Showing posts with label Protea. Show all posts
Showing posts with label Protea. Show all posts

Wednesday, September 22, 2021

Resensie | Eddy van Vliet – Na die wette van Afskeid en Herfs | Protea, 2021

Eddy van Vliet – Na die wette van afskeid en herfs (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2021. ISBN: 978-1-4853-1179-9

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Eddy van Vliet se bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet. So staan dit opgeteken op die buiteblad van hierdie verruklike, hartgrypende, lieflike versameling vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea uitgewers.

 

Dis helder, glashelder gedigte en oënskynlik eenvoudig. ‘n Dieper lees, wys op die parlando-styl en hoe vernuftig beelde sluit. Met ‘n slot wat jou in die maag tref.

 

Die digter se verse is outobiografies en van sy beste verse handel oor die versaking van die werklike vader wat die spreker probeer terugwen en begryp in die neerskryf van gedigte. Abandonment / versaking is immers die basis van Freudiaanse denke. Dit is weer herleibaar na die verhaal van Oedipus met vaderversaking en -dood.

 

Die vaderfiguur in hierdie teks word deur die gedigte opgeroep, aangekla en begrawe. En die spreker gaan in die herinnering terug na die oomblik van hierdie abandonment soos in die gedig “Pa” (17). En helaas is die mes verroes en dit is hierdie gevoel van magteloosheid om die vader te konfronteer en oorrompel wat enorme psigiese pyn veroorsaak, maar ook die drif (libido) word vir die kragtige verse. 

 

In die gedig “Die stad” (83) gebruik hy die ont- (negatief): ontneem, ontloop, ontkom en herhaal ontneem. Dit herinner aan Eybers se gebruik van die negatief soos briljant deur Hein Viljoen uitgewys in sy artikel “Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” (Literator | ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Besoek 20 September 2021).


By Van Vliet word die ont- egter omgekeer en die gedig herstel die orde van dit wat die “jy” hom ontneem het. Die digter is ‘n meester van verlies en die ingehoue aanklag wat daarmee saamgaan.

 

Die dood word direk aangespreek (“Dood”, 89) en uitgenooi om binne te kom:

 

Vee jou voete af en wees welkom.

 

Uit die bundel Glazen (1979) word genoeglike verse opgeneem wat elke liefhebber van whisky en konjak sal geniet. En jenewerdrinkers word ook vermaak.  Die konjakglas word ‘n heer met ‘n ronde pens vir wie Napoleon groete stuur met die slot:

 

Dit is die ware lewe

armoede is ‘n rooi leuen. (33)

 

Dit is my soort digkuns, moet ek openlik bely: outobiografies sonder dat jy hoef te gaan koekeloer in die kaste van die digter om die donker geheime na vore te bring. Die gedig word daardie donker kis vol familiegeheime, maar word ook méér as outobiografie. Die ware digkuns moet immers altyd verby die outobiografiese of konfessionele beweeg in die domein van die primordiale. Daarom is Anne Sexton se gedigte so treffend. Bloedskande en skandale staan opgeteken, maar die gedigte word meer as ‘n bandelose skinderkolom.

 

Hier is ‘n pragvers:

 

Vakansie

 

Dit was warm. Dit was Spanje waar ek vir briewe wag

en telegramme wegstuur. My suster wat nie ’n suster is nie

van verdrinking red. ’n Pa wat my verfilm, te lank in beeld

volgens haar wat hom van my vervreem het.

 

Dit was Spanje waar ek die haat verduur

soos brandnetelvuur ná ’n woeste gespeel in die veld,

die rykdom ervaar soos ’n bediende

die skittering van die silwerservies.

 

Dit was met my rug op Franco se portret gedraai

dat ek in my gedagtes die volmaakte moord kon pleeg.

 


En hier is nóg een van sy verse, in die oorspronklike taal
:
 

Afscheid van mijn vader [1]

 

Ik wil alleen maar zeggen dat ik het niet weet.

Dat ik het allemaal niet zo duidelijk zag,

zoals gebleken achteraf.

 

Het tuinhek diende plotseling gesmeerd.

De lege plekken op de muur bedekt en vlug

vlug de geur van scheerzeep weg.

 

De kalende die Homerus declameerde. De maïsvretende.

De charmante die uit Frankrijk parfum meebracht. Hadden zij

ook hun koffers gepakt, de huisvrienden van de vrije dag?

 

Ik schreef het reeds meer. Die morgen

liep hij van de keuken naar de straatdeur

en kwam niet weer.


Uit: Jaren na maart, 1983.


Eddy van Vliet (1942-2002) sorg vir vele leesplesiere.



[1] Gedichten | Afskeid van mijn vader, Eddy van Vliet | Gedichten.nlBesoek 21 September 2021

  

[2] Sien ook: Woorde wat weeg | Eddy van Vliet - ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998) | Besoek 21 September 2021


Friday, October 30, 2020

Resensie | Charlotte van den Broeck – Kameloen (vertaler Daniel Hugo). Protea, 2020

Charlotte van den Broeck – Kameloen (vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978 1 - 485 31 021 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie pragtige bundel, Kameleon, is deur Daniel Hugo vertaal. Die digter is bekend in België as voordragkunstenaar en haar debuut is bekroon met die Herman de Coninck debuutprys vir poësie. Sy is vertaal in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies en is kennelik gewild as digter. Van haar verse kan beluister word op YouTube

Daar is drie afdelings: I Die rooi kruis op die skatkaart II Discovery Channel en III Die oorsprong.

 

Die gedigte, wanneer die leser dit afgedruk sien, maak uiteraard op ander beginsels staat as wanneer gedigte vir die podium geskryf is. Sommige digters kry dit reg om sowel goed voor te lees as om 'n werkbare ikoniese vers te skryf.

 

Soms is daar lang praatverse, maar ook 'n klein juweel soos:

 

Handleiding

 

Om te vergeet 

is 'n sirkelredenasie.

 

Steek 'n stok tussen die ratte,

doen dit.

 

Moet niks

oor die rand van hierdie kop stoot nie.

 

Ek was absoluut verruk met hierdie verse wat gedistansieerd-ironies funksioneer. Daar is wonderlike gedigte en 'n hele klomp onthoubare versreëls:

 

'n Wasmasjien lek die dag se wonde. (56)

 

Sy kry die kleur van wange ná 'n gevry

van mans wat op vakansie slegs poskaarte vir hul stamkroeg stuur. (37)

 

Ek leer 'n tweede taal, waarin sugte

selfstandige naamwoorde is. (58)

 

Ons is net 'n besitlike voornaamwoord,

'n huis gebou van taal met oneindig baie ander name. (59)

 

Sy dig oor die liefde, die soeke na identiteit en die verhouding met die moeder en ouma. In "Ausflug / Auszug" is sy en die moeder in 'n kamer "in 'n plaaslike baarmoeder" en hierdie verwysing maak deure oop vir Julia Kristeva se sieninge oor poëtiese taal en die chora.

 

Hierdie digter dig met presisie. Sy kyk van ver (soos in "Fernweh"), maar ander kere het sy 'n vergrootglas met die ogies van 'n kameleon wat die kleinste besonderheid opvang.

 

So klink sy in Engels:

 

Bucharest


Some places are so small

they’d fit on the tip of a finger.

I try to point at where everything was

but I can barely remember.

 

Among the rubble of forgetting stands 

my grandfather’s bookcase and that Sunday afternoon 

when we read the atlas together, his finger 

resting on the capital of Romania.

 

‘A smashing bunch of slags’ they had, he said 

and I thought a slag was some sort of Eiffel Tower

and resented him for never 

bringing me back a miniature version.

 

Later I learned that borders and grandfathers are relative. 

Only that afternoon is marked in the atlas

by raised alphabet letters, as the afternoon 

when I still saw in him the most perfect guide.

 

(Vertaal uit die Nederlands deur Michele Hutchinson.)

 

En in die oorsrponklike:

 

Boekarest

 

Sommige plaatsen zijn zo klein

dat ze in een vingertop passen.

Ik probeer te wijzen waar alles is geweest

maar ik weet het zelf nog amper.

 

Tussen het puin van het vergeten staat de boekenkast 

van mijn grootvader en de zondagmiddag 

waarop we samen de atlas lazen, zijn vinger 

op de hoofdstad van Roemenië.

 

Dat men daar ‘een schitterende verzameling hoertjes’ had

en dat ik dacht, dat een hoer zoiets als de Eiffeltoren was

en hem verweet, dat hij daarvan nooit 

een miniatuurversie voor mij meebracht.

 

Later bleken landsgrenzen en grootvaders relatief

enkel die middag staat in reliëfalfabet 

in de pagina’s van de atlas, als de middag 

waarop ik in hem nog een uitstekend gids zag.

 

Gaan lees die Afrikaanse vertaling en word verruk!

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio.)

Wednesday, September 30, 2020

Resensie | Hennie Meyer – Winkel van wanklanke | Protea, 2020

Hennie Meyer – Winkel van wanklanke. Protea, 2020. ISBN: 978-1-4853-1031-0

Resensent: Joan Hambidge 

Hennie Meyer het in Nuwe stemme 4 gedebuteer. Sy gedigte in Nuwe Stemme (2010) het nie dieselfde impak gemaak as wat die solodebuut nou doen nie. 'n Mens moet die hele bundel sien, vashou en waardeer as 'n kunsobjek. In 2007 neem Meyer deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie met die konkrete gedig "Onder die Belt". 

 

Hierdie bundel is soos Willem Boshof se KykAfrikaans (2003) waar die kyker (leser) die boek anders beleef as die installasie. Die gedig-as-installasie kry 'n ander betekenis wanneer dit binne-in 'n boek beland. 

 

Daar is 'n lang tradisie van konkrete poësie en soos language poetry, daag dit die grense van taal/betekenis/interpretasie uit. Behendige digters van konkrete poësie skryf byvoorbeeld 'n gedig oor 'n vlinder wat soos 'n vlinder lyk. Of 'n diamant wat lyk soos een. Die dinglikheid van die woord word vooropgestel.

 

Elke soort gedig eis sy eie leesstrategie op: die verbale ikoon (well wrought urn) vra vir 'n ander manier van lees as die politieke of maatskaplike vers waar die spreker eksegeties aan die woord is.

 

Hennie Meyer is ook beeldende kunstenaar en hierdie interne gesprek word voortdurend geproblematiseer. In 2004 het hierdie leser in 'n kunsgalery in Kuba 'n installasie gesien en so het ek hieroor indertyd geskryf:

Vir my is een van die interessantste skilderye ‘n beeld van ‘n skoonmaker wat besig is om ‘n vloer te vee. In sy hand hou hy ‘n besem en dan ondertoe is daar ‘n regte mop! Asof die kunswerk ‘n inspraak op die lewe wil maak.

Wat maak oom Kallie hier?

 

Daar is 'n gekskeerdery met die vernames van die Afrikaanse letterkunde soos 

 

Yolande

Yolande

wys my jou tande

 

en:

 

Pa

Ek is so jammer

Dat ek was

wat Pa wou hê

ek moet wees (54).

 

Staan TT / vir Tieties? (56).

 

Die uwe word as digter en kritikus opgestuur in 'n dertigrandnoot en die sleutel vir die oopmaak van hierdie gedigte is debunking.

 

'n Hele paar keer het 'n bulderlag deur my gedreun veral met die volgende een:

 

'n Beter geil

is in die sotste wyn

'n vrolik snaar

op elke trein (57). 

 

Spelend word hier heerlik en opsetlik "misdoen in die skoene van die grotes". Skakels na die webwerf laat die tekste oopwaaier na ander (oneindige) betekenisse. Il n'y a pas de hors-texte word tot emblemata verhef. Hulle aan Derrida en die addenda.

 

Maar as kunsobjek is dit voortreflik uitgegee in die spel met die wit-in-die-poësie (kopknik aan Mevrou Geggus), variasies op 'n gedig en selfs 'n braille-teks. Ander een is so klein dat jy 'n vergrootglas moet optel. Tina is 'n uittrek-vers wat konsertina word wat die ou boeregrap aktiveer van die ou man wat in die hospitaal is en die geskokte nursie wat vra waarom staan daar oom op sy oempabaloelie?

"Dit was eers klopdisselboom van Potchefstroom..."

 

Picasso, Escher, Jackson Pollock, Klee en vele ander kunstenaars word op 'n wonderlike wyse ontmasker of eerder: ontskoen (11).

 

In die gedig "Verskoning" weet hy wat die kritici se besware sal wees oor sy gedigte en hierom skryf hy dat die romantiek van rym verruil is vir rumatiek (76). "Rondeel onderdeel" (59) is 'n slim woordspel met alles wat in die woord rondeel getap kan word: oordelend, onderlondener, oorledene, ronde dele, onderdele ...

 

"Ui" (74) speel in op Opperman se woordspeletjies in Kuns-mis.

 

Ek stel my voor hierdie digter lag oor my resensie en dink hy het my uitgevang, omdat ek geleerderig skryf oor sy bundel. Immers is "Riemtelegram van rym" (60) 'n uitnodiging vir die spelers. "Ek gee vir jou die see" waarop almal mag voortborduur; net soos Johan van Wyk wat op 'n dag in 'n eksperiment "Vroegherfs" opgesnipper het en die reëls arbitrêr saamgesnoer het in 'n nuwe betekenislose vers. Met hierdie bundel weet ons nou dat die postmodernisme inbeweeg het in die metamodernisme.

 

Monday, September 7, 2020

Resensie | Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo) | Protea, 2020

Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978-1-4853-0766-2 (gedrukte boek) | ISBN 978-1-4853-1194-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

 

Vertalings is glo verraaiers. Die vertaler moet afwesig of onsigbaar wees. Moet die vertaling die teks huis toe bring of eerder tuis bly en getrou bly aan die oorspronklike weergawe?

 

Dit is drie van die bekendste mantras oor die vertaalproses. En vertalings – soos Uys Krige ons geleer het via sy Spaanse dans – is om 'n ander man se bruid deur 'n sluier te soen. Dit het hy by 'n Italiaanse vertaler "geleen". 

 

Lawrence Venuti, die gedugte vertaalteoretikus, onderskryf laasgenoemde twee uitsprake. Ons sou nie kon bestaan sonder vertalings nie, en groot vertalers is bekend om hul  monnikewerk: 'n onbaatsugtige diens aan die letterkunde. Agterna sal cognoscenti altyd meen hierdie vertaling is beter as daardie een. D.M. Thomas is bv. telkemale gelooi oor sy Russiese vertalings. Hier te lande vertaal Daniel Hugo sowel poësie as prosa.

 

En ons weet wel dat die geslaagde vertaling dans in die nuwe taal. Die Vlaamse skrywer Hugo Claus se klassieke Die verdriet van België beslaan oor die 700 bladsye en is deur Daniel Hugo vir ons gedomestikeer. Hierdie teks is áldaar allemansgoed soos J van Melle se Bart Nel of Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins by ons is.

 

In die Lae Lande ken almal daardie roman van Claus, 'n veelsydige, prolifieke én briljante skrywer, gebore in 1929 oorlede in 2008. Digter, skrywer, filmmaker en in sy dae ook getroud met Sylvia Kristel van Emmanuelle-faam. In 1922 benoem vir die Nobelprys en in die Lae Lande talle kere bekroon, o.a. met die Belgiese Staatsprys.

 

Sommige lesers kan nog Nederlands en Vlaams lees, maar 'n hele geslag jong lesers het ongelukkig nie meer daardie voorreg gehad om die taal en haar grammatika baas te raak nie. Nog minder die konsep van "valse vrienden" te begryp, met ander woorde, begrippe wat dieselfde klink, maar verskillende betekenisse het in die twee tale. Ons dink nou maar aan die woord neuk. Of eventueel. Op Litnet is daar 'n rubriek wat dit onderhoudend verduidelik.

 

Louis Paul Boon, Hugo Claus, Jan Wolkers en Reve is my gunstelinge uit die Lae Lande. Claus se roman is 'n grootse stuk komposisie soos 'n Bolano-roman. Hier word die impak van die oorlog op die gesin Seynaeve ondersoek. Meelopers of kollaboriste wat met die Nazi's meegewerk het in die hoop dat Vlaandere onafhanklik sou word van Wallonië. Die Duitsers verloor egter die oorlog en die geskiedenis draai teen die verraaiers. Die noorde teen die suide; Vlaams teenoor Frans, met Brussel die middelpunt as 'n tweetalige stad. België se taalverdelings is eweneens relevant vir ons land waar daar ook divisies en spanninge róndom taal heers.

 

Die roman lewer eweneens kommentaar op taal en die baasskap van die heerser:

"Mamma sê ook af en toe in die middel van ’n Vlaamse sin woorde soos zweifelloswunderbar of die vreemde ähnlich." Is dit dalk waarom Afrikaans ook Engelse woorde oorneem?

Die roman is soos die Engelse skryf  gewoon"unputdownable". Dit is eweneens tersaaklik om Roman Polanski se film The pianist, 'n meesterstuk van 2002, saam met hierdie roman te lees.

'n Roman wat duidelike outobiografiese elemente in sig dra (Claus se vader, 'n drukker en uitgewer, moes boet vir sy gekonkel), maar uiteraard verwerk én verhef tot roman. 

Daar is kinders se reaksies op verbode boeke wat dan die hele kwessie van waarheid en leuen inlei. Daar is beskrywings van karakters wat inzoem op hebbelikhede. Daar is vinjette wat my altyd sal bybly. Die Reglementeboek van die Kerk word bespot en die straf wat uitgedeel word vir belaglike oortredings. 'n Jong kind se fantasie oor hoe 'n baba ontstaan, is wonderlik.

En grappe wat vertel word, bewys opnuut dat humor regstellende aksie is.

Die komma word beskryf as 'n asemhaling. 'n Baardskeersessie is dawerend snaaks en die vertellende instansie weet dus ook dat hy per implikasie hiperbolies skryf: "Veels te kwistig. En te vergesog" (721).

 

So word daar die spot gedryf met 'n digter-van-die-tyd:

Hy skrik nie, bloos nie, skyt nie in sy broek soos iemand wat ek ken nie. Hy draai na alle kante en buig. Hy haal ’n folioblad uit wat baie onlangs opgevou is en lees met ’n onverbloemde Kortrijkse aksent, ek skryf dit hier neer: 

 

   Geseënd is die wurger van die nagtegaal, geseënd is alle vroulike soogdiere, die holtediere en die syriviere, 

   die nete en Zwevegem. 

   Geseënd is die onmisbare behoeftes en die getye

   en die gasgevulde vliese en die ambervlieë.

   Geseënd is dié wat van die slyk gespeen is 

   en hulle wat nie die dinge ken soos wat hulle is nie 

   maar soos wat hulle voorkom. 

   Geseënd is die plant en Tarzan wat hang aan die plant. 

   Geseënd is ek. 

 

Hy knik vir die yl applous. (723)

Satire, humor, ironie meesterlik saamgebind soos daardie 'n groot epiese filmmaker, David Lean 'n stuk geskiedenis weergee en vertolk soos in Doctor Zhivago (1965). 

Die vertaling lees vlot en lekker. 'n Mooie vonds is konkeldoor. In die geheel gesien is hierdie roman soos 'n simfonie of epiese film met baie karakters en ekstras met die verteller wat 'n grimmige blik op godsdiens werp met die "besmetting van sonde" (91).

Dit is 'n roman-in-vertaling wat hierdie leser met bewondering én plesier gelees het. Wanneer resensente hier te lande die woorde meesterlik, uitstaande en 'n hoogtepunt kwistig rondslinger, kan 'n mens dit wel hier opplak. 

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Vlaams Fonds voor de Letteren en gepubliseer deur Protea. En dat 'n vertaler die stamina gehad het om so 'n dikke boek te vertaal, dwing bewondering af.

 

Sunday, July 19, 2020

Resensie | Jakobus van der Riet - Die heimlike heiligdom | Protea, 2020

Jakobus van der Riet: Die heimlike heiligdom. Protea, 2020. ISBN 978 1 4 853 1022 8

Resensent: Joan Hambidge

Jakobus van der Riet se Die heimlike heiligdom is sy tweede bundel na Die onsienlike son (2012). Hierdie tweede bundel bestaan uit aangrypende sonnette oor heiliges. Die heimlike heiligdom soos in die kenbare, die sigbare, die aanvaarbare teenoor die “unheimliche”. Freud se bekend term Das Unheimliche roer dus in die ondergrond. 

Die bundel bevat 'n vyftigtal bepeinsings of meditasies oor heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is. Die digter verskaf ook endnote vir die leser. Die digter is ’n geordende priester in die Griekse Ortodokse kerk. Ons verneem ook dat hy die grade behaal het in die Teologie en Klassieke Tale, en ’n doktorsgraad by Wits verwerf het oor die digkuns van Horatius, Catallus en Tibullus. Hy kombineer tans die Ortodokse priesterskap in die bisdom van Johannesburg en Pretoria. Verder verneem ons dat hy ook bibliotekaris is.

Dit is 'n bundel wat sterk tot hierdie leser gespreek het om 'n verskeie redes. Die beskrywing van die meditatiewe en religieuse dimensie – soos in die verse van Sheila Cussons – is boeiend. En terselfdertyd kom 'n mens onder die indruk van die digter se óngelooflike tegniese beheer.

Die religieuse lewe bring hy hier onder woorde byvoorbeeld in die “Die Heilige Evangelis Lukas” (14) waar hy hom so tipeer:

maar sin ná sin bly jy immer die selfbeheersde stilis

met 'n die pragslot:

Lukas, kyk hoe tref die litotes en onderbeklemtoning,
sodat die gegewens des te meer uit die boekrolle spring.

Boonop is Van der Riet se verse in oortuigende sonnette verpak. En wanneer hierdie vorm oortuig, beweeg die gedig moeiteloos. 'n Swak sonnet staan uit soos 'n pap wiel.

Die klinkdig is 'n strikte vorm hetsy die Petrarcaanse (Italiaanse) of Shakesperiaanse (Engelse) vorm. In Engels is daar ook die Spenseriaanse-vorm. En vele afwykings bestaan; o.a. die gebreekte sonnet so meesterlik uitgevoer deur Johann de Lange. Hennie Aucamp het puik sonnette geskryf en dikwels is beoefenaars van die sonnet ook liefhebbers van die kwatryn. Opperman en Eybers byvoorbeeld, en die reeds genoemde Aucamp en De Lange.

Die beoefenaar gee sy of haar interpretasie van die vorm.

Die Italiaanse sonnet (met die oktaaf en tersine) het 'n keerpunt (volta). Die Engelse sonnet volg die abab cdcd efef gg-patroon met 'n verdeling tussen drie kwatryne en 'n sluitende koeplet. In Break blow burn, daardie verruklike studie wat in 2005 verskyn het, sonder Camille Paglia tereg die sonnetvorm uit as 'n gunsteling. Met twee van Shakespeare. 

Emosie word in so 'n vorm gekristalliseer, verduidelik sy. En dis die essensie van Van der Riet se gedigte – die emosie word in beheer gehou deur die vorm waarin hy dit giet.

Van der Riet dig oor vele heiliges in Griekeland, Kappadosië, Kiëf, Konstantinopel en ander plekke. “Die heilige Kassiani die gesangdigter” het geleef tussen 834 en 867 N.C. Van haar gesange word steeds vandag nog gebruik. Sy het die ikonoklasme teengestaan met die bekende woorde: “Ek haat swye wanneer dit tyd is om uitgesproke te wees.”

Hier lees ons:

vir jou wat jou veer so diep kon doop in die psige se ravyn,
om ons die maanlose nag van selfverwyt en berou te toon? (38)

Hierdie bundel het my geneem na Helen Gardner se se antologie A Book of Religious Verse (1972) en hoé religieuse gedigte 'n bepaalde leser opeis, en ook haar eweneens beroemde studie oor John Donne: The Divine Poems of John Donne (1952).. Gardner was immers 'n Anglikaan en haar studies oor T.S. Eliot is uitstaande.

Hier is 'n gedig:

Die Heilige Paisios van die Heilige Berg

Jy vlieg verder, swerfvalk van God,
op jag na die tergende, lokkende prooi
wat skuil op Sinai se kruin of straks in ’n grot
aan Athos se hange, Tuin van die Nasaretnooi.

Vir jou, Paisios, bring die visarend vis,
in jou hand soek Walid, die rooiborsie, kos;
by jou luier die wesel, skilpad, slang en akkedis.

Jy sweef hoog, malmok van die Gees,
omsirkel die pole van ons gefolterde eeu
tot in jou verste vlerkveer gevoelig waar hees
die krete opklink, verwees soos dié van ’n roek of meeu.

Jy skrop nes, soos ’n bospatrys of ’n kelkiewyn;
naglank waak jy – hoe roep die uil, hoe huil die vos –
tot die lig deur die donker wolk van ons wanhoop skyn.

Dit is 'n pragtige, aangrypende bundel. En uiters leersaam.

Hierdie bundel neem sy plek in langs groot religieuse digters in Afrikaans, onder meer W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw (“Vier gebede by jaargetye in die Boland”), Sheila Cussons, I.L. de Villiers, T. T. Cloete. 'n Goeie balans tussen die konkrete en die abstrakte dimensies, opgevang in die die 14 reëls van die sonnet met sy metriese eise.

Dit word bemark as bepeinsinge of meditasies, maar dit sluit aan by die lang tradisie van die sonnet in alle tale. En hier is 'n moderne sonnet van een van my gunsteling-digters:

Sonnet

Afternoon sun on her back,
calm irregular slap
of water against a dock.
Thin pines clamber
over the hill’s top –
nothing to remember,
only the same lake
that keeps making the same
sounds under her cheek
and flashing the same color.
No one to say her name,
no need, no one to praise her,
only the lake’s voice — over
and over, to keep it before her.

Robert Pinsky


Jacobus van der Riet



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)