word in 'n murasie; gesprekke met Pablo Neruda wat in die jongste bundel sluit met 'n vers wat Lorca en Neruda aktiveer. 'n Gedig oor Diego Maradona.

 

Landskapgedigte, so weet ons, handel dikwels oor 'n spanning tussen die buitelandskap en die binnelandskap. Die reisvers aktiveer 'n opposisie tussen bekend en onbekend. Die liefdesvers registreer (dikwels) 'n spel tussen verlange oor wat was en nou nie meer is nie.

 

Hierom die “ondertussen” van die digbundel se titel wat liminaliteite en oorgange aktiveer soos uitgespel in COVID-19: 

 

op die drumpel tussen lewe 

en nielewe het 'n organisme getalm 

 

Die bemoeienis met ekologiese kwessies (soos in AvesIn die bloute en Insektarium en ander gedigte) is opvallend en hy hou hom besig met “dinge”. Hierom dan die verwysing na J.H.H. van den Berg, die metabletikus se siening dat virusse en pandemies verband hou met ander sake. Toe Freud die onbewuste “ontdek” het, was Robert Louis Stevenson besig om Strange Case of  Dr Jekyll and Mr Hyde te skryf. Marais is fenomenologies aan die werk. Hy karteer jeugherinneringe en daar is 'n opvallende sirkelgang. 'n Soort mandala dus.

 

'n Mens sou hierdie bundel Jungiaans kon benader en nagaan hoe die digter hier tot heling en klaarheid kom.Van die oopsluit van herinneringe met die vader se bos sleutels (soos die programgedig “Sleutels” waarsku) tot die slotgedig “Ode” wat inspeel op Neruda en natuurlik, die vertaler, Uys Krige in Spaanse dans.

 

Harrismith, Afrika, Europa en die Ooste word in reisverse opgeteken. Dit word geplaas teenoor lykdigte en liefdesverse. In die lykdig oor die nooit volprese sinoniem-optekenaar en rymsamesteller, Louis Eksteen (wat hy waardig en hoflik as u aanspreek), skryf hy:

 

Die dood het baie/min sinonieme.

 

In Johann de Lange se jongste bundel Die meeste sterre is lankal dood, 'n tydgenoot, is daar soos by Marais 'n vers vir Elsa Joubert. Hier is daar 'n identifikasie met haar as reisiger, 'n tema wat regdeur Marais se digkuns loop. “Vroue van Bakavu” gee blyke van die digter se uitmuntende vormbeheer van die villanelle, 'n moeilike digvorm met 5 tersette wat sluit met 'n kwatryn.

 

Alles word in terme van die digkuns bepaal. In “Mate” word dit meer as mates neem vir klere; dit word 'n vers waar “presisie geld”. Hiermee bewys die digter sy vernuf om die tegelykertydsaspek van 'n gedig weer te gee: oënskynlik oor iets buite die waarnemer, maar ook implisiete ars poetica.

 

Die gesprek met Van Wyk Louw is eweneens hier aanwesig. Die debuut het dit reeds aangekondig en in die vers “Herinnering” is hierdie digter eweneens besig om in “sterre-en-helderte” na te skryf. “Versugting” is 'n palinode van Louw se bekende 

gedig “H. Petrus” in Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

So klink Marais se “Versugting”:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

“Die lig boots die metrum van 'n vers na”, artikuleer hy verder sy bemoeienis met die digkuns in “Vuurtoringrit”.  

 

Waarom net W.S. by 'n gedig? Of wil die digter juis die leser uitdaag om die interteks reg in te skat?

 

Waar die laaste twee bundels dikwels te gestroop en spaars was, is hierdie bundel oorvloedig en aangrypend vir al in die jeugherinneringe. Die gedigte oor Afrika veral is besonders. As historikus gee hy dan 'n besonder interessante perspektief op Afrika wat 'n gesprek met Opperman aktiveer.

 

Daar is 'n handvol uitstaande verse in hierdie ryp, beleë digbundel.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, June 19, 2018

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Insektarium en ander gedigte (2018)

Johann Lodewyk Marais – Insektarium en ander gedigte. Imprimatur, 2018. ISBN: 978-0-620-77582-3

Resensent: Joan Hambidge

Johann Lodewyk Marais se bloemlesings Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) kan as belangrike wegwysers gelees word vir sy jongste bundel. Sy doktorale studie oor die wetenskaplike prosa van Eugène N. Marais is eweneens ‘n baken nes sy antologie Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Maraisse “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).

“Pilduisendpoot” het oorspronklik onder die titel “Mont Pelaan” in Palimpses (1987) verskyn en word met die toestemming van Human & Rousseau heropgeneem. Ons vind dus in hierdie bundel ‘n soort laatwerk: ‘n digter wat terugkyk na sy jeug in ‘n idilliese Vrystaatse plaasbestaan en gedigte word dan ook in daardie tyd gesitueer, o.a. 1966. Die digter se debuut Die somer is ’n dag oud (1983, bekroon met die Ingrid Jonker-prys 1985) bly steeds staan as ‘n besónderse debuut met onthoubare gedigte, onder andere oor Pablo Neruda.

Hierna volg: Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves  (2002), Plaaslike kennis (2004), Diorama (2010,bekroon met die SALA-toekenning vir Afrikaanse Poësie 2012), In die bloute (2012) en Nomade (2014).

Marais is ‘n digter wat hom besig hou met dinge. Hy lees Heidegger en die fenomenologie. Hy kyk na die wonder van die natuur en aanvanklik is daar ‘n baie belangrike gesprek met Van Wyk Louw; later, in die volwasse jare, is dit die natuurkundige en digter Eugène Marais wat hom boei en begelei.

Die oënskynlike eenvoud van sy gedigte is uiters bedrieglik. Onder draai die duiwels rond van komplekse verwysings en intertekste. Hierom word ‘n bundel ‘n palimpses genoem. 

Die vers “Ongerepte aarde” dra die sub-titel palimpses.

Hy is by-die-dinge, maar deurgaans besig met ‘n diorama. Met ‘n afbakening van sý plek binne die Afrikaanse digkuns.

Die pas verskene bundel by ‘n nuwe uitgewery Imprimatur (veels geluk!) is fyn afgewerk. Dit is ‘n digter wat sonder ‘n groot gebaar dig. Hy is die digter van die onderstelling en van fyn taalspel. 

Dikwels keer jy terug na ‘n vers en besef hoe netjies alles inmekaar pas. Daar is nie bloed en harsings nie. Hy luister fyn na die “dialek van insekte” en die motto van Thabo Mbeki verklap reeds iets:
At times, and in fear, I have wondered whether I should concede equal citizenship of our country to the leopard and the lion, the elephant and the springbok, the hyena, the black mamba and the pestilential mosquito.
Marais gee stem aan hierdie zoemers en naglawaaiers. 

Hy kyk besonder fyn na hulle. Die boorkewer (vernoem na Eugène Marais) het hierdie digter se oog ontglip. Sy slurpie lyk nes ‘n olifant s’n.

Behalwe vir die skerp oog op die natuur én kleiner, wriemelende insekte, is daar ‘n duidelike politieke dimensie in hierdie bundel aanwesig. Ons verneem van die digter se weermagjare (“Hondsdolheid”, 62), die impak van die Ebola-virus, inenting teen polio, griep, ensomeer.

Griep

Bacillus influenzae

In die soetgras van hierdie ver distrik
lê die verlate grafte van sterftes
van 1918, so voorbeskik.

By die afdraai na Toronto sien ek
die klippe nog regop staan met datums
dof en roesrooi deur ligene gevlek.

Van Jerusalem en Manila weet ek;
waar die doodsengel mense besoek het
op Santiago, Montreal en Quebec.

My pa het soms vertel van die virus
wat jonges in hul fleur platgetrek het,
die pandemie wat hier swaar gevoel is.

Gerhardus … Philippina … Frederick …
Johannes … Robert … Nomvula …
Ma-Christmas … Peoti … Johanna …

Nou dink ek oor die vergete lewe
waar seerooglelies in Oktober blom
en swerms Europese swaels swewe.

Van die akute slymvliesontsteking
en koors van lank gelede is dié bakens
die onvaste skrif van ’n eeu tevore.   (59)

*

Dit is egter nie net ‘n bundel oor insekte nie; daar is by hierdie digter terselfdertyd (soos by Ernst van Heerden in sy natuurverse) ‘n besinning oor die digterskap. Wanneer hy oor ‘n skerpioen skryf, wonder hy:

Het ek nie dalk op die verkeerde bladsy
van hierdie bundel verse beland nie? (55)

Die digkuns as ‘n gevaarlike bedryf, kom hier aan bod. Dit is ‘n bundel wat ‘n mens terugneem na daardie belangrike studie van Cleanth Brooks wat heet A Shaping of Joy (Methuen, 1971) waarin hy vra of ‘n teks ‘n spieël, ‘n lens of ‘n prisma is. Dalk ook ‘n diaroma?

Brooks waarku dat, sélfs al is ‘n teks ‘n refleksie van die werklikheid, gee die bepaalde digter of skrywer sy/haar unieke blik. Hierom is dit onder andere tersaaklik om te kyk hoe twee tydgenootlike digters, Johann Lodewyk Marais hier en Daniel Hugo in Openbare domein (Naledi), besig is met ‘n bestekopname van húl lewenservarings, die natuur en die kosmos. 

Beide kyk terug op hul unieke digterlike bydraes en lig die klippe op: sien skerpioene en ander vreesaanjaende bedreigings. Beide is vakmanne wat bekoor om die spesifieke blik. Beide uitgegee deur randuitgewers wat hul talent waardeer.

Duitse kakkerlak

Blatella germanica

Die bleek kakkerlak op my lessenaar
maak vlugtig sy verskyning
agter ’n woordeboek, ’n tesourus
en die hopie gedigte in die hoek.
Ek mik om hom dood te slaan,
gaan koop by die Chinese winkel
’n stafie Twin Luck-insektekryt
en trek ’n streep agter sy bestaan.
Maar: Skielik loop hy oor ’n boek
en dae lank soek ek hom vergeefs
tot vandag toe ek ’n gedig druk
en hy hom op die spierwit bladsy
afsmeer met alles, alles wat hy is.

(47)

Dit is ‘n bundel uit die hand van ‘n bestendige én belangrike digterskap.  En hoe wonderlik dat hy die eerste digter is by nuwe ‘n uitgewery!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Monday, January 26, 2015

Johann Lodewyk Marais – Nomade (2014)


Johann Lodewyk Marais – Nomade. Cordis Trust publikasies, 2014. ISBN 978 0 9870397 8 1
Resensent: Joan Hambidge

Johann Lodewyk Marais verken in sy negende bundel Nomade die landskap van Afrika. Dit lees soos ‘n reisverslag of aantekeningboek van ‘n digter wat deur Afrika reis en plekke aandoen soos Nairobi, Lamu, Kaïro, Timboektoe, ensomeer. Die reisende digter het ‘n dubbelblik: elke ervaring word afgespeel of teruggekaats teen die bekende land van herkoms. Maar sonder hierdie bekende leefwêreld kan die nuwe nie ervaar of deurgrond word nie. ‘n Mens dink hier aan Bernardo Bertolucci se sublieme rolprent The sheltering sky – gebaseer op ‘n verhaal van Paul Bowles – en die verskil tussen reisiger en toeris; en, uiteraard, hoe die nuwe belewenisse die reisiger se lewe verander.

Marais sou ‘n mens kon beskryf as ‘n digter van temas en eenheidsbundels. Sy vorige bundel het gehandel oor die see (In die bloute, 2012) en die digter werk nou aan ‘n bundel oor insekte. Nomade bevat sketse van Lynette ten Krooden wat ‘n spel tussen lynskets en gedig tot gevolg het.

Die reisgedig veronderstel ‘n nomaad, ‘n waarnemer en die gedig word ‘n soort kartografie van die digter se belewenisse. Die digter verduidelik aan ons in “Oorlees” (90) dat hierdie geslote boek sy lewe is. Hoe vérder die digter reis en nuwe belewenisse opteken, des te meer word hy gekonfronteer met die self en beperkinge. In die ryk vers “‘n Lewe” (91) sien die leser dat die jong kind alreeds ‘n skerp waarnemer was. In hierdie gedig met sy Pablo Neruda-aanslag is daar ‘n terugkeer na sy jeug om hieruit te beweeg na nuwe trekroetes.

‘n Mens sou ook hierdie bundel kan lees teen die agtergrond van ander bundels en gesprekke tussen gedigte uitwys in sy digterlike diaroma.

Daar is ‘n handvol sterk verse in die bundel. Soms mindere lynskets-vers, optekeninge, kladboeknotas – soos te verwagte van die reisende digter. Op sy sterkste is daar verse soos “Sonnewende”, “n Lewe”, “Dhow-wedvaart”, “Timboektoe”, “Heilige skrif”, “Nelson Mandela”, “Ibn Battuta”, “Arabierperd”, verse waarin die spanning tussen vorm en inhoud volgehou word en die gedig met elke lees iets nuuts ontsluit.

Die astrolabe is ‘n belangrike kode in hierdie bundel. Die gebruik van minder bekende Arabiese of Afrika-woorde verleen iets eksoties aan die bundel. Daar is ‘n voortdurende spel tussen die ou koloniale wêreld en die nuwe wat steeds vol geheime en vreemde tradisies en gebruike bestaan. En hieruit word die gedig geskep: tussen wat was en wat nooit kan wees nie.

Daar is ook politieke kommentaar in die bundel soos onder andere in die kort vers oor Kaïro en in ‘n gedig oor FW de Klerk word die “wye en droewe land” betrek. Afrika in al sy kompleksiteite – misterieus, religieus, rewolusionêr, polities-onrustig, driftig – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse; ons bly bewus van skeepskanonne, vlae, bloed en mense wat vir ‘n stryd gestry het.  Daar is gidse en die digter self is ‘n sterk waarnemer:

Heilige skrif
                      
Die vrou wat onder die tamarinde
die Koran sit en lees, keer my vierspoor
wanneer ek buk en met my wysvinger
aan die mooi karakters voor haar wil raak.
Sy gru en hou haar hande beskermend
oor die letters wat vir haar heilig is.
“Elke ayat is wonders en tekens
en het net so uit die hemel gekom,”
sê sy en prewel Mohammed se gebod.
Deur die boomtakke en -blare teken
die son die arabeskpatrone na.
(56)

Van die verse het al op die Versindaba se webruimte verskyn en dit is opvallend hoe verse verander en verbeter is: van reisindruk tot gedig wat met sy “vuurtonge na die hemel reik”.

Hierdie gedigte het die 'le bapteme de solitude'; veral in die verse oor die Sahara en die savannes. En soos Paul Bowles waarsku: nadat ‘n mens die Sahara ervaar het, is jy nooit weer dieselfde nie ...

Hierdie bundel is gepubliseer met die hulp van die Cordis Trust en word opgedra aan ons ander uitstaande digter, Johann de Lange.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)