Showing posts with label Johann de Lange. Show all posts
Showing posts with label Johann de Lange. Show all posts

Sunday, October 30, 2022

Resensie | Johann de Lange & NCP Golele (Reds) - I wish I’d said...Vol. 5 | Naledi, 2022

I wish I'd said...Vol. 5, Naledi, 2022. 336pp (Sagteband), R240.00. ISBN: 9781776172412

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Johann de Lange, die bekroonde Afrikaanse digter en Professor Nxalati Charlotte Priscilla Golele, die voorsitter van Pan Suid-Afrikaanse taalraad én ‘n bekende navorser binne Afrika-tale, is die twee hoofredakteurs van die jongste AVBOB-poësie projek. Volume 5 het sopas verskyn.

 

In die elf amptelike tale, elk met sy eie verskillende taal- en kulturele kodes, word die dood besê en beskryf. Die digkuns kan iemand wat deur ellende van verlies gaan, uiteindelik dra. ‘n Nege-jarige digter en ouer digter van 83. Bekend en onbekend. Geskryf in die donker op ‘n bedjie (by ‘n kers) of met ‘n komputer. Verskillende style vind ons: van die praatvers tot die meer hermetiese vers.


Elke digter vertolk die funeraire gedig (ook genaamd die treurlied, die lament, die elegie of lykdig) eiesoortig.

 

Die matelose magteloosheid teen die impak van die dood en die gevoel van ek-wou-nog-sê, is oorbekend aan hierdie soort vers.

 

Die decorum van die lykdig (soos Witstein dit uitwys) met die 'prooemium' (inleiding) en 'n uitskel oor die doodsoorsaak (vituperatio)  – met lof (laus) as dit ‘n beroemde persoon was en die ander strategieë is ook hier soos die 'iacturae demonstratio', 'luctus','adhortatio', 'causa' en 'consolatio'.

 

Maar veral die gedig as consolatio (troos) is een van die belangrikste kenmerke wat ons vind in hierdie ryk geskakeerde bloemlesing. Die Afrika-spreekwoord is hier ter sake: “Death is like a robe everyone has to wear” wat op die buiteflap staan neffens Susan Sontag se bekende uitspraak:” Life is a movie. Death is photograph.” Afrika teenoor Westerse kodes is opvallend.

 

In Afrikaans staan daar belangrike lykdigte opgeteken: van Totius tot Opperman; van Johann de Lange tot Krog. Of digters wat dig oor mede-digters se vertrek (hier Hendrik J. Botha oor Gisela Ulyatt. In vorige bloemlesings was daar gedigte vir Jaco Botha, die skrywer).

 

In sy inleiding wys De Lange daarop hoe Covid elke vesel en aspek van ons lewe verander het. En steeds bly verander en hoe vrees en isolasie ‘n impak gehad het. Sopas het Michèle Betty se Dark Horse (Dryad Press) verskyn waarin die selfdood van die vader en die effek op sy familie ondersoek word in sterk gedigte.

 

En die digkuns registreer al die fasette van hierdie verlies. Daniel Hugo is die Afrikaanse, en Douglas Reid Skinner die Engelse redakteurs. ‘n Bonus is die opname van die San en Khoi verse en dat die Afrika tale eweneens in Engels beskikbaar is. “Death, you are so cruel”, dig Malefu Cynthia Sello (173) wat terugpraat met Zandra Bezuidenhout se vers “Geen verbinding” (8):

 

Die dag word lank en koud,

en stil soos jy. (8)

 

Die gedig as consolatio of troos word verbeeld in Hendrik J. Botha se “Soms is wonde drome” oor die digter Gisela Ulyatt (1977 – 2020). Hy beskryf daardie plek waar “wonde droom / en drome nie verwond nie” (4).


Alles wat verlore gaan, sal vlerke kry en in drome terugkeer …

 

Herinneringe beteken dat ons nog die persoon kan oproep soos Clinton V. du Plessis dit pynlik en aangrypend verwoord in sy wengedig:

 

Leemte

 

25 jaar gelede: jou vertrek

steeds verlang ek om weer

kniehoogte neffens jou te stap

die stil sekerte van jou aanraking op my hoof

 

ek, kaalvoet, kortbroek

my hand in joune as ons ’n straat sou kruis

hierdie land was ’n ander plek, Pa

ons stoor nou drome in trommels in buitekamers

die bome wortel krake in die oprit langs ons huis

tog onthou ek jou, soos die omslag van ’n spesiale boek

 

ek het ’n skildery van jou ou foto laat maak,

geraam, jy pryk op die lys, bo die kaggel

dwarsdeur hierdie winter gloei die kole

maak ons verbete warmte, maar

hierdie huis is ’n ander plek, Pa

 

en ek?

Ek is ’n stoker, sonder lokomotief

’n roepman, sonder skofkaarte

’n kondukteur op ’n spooktrein

’n vergete passasier op ’n koue donker plein.

 

Ek wag vir jou, met jou jas en my tas.

 

“Pack up the moon / and dismantle the sun” staan dit in Auden se lament. En Paula Meehan ervaar die dood van haar kind as so pynlik dat sy liefdesnag wil kanselleer toe die kind verwek is. (sien Endnote).

 

 

II

 

Hierdie bloemlesing gee ‘n beeld van Suid-Afrikaanse gedigte in verskillende tale (oorspronklik en vertaal) en die dosent sowel as ‘n besoeker aan die land kry ‘n waardevolle blik op die aard van die inheemse digkuns.

 

Ook is die kwessies universeel: die ek-wens-ek-het-gesê of die gevoel van magteloosheid soos Rabelani Mutsatshi bely: die “song of regret”.

 

Die digter as weeskind wanneer die ouers sterf wat die digter, ironies genoeg, beter kan sien ná die vertrek.

 

Of die wonde (“Scars”) soos Prisca Nkosi dit stel wat die dood laat.

 

In “Hope” van Molebatsi Joseph Bosilong word die Covid-virus direk aangespreek.

 

En die meester van die digkuns Jonty Driver skryf in “La Tour des Anglais” spreek digters aan wat selfdood gepleeg het. Almal in die “glare of Giant Despair”.

 

En die wrang slot van Ingrid de Kok se “Things I once loved” draai alles op die kop in die ironiese slot:


And what’s it about regrets?

 

I can’t give them up

Still need their sandpaper.

 

En hierdie bundel werk inderdaad met adhortātiō:

exhortation

encouragement

(rhetoric) An exhortation intended to win the consent or desire of the audience.

(adhortatio – Wiktionary. Besoek 28 Oktober 2022)


Hierdie leser was deurgaans bewus van die enorme werk wat dit moes gekos het om hierdie bloemlesing saam te stel en wenners te kies uit die ryk skat van die digkuns.


 

 Endnote:

 

Twee klassieke lykdigte:

 

Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal,

fancy as a wedding cake.

 

I chose your grave clothes with care,

your favourite stripey shirt,

 

your blue cotton trousers. 

They smelt of woodsmoke, of October,

 

your own smell there too.

I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is

so cold down in the dark.

 

No light can reach you and teach you

the paths of wild birds,

 

the names of the flowers,

the fishes, the creatures.

 

Ignorant you must remain

of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet, 

my cub, my kid, my nestling,

 

my suckling, my colt. I would spin 

time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair,

and further spin you back

 

through nine waxing months 

to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, 

word within me. 

 

I'd cancel the love feast

the hot night of your making.

 

I would travel alone

to a quiet mossy place,

 

you would spill from me into the earth

drop by bright red drop.


*


Stop all the clocks, cut off the telephone

W.H. Auden

 

Stop all the clocks, cut off the telephone, 

Prevent the dog from barking with a juicy bone, 

Silence the pianos and with muffled drum

Bring out the coffin, let the mourners come. 

 

Let aeroplanes circle moaning overhead 

Scribbling on the sky the message He Is Dead, 

Put crepe bows round the white necks of the public doves, 

Let the traffic policemen wear black cotton gloves. 

 

He was my North, my South, my East and West, 

My working week and my Sunday rest, 

My noon, my midnight, my talk, my song; 

I thought that love would last for ever: I was wrong. 

 

The stars are not wanted now: put out every one; 

Pack up the moon and dismantle the sun; 

Pour away the ocean and sweep up the wood; 

For nothing now can ever come to any good. 


 

Bronne:

 

S.F. Witstein in Funeraire poëzie in de Nederlandse renaissance: enkele funeraire gedichten van Heinsius, Hooft, Huygens en Vondel (Utrecht, 1969) ondersoek die retoriese strategieë in die lykdig.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Wednesday, November 11, 2020

Resensie | Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds) - I wish I’d said Vol 3. | Naledi, 2020

Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds) - I wish I’d said Vol 3. Naledi, 2020. ISBN: 978 1 928518 56 3

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Die derde uitgawe van I wish I'd said (Ek wou nog sê), onder redaksie van Johann de Lange en Goodenough Mashego, bring die hele komplekse aspek van multitaligheid na vore. Verskillende inheemse tale wat telkens vertaal word na Engels. Soms deur die digter, soms deur 'n redakteur. Met Douglas Reid Skinner as voortreflike vertaler en redigeerder van die Afrikaans na Engels. Die leser kry telkens die oorspronklike gedig met die vertaling. Met 11 redakteurs wat hier keuses moes maak. 

 

Daar is opdragverse en wengedigte. Meer as 18 000 digters is al geregistreer op die webblad.

 

Carl van der Riet, die CEO van AVBOB, sien hierdie projek as 'n "space of healing" en hy verwys na die moord op Uyinene. En die digter se gedig vertolk namens ander die verlies aan 'n die geliefde persoon. Johann de Lange, die hoofredakteur en self die skrywer van uitsonderlike lykdigte, wys op hoe gedigte ons konnekteer. Poësie, skryf hy, is 'n kerk waar ons kan vergader. 

 

Die een gemeensaamheid van al hierdie gedigte is dat dit die universaliteit van die dood aanspreek. Elke mens is al met die dood gekonfronteer: hetsy onverwags; ander kere weer die slopende aftakeling van 'n geliefde of kennis. Met 'n begrafnis. Of verassing. Met rituele. Wat in hierdie Covid-tyd dramaties verander het. Net 50 mense met maskers word toegelaat.

 

In hierdie spanningsvolle tyd waarin mense daagliks gekonfronteer word met die pandemie se verwoesting en koerante getalle verskaf, het die dood soos in Bocaccio se Decameron 'n harde, alledaagse werklikheid geword. 

 

En hoe sal digters hierop reageer? Hoe gaan jy 'n vers skryf wat steeds tref? 

 

Die Versindaba se projek waarin digters reageer op die Covid-pandemie het al tot belangrike en ontstemmende gedigte gelei.

 

O.a. René Bohnen se ontstemmende gedig [1] oor hierdie onderwerp.


Die hele tradisie van die funeraire poësie is alreeds deur verskillende literatore ondersoek.  Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse Renassaince (1996) waar dit gaan om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van die dood (consolatio). (’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator. Besoek 8 November 2020).


En T.T. Cloete se lykdigte is voortreflike huldeblyke aan die afgestorwenes waarvan die vers oor Peter Sellers [2] 'n hoogtepunt bly.

 

En die Ierse digter Paula Meehan se "Child burial" [3] is een van daardie onthoubare en verdrietige verse wat 'n mens gewoon oorbluf laat:

 

you chose to be made flesh, word within me.

I'd cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.

 

Vanaf ons ouer digters (Marais, Totius, Leipoldt) tot nou word die impak van die dood in die digkuns weergegee in treurverse, klaagsange of lykdigte.

 

 

II

 

Dat daar alreeds 'n derde bloemlesing gepubliseer word, wys op die relevansie van die onderwerp en dat digters nog lank nie uitgeskryf is nie. Hierdie projek boekstaaf dus nie alleen die dood nie, maar word terselfdertyd 'n dokument van ons tyd oor die enorme impak van die pandemie én hoe digters as't ware met hul rug teen die muur dig.

 

Maretha Maartens se aangrypende "Peperboom" is as die wenner aangewys met Maritha Broschk en Hannes Visser in die tweede en derde plek.

 

In die Afrikaanse afdeling is daar verse van Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Loftus Marais, Marlise Joubert en Ronelda S. Kamfer, elkeen digters wat hul gevestig het as belangrike stemme. In "Releasing midnight" aktiveer Elisa Galgut tereg "earth's diurnal course".

 

Die lykdig verset sig altyd teen die kortstondigheid van alles en wil iets vir tyd-en-ewigheid daarstel. Wanneer dit oor 'n belangrike mens handel, wil dit iets van die impak van die dood registreer op die spreker. Hannes Visser se lykdig vir sy vader ("Vir Piet Visser (21.7.1925 - 19.7.1967)" wil die onomkeerbaarheid van die verdwyning van die vader herstel in die gedig. Die ma het teatraal alles van die pa verwoes in 'n vuur (heel simbolies!), maar die spreker probeer steeds onthou en bestendig in hierdie sterk gedig.

 

Ronelda S. Kamfer se vers werk met reuke en hoe dit herinnering aktiveer ("Lykskouing"), terwyl Loftus Marais aweregs kyk na die hele gedoente van begrafnisse.  In "Begrafniskitsch" ontluister hy hierdie ritueel: 

 

alles so gepas, verstaan

die dood is tog die onsubtielste ding.

  

 

III

 

Gedigte oor afgestorwenes verraai altyd komplekse emosies van verlating, verlies, verdriet en onrus. En waarskynlik skuldgevoelens of "unfinished business". Corné Coetzee se gedig sê dit alles ...

 

En T.T. Mudau in "Just remove that stone" wys eweneens op die vrae wat die dood van die oorledene na vore bring. By die swart digters is die orale aspek belangrik en die voordrag; hierom die herhaling van woorde en uitroepe. En uiteraard word 'n gedig vir Mandela ook 'n politieke aanklag soos Puleng Nokomo se gedig illustreer (155). 

 

Elke huldeblyk verklap iets van die digter se lewenshouding. Elke gedig oor die dood word uiteraard en by implikasie 'n soort teologiese of religieuse besinning. Leef ons na die dood? Gaan ons die geliefde weer sien? Het hulle veilig "aangekom"? Of word jy gewoon deel van die kollektiewe onthou, soos C.G. Jung aanvoer. In die swart tale is daar uiteraard 'n ander spirituele ervaring (die woord soul / siel is hier) as by die digters wat Katoliek of Calvinisties of agnosties is. Archie Swansea gebruik ook "soul" in sy gedig "my guernica". Michèle Betty se vers "Zoetrope" wys hoe die agtergeblewene hunker na 'n tyd wanneer die herinneringe verskans sal word in die lyf. Talle mense ervaar dan dat die oorledene so deel word van hul gesprekke en onthoue dat dit as liggaamlik ervaar word.

 

Inderdaad word elke vers 'n Lasciare suonare, soos Andries Bezuidenhout in sy uitstekende vers bewys. 

 

Vir die maestro van stilte, sê hierdie gedig oneindig veel. Klakkas tot klankkis. Meer as 'n huldigingsvers. 'n Vers wat die verskillende diskoerse van tale (en musiek) saamsnoer. Abdullah Ibrahim se se motto oor tyd en ruimte en plek verklap alles.

 

"We arrive in place when we resolve things." Dalk deur ons almal in al ons landstale saam te plaas in een plek, mag heling bring.

 

Hierdie antologie maak geweldig baie perspektiewe oop vir sowel die digkuns as die metafisika. Die logo van AVBOB verklap dit reeds.  Daardie boom gaan ook 'n kis word. Maar tans groei die boom nog.

 

 

Endnote:

 

 

1. klein covid skilde

René Bohnen 

 

onthou jy omhelsings

en die glooiings van vingerpunte op jou vel

sensitief soos ‘n sonar

van liefde?

 

ek dokumenteer dagbreke –

onthou dae sonder deure

en die son meer

as ‘n geraamde gedagte

anderkant die balkon

 

in my huis is ‘n landskapskildery

‘n naelstring na my geboortevallei –

 

dag honderd-een-en-vyftig

my gedig ‘n vergesig

op ‘n land van swart amber

en bitter heuning

 

ek voel soos die eerste letter

van ons –

‘n ou man hoes, die wind waai,

ons loop op dun ys

maar ons maskers is mooi

 

dag tweehonderd-en-twee

die son kom op

die bokmakierie roep

vierlettergreepgeel

 

wat is tydelik, wat is tyd?

ek stoot my woorde

voor my by die deur uit

  

2. Alle grappies op 'n stokkie

T. T. Cloete

 

Die ektoplasma maak mislik.

Alle vlae hang stigtelik

by alle teaters halfmas.

Peter Sellers is vandag veras

by Golder's Green. Wat mens afkerig maak

is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak

van sy lyk. Die diens vir die lastige rou

en konvensie is deur John Hester gehou,

Peter se vriend, 'n kannunik.

Maak dit vrolik

om van die walglike oorlas

verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas

uit The Goon Show

sy eerste, sy derde en vierde vrou

mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom

het ongenooid daar aangekom,

sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.

Sy is kywende weggejaag

deur Michael. Vir die groot

mededinging met die lastige dood

was Lynn Frederick

heel paslik

geklee in 'n rok wat inderhaas

spesiaal ontwerp is deur die modebaas

Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras

vrolike musiek pas

immers by die toneel

is Glenn Miller se In The Mood gespeel

op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.

Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.

Tog het iets vreemds gebeur:

'n donderstorm wat ineens losbars versteur

en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,

dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.

 

Wat pla

bedink agterna

in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina

of is die grap bygedra

deur die baaslykverbrander?

To steal one's thunder

Pas by die toneel. Behoort die oorskot

aan die duiwel, aan God?

behoort die donder

 

aan God, aan die duiwel? I wonder … 

 

3. Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal, fancy as a wedding cake

I chose your grave clothes with care, your favourite stripey shirt

 

your blue cotton trousers They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you the paths of wild birds,

 

the names of the flowers the fishes, the creatures

Ignorant you must remain of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet my cub, my kid, my nestling

my suckling, my colt. I would spin time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair, and further spin you back

through nine waxing months to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, word within me.

I'd cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.


 

Monday, October 23, 2017

Foto | Johann de Lange & Joan Hambidge, 1990

Johann de Lange & Joan op die literêre sofa, DeKat 1990

Sunday, April 9, 2017

Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.) (2017)



Resensie. Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.). Tafelberg, 2017. ISBN 978-0-6240-8240-8

Resensent: Joan Hambidge

Die versameling is ‘n keuse uit Hennie Aucamp se verhaalkuns saamgestel deur Johann de Lange. ‘n Jaar voor die bekende kortverhaalskrywer se dood, gee hy ‘n notaboekie persent aan sy vriend, die skilder Jan du Toit. Hierin is daar ‘n lysie opgeteken van sy persoonlike keuse uit ‘n imposante oeuvre. De Lange as literêre eksekuteur het toegesien dat sy wens uitgevoer word. En omdat die meeste van hierdie bundels alreeds uit druk was, kon hy hierdie taak dus verwesenlik.

En wat ‘n wonderbaarlike bundel is dit nie! Wanneer verhale in bloemlesings saamgesnoer word, kry hulle ander en nuwe betekenisse. Verder word die leser ook gedwing om verhale, klassiek of “ouderwets”, opnuut te besoek.  Elize Botha het dit immers al in Een kraal saamgeplaas in 1983. Nou is dit ‘n laaste wals en die dansbeeld (vanaf die eerste verhaal en “Die Caledonner” tot by “Vir vier stemme”) aktiveer immers passies, beheer, drif …

Aucamp se taalgebruik en styl is al by herhaling geloof. Met hierdie lees word die lees voortdurend blootgestel aan ouderwetse woorde (“verbolgenheid” vir woede; mals, bogte, onbesuisde …).

En sy mensekennis is opvallend. Hy kan gewoon ‘n verhaal vertel, omdat hy die la condition humaine ken. Verhale wat ‘n mens bybly om die lewenswaarhede wat weergegee word.

“In die hartseerwals” (uit die gelyknamige bundel van 1965) is dit die potsierlike, vet, dom Hetta (destyds magistraal verfilm) wie se ellende nie verwoord kan word nie wanneer die wewenaar haar oorsien:
Sy wens sy het net treurige plate gehad, maar nou het sy net één treurige plaat en hy is nie treurig genoeg nie. (15)
In “Die baadjie sonder einde” uit Dalk gaan niks verlore nie, 1992 – ‘n verhaal wat so Tsjekofiaans is as wat kan kom – word die geskiedenis en lewensloop van ‘n baadjie beskryf. 

Of die wraak van ‘n jongeling in “’n Piazetta in privaatbesit” opgeneem in Gewis is alles net ‘n grap, 1994. Hier ondersoek Aucamp die mentor-student-verhouding op ‘n pynlik-eerlike wyse en hoe die jongman eintlik wil wraak neem oor die lewe wat hy nie kon uitleef nie. Hy het wel ‘n vrou en twee kindertjies; maar dít wat hy begeer het, is hom nie beskore nie. Hierom is die slot ironies: Karel is nie die werklike wenner nie, ofskoon hy oënskynlik die ouer, gay-man troef met sy gelukkige gesinnetjie.

Dit is waarskynlik alreeds ‘n cliché om  Aucamp se “Vir vier stemme” (Volmink, 1986) as magistraal te beskryf. Hierdie komplekse “boeregrap” waarin ‘n straight man, Beimen Botes, om die bos gelei raak deur ‘n “vrou”, is vintage Pedro Almódovar-materiaal soos sy jongste rolprent Julieta (gebaseer op ‘n Alice Munro-verhaal, maar verplaas na ‘n Spaanse landskap) bewys.

En om Munro te vermeld, is tersaaklik. Aucamp se verhale dra ‘n kwaliteit van háár bestes: mense vasgevang in ‘n lewenslot of uitgelewer aan fata met die landskap as ‘n broeiende mede-verteller. ‘n Mens dink hier aan die Stormberge, ‘n ruimte van uiterstes: die “backdrop” waarteen menslike drama gekaats word.

Daar word dikwels geskryf dat kortverhaalskrywers soos digters dink en struktureer. Dit sien ‘n mens ten beste in die verhaal “Portret van ‘n ouma” (Spitsuur, 1967)  met sy herhalende beelde en skerp metaforiek en simboliek:
Die nag voor die einde het sy in desperate pyn of ’n bedwelming teen die bedtafeltjie geval en haar oog gestamp. Die volgende dag was dit pers en blou en groen, en ek onthou dat ek die gevoel gekry het: die Alsiende Oog lyk só.
God het sedertdien uit baie oë na my gekyk, maar nooit weer so streng soos toe nie. (34)
Die verhale wat Aucamp sélf geskies het, word vir die leser met 'n ikoon aangedui. HA met ‘n veertjie asof dit ‘n inkpotjie is. Aucamp, terloops het met die hand geskryf. Al sy tekste is deur ‘n ander persoon oorgetik en hierom vind ‘n mens nooit ‘n oorhaastige woord of ‘n beduimelde sin nie.

Aucamp het die Afrikaanse letterkunde op verskeie maniere verryk en verruim. Ook sy teoretiese werke verdien vermelding (soos Kort voor lank) of sy essays oor die kabaret (Koffer in Berlyn)

Maar dit is verhaal sy verhale oor gay-sensibiliteit en die oorspryf van die “annerster soort” wat jonger skrywers geïnspireer het. Die triadiese verhouding tussen Prinsloo, Aucamp en De Lange word in die kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) deur De Lange onder die loep geneem.

Die kortverhaalbundel van Johan en Ria Smuts wat Die helder oomblik (2016) heet, tree duidelik ook met Aucamp in gesprek. 

Ek is ‘n liefhebber van die kortverhaal as genre. En hoe jammer dat dit as ‘n “vingeroefening” gesien word deur sekere kommentators hier te lande. 

Borges is in die tagtigerjare vertaal deur Sheila Cussons in die verruklike Die vorm van die swaard en ander verhale. 

Ek verwys opsetlik Na Borges, omdat Aucamp se verhale, soos Borges se stories, boere-stories oorvertel en met klassieke modelle in gesprek tree. Aucamp se kortverhale bewys die hibriede aard van hierdie genre.

En Aucamp laat ons ook kyk na die werk van Dave Eggers of die kortste kortverhaal geskryf deur Ernst Hemingway:
For sale: Baby shoes. Never worn.
Tans word daar 'n debat op Litnet oor Toon van den Heever se "Werkstaking by die kleigat". 'n Mens wonder hoe Aucamp op hierdie bydraes sou reageer met die wete dat 'n teks binne sy tyd en konteks gelees moet word.

Alex Emsley se omslagontwerp vang Aucamp goed vas:  die kenner van die opposisie tussen die volmaakte en die verminkte: die Volmink.